Nuuskommentaar: Die Caster Semenya-dilemma

Caster Semenya. Foto: Karwai Tang/ANA

Die persepsie dat die gort gaar is as ʼn swart persoon deur ʼn wit persoon of persone aangevat word, ongeag die omstandighede, word versterk deur die Caster Semenya-debakel wat nog ʼn hele ruk sal aanhou woed. Die diskoers wat losgebars het nadat AfriForum aangekondig het dat sy private vervolgingsbeen Julius Malema gaan vervolg as die Nasionale Vervolgingsgesag sou versuim om dit te doen, is maar een voorbeeld.

Die Internasionale Atletiekfederasie (IAAF) word daarvan beskuldig dat hy Semenya in die besonder teiken noudat sy goeie prestasies behaal, en juis in die nommers waarin sy uitblink struikelblokke plaas. ʼn Literatuurstudie toon egter dat dit ʼn bloot toevallige sameloop van omstandighede is. Die IAAF se hoof, Sebastian Coe, is internasionaal onder groot druk om atletiek regverdig mededingend te maak. Omvattende studies het getoon dat vroue met hoër as die normale testosteroonvlakke juis in onder meer die 400 meter, 800 meter en 1 500 meter ’n onregverdige voorsprong het.

Semenya se grondwetlike reg op privaatheid verhinder dat die breë publiek presies weet wat haar testosteroonvlakke is.

Een weergawe is dat die staat in die tyd toe Semenya gebore is, ʼn spuitmiddel teen malariamuskiete gebruik het wat tot verskeie geboortedefekte gelei het. Geslagsverwante afwykings het glo algemeen voorgekom. Dit sou daartoe gelei het dat Semenya benewens ʼn vroulike uiterlike met geboorte, inwendig oor ʼn volledige stel manlike organe beskik het wat manlike hormone, waaronder testosteroon vervaardig.

Anders as vroeër jare toe vroue wat geen steroïde gebruik nie, gereeld ʼn lawaai gemaak het oor die onregverdige kompetisie waaraan hulle onderhewig is, is die klagtes nou oor die algemeen meer diskreet. Dit kan egter aanvaar word dat die IAAF op ʼn diskrete vlak gereeld klagtes sal ontvang van vroue wat veronderstel is om die beste in hul items ter wêreld te wees, maar by verstek daarvan weerhou word deur ander wat “ingeboude” of toegediende voordele het.

Vroeër jare was die klagtes meer aan die groot klok gehang toe vroue van agter die Ystergordyn, met manlike voorkoms, sekere items en sportsoorte begin oorheers het. Van die vrouedeelnemers was selfs skugter om die kleedkamers met hierdie deelnemers te deel.

Met die val van die Ystergordyn, en meer bepaald die Berlynse muur, het die omvang van owerheidsverneukery om prestasies te verbeter eers werklik aan die lig gekom. Tussen 1968 en 1988 het Oos-Duitse atlete wat met ʼn steroïed “gevoer” is, 500 Olimpiese en Winter-Olimpiese Spele-medaljes verower. Die prys vir die atlete was egter verskriklik. In die geval van Heidi Krieger het die steroïde haar só beïnvloed dat sy ʼn geslagsverandering ondergaan het. Sy het permanente pyn. Roland Schmidt het 36 vroueborste (DD) ontwikkel wat chirurgies verwyder moes word. Atlete is deurgaans verseker dat die pille wat hulle gevoer word, vitamienpille is. Veral Oral-Turinabol is na berig word aan atlete gevoer.

Dit is veral huidige programme in Rusland wat druk op Coe en sy kollegas plaas. Volgens ondersoeke is die regering en pres. Wladimir Poetin self daarby betrokke. Die “verbetering” op die ou stelsels van agter die Ystergordyn is dat atlete nou vrywillig aan die programme kan deelneem.

Maar waar laat dit Semenya wat self niks doen om haar testosteroonvlakke te verhoog nie? Haar geval is egter allermins uniek. Toetse om te bepaal of deelnemers werklik vroue is, het reeds in 1950 begin. Dit was onder meer omdat daar mansatlete was wat hulle as vroue voorgedoen, en so aan items vir vroue wou deelneem. Die toetse het egter ook “tussengeslag”-atlete in die oog gehad, deelnemers wat as gevolg van die afwykings onregverdige voordele sou hê. Aanvanklik is atlete fisiek ondersoek, maar dit het later na chromosoomtoetse uitgebrei, en uiteindelik na testosteroontoetse. Dit het egter omstrede gebly omdat hierdie deelnemers se waardigheid erg geskend is, en atlete wat onder meer gedwing is om operasies te ondergaan om die probleem “reg te stel” erge psigiese en fisieke probleme daarvan oorgehou het.

Deurgaans word die probleem as uiters kompleks beskryf.

ʼn Opsie wat al gereeld aan Coe en kollegas genoem is, is dat benewens kategorieë vir mans en vroue, daar ook ’n kategorie vir tussengeslagtelike atlete geskep word. Die probleem is dat dit steeds toetsing sal vereis.

Suid-Afrika moet nou ligloop om nie van ’n uiters sensitiewe saak ’n kwaadwillige saak te probeer maak nie, en die indruk probeer skep dat die land vrede met onregverdige voordele het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

Han ·

Herman, uitstekende en gebalanseerde kommentaar! Ongelukkig word alles – hoe goed ookal bedoel – deur ‘n rasse-bril gesien. Suid-Afrika is rassisme-beduiweld!

PLP ·

Han, hoekom nou die rasse kaart uithaal. Caster is tog sekerlik n swart atleet. Die IAAF teiken haar heelwaarskynlik as n atleet en het nie kleur ingedagte nie. Hulle moet die arme vrou uitlos dat sy doen waarin sy goed is. Sy is so geskape so los haar. Sy het darm iets van haar lewe probeer maak. Los tog die ou rasse kaart uit asb

Paul ·

PLP, Suid Afrika moet seker die mees rasbehepte land in die wêreld wees.

Oom Kalahari ·

Dankie Herman Toerien, dit is weereens ‘n goeie uiteensetting oor atletiese deelnames. Ongelukkig kan dit teen die muur geskryf word dat hier al vir jare nie ‘n regverdige deelname plaasvind nie en vir hoelank moet hierdie proses ander atlete negatief beinvloed en weerhou tot suksesvolle deelname en kompeterend te wees op dieselfde vlak. Neem deel teenoor atlete met dieselfde hoe testoroon vlakke waar regverdige kompetisies plaasvind. Daar kan nie altyd rasgedrewe inisiasies gemaak word nie om onregverdigheid ten toon te stel nie. Waarom kwaad of ongelukkig raak as die waarheid boekdele spreek. Die IAAF moet dan bloot deur vroue beamptes op ‘n fisiese toets aandring en kyk of dit vrywilig sal geskied.

Driekop monster ·

Drie kategoriee is die enigste haalbare oplossing. Mans wat net effens laer of gemiddelde testosteroonvlakke het moes dekades deur vrede maak om nie te kan presteer in rugby ens nie, en dit is veral erg onder die Afrikaners wat rugby tot godsdiensstatus opgehef het en die akademie en entrepreneursvaardigheidsontwikkeling onder kinders opsy geskuif het. Vandag boet ons daarvoor, ons speel lekker rugby maar is totaal ontmagtig.

Henry ·

Driekop monster
Dat jy ons arme Afrikanermans, rugby, godsdiens-status en sommige siele se lae testosteroon vlakke by Semenya en haar probleme met die IAAF aan die spreekwoordelike hare nader sleep, is lagwekkend – om dit baie vriendelik te stel – mos.
:-)

Casper Labuschagne ·

Voorwaar ‘n landmyn wat verseker afgetrap gaan word. Daar is diegene wat tot die maksimum sal kapitaliseer op die paradigma van “wit rassisme, swart slagoffer” wat op ‘n skinkbord aangebied sal word deur enige regulasies betreffende Caster Semenya.

En hier moet ek self ligloop, feitlik enige kritiek teen die Caster Semenya verskynsel kan en sal onder huidige asook komende wetgewing as de facto haatspraak vertolk word. So kom ek sê bloot net dat wanneer ek na atletiese prestasies kyk, voel ek baie jammer vir vroue, dit wil sê biologiese vroue, wat in my opinie onregverdiglik, nie meer in atletiek kan uitblink nie.

Al ·

Ons het al geleer in SA hoe heftig die ontkenning en reaksie is, is omdat die waarheid na aan die been kerf.

DS ·

Ja wonder of ou grootbek Malema ook op hierdie rasse – trein gaan spring…. of is hy nie mans genoeg nie ?

Vincent ·

Daar is dus geen maniet hoe jy nie as n rassis beskou kan word nie. Skaam jou.

John ·

Dit is nie die eerste keer in die geskiedenis dat hierdie probleem kop uitsteek nie. Daar was al mans wat hul manlikheid verbloem het en teen vroue meegeding het. En onlangs nog was daar ‘n deelnemer uit ‘n Oosblokland wat dieselfde probeer het en gediskwalifiseer is. Wat mans van vroue onderskei is sekerlik ‘n kriteria tov van sportdeelname anders kan alle mans maar aan vroue-items deelneem. Daar is reeds kapsie gemaak teen vroue wat tostesteroon gebruik om spiere te bou. Veral sekere tennissterre is daarvan beskuldig. Geen vrou sal durf meeding teen mans nie. Hoekom dan? Volgens sekere gerugte het Caster as jongeling eers saam met die seuns genael totdat die vrouewedrenne meer winsgewend geblyk het en sie daar…. Indien ‘n paar atlete se ambisie groot genoeg word, kan besnydenis dalk as rede aangevoer word vir ‘n ander stroomlynverbinding. Hoekom gaan Caster nie vir ‘n volslae geslagsverandering nie en gebruik ook estrogeen volgens doktersvoorskrif en toets dan die aflosstokkie? Ouers word gereeld daarop gewys om seuns se geslagsonrwikkeling te monitor en met ‘n kinderarts te bespreek vir vroee ingrepe. Caster se vroulike kenmerke is uiters onopsigtelik vir die leek.

Buffel ·

Presies, maar as enige blanke persoon of instansie dit uitwys is dit rassisme. As die graderings agentskappe RSA se finansies afgradeer is dit “imperialists” wat daaragter sit. As korrupsie of “incompetence” uitgewys word is dit rassisties. Die hele wereld te blameer, groot geraas maak met die hoop dat die onnoselheid in die stof wat opgeskop word sal verdwyn. Wat het geword van feite sien vir wat dit is, introspeksie en hou by die reels ? Nee wat dis heeltemal te moeilik en vat te veel verstand en harde werk. Vat net die kortpaaie om vinnig ryk/beroemd of gemaklik te raak en skree “racist” as veral ‘n blanke iets daaroor te se het. Die “regime” en SA se pad na totale verval le perfek reguit voor ons uitgestrek. Onthou Margaret Thatcher se woorde oor die ANC se vermoe om SA te bestuur maar toe is sy ook uitgemaak asc’n “colonialist” en “racist”.

leser ·

wat kan nou so moeilik wees, wanneer vermoede ontstaan dat ‘n persoon se geslag verdink word, mag daardie persoon nie aan sport kan deelneem nie, maak nie saak watter kwade gevoelens daar mag wees nie

Eish ·

Vladimir Putin is nie betrokke by opkikkers nie. Tydens n dokumentêre program op RTV hierdie week, het die persoon wat die verdagmakery teen Russiese atlete aangevuur het, erken dat hy geen bewyse het nie. Sy woord is onvoorwaardelik aanvaar vanweë sy statuur in atletiek. Los maar Mnr. Putin uit die biotiese sopmengsels uit.

Mario Smith ·

Die dokumentere fliek “Icarus”, beskikbaar op Netflix, lê die hele Russiese bedrogspul oop. Daar is geen twyfel daaraan dat hulle ‘n staats-program het om atlete met opkikkers te voorsien nie.

Grassie ·

Ek het lankal verwag dat se Caster se geslagsidentiteit weer ernstige opslae gaan maak in internasionale atletiekkringe. Sy kan nie help vir wat sy is nie en ek het simpatie met haar, maar sy lyk soos ‘n man, loop soos ‘n man, hardloop soos ‘n man, het ‘n man se testosteroonvlakke, praat soos ‘n man en is met ‘n vrou getroud. Dit is alles ‘n bietjie dik vir ‘n daalder. As sy nou aftree kan sy eervol uit die petalje stap, maar ek dink die kaartmannetjie minister van sport gaan haar aanmoedig om aan te gaan.

Izak ·

Laat my wonder hoe WADA en hul pogings om sport skoon te hou van enige onwettige “middels” hierdié situasie gaan hanteer. Is ‘n middel wat testosteroon inhibeer nie ook dalk iets wat deur WADA verbied word nie? Waar is die mediese kenners om my hierop te antwoord?

Koos de Meyer. ·

Ja ek stem saam. Onregverdig teenoor oor ander dames. Hier spring almal op die rassisme trein , want ons blankes word mos vir alles ge blameer. As die Taxi’s kop aan kop bots is dit ook ons skuld.

LHS ·

Daar moes al jare gelede so n reel geformuleer gewees het. Geen verskil vir n vrou om haarself met manlike hormone of steroide te dope nie, beide is onwettig. Die gevolgtrekking is dus dat te veel manlike hormone nie toelaatbaar is nie, sloes, punt, finish en klaar. Hoe en waar dit vandaan kom het absoluut niks met die saak te doen nie. Caster en haar afrigters weet sy word natuurlik bevoordeel en as hulle wou kon hulle self deur medikasie die saak reggestel het maar hulle sou nie want hy sou nie meer as n sy presteer het nie.

dejager ·

Hierdie is voorwaar ń hartseer geval.Daar is ń baie klein persentasie mense wat ‘intersex’ gebore is.Dus nie manlik of vroulik nie maar beide.
Die eerbare ding om te doen is vir Caster om teen die mans te hardloop.Dit is bloot oneerlik om teen vroue te kompeteer.In my kultuur en ook in die tradisionele swart kulture word dit as ń groot persoonlike skaamte ervaar om tussen die geslagte te wees.ń Normale reaksie sou wees om dit geheim te hou.Caster kies egter om op ń laakbare manier voordeel daaruit te trek.
Ek het nog altyd gevoel dat Caster se oorwinnings hol oorwinnings is.Hierdie atleet is weens die ongelyke speelveld eerder ń verleentheid vir ons land as ń trots.

jaco ·

hoekom is daar dan in die koue oorlogjare niks gedoen aan atlete uit Oos-Duitsland en die Sowjet-Unie nie? Almal in atletiekkringe en in die Internasionale Olimpiese Komitee het geweet daardie atlete word met hormoonpille en inspuitings “gedope”. Of is hulle uitgelos omdat hulle wit was?

Willem ·

Ras het sweet blou dinges daarmee te doenne gehad, mens kan sien jy sit in SA.

Buffel ·

Ja nee jy is definetief “brainwashed” deur populustiese retoriek. Wat DF het ras in 2018 daarmee uit te waai ??

Casper Labuschagne ·

@Jaco, dit is hoekom ons dankbaar moet wees dat die Russe nie rugby speel nie, anders het die bokke dalk meegeding teen die hardebaarde in die voorry van die rugbyspan in die Russiese vroueliga in plaas van om teen die All Blacks te speel.

PJC ·

Ja dejager jy stel dit baie mooi. Ek stem 100% saam met jou. Ek sou my morsdood skaam as ek op so ń wyse met ander moes kompeteer.

Frans C ·

Is die hoë testosteroonvlakke in Caster ‘n natuurlike of onnatuurlike verskynsel?Soms
kry ‘n mens atlete met ‘n suiwer genetiese voordeel.So bv het Ian Thorpe,skoengrootte 17 en 1meter 96 eintlik op die keper beskou ‘n voordeel oor sy medingers gehad vanweë sy groot voete.
Niemand het egter gekla dat hy vanweë dit ‘n voordeel oor swemmers met kleiner voete gehad het,want dit is as ‘n natuurlike verskynsel beskou wat hom die voordeel verskaf.

Ook op die rugbyveld veral in die 7wes sien ons dikwels hoe groot ‘fijiane’ oor kleiner
Blitsbokke uittroon.Almal beskou die reuse as natuurlike verskynsels en niemand kla dat hulle te groot is nie en ‘n voordeel geniet.

Daar moet dus vasgestel word of Caster ‘n natuurlike of onnatuurlike verskynsel is en of sy op ‘n onnatuurlike wyse hoë testosteroonvlakke bekom het en of sy vanweë haar Lesbiese verhouding veroordeel moet word.

Die beroemde tennisspeelster Martina Navratilova het vir my meer manlik as vroulik gelyk,tog het almal haar tennis geniet en is sy nooit verbied om deel te neem nie.

Frans C ·

Nee Paul ek het niks gemis nie,wat ek gesê het is presies die rede waarom ‘n Suid Afrikaanse professor uit die kliekspul bedank het,omdat hy nie kans gesien het op die reëling te verdedig nie.Toerien noem dit ‘n onregverdige voordeel en noem dan ‘n waarskynlikheid dat ‘n spuitmiddel teen malariamuskiete vir haar toestand verantwoordelik is.

Ons lewe in ‘n wêreld van genetiese manipulasie ,die sg. ‘designer babies’,wat gaan jy sê
as daar een ‘geskep’ word wat alle rekords verpletter.

Paul ·

Die Afrikaanse professor moes in die eerste instansie nie daar gewees het nie, hy het nou maar net bedank om die gepeupel in SA ter wille te wees. En jy het die komma ook gemis, hierdie hele aangeleentheid het in die eerste instansie nooit oor Caster gegaan nie, maar oor die oosblok lande. Gaan lees gerus ook by die skakel van die Winterspele wat ek hier bo geplaas het.

Paul ·

Sekere persone en die regering wil haar die spil van die verhaal maak, maar sy het terloops daar beland, nou maak hulle asof die hele sage net om haar draai, hulle probeer dit kaap.

John ·

Waarom het Caster saam met vroue begin oefen en teen hulle gekompeteer en nie teen mans nie? Wat is die rede vir die atleet se volgehoue deelname en waarom wil die atleet nie gehoor gee aan die vereistes nie? Die feit is dat wen ‘n uitgemaakte saak is met die hormoonvlakke soos dit is. Teen mans gaan dit ‘n perd van ‘n ander kleur wees. Daarom.

Willem ·

John, as jy Vic Toweel se storie lees, waar hy en sy familie vandaan gekom het, sal jy verstaan hoekom hy ver onderkant sy natuurlike gewig geboks het, as jy by die 20-30 kilogram onder jou normale gewig boks, hoe wen jy? Maar dit wys ook wat ‘n ongelooflike talent hy gehad het om so in die internasionale arena met ‘n verswakte liggaam kon meeding.

Met Caster is dit net andersom maar die rede is dieselfde. Finansieel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.