Nuuskommentaar: Die Caster Semenya-dilemma

Caster Semenya. Foto: Karwai Tang/ANA

Die persepsie dat die gort gaar is as ʼn swart persoon deur ʼn wit persoon of persone aangevat word, ongeag die omstandighede, word versterk deur die Caster Semenya-debakel wat nog ʼn hele ruk sal aanhou woed. Die diskoers wat losgebars het nadat AfriForum aangekondig het dat sy private vervolgingsbeen Julius Malema gaan vervolg as die Nasionale Vervolgingsgesag sou versuim om dit te doen, is maar een voorbeeld.

Die Internasionale Atletiekfederasie (IAAF) word daarvan beskuldig dat hy Semenya in die besonder teiken noudat sy goeie prestasies behaal, en juis in die nommers waarin sy uitblink struikelblokke plaas. ʼn Literatuurstudie toon egter dat dit ʼn bloot toevallige sameloop van omstandighede is. Die IAAF se hoof, Sebastian Coe, is internasionaal onder groot druk om atletiek regverdig mededingend te maak. Omvattende studies het getoon dat vroue met hoër as die normale testosteroonvlakke juis in onder meer die 400 meter, 800 meter en 1 500 meter ’n onregverdige voorsprong het.

Semenya se grondwetlike reg op privaatheid verhinder dat die breë publiek presies weet wat haar testosteroonvlakke is.

Een weergawe is dat die staat in die tyd toe Semenya gebore is, ʼn spuitmiddel teen malariamuskiete gebruik het wat tot verskeie geboortedefekte gelei het. Geslagsverwante afwykings het glo algemeen voorgekom. Dit sou daartoe gelei het dat Semenya benewens ʼn vroulike uiterlike met geboorte, inwendig oor ʼn volledige stel manlike organe beskik het wat manlike hormone, waaronder testosteroon vervaardig.

Anders as vroeër jare toe vroue wat geen steroïde gebruik nie, gereeld ʼn lawaai gemaak het oor die onregverdige kompetisie waaraan hulle onderhewig is, is die klagtes nou oor die algemeen meer diskreet. Dit kan egter aanvaar word dat die IAAF op ʼn diskrete vlak gereeld klagtes sal ontvang van vroue wat veronderstel is om die beste in hul items ter wêreld te wees, maar by verstek daarvan weerhou word deur ander wat “ingeboude” of toegediende voordele het.

Vroeër jare was die klagtes meer aan die groot klok gehang toe vroue van agter die Ystergordyn, met manlike voorkoms, sekere items en sportsoorte begin oorheers het. Van die vrouedeelnemers was selfs skugter om die kleedkamers met hierdie deelnemers te deel.

Met die val van die Ystergordyn, en meer bepaald die Berlynse muur, het die omvang van owerheidsverneukery om prestasies te verbeter eers werklik aan die lig gekom. Tussen 1968 en 1988 het Oos-Duitse atlete wat met ʼn steroïed “gevoer” is, 500 Olimpiese en Winter-Olimpiese Spele-medaljes verower. Die prys vir die atlete was egter verskriklik. In die geval van Heidi Krieger het die steroïde haar só beïnvloed dat sy ʼn geslagsverandering ondergaan het. Sy het permanente pyn. Roland Schmidt het 36 vroueborste (DD) ontwikkel wat chirurgies verwyder moes word. Atlete is deurgaans verseker dat die pille wat hulle gevoer word, vitamienpille is. Veral Oral-Turinabol is na berig word aan atlete gevoer.

Dit is veral huidige programme in Rusland wat druk op Coe en sy kollegas plaas. Volgens ondersoeke is die regering en pres. Wladimir Poetin self daarby betrokke. Die “verbetering” op die ou stelsels van agter die Ystergordyn is dat atlete nou vrywillig aan die programme kan deelneem.

Maar waar laat dit Semenya wat self niks doen om haar testosteroonvlakke te verhoog nie? Haar geval is egter allermins uniek. Toetse om te bepaal of deelnemers werklik vroue is, het reeds in 1950 begin. Dit was onder meer omdat daar mansatlete was wat hulle as vroue voorgedoen, en so aan items vir vroue wou deelneem. Die toetse het egter ook “tussengeslag”-atlete in die oog gehad, deelnemers wat as gevolg van die afwykings onregverdige voordele sou hê. Aanvanklik is atlete fisiek ondersoek, maar dit het later na chromosoomtoetse uitgebrei, en uiteindelik na testosteroontoetse. Dit het egter omstrede gebly omdat hierdie deelnemers se waardigheid erg geskend is, en atlete wat onder meer gedwing is om operasies te ondergaan om die probleem “reg te stel” erge psigiese en fisieke probleme daarvan oorgehou het.

Deurgaans word die probleem as uiters kompleks beskryf.

ʼn Opsie wat al gereeld aan Coe en kollegas genoem is, is dat benewens kategorieë vir mans en vroue, daar ook ’n kategorie vir tussengeslagtelike atlete geskep word. Die probleem is dat dit steeds toetsing sal vereis.

Suid-Afrika moet nou ligloop om nie van ’n uiters sensitiewe saak ’n kwaadwillige saak te probeer maak nie, en die indruk probeer skep dat die land vrede met onregverdige voordele het nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

34 Kommentare

jongste oudste gewildste
Han

Herman, uitstekende en gebalanseerde kommentaar! Ongelukkig word alles – hoe goed ookal bedoel – deur ‘n rasse-bril gesien. Suid-Afrika is rassisme-beduiweld!

Oom Kalahari

Dankie Herman Toerien, dit is weereens ‘n goeie uiteensetting oor atletiese deelnames. Ongelukkig kan dit teen die muur geskryf word dat hier al vir jare nie ‘n regverdige deelname plaasvind nie en vir hoelank moet hierdie proses ander atlete negatief beinvloed en weerhou tot suksesvolle deelname en kompeterend te wees op dieselfde vlak. Neem deel teenoor atlete met dieselfde hoe testoroon vlakke waar regverdige kompetisies plaasvind. Daar kan nie altyd rasgedrewe inisiasies gemaak word nie om onregverdigheid ten toon te stel nie. Waarom kwaad of ongelukkig raak as die waarheid boekdele spreek. Die IAAF moet dan bloot deur vroue beamptes… Lees meer »

Driekop monster

Drie kategoriee is die enigste haalbare oplossing. Mans wat net effens laer of gemiddelde testosteroonvlakke het moes dekades deur vrede maak om nie te kan presteer in rugby ens nie, en dit is veral erg onder die Afrikaners wat rugby tot godsdiensstatus opgehef het en die akademie en entrepreneursvaardigheidsontwikkeling onder kinders opsy geskuif het. Vandag boet ons daarvoor, ons speel lekker rugby maar is totaal ontmagtig.

Casper Labuschagne

Voorwaar ‘n landmyn wat verseker afgetrap gaan word. Daar is diegene wat tot die maksimum sal kapitaliseer op die paradigma van “wit rassisme, swart slagoffer” wat op ‘n skinkbord aangebied sal word deur enige regulasies betreffende Caster Semenya. En hier moet ek self ligloop, feitlik enige kritiek teen die Caster Semenya verskynsel kan en sal onder huidige asook komende wetgewing as de facto haatspraak vertolk word. So kom ek sê bloot net dat wanneer ek na atletiese prestasies kyk, voel ek baie jammer vir vroue, dit wil sê biologiese vroue, wat in my opinie onregverdiglik, nie meer in atletiek kan… Lees meer »

Al

Ons het al geleer in SA hoe heftig die ontkenning en reaksie is, is omdat die waarheid na aan die been kerf.