Nuuskommentaar: Die belangrikheid van versoening

Argieffoto

Argieffoto

Onlangs is berig dat die ANC in die Tshwane-streek dit hoog op die agenda het om in 2014 Pretoria se naam na Tshwane te verander. Volens die berigte gaan geen konsultasieproses gevolg word nie, en sê die burgemeester, Kgosientso Ramokgopa, dat dit ter wille van versoening gedoen gaan word. Hy verduidelik dat daar mense is vir wie die naam Pretoria dwars in die krop steek, en dat die verandering daarom versoening in die hand sal werk.

Oor min begrippe is daar soveel definisies as oor die woord “versoening”. Onder die mees opvallendste is die handeling om een oortuiging of gesigspunt in harmonie met ‘n ander te bring. Nog een lui dat ‘n dispuut of kwessie opgelos word. ‘n Derde lui die herstel van ‘n hegte verhouding. ‘n Definisie waar “versoening” behels dat een groep sy sin ten koste van ‘n ander kry sal moeilik gevind word. Waar een groep kultureel geplunder word ter wille van ‘n ander, nog minder.

Tog het verskeie ontleders in 2013 ellelange artikels geskryf om te verduidelik hoekom verskeie politieke oproepe om versoening eintlik bloot ‘n proses moet wees waar een groep opoffer en ‘n ander ontvang. Hoe nader die ANC se 20 jaar aan bewind nader kom, hoe driftiger word hierdie oproepe blykbaar. Ramakgopa het selfs tydens die hospitalisasie van oud-president Nelson Mandela in Pretoria gesê naamsveranderings in die hoofstad (bv. straatname) gaan as huldeblyk vir Mandela bespoedig word. Dit, terwyl Mandela internasionaal as ikon van versoening gehuldig is.

Die argumente ten gunste van verskerpte rassediskriminerende wetgewing en maatreëls adem ook hierdie gees in. Statistiek word gebruik om te motiveer hoekom sekere groepe “het” en daarom moet prysgee om ander te laat “kry”. Dat die land deurlopend van die brandstof in sy enijinkamer vir ekonomiese groei gestroop word, word nie swaar geweeg nie. Dat die minderheidsgroepe ook “uitvallers” het wat swaarkry word kwalik raakgesien.

Tog, word internasionaal gekyk, is dit duidelik dat versoening, veral blywende versoening, geen maklike proses is nie, en daarom ook in Suid-Afrika met kundigheid en wedersydse wil aangepak moet word. Om ‘n paar voorbeelde kortliks te noem:

– In Irak is volgens die jongste inligting in 2013 bykans 9 000 mense in geweldpleging dood. In dié land het die Amerikaans-geleide inval tot die val van die diktator Saddam Hoessein se bewind gelei. Die meerderheid inwoners van Irak is Sjiïete, terwyl Saddam en sy vernaamste bewindhebbers Soenies was. Saddam is van massamoorde op Sjiïete en Koerde (‘n etniese minderheid) aangekla, maar nog voor hy vir die Koerdiese volksmoord aangekla kon word, is hy weens die massaslagting van Sjiïete tereggestel. Die land het hierop ‘n federale regeringsvorm gekry, wat deur Sjiïete gedomineer word. Terwyl dit broekskeur gaan met die verhoudinge tussen die betreklik outonome Koerdiese regering en die sentrale regering, gaan dit veel beter as tussen die Soenies, wat politieke hervormings eis, en die Sjiïete. Dit help ook nie dat Al Kaïda die militante Soeniebewegings sterk geïnfiltreer het nie. Intussen het die land se Christenbevolking skerp afgeneem, omdat hulle erg onder diskriminasie deurloop en hulle en hul kerke gereeld die teiken van aanvalle is.

– Onder meer om ‘n herhaling van die Irakse afloop te voorkom, het die wêreld nie beslissend opgetree toe die bloedvergieting in die naburige Sirië begin het nie. Sirië word regeer deur ‘n Alawiete-minderheid. Die Alawiete is ‘n sekte van die Sjiïete, wat op hul beurt ‘n minderheid teenoor die Soenies vorm. Ook hier byt die Christene die spit af, terwyl die opstandelinge verdeeld is en groepe wat Al Kaïda-bande het nie net meer teen die bewind veg nie, maar ook die nasionalistiese koalisie van opstandelinge aanval. Intussen duur die bloedvergieting voort, en die sterftesyfer is nie ver van 150 000 nie. Byna 2 miljoen Siriërs het na buurlande gevlug, en in die binneland word syfers van in die orde van 6 miljoen genoem. Die foutlyne in Sirië loop ook na buurlande soos Libanon, Turkye en Irak, wat die hele streek erg destabiliseer.

Die Pruisiese kanselier van bloed en staal, Otto von Bismarck, het geglo ‘n verslane vyand moet nooit verneder word nie, omdat dit ‘n permanente vyand skep. Nadat Bismarck in onguns verval het, het die Duitse leiers hul vyande, byvoorbeeld, die Franse, verneder. Dit het regstreeks tot die vernederende vredesvoorwaardes na afloop van die Eerste Wêreldoorlog gelei, wat op sy beurt tot die opkoms van Hitler bygedra het. Intussen het verhoudinge tussen China en Japan erg afgekoel onder meer omdat die huidige Japannese regering begin rug styf maak oor die impak van die vernederende oorgawe-voorwaardes na die Tweede Wêreldoorlog.

In Suid-Afrika, wat besonder heterogeen is, is die aanspreek van versoening nie minder kompleks nie. Tog word hier dikwels, ook in akademiese maar veral politieke kringe gereeld simplisties en enkeldimensioneel na die kwessie gekyk. Met die Kemptonparkse onderhandelings is die denke oorheers deur ‘n groep wat gemeen het “alles sal regkom” as ‘n geskikte grondwetlike model net gevind word. Die voorbeelde van onder meer België, waar die begrip “konfederalisme” onlangs weer afgestof is, Skotland, Katalonië (waar die premier onlangs formeel ‘n versoek aan die Spaanse regering gerig het dat ‘n referendum oor onafhanklikheid gehou kan word), Indië, Nigerië, Nieu-Seeland en vele ander toon dat daar wel sin is om heterogeniteit grondwetlik aan te spreek. Dit kan egter nooit die volledige oplossing bied nie, soos dui uit ‘n bekende aanhaling van dr. Tjaart van der Walt, destyds president van die RGN: “Geen grond ter wêreld, nie eens die beste nie, sal werk as die mense mekaar nie vertrou en verstaan nie.”

‘n Tweede simplistiese denkskool is dat probleme bloot opgelos sal word deur sosio-ekonomiese ongelykheid uit te skakel. Ook hierdie argument het meriete, maar kan nie op sy eie bene staan nie.

Die feit is dat heterogeniteit dinamiese elemente het wat op ongeveer 15 terreine afspeel, waaronder die religieuse, historiese, ruimtelike, numeriese, taalkundige en juridiese. Dit word gekompliseer deurdat baie individue ten opsigte van een van hierdie aspekte in een groep val, byvoorbeeld taal, maar ten opsigte van ‘n ander aspek, byvoorbeeld godsdiens of sosio-ekonomies, in ‘n ander.

Dit spreek vanself dat die vind van oplossings ook kompleks sal wees.

Op die oomblik is dit veel makliker om te sê wat nié gaan werk nie, soos die “versoeningsberaad” by Kliptown waar die regering sekere bisarre standpunte vir “oplossings” ingeneem het, en uiteindelik meer verdeeldheid as versoening aangestig het.

Dit behoef ook geen profeet nie om te weet dat Ramakgopa se “oplossing” in die howe gaan draai nie (al weer).

Te midde van al die verdeeldheid word ook gereeld stemme gehoor oor die groot poel van welwillendheid wat (nog) bestaan. Dit toon dat die “klein mensies” dikwels meer in eenvoud kan vermag as akademici wat politiek-korrekte doktrines uit hul penne laat vloei, of die politici wat ideologies verblind kwessies bekyk.

In 2014 sal die kwessies gereeld in die howe beland (veral solank die Menseregtekommissie nie in objektiwiteit oortuig, en die Kommissie vir die Bevordering en die Beskerming van die Regte van Taal-, Godsdiens en Kultuurgemeenskappe ideologies gekaap bly) en ideoloë sal aanhou boos blaas oor hofuitsprake wat “politiek-inkorrekte” uitsprake maak, soos die kritiek toe Julius Malema in die Gelykheidshof aan haatspraak skuldig bevind is.

Die onus op die “klein mensies” om in 2014 te help bou aan ‘n beter toekoms vir hul kinders bly groot. Geen poging is te klein nie – ‘n vriendelike woord vir die petroljoggie, of om te verneem hoe dit met die huishulp se kinders op skool gaan … en uiteindelik hoe die kruisie in die verkiesing getrek word.

Want so leer die Bybel: Jy moet jou naaste liefhê. En as jy iemand nie as jou naaste beskou nie, leer die Bybel ook dat jy jou vyande moet liefhê.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

nikolaas pienaar ·

Goed geskryf!
Ek stem veral saam dat mens in jou eie kring van invloed n positiewe verskil moet probeer maak.
Op die manier word die petroljoggie, winkel teller en jou buurman n vriend wat jy met die hand kan groet.

jj els ·

Herman, puik kommentaar. Dankie ook vir julle by Maroela, wat op kleinskaal soos met hierdie bydrae, poog om lesers te beinvloed om dmv n beter gesindheid, versoening op n daaglikse basis uit te leef.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.