Nuuskommentaar: Die Block aan die been

hof-hamer

Argieffoto

Ná baie jare lyk dit of die howe nou die ANC in ’n blik druk om korrupsie in eie geledere vas te vat. Dit lyk of die dae van John Block as leier wat nie die reguit paadjie loop nie, nou getel is, maar danksy beriggewing wat wissel van uitstekend tot vrotterig, is daar nog nie klarigheid nie.

Volgens die jongste RSG-nuus is die voormalige Noord-Kaapse leier van die ANC en aangewese premier, John Block, en sy “sakevennoot”, Christo Scholtz, nie voortvlugtig nie, hulle word bloot vermis nadat hulle nie soos die appèlhof hulle aangesê het, vir hul 15 jaar lange tronkstrawwe aangemeld het nie.

Volgens nog ’n nuusbron hou die Valke hul inhegtenisneming terug tot dit sou blyk dat die twee ook nie vir hul volgende hofafspraak Maandag opdaag nie. Block en Scholtz het ’n lewensboei gekry toe die appèlhof aan hulle toestemming verleen het om na die konstitusionele hof te appelleer.

Uiters slordige beriggewing het tot feitefoute in sommige berigte gelei en skep verwarring. Ander berigte is weer feitelik korrek en van hoë gehalte.

Dit lei daartoe dat ’n persoon wat die nuus volg, ’n paar bronne moet raadpleeg voor hy weet watter is gereeld ’n klomp bollie. Die ongeluk is dat seker die meeste foute gemaak word deur ’n openbare nuusinstelling, en een wat reeds geldelik hard geknyp word.

Dié instelling word ook veral deur die DA daarvan beskuldig dat dit die ANC voortrek en ander partye smoor. Die Uitsaaiklagtekommissie gaan hieroor uitspraak lewer.

Block is reeds in 2015 aan bedrog en geldwassery skuldig bevind, maar sedert 2012 volgens “ANC-tradisie” beskerm. Hy is nie deur die ANC gepenaliseer nie op grond van die “beginsel” dat iemand nog nie skuldig is solank daar nog appèlopsies is nie. Block en sy vennoot het daarop ook lang ure in appèlverhore deurgebring.

Op die oog af lyk dit nou asof Block en Scholtz weer nuwe regsriglyne aan die opstel is – sommige kenners meen met die appèlhofuitspraak is Block en Scholtz se doppie geklink, en moet hulle tronk toe tot tyd en wyl die konstitusionele hof die finale sê het. Ander meen weer die twee bly op vrye voet tot die konstitusionele hof die finale woord spreek.

Die aandag op Block en kie het weer gevolg toe die ANC ’n paar jaar gelede strenger etiese kodes daargestel het, en dit inderdaad gelyk het of Block, Scholtz en oudpremier, wyle Yolanda Botha, hul ANC-ampte sou verloor.

Deur die jare wat Block nie juis wetsgehoorsaam voorgekom het nie, het dit gelyk of die ANC ’n besonder sagte plekkie vir hom het, en te alle tye sal beskerm. Soms het hy lof verdien, soos die wyse waarop hy ook sy armlastige ma versorg het.

Dit wil dus voorkom of Block se uiteindelike lot nie net Block, en voor haar afsterwe, Botha se lot sou bepaal nie, maar ook dié van ander prominente ANC-lede soos Tony Yengeni.

Dit is ’n goeie begin vir pres. Cyril Ramaphosa om duidelik te demonstreer dat daar nie sagte plekkies in die ANC vir korrupsie is nie. En sowaar, die Noord-Kaap verdien darem baie beter as amptelike steun vir iemand wat skeeftrap, en by herhaling skeeftrap.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Liberaal ·

Die ANC het sagte plekke vir alle kriminele en korruptes, so ook ons liberaliste. Dis die werkskeppers, eerlikes, eiedenkers en hardwerkendes wie ons nie kan verdra nie.

Paul ·

En wat sê mens vanaand na die nuus oor CR se uitsprake die afgelope week?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.