Nuuskommentaar: Die Christen en die verkiesing

kruis (Medium)Sedert pres. Jacob Zuma president van die land geword het was hy, en van die vernaamste leiers in die ANC, gereeld in die sop oor hoe hulle godsdiens vir politieke motiewe inspan. Die vernaamste kerke het gereeld stem dik gemaak oor uitsprake soos dat die ANC die weg na die hemel bied, dat die voorvadergeeste diegene sal wikkel wat nie vir die ANC stem nie, dat mense Zuma moet volg soos die mense Jesus volg, en dat die ANC se drieparty-alliansie met God Drie-eenheid vergelyk kan word.

Van die uitsprake is as godslasterlik beskryf en veroordeel, en daar was selfs ‘n aanmaning dat sou Zuma en die ANC nie hiermee ophou nie, sou daardie kerk sy lidmate oproep om nié vir die ANC te stem nie.

Dit was voor die laaste landswye munisipale verkiesings – steeds hou Zuma en die ANC vol daarmee in wat duidelik ‘n verkiesingstrategie was, en die betrokke kerk maak nou heeltemal ander praatjies.

In die jongste wending, volgens RSG se nuus, het Zuma teruggekap na emeritus aartsbiskop Desmond Tutu oor sy kritiek teen die ANC. Zuma sê biskoppe en pastore se taak is om te bid vir diegene wat die pad byster raak en hulle behoort nie by die politiek betrokke te raak nie. Tutu het die ANC-regering se korrupsieskandale en swak regering skerp gekritiseer. Hy sê die regerende party sal nie sy stem in die algemene verkiesing kry nie.

As Zuma reg aangehaal is, lyk dit of hy van die een uiterste na die ander geswaai het, en steeds die pot oor godsdiens missit.

Kerke en kerkleiers is dit min of meer eens dat ‘n Christen nie net ‘n Christen is wanneer hy in die kerk is nie, maar in sy ganse lewe. Of so hoort dit altans. Hieruit is dit vanselfsprekend dat die Christen se stemkeuse deur sy Christenskap bepaal, of minstens beïnvloed sal word.

Oor presies waar om die grens te trek, en hoe om die stemkeuse te bepaal, verskil kerkleiers. Prof. Piet Strauss, ‘n vorige moderator van die NG Kerk, skryf in sy rubriek in Volksblad onder meer die volgende:

“Jou grootste politieke bydrae as ’n Christen gaan waarskynlik nie in die verkiesing wees nie. Dit gaan eerder binne hierdie werksruimte in die kringe waarin jy beweeg, wees.
Maar, dit gee jou nie ’n verskoning om nie te stem nie.
Niks in die lewe is volmaak nie. Veral nie politieke partye nie.
Daarom doen jy dikwels die ding wat onder die omstandighede die beste is. Jy moet as Christen wat bid ‘Laat U koninkryk kom . . .’ vandeesweek bid dat die reg van die grote Drieënige God in die kleine Suid-Afrika sigbaar sal word. Dat die burgers van hierdie land wat daarop staan dat dit ’n regstaat is omdat die hof die finale sê in sekere sake het, hul staat so inrig dat die reg seëvier.
Suid-Afrika behoort in finale instansie aan God. Daarom is dit ook onderworpe aan sy beginsels of wette vir geregtigheid en reg. Jy stem ook omdat dit jou Christelike plig is.”

Oor presies hoe ‘n persoon se Christelike beginsels sy stemkeuse behoort te beïnvloed, is daar soveel menings as wat daar teoloë is. Terwyl daar op die een uiterste van die spektrum ‘n gevoel is dat die Christen vir niks minder as ‘n teokrasie, en boonop ‘n fundamentalistiese een, behoort te stem nie, is daar teoloë wat meen elke beleidsaspek van die party van keuse moet versoenbaar wees met die kerk se leer (die kerk sê aborsie is sonde, en daarom moet die party van keuse aborsies wil verbied), tot ‘n maatskaplike ingesteldheid dat ‘n party heeltemal koud teenoor godsdiens kan staan, maar die Christenstem behoort te kry omdat dit die versorging van armes op die hart dra.

In die VSA het die Supreme Court – vergelykbaar met ons grondwetlike hof – pas ‘n interessante meerderheidsuitspraak gelewer. Die hof het beslis dat die munisipale raad van die klein dorpie, Greece in New York-staat, wel sy vergaderings met die seremoniële (Christelike) gebed mag open.

Die First Ammendment van die Amerikaanse grondwet plaas ‘n verbod op die owerheid om ‘n bepaalde godsdiens te bevorder. Die meerderheid regters het egter gevoel dat die praktyk in Greece binne die raamwerk van die Amerikaanse tradisie val waarvoor die grondwet ook voorsiening maak.

Die uitspraak temper die persepsie wat al ‘n ruk in die VSA posgevat het dat godsdiensvryheid eintlik net tot sy reg kom in ‘n omgewing van geen godsdiens. So het ‘n regter byvoorbeeld teenspoed gekry oor die teenwoordigheid van ‘n beeld wat die Tien Gebooie uitbeeld, en ‘n monument wat gevalle Amerikaanse soldate gedenk, is beboet omdat dit ‘n kruis “in die openbaar” insluit wat die Christelike geloof versinnebeeld.

Daar was selfs ‘n mislukte aanslag teen die slagspreuk op onder meer Amerikaanse geld, “In God we trust,” ironies juis toe die gebruik vyftig jaar oud geword het. Die tradisionele beste wense, “Merry Christmas and a happy New Year” moes as “politiek inkorrek” plek maak vir “Happy Holidays”.

Die hofuitspraak word selfs nie in alle kerklike kringe verwelkom nie. Eerw. Barry W. Lynn, uitvoerende direkteur van Americans United for Separation of Church and State, het hom soos volg oor die uitspraak uitgelaat: “The Supreme Court just relegated millions of Americans – both believers and nonbelievers – to second-class citizenship. Government should not be in the business of forcing faith on anyone, and now all who attend meetings of their local boards could be subjected to the religion of the majority.”

Wanneer die Christen-kieser sy kruisies trek, hou hy nie vir die doel van die verkiesing op om ‘n Christen te wees nie. Hy moet met sy gewete kan saamleef – hy moet glo hy het in sy keuse God se wil uitgevoer.

Dit is nie heeltemal ‘n teoretiese oefening nie. As die kieser gekant is daarteen dat ‘n dobbelpaleis naby sy huis opgerig word, of naby sy kind se skool, is daar tog ‘n onus op hom om te bepaal watter party so iets sal teenstaan.

Want die Christen het nie net ‘n gewete gekry om mee oor die aarde te heers nie, hy is met verstand en ander talente ook toegerus.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Sanet ·

Hulle dink hulle is groter as onse Here, en dis waar hulle die foutjie maak. Daar is net een Here, en Hy is die Almagtige God aan wie ons glo en vir wie ons elke dag se dankie vir alles! Hulle is niks anders as idiote wat dink hulle is net die? Dis tyd dat hulle bykom en agterkom dat hulle baie ver is van Onse Here! Prys die Heren Amen.

Peet ·

Voor die verkiesing het die ANC na die kerke en christelike instansies gehardloop vir gebed, sodat die verkiesing vreedsam sal verloop. Nou hoor jy nie weer dat die mense vra dat daar dankie gesê word dat alles goed afgeloop het nie. Wys jou net dat dit alles vals was.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.