Nuuskommentaar: Die beer of die panda?

Donald Trump

Donald Trump. Foto: AP Photo/Paul Sancya.

Sal Trump ’n keuse tussen Rusland en Rusland se buurman met wie hy ’n “spesiale verhouding” het, kan maak, of gaan die werklikhede van die internasionale politiek uiteindelik ook tot groot mate tot watertrappery lei?

Sowel die Russiese beer as die Chinese panda is gereeld in die nuus. Een van die belangrikste arenas waar die toutrekkery hom nou afspeel, is in die kookpot van die Amerikaanse politiek.

Volgens die jongste Rasmussenpeiling beskou meer Amerikaners Rusland as die vernaamste bedreiging, en nie China nie. Meer Republikeine meen egter China is die grootste gevaar, terwyl die meeste Demokrate Rusland skeeloog aankyk.

Dit klop met uitsprake van aangewese pres. Donald Trump dat hy meen beter verhoudinge met Rusland is moontlik. Maar so eenvoudig is dit nie. Daar is nog ’n lekker warboel oor aanduidings uit die Amerikaanse geheime dienste dat Rusland deur kubergapsing en gevolglike propaganda die Amerikaanse presidentsverkiesing probeer beïnvloed het – maar ernstiger – dat die Russe verleentheidwekkende opnames van Trump met prostitute sou gemaak het terwyl Trump en ’n geselskap in Moskou was. Boonop sou Trump se afvaardiging geheime samesprekings met die Russiese regering gevoer het.

Volgens vroeë aanduidings het Trump ’n knou by kiesers weg nog voor die waarheid vasgestel kon word. In ’n era van fopnuus (wat ’n verwarde wêreld gereeld onnadenkend vir die waarheid sluk) is dit inderdaad dikwels moeilik om agter die kap van die byl te kom.

Terwyl Trump/Poetin-ondersteuners veral buite die VSA ergerlik is omdat die “twak” oor die Russiese FSB nie sonder meer verwerp word nie, is die gevoel in die VSA self ietwat anders hieroor, en dis wat saak maak. Rasmussen het in redelike groot detail Amerikaners se sienings hieroor gaan bepaal. Volgens die jongste peiling meen 47% van die kiesers dat die intelligensiedienste goeie werk doen, maar ’n eie politieke agenda het. Net 39% meen die agentskappe is onafhanklik van eie politieke agendas. Die belangrikste is egter dat 58% van die Amerikaanse kiesers meen die agentskappe doen uitstekende, of minstens goeie werk. Dus, selfs in die waan van agterdog dat daar ’n politieke agenda is, bly die bevindings oor die algemeen geloofwaardig, en dit het gou geblyk dat dit Trump kan skaad.

Politieke waarnemers was gou uit die blokke om daarop te wys dat verskeie van Trump se aangewese ministers in hul keuringsverhore voor die Kongres vir Trump oor verskeie punte gerepudieer het. Gaan ons ’n regering kry waar die president gereeld wilde uitsprake maak en twiet, maar ’n regering wat in die praktyk realisties gaan regeer volgens die inligting wat onder meer van die veiligheidsagentskappe kom?

In dié stadium lyk dit of Trump se sentimente vir beter betrekkinge na Rusland  se kant toe staan, terwyl hy die Chinese al ’n paar keer ergerlik gehad het. China het reeds in geen onduidelike taal nie laat weet dat die kwessie van “een China” nie oop is vir bespreking nie. China se uitbreiding, veral militêre uitbreiding, in die Suid-Chinese See maak verskeie lande ongemaklik met China wat gebied opeis en ontwikkel wat daardie lande as hul gebied, of minstens invloedsfeer beskou.

Trouens, ’n uitgebreide verhandeling kan geskryf word oor die twiste tussen Oosterse lande oor die besit van eilande. Daar is tekens van ontspanning tussen Rusland en Japan oor ’n paar eilande, maar nog min tekens dat Japan en China, en selfs Taiwan, te lekker vir mekaar raak oor ander eilande. Meestal onbewoonde eilande, maar dikwels met sprake van potensiële groot olievelde.

En in hierdie maalkolk moet die groot moondhede hul voetwerk deeglik ken om nie nog die seer te gaan invryf nie.

Maar hoekom is dit hoegenaamd nodig vir die VSA om keuses te maak? Rusland is immers saam met China in Brics genestel, en volgens talle aanduidings verbeter die verhoudinge tussen die twee lande.

Die ou Sowjetunie en China se Kommunistiese Partye was lank haaks en selfs vyandig, maar hoofsaaklik oor ’n aantal ideologiese redes. Sedert ongeveer 1994 het verhoudinge tussen China en Rusland egter verbeter en is ’n aantal strategiese verdrae gesluit. Die proses is vergemaklik deurdat elkeen sy eie buitelandse strategiese oogmerke het wat meestal aanvullend, eerder as mededingend is.

Rusland fokus meestal op die politieke en militêre terrein, terwyl China hoofsaaklik ekonomies en institusioneel na sake omsien.

Veral ná die ooreenkoms van 2014, kan na die verhoudinge tussen China en Rusland as ʼn “spesiale verhouding” verwys word. Die wydlopende ooreenkoms wat ’n reuse-gaskontrak insluit, staan as ’n strategiese vennootskap bekend. Die sluiting daarvan het boonop saamgeval met wydlopende sanksies wat uit die Weste ingestel is ná die anneksasie van die Krimskiereiland, en betrokkenheid in die Oos-Oekraïne. Trouens, baie waarnemers het na die herlewing van die Koue Oorlog verwys, en Rusland se belange het vinnig na China geskuif.

Hoeveel speelruimte is daar werklik vir die Trump-VSA om verhoudinge met Rusland te verbeter, maar terselfdertyd die rug vir China styf te maak? China dra immers ’n baie groot aandeel van die VSA se enorme buitelandse staatskuld, en dit alleen beperk voetwerk.

Geen eenvoudige lyne kan getrek word nie. Daar is reeds groot ongemak in verskeie Westerse lande omdat China deur onder meer sy ekonomiese mag daardie land dwing om stief teenoor die Tibettaanse kwessie te staan terwyl die Dalai Lama in die vrye wêreld as ikoon beskou word. Taiwan het geleidelik ’n min of meer demokratiese regering met menseregte ontwikkel, in skrille teenstelling met China.

China het homself ook min gunste bewys deur die demokrasie in Hongkong sedert die oorname drasties in te perk. Westerse regerings wat ’n pragmatiese houding teenoor China inneem, sal dus ’n mate van kiesersweerstand ervaar. Boonop word China as gevolg van sy etniese Moslemminderheid al meer betrek by die sentimente wat in voormalige Turkmeense Sowjetstate aan die ontwikkel is. Hierdie Turkmeense sentimente strek letterlik van China tot in Sirië waar die Turkmene erg deurloop.

Rusland het self foutlyne wat tot ver buite die land se grense strek.

Die VSA is gewoon te groot en magtig om te verwag dat min gaan voortvloei uit Trump se presidentskap. Namate die administrasie sy voete vind, sal die onafwendbare beperkings ook duideliker word.

’n Interessante tema wat nou weer in die VSA-lewe ingeblaas word, is die konsep van “Right Direction or Wrong Track”. Op ’n bykans weeklikse basis word bepaal of Amerikaners voel hul land is nie net in die regte rigting op pad nie, maar ook op die regte spoor. In Julie verlede jaar het bykans driekwart van die Amerikaanse kiesers aldus ’n opname van die Wall Street Journal gemeen die land is op die verkeerde pad. Net 18% het gemeen die land slaan die regte koers in.

Volgens ’n Gallup-peiling van 4-8 Januarie vanjaar – dus ná Trump se verkiesing – was net 26% van die Amerikaanse kiesers tevrede met die koers wat die land inslaan. Die syfer moet darem teen die agtergrond beskou word dat peilings oor die algemeen op ’n lae vlak van vertroue dui. Rasmussen se peiling van 9 Januarie toon ’n 31%-tevredenheid. Albei peilings is effe laer as die voorafgaande. (Met die jongste, en laaste, peiling oor tevredenheid met Obama se vertoning, het 60% van die kiesers gemeen hy het goed gevaar. Dit is die beste wat hy in sy tweede termyn gevaar het.)

’n Gedugte taak wag op Trump om die gaping tussen vertroue in die koers wat die land inslaan, en die vertroue wat Obama uiteindelik geniet het, te vernou. En baie nie-Amerikaners koester om ’n wye reeks redes geweldige verwagtinge van Trump. Die institusionele struikelblokke staan egter geil.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nico K ·

Trump het voor die verkiesing baie uitsprake gemaak, maar ek dink min daarvan gaan realiseer. Praktiese oorwegings gaan in elkgeval veroorsaak dat enige veranderinge stadig sal gebeur. ‘n Groot deel van die wêreld bevolking het gejuig toe Obama president geword het. (Die eerste swart president!!) Maar wat het nou eintlik in sy tyd verander. Ek dink op buitelandse verhoudinge kan Trump die grootste verandering bring, maar ons weet uit die geskiedenis dit is niks nuuts nie. Elke keer as daar ‘n verandering in die VSA se regering was, het dit sy buitelandse politiek verander. (Onthou julle nog toe Carter besluit het hy onttrek van Angola en net daarna kom Reagan aan bewind en hervat steun vir Unita. In die geheim natuurlik.) Maar vir die gewone Amerikaner en vir ons in SA sal dinge nie drasties verander nie.

gatiep ·

Met so gevaarlike US army wat Rusland wil vernietig het Putin seker nie n keuse gehad om vriende te soek nie.Die selfde mense wat Putin uit sy land gegooi het is vandag Trump en Europe se probleem ,en al is dit so dat die Russe Trump gehelp is dit n goeie ding want daai mense moet regtig wakker word en sien hulle land is oorgevat deur iets wat regtig evil is ,en wat hollywood gebruik om kinders te breinspoel.
Trump gaan nie eenkant toe staan,daar is te veel op die spel.
Ek weet hulle is besig om verskriklike proteste te reel vir die 20ste en moontlik nog marshall law toe te pas.Bikers for Trump is ook besig om te reel om daar te wees om seker te maak Trump kom in.Sal maar sien wat daar gaan gebeur.

John ·

Die Demokrate moet na 8 jaar hul poste ontruim en die lekkerlewe droog op. Obama wat van nerens in die botter geval het, is nou die Witpaleis kwyt. Skok op skok! Stel jou voor die DA lig die ANC-regering uit die kussings; die vuil geveg daarna. Die VSA se swart bewussynsgroep, afro-amerikaners en immigrante gedy onder die Demokrate. Hillary het hulle steun. Die Demokrate se buitelandse beleid is geensins demokraties. Vyande word gekies, platgeloop, ander word op ys gesit, geteiken of beheer. Die Snowden-debakel en verdere rekenaar-onthullings het die mat onder die ‘vrome’ Big Brother/Sister se voete uitgepluk. Die val was seer. Rusland word nou terugbetaal via Trump. Twee vliee met een klap… Die geveg kan hierdie week erg raak… koes vir WW3…

Rynhardt ·

Trump wil goeie verhoudinge met Rusland opbou terwyl die C.I.A. reeds vyandig teenoor Trump is!CNN, Fox News, Hollywood en ander ingure groepe het reeds met n veldtog begin waarin hul Trump valslik beskuldig dat hy n agent vir Rusland is.Bogenoemoemde wil ook he dat die verkiesingsuitslag geskrap moet word, en Trump onder arres geplaas moet word.Sodoende wil sy vyande verseker dat n geskikte kandidaat vir die nuwe wereldorde in sy plek navore kan tree! Die C.I.A. is wereldbekend daarvoor dat hy van wereldleiers ontslae kan raak.Ek glo Trump se presidentskap gaan van korte duur wees, aangesien jy met n erg verdeelde VSA sit, nes SA!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.