Nuuskommentaar: Die boere, die kitskonstabel en die rooi kneg

Betogers in De Doorns, Januarie 2013 Foto deur die gebruiker @justkoyana (Xolani Koyana) op Twitter gelaai

Betogers in De Doorns, Januarie 2013 Foto deur die gebruiker @justkoyana (Xolani Koyana) op Twitter gelaai

Die EFF is, ten spyte van al sy desperate pogings, nie alleen-patenthouers vir die instelling van ’n anarkrasie nie. Stewige kompetisie word uit sekere kringe binne die ANC ervaar.

Rooi kneg in die Boland

Nou dreig Cosatu se Tony Ehrenreich, die Wes-Kaapse “Rooi Ridder”, met plaasbesettings. Miskien sal dit Ehrenreich loon om te weet dat “ridder” en “kneg” eens dieselfde, naamlik kneg, beteken het, soos nog gesien kan word in die Engelse woord “knight”. ’n Tikkie nederigheid en diensbaarheid sou hierdie heethoof ʼn hele ent verder bring.

Maar nou ja, hy is seker ʼn belangrike rolspeler in die “strategie” om die Wes-Kaap deur onregeerbaarheid van die DA te “bevry”.

Die De Doorns-plaasstaking, wat na ander Bolandse gemeenskappe uitgebrei het, toon hoe betreklik maklik dit is om plaasmoeilikheid anderkant die Wyngordyn te stook. Dis ’n komplekse situasie waarin persepsies wat van geslag tot geslag oorgedra word, politici wie se agterente jeuk, dikwels marginale boerdery-omstandighede op kleinerige plase, afhanklikheid van die uitvoermark, migrasie met “dubbelgesinne” en les bes, fetale alkoholsindroom in ’n mindere of meerdere mate almal ’n rol speel.

Nou is die fokus weer op die Wes-Kaapse boerderygemeenskap. Vanuit regeringskringe word beweer boere in dié provinsie is op groot skaal besig met “onwettige” afsettings (nie alle afsettings is immers onwettig nie), nadat die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming sy omstrede 50%-onteieningsplan bekend gemaak het, en soos ʼn neet daaraan bly klou het te midde van die een studie na die ander dat dit onwerkbaar is, en die een regsmening na die ander dat dit ongrondwetlik is.

Agri Wes-Kaap, aldus die SAUK, wil nie op die situasie reageer alvorens die bewyse nie gebring is nie. In ’n mediaverklaring op sy webwerf wys Agri Wes-Kaap egter daarop dat wettige afsettings, soos hersien deur die grondeisehof, wel plaasvind. Die volledige mediaverklaring word weens die belangrike inligting daarin onderaan hierdie nuuskommentaar geplaas.

En Agri Wes-Kaap het rede om eers op bewyse aan te dring. Oor die jare soveel aantygings van mishandeling en ander slegte optredes boere in die provinsie teen die kop geslinger dat daar ’n formele ondersoek gedoen is. Agri Wes-Kaap het met die Wes-Kaapse departement van landbou saamgespan, en die meer as 80 sake wat in ’n kort tydjie aangemeld is, ondersoek. Drie sake het in die hof beland, wat deur die howe as verdigsels uitgegooi is. Die ander sake het ook almal geblyk opgemaakte stories te wees.

Wat natuurlik nie beteken dat daar gevalle onder die radarskerm is wat waar is nie, maar hulle is beslis nie so algemeen soos wat die regering en ’n rits NRO’s wat spesiaal bestaan om onheile op Wes-Kaapse plase uit te snuffel, konsekwent beweer nie. Van hierdie NRO’s kry hul befondsing van Cosatu, en ander uit die buiteland. Wanneer hulle nie meer sake uitgesnuffel kry nie, verdwyn hulle bestaansreg, en die vermoede is baie sterk dat dit die rede vir so baie verdigsels is.

Die volgende aanhaling uit die mediaverklaring van Agri Wes-Kaap onderstreep die politieke bymotiewe van regeringsleiers: “Die skep van landbou-onrus met ’n politieke agenda dwing sekere industrieë tot ʼn halt. Is dit hoe die regering ’n nasionale bate vir al sy inwoners beskerm?

Die nasionale polisiekommissaris Riah Phiyega tydens die Menseregtekommissie se verhoor oor plaasmoorde in Oktober 2014 Foto: Werner Beukes/SAPA

Die nasionale polisiekommissaris Riah Phiyega tydens die Menseregtekommissie se verhoor oor plaasmoorde in Oktober 2014 Foto: Werner Beukes/SAPA

Die “kitskonstabel”

ʼn Gespartel om kop bo watter te kom is nie nuut of vreemd aan Suid-Afrika se belangrikste “kitskonstabel”, die polisiehoof Riah Phiyega nie. Nou het sy weer die land verras toe sy voor ʼn ondersoek van die Menseregtekommissie na onder meer plaasmoorde, getuig het die polisie hou wel statistieke oor plaasmoorde by, maar stel dit net nie aan die publiek bekend nie. “Want moord is moord.”

Maar só is diefstal ook diefstal, maar veediefstal word as ʼn afsonderlike kategorie opgeneem en aan die publiek vrygestel.

Die juweeltjie sou egter kom. Volgens Phiyega neem plaasmoorde die afgelope vier jaar af. ’n Ruk later reik TLU SA ʼn verklaring uit waarin haar syfers betwis word. Volgens Henry Geldenhuys, TLU SA se adjunkpresident en voorsitter van die veiligheidskomitee, wys TLU SA se statistiek dat daar tot en met einde September vanjaar reeds 53 plaasmoorde plaasgevind het in 210 aanvalle. Dit verteenwoordig ’n skerp styging teenoor 2013, toe daar tot die einde van September 43 plaasmoorde plaasgevind het in 164 aanvalle.

Die probleem is voor die hand liggend. As haar syfers vir plaasmoorde so maklik weerlê kan word, hoe geloofwaardig is die ander polisiestatistiek?

Maar Phiyega het die wag voor haar mond laat glip. Haar stelling dat moord, moord is, en dat een soort moord nie van ʼn ander onderskei kan word nie, is op sy eie omstrede. Hiervoor word sy onder meer in vanoggend se hoofartikel van Volksblad onder hande geneem: “Hoe kom sy daarby uit as ’n veertigste van aggressiewe huisrooftogte op moord uitloop, terwyl die helfte van plaasaanvalle iemand se lewe kos? Of is dit net weer ’n manier om die regering se klaarblyklike ongeërgdheid oor die veiligheid van boere te regverdig?

Sy het ook, blykbaar na haar getuienis, gesê daar is geen onderskeid tussen ’n moord in ’n sjebien en ’n plaasmoord nie. ’n Mens sou meer regskennis van ’n polisiehoof verwag. Die howe tref beslis ’n groot onderskeid tussen ’n dronknes-geveg in ’n drankhool, en wanneer onskuldige mense tydens ’n versigtig-beplande aanval voorgelê word – dikwels na kerk – wreed aangerand word en op die grusaamste wyse denkbaar vermoor word. Selfs jong kindertjies soos die peuter, Willemientjie Potgieter, is vermoor.

Die appèlhof het ’n duidelike onderskeid getref tussen dolus eventualis (die oortreder voorsien objektief dat sy daad die dood van die slagoffer kan veroorsaak en gaan voort ongeag die gevolge), en dolus directus. In die Oscar Pistorius-saak het die regter besluit dat die doodslag nie aan die maatstawwe van dolus eventualis voldoen nie, en Pistorius is aan strafbare manslag skuldig bevind.

Die hoof van die polisie behoort tog hiervan kennis te dra.

Die verlies aan lewe is tragies, ongeag hoe iemand sterf, maar ’n polisiehoof kan tog nie die polisie bestuur, en die veiligheid van mense prioritiseer sonder om besondere aandag te skenk aan die wetsgehoorsame burgers, deur hulle op dieselfde wyse te hanteer as mense wat in dronknesbakleierye betrokke raak nie, en die hoogste tol betaal.

Die polisiehoof skuld die landbougemeenskap ’n groot verskoning. So lank sy sulke uitlatings maak, sal sy in kommentare op die sosiale media erg deurloop, en sal die vermoede versterk word dat sy heeltemal uit haar diepte is.

Mediaverklaring: Agri Wes-Kaap
RE: ADJUNK-PRESIDENT SE BOLANDSE BESOEK
Tydens sy besoek saam met mnr. Marius Fransman aan die Paarl in die Boland die naweek, het adjunkpresident Cyril Ramaphosa onder meer verwys na die verwagte rol wat produsente moet speel om plaaswerkers se lewensomstandighede te verbeter.

Terwyl Agri Wes-Kaap deeglik bewus is van hierdie sosiale verantwoordelikheid, wil georganiseerde landbou in die Wes-Kaap mnre. Ramaphosa en Fransman daaraan herinner dat die regering ook ’n rol het om die landbousektor, wat ’n nasionale bate is, te ondersteun en te beskerm.

In die jaar wat die twintigste bestaan van die land se demokrasie gevier word, kon die regering nog nie daarin slaag om sy grondhervormingsbeleid doeltreffend en volhoubaar te implementeer nie. Sekere van die nuwe beleidsvoorstelle wat uit die Groenskrif op Grondbeleid voortspruit, is ook nie implementeerbaar nie. Georganiseerde landbou het veral die afgelope drie jaar aan hoeveel gesprekke deelgeneem om werkbare modelle vir grondhervorming voor te stel. Dit is keer op keer deur die nasionale regering van die tafel gevee en met nuwe planne vervang wat onrealistiese verwagtinge skep en emosies aanblaas.

Waar is die regering se plan om nuwe en bestaande markte vir beide bestaande en opkomende produsente oop te maak om die winsgewendheid van veral nuwe toetreders tot die landbousektor te waarborg? Landelike infrastruktuur gaan só vinnig agteruit dat dit winsgewendheid in gedrang bring. Waar is die regering se plan om landbou te ondersteun deur hierdie verval aan te spreek?

Die skep van landbou-onrus met ’n politieke agenda dwing sekere industrieë tot ʼn halt. Is dit hoe die regering ’n nasionale bate vir al sy inwoners beskerm?

Wat plaasuitsettings betref, is Agri Wes-Kaap nie bewus van enige onwettige uitsettings nie. Wettige uitsettings wat ná hofuitsprake deur die grondeisehof onder hersiening geneem en toegestaan is, vind wel plaas.

Agri Wes-Kaap sou dit verwelkom indien die adjunkpresident en mnr. Fransman tydens hulle besoek tyd kon inruim om op afspraak ook met georganiseerde landbou en produsente om ’n tafel te kon sit om te gesels oor hoe Wes-Kaapse produsente daagliks talle uitdagings moet trotseer om een van die belangrikste sektore in die ekonomie aan die gang te hou.

Soos in die verlede is georganiseerde landbou in die Wes-Kaap altyd bereid om met die regering hande te vat en tot die gesprek toe te tree om ’n beter Suid-Afrika vir almal daar te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anoniem ·

Hoe kan die hoof van die polisie sulke uitlatings maak? Dit dui weereens Zuma se aanstellings met persone wat onbevoeg is. As jy geen SAP ondervinding het nie wat soek jy in die pos? Vra vir agbare Zuma. Bose kringloop.

Dereck Le Roux ·

Die twak wat Rhiya Phiega kwytgeraak het bevestig maar net die landbougemeenskap en Afriforum se beskuldiging van die traak my nie agtige houding van die polisie, die minister veral die voormalige minister Nathi Mtethwa en die president en die ANC regering, dit is baie duidelik en voor die handliggend waar alles vandaan kom en jammer boere julle gaan nie baie hulp kry nie, met die polisie se sogenaamde landelike weerbaarheidsplan en straegie in werking of nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.