Nuuskommentaar: Die buiteland, my buurman

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto; David Ritchie/ANA)

Moderne tegnologie het ’n streep getrek deur die dae toe regerings ’n alleenseggenskap oor buitelandse betrekkinge gehad het. Dié les leer die ANC nou oor sy nuwe beleid van grondonteiening op die harde manier. Die stryd het skaars begin, maar reeds is die aanduidings daar dat dit positief kan afloop.

Alle state is gelyk en ongelyk tegelyk. Dié ou waarheid word nou weer so duidelik gedemonstreer met die VSA wat onder leiding van pres. Donald Trump oral spiere bult en dikwels “eensydig” optree en selfs sy bondgenote met bloutjies huis toe stuur.

Maar soos Volksblad in ’n hoofartikel beeldryk uitwys, Trump is nie ál wat sake met sy “slingerkoers” omkrap nie. Wladimir Poetin wat pas vir ses jaar herkies is, se verkiesing dra by tot ’n toename in internasionale onstabiliteit, en China bult sy spiere in sy agterplaas.

Die Los Angeles Times, wat selde indien ooit ’n goeie woord vir Trump het, meen Trump het wêreldpolitiek nou vertroebel.

Moderne tegnologie het die wêreld tot ’n neutedop laat krimp. Dikwels het iets wat in die buiteland gebeur ’n veel groter invloed op die land as iets groots wat in die binneland gebeur. Dié waarheid is pas goed gedemonstreer deur die Amerikaanse ekskursie van Kallie Kriel en Ernst Roets na die VSA wat tot ’n uitbarsting deur die president in die parlement hieroor bygedra het. AfriForum is van dislojaliteit teenoor die land beskuldig – ’n diskoers wat eintlik lankal begrawe moes gewees het nadat AfriForum lank terug in soortgelyke omstandighede daarop gewys het dat kritiek op die ANC dikwels juis op lojaliteit teenoor die land dui.

Ramaphosa het AfriForum (wat hy nie by die naam genoem het nie) aangeraai om eerder huis toe te kom en saam met die 140 000 Suid-Afrikaners wat reeds voorleggings oor grondgryping gedoen het, aan die proses deel te neem. Intussen blyk dit, volgens die voorsitter van die ondersoekkomitee, dat baie van die voorleggings geoutomatiseer is en skynbaar bedoel is om die komitee te oorstroom om die werksaamhede te beduiwel.

Kriel het pres. Ramaphosa weer in min of meer soveel woorde hierop gewys.

Dit is lank reeds bekend dat Suid-Afrika se buitelandse “beleid” selde deur die sinvolle opweeg van landsbelang gekenmerk word. Suid-Afrika het byvoorbeeld by geleentheid die destydse wreedaardige bewind van Mianmar gesteun, en selfs ’n mosie gesteun wat op steun vir die Islamitiese Staat neergekom het. Ghaddafi en Fidel Castro is omarm.

In dié stadium wil dit voorkom asof Suid-Afrika van sy ruim buitelandse hulp van die VSA kwyt kan wees deur te dikwels in die VN teen die VSA te stem. By geleentheid het ’n Suid-Afrikaanse diplomaat in Genève probeer keer dat Suid-Afrikaanse afgevaardigdes (spesifiek van die Vryheidsfront Plus maar wesenlik ook ander) voorleggings by die VN-agentskap doen oor plaasaanvalle. Die diplomaat het kras aangevoer dat diegene wat die voorlegging steun steeds hunker na apartheid. Daar is geen aanduiding dat daar dissiplinêr teen haar belediging van parlementslede opgetree is nie.

Die feit bly dat ’n regerende party weens skadelike binnelandse beleid harder vanuit die buiteland geslaan kan word as optrede binnelands. Trouens, die internasionale gemeenskap word gekenmerk deur internasionale organisasies wat saamspan vir dié doel, soos die United Nations and Peoples Organisation (UNPO) wat die miskenning of onderdrukking van minderheidsgroepe internasionaal aan die groot klok hang. Die Vryheidsfront Plus verteenwoordig formeel die Afrikaner op hierdie organisasie, en plaasmoorde asook die veldtog teen Afrikaans kom gereeld aan die bod.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, en Kallie Kriel, AfriForum se uitvoerende hoof, tydens hul besoek aan die VSA (Mei 2018). Foto: Twitter via @ErnstRoets

Deur ’n objektiewe afmeet van optredes deur die ANC en sy teenstanders, is daar min twyfel dat die ANC die land baie meer skade berokken as die teenstanders se “dislojaliteit”. ’n Baie goeie voorbeeld is dat die herinneringe aan die skadelike bewind van oudpres. Jacob Zuma naatloos in die wêreld se kollektiewe geheue oorgegaan het toe Ramaphosa so sterk vir grondgryping in die bresse getree het.

Ramaphosa sal gou moet besef dat, vergeleke met die VSA, hy internasionaal ’n liggewig is. Hy het eenvoudig nie die “luukse” van Trump om dwars in die internasionale politiek te vaar nie. Wat ook in gedagte gehou moet word, is dat die VSA, ondanks kruipende sentralisering, formeel steeds ’n federasie is. Dit beteken dat die president en kongres se magte min of meer beperk is tot buitelandse sake en verdediging, met enkele binnelandse sosiale funksies. So sal een deelstaat die doodstraf toepas, en ’n ander nie. Dagga word in sommige deelstate gewettig, terwyl ander die stuipe wil kry.

Trump se aandag sal dus outomaties baie meer op die buiteland gefokus wees as wat die geval met Ramaphosa sal wees. Trump se persoonlike skaduwee val dus breed oor die VSA se opsegging van die Iranse kernooreenkoms (ondanks kritiek van sy belangrikste bondgenote), die verskerping van sanksies (wat Suid-Afrika hard gaan tref) en die verwikkelinge in Korea. Maar Suid-Afrika se kwesbaarheid weens lawwe besluite oor buitelandse sake, en veral bilaterale bande met die VSA, maak buitelandse sake nie minder belangrik nie.

Ten minste het AfriForum nou die aandag van die president met erns getrek, heel anders as in die Zuma-era toe AfriForum se (hoofsaaklik binnelandse aksies) oor uiters belangrike sake soos plaasaanvalle deur ministers as “goedkoop propaganda” afgemaak is. AfriForum beoog nog buitelandse ekskursies, en daar was reeds positiewe buitelandse gevolge.

Die hoop kan, en mag nie, beskaam dat dit tot positiewe vordering tussen die regerende party en AfriForum sal lei nie, soos die skep van geleenthede tot bilaterale samesprekings. Ander nieregeringsorganisasies kan hierby baat vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

jaco ·

As Afriforum nie met presidente en premiers van ander lande self praat nie, maar net met kultuurgroepe en “think tanks” in ander lande, gaan hulle buitelandse ekskursies hulle niks help nie. Die Heritage Foundation in die VSA is nie die Huis van Verteenwoordigers of die Senaat of die Wit Huis nie.
Kortom, al wat gaan werk is buitelandse regerings wat vir Afriforum steun, soos wat die regerings van onder andere Oos-Duitsland, die Sowjetunie en Kuba die ANC se struggle teen apartheid gesteun het.

Henry ·

Om te verwag dat Afriforum of enige ander nie-regeringsorganisasie sommerso daarin sal slaag om toegang en ‘n simpatieke oor by enige buitelandse regering sal ontvang, is ‘n baie naiewe aanname/verwagting, om dit sagkens te stel.

Ek aanvaar dat Afriforum en vennote die werklikhede en teleurstellings van aksies soos dit waarmee hulle tans besig is, besef en nooit moed sal opgee nie. Weet ook dat daar heelwat teenstand gaan wees, veral wanneer daar sukses behaal word. Dit is wanneer vasbyt en nog groter insette van belang sal wees.

Sterkte aan Afriforum en la’ waai met hierdie veldtog wat onvermoeide ywer, toewyding en finansiële steun van ons gewone piete gaan verg.

JC ·

Uitstekend, dankie Herman.

Die gehalte en kwaliteit van die rubrieke op Maroela neem by die dag toe!

Afriforum moet soveel as moontlik dinkskrums, NRO’s en ook regeringsinstansies toespreek as wat hulle kan, veral in die VSA. Hier dink mens ook aan die “National Rifle Association” bv. wat wydlopende invloed en gesag dra, veral wat betref ons konserwatiewe familielede.

Ek is bitter trots op wat hulle verrig, dit is asof hulle gemaak was hiervoor, en asof hierdie die oomblik was wat hulle moes aangryp om weer die Afrikaner tot ‘n hegte en besorgde eenheid saam te snoer.
Bravo, bravo !!
Lank leef die Afrikanerboer !

Dra nie water ·

Absurde opmerking van Ramaphosa wat beweer dat AfriForum eerder hier moes bly en praat. Hulle het dit gedoen, al jare terug, en nou steeds, hulle lede het baie briewe ingestuur om daaroor te praat. Dink voor jy sulke ondeurdagte opmerkings maak Ciril, ons is nie dom en een enige iets wat jy se soos soetkoek op nie, ons gebruik ons breine.

John ·

Herman is duidelik deel van die cosy en magtige persaanslag teen Trump en steun elke Europese regering binne die vrolike EU wat die Palestyne handvoer. Die meisietjie wat vrolik grap met die Iranse leiers, glo waarskynlik vas hulle droom snags van haar; sy’t hul harte vermurwe. Daar is erge onderstrominge en vreemde spele aan die gang en Iran geniet hierdie omarming terdee. Waarom sou Iran so heftig en woedend reageer? Dit is ‘n totale eensydige godsdienstige bestel met geen geduld met andersdenkendes nie, maar die Weste glo dis kosher. So dink ons geagte nuwe prez ook tov van sy reg om te hiet en gebied. Die ou streek van die ANC is mos onder-die-lakens-regeer en almal heuning om die mond smeer. Om die water te verdroebel is wat die twee mans nou doen en nou word hulle as dislojale SA-uitgekryt. Hier is ook ‘n vraag te vra: Hoekom so heftig reageer as daar back at the ranch niks verkeerd is nie?

Eish ·

Goeie en weereens n leersame artikel, baie dankie.
Dat die meerderheidsregering gaan leer dat jy nie die hand byt wat jou voed nie, is gewis.
Of dit egter die gebreinspoelde retoriek gaan beëindig is te betwyfel.
Afriforum is op die beste pad met die bewusmakingsveldtog. Gesprekvoering het slegs waarde vir die deelnmers indien vanuit n posisie van mag gekwetter word. Hul is nou besig om presies dit te doen synde ons Kaukasiese Afrikaansprekendes binnelands gereduseer is tot n negeerbare, ontmande minderheid.
Mag hul van krag tot krag gaan. Mag die mak hond die seertste byt!

Grassie ·

Herman – dankie dat jy jou insig oor politike en internasionale gebeure met ons deel. Vir baie mense, soms ook vir my, is dit soms net ‘n verwarrende klomp gebeure totdat iemand dit ‘n bietjie rangskik en in perspektief stel.
Ek dink Afriforum het ‘n hele klomp sensitiewe ANC-tone raakgetrap met hul optrede in Amerika. Selfs Ramaphosa was duidelik befoeterd daaroor, wat vir my ‘n duidelike bewys is dat hy die volle waarheid omtrent die onderdrukking van witmense in ons land vir die buiteland probeer wegsteek,
Van Ramaphosa gepraat – ek is seker dat hy, al is hy hoe kwaad, nooit vir ‘n swart parlementslid tydens ‘n sitting sal skreeu “shut up” nie. Sy weersin in witmense begin al hoe meer deurslaan.

jaco ·

Die wit parlementslid vir wie Ramaphoza “shut up” geskree het, verdien R1. 3miljoen PER JAAR, plus ‘n luukse motor plus ‘n petroltoelae plus ‘n luukse huis plus verniet vlieg plus ‘n vet onthaaltoelae. So ek dink nie hy gee juis om dat hy so verskree is nie. As my vergoedingspakket elke jaar so gelyk het, sal ‘n blote belediging teen my so af en toe, my nie pla nie.
Met daardie lekker vergoedingspakket vir alle parlementslede, INSLUITEND, die DA, VF-Plus, EFF en ook die sogenaamde “wedergebore Christene” in die ACDP, verryk elkeen hom/haarself net. Elkeen spaar lekker aan sy/haar eie mini-Nkandla.

Herman Toerien ·

Ek weet regtig nie waar John daaraan kom dat ek die Palestyne oor Israel, steun, of enige standpunt tov Trump hier ingeneem het. Ek is nog besig om inligting vir ‘n nuuskommentaar vorentoe daaroor te versamel. Die stuk het ander sake onder die loep genmeem, en te lank geword om nog gemotiveerd oor die wêreld se reaksie op Trump se aksies in te neem.

Jerry ·

Met ander woorde, dieselfde redenasie wat geld vir die ANC oor “dislojaliteit” geld ook vir die forum wat dan daarop neerkom dat kritiek op Afri-Forum dan ook dikwels juis op lojaliteit teenoor die land dui, aldus die skrywer. Afri-Forum moet dus nou aanvaar dat alle vorige kritiek en huidige kritiek teen die forum op lojaliteit teenoor die land dui en dus moet die forum begin om nie net positiewe, maar ook negatiewe kritiek ernstig op te neem. Hier is sommer nou dadelik kritiek wat julle ernstig moet opneem, “hou op om te praat dat julle die Afrikaner verteenwoordig, praat die waarheid en verkondig eerder dat julle, julle lede verteenwoordig,”.

Eish ·

Dié kommentaar laat my dink aan die dominee wat tydens my grootwordjare weekliks die “Scope” tydskrif gekoop het om eerstehands te kon preek oor sedelike verval.

Ella ·

En daardie “shut up” word, volgens Engels koerante, beaam deur “all black communities”. So, ons moet almal stilbly ons opinie geld nie meer.
Wonder wat sal gebeur as dit vir enige ander mens in die parlement geskree word.
Self my kleinkinders onder 5 se “mens se nie “shut up” nie”.
Dankie Herman vir jou insig in hierdie saak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.