Nuuskommentaar: Die Christen en opstand teen Zuma

Foto: Verskaf

Daar kan min twyfel wees dat die land nou ’n volksopstand teen die presidentskap van Jacob Zuma beleef. Wat presies is die Christen se plig in die situasie? Moet hy die owerheid steeds onvoorwaardelik bly gehoorsaam, of is daar ’n punt waar van hom, juis as Christen, verwag word om teen die boosheid op te tree?

Dit is één poging dié vanuit ’n politiek-wetenskaplike perspektief – die Kerk sal waarskynlik binnekort gepas reageer.

’n Openbare proses waarin die lug van menings belangrik is

Met die verset teen die voortgesette presidentskap van Jacob Zuma wat die karakter van ’n nasionale opstand begin aanneem, duik die vraag weer op wat die Christen se standpunt en houding oor dié soort verset teen die owerheid is. Ongelukkig is daar ook soveel uiteenlopende antwoorde dat dit ’n ganse verhandeling kan opneem.

Ons nooi lesers dus uit om hul sienings in die kommentaarkolom hieronder te lewer, of per brief of artikel met Maroela Media en sy lesers te deel. Let net asseblief op Maroela se riglyne, onder meer omdat dit sekere wetlike aspekte bevat wat Maroela en die skrywer in die sop kan laat beland. ’n Pleidooi vir geweld gaan byvoorbeeld nie toelaatbaar wees nie.

Uit die literatuur is daar twee hoofmomente wat al onder die soeklig deurgekom het. Die een deel is spesifiek die Afrikaner se opsies om in verset teen die regering te kom. Die woorde uitverkoop en verraaier kom mildelik in die sekulêre manifestasie hiervan voor. In die meer teologiese geskrifte word onder meer geput uit beginsels van die Afrikaner se deelname aan die rebellie.

Die tweede moment, wat veral nou onder die soeklig is, is wanneer daar ’n breë nasionale verset teen die owerheid, of dan bepaalde leiers in daardie gekorrupteerde owerheid is.

Basiese Christelike riglyne

Opsommend is daar egter ’n paar beginsels wat sterk onderstreep word. Ten eerste aanvaar die Christen dat God diegene in bevel in die owerheid daargestel het, en dat slegs God hulle weer kan verwyder. God maak egter van mense as instrumente gebruik, en as Christene moet die ideaal wees om niegewelddadig te wees tensy uit selfverdediging. Die Christen moet hom deur die Heilige Gees laat lei.

Die Christen weet dat God die sonde haat, en sal instinkmatig ’n owerheid wat hom aan korrupsie en ander misdade skuldig maak, aan die strot wil gryp.

Op die twee uiterstes is daar die benadering dat die burgers aan die keiser moet gee wat die keiser toekom. Die owerheid is daargestel om sekere dienste te lewer, en lewer dit wel (al is dit gebrekkig). Verder laat die regering godsdiensvryheid toe. Daar is gereelde verkiesings. Afgesien van die benutting van stemreg en af en toe wanneer ’n ding te ver gaan die reg op vrye uitdrukking, sal die gehoorsame Christen min of meer passief wees, want God is in beheer.

(Daar is natuurlik kerke en “kerke” wat steeds die Zuma-kabaal ten volle steun, soos om van Zuma ’n ere-pastoor te maak, en hom te laat hand bysit met die voltrekking van poligame huwelike.)

Op die ander uiterste is daar die gevoel dat God deur tekens soos die groot droogte, asook die omvang van misdaad (met spesifiek plaasaanvalle wat die vinger in die betrokke rigting rig) daarop dui dat die regering geweeg en te lig bevind is. Dit word ’n soort heilige plig om van minstens die president en ’n paar kornuite ontslae te raak. Die ganse spektrum van demokratiese middele moet ingespan word, byvoorbeeld die stemreg, maar ook uitdrukkingsvryheid, persvryheid en petisies, asook om deur mobilisasie deur sterk burgerlike instellings, en as grondwetlike demokrasie, ’n toeloop na die howe te veroorsaak. Daar is wel ’n natuurlike weerstandigheid van die howe om by sake van die uitvoerende en wetgewende gesag in te meng, en dit is al telkemale as redes gegee hoekom sake uitgegooi is, maar as daardie skeiding van magte self bedreig word, kan howe ook nie meer volstruispolitiek speel nie. Die toestroming moet eenvoudig gehuisves word.

Voorts is daar die opsies van optogte en stakings. Die voorbehoud moet egter altyd wees dat dit vreedsaam sal wees.

Rigtinggewende rubriek

Alvorens vlugtig gekyk word na wat al gesaghebbend oor die riglyne vir verset teen staatsgesag geskryf word, word ’n rubriek in Netwerk 24 van Ilse Bigalke vlugtig onder oë geneem. Ilse is ’n afgetrede senior redaksielid van Die Burger wat met haar rubrieke gefokus het op die silwer randjie van situasies waar die donker wolk ander verstik het. Haar soort ingesteldheid is baie nodig in ’n gemeenskap wat daagliks deur golwe van slegte nuus geteister word. Daar is meer van haar soort nodig.

Maar dié keer lui die opskrif van haar rubriek, “Verset is nou ons heilige plig”. Die artikel is ’n moet-lees-rubriek. Wat verder interessant is, is dat sy afsluit met woorde van Mohandas Gandhi wat verklaar het dat burgerlike verset ’n heilige plig word wanneer die staat wetteloos of korrup is. En dan in haar eie woorde: “Die groot meerderheid Suid-Afrikaners durf nie Zuma se oorlogsverklaring met apatie begroet nie.”

Ghandi was ’n Hindoe en daar sal na ander bronne gekyk moet word om riglyne vir ʼn Christen in hierdie optrede te kry.

Vrugte van die Heilige Gees

Wanneer dit gestel word dat die Christen hom deur die Heilige Gees moet laat lei, is dit ook nodig om in ag te hou wat die Skrif as die goeie vrugte van die Heilige Gees beskou. Die goeie vrugte is om die genade van God te verstaan en goedheid, regverdigheid, waarheid en alles wat God vreugde verskaf na te streef: vrede, geduld, vriendelikheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing, inskiklikheid, genade, onpartydigheid en ʼn nie-veroordelende gesindheid. Onder die slegte vrugte tel onder meer verwaand, uitlokkend en skoorsoekerig wees.

Twee Bybelse voorbeelde, en ’n voorbeeld wat tussen die Ou en Nuwe Testamente gebeur het, gaan as agtergrond dien om die geleerdes se geskrifte te meet.

Drie voorbeelde uit die Bybelse tyd waar God sy gesag aan konings onttrek het

Die eerste is God wat sy hand oor die koningskap van Saul en sy nageslag onttrek, en Dawid en sy nageslag aan bewind stel. Die tweede is Belsasar. Die derde is die opstand van die Makkabeërs nadat die koning van die Griekssprekende Antiochiërs ’n vark ter ere van Zeus in die tempel in Jerusalem geslag het.

Die redes oor waarom die Here ʼn einde aan Saul se koningskap sou bring, word in 1 Samuel 15 vertel. Die eerste is ongehoorsaamheid, die tweede weerspannigheid en die derde eiesinnigheid. Samuel wys Saul ook daarop dat hy die Woord van God verwerp het. In teenstelling hiermee sê Samuel dat die Here nie lieg nie, en Hy verander nie van gedagte nie.

In Daniël 5 lees ons van koning Belsasar wat tydens ’n verwerplike onthaal gesien het hoe ’n hand teen die paleismuur skryf. Niemand kon dit lees of verklaar nie, en uiteindelik is Daniël laat kom. Die boodskap was dat die Here Belsasar se koningskap geweeg en te lig bevind het. Dit sou daarom die Mede en Perse toeval.

Tussen die Ou en Nuwe Testament het sowat 400 jaar verloop, en hoewel hierdie tydperk nie in die Bybel opgeneem is nie, is goed hiervan rekord gehou. Dit is die tydperk ná Alexander die Grote ’n groot deel van die wêreld onder Griekse beheer geplaas het. Ná sy dood is dit in drie ryke verdeel, naamlik Egipte, Sirië en Griekeland. Israel het ’n paar keer tussen die Siriese deel (Antiochië) en Egipte gewissel. Die Grieks-Egiptiese heersers was geneig om die Jode meer vryhede, soos godsdiensvryheid, te gun.

Koning Anti­ogus Epifanes, onder wie se beheer Israel toe was, het onsuksesvol oorlog teen Egipte gevoer, en met sy terugkeer woedend gelas dat die Jode voortaan ook Zeus moet aanroep. Hy het ’n vark in die tempel in Jerusalem geoffer, en soldate uitgestuur om toe te sien dat die Jode gehoor gee. Dit het tot die opkoms van die Makkabeërs gelei wat die opstand teen die Grieke gelei het. Die Makkabeërs het te midde van baie teenspoed en rugstekery daarin geslaag om nie net die ou Juda van die Griekse oormag te verower nie, maar in wese die hele ou Israel. Jode is ook in voormalige Israelse gebiede hervestig, wat onder meer daartoe gelei het dat Jesus in Galilea gebore is en grootgeword het.

Zuma se “godslasterlike” uitsprake

Zuma en sy kornuite is bekend vir die omstrede godsdiensuitlatings wat hulle al by herhaling gemaak het, en wat deur sommige kerke en Christengroepe onomwonde as godslasterlik bestempel is. Verskeie kerkgenootskappe of kerkgroepe het al sterk vermanend gereageer, waaronder die SARK, die Tussenkerklike Raad van die NG Kerk, die NH Kerk en GKSA, die AGS en vele meer. Die VGK het selfs in ’n stadium “gedreig” dat as Zuma dit weer doen, die kerk sy lidmate sal versoek om hul stemme van die ANC te weerhou (hiervan het dadels gekom). Die voorbeelde is legio, soos dat die ANC tot die Wederkoms sal regeer, dat Zuma gevolg moet word soos die mense Jesus op aarde gevolg het, dat die ANC se drieparty-alliansie met God-drie-enig vergelyk kan word, dat die voorvadergeeste diegene sal haal wat nie vir die ANC stem nie, en vele meer.

Is Zuma geskik as president?

Die lys van redes waarom Zuma nie geskik is om as president te regeer nie, is baie lank. Daar is meer as 700 aanklagte van onder meer bedrog teen hom wat Zuma hard onder die mat probeer invee, hy het hom verskeie kere aan owerspel skuldig gemaak en selfs in ’n verkragtingsverhoor die owerspel as verweer gebruik. Hy versaak sy ampseed gereeld deur rasseverdeeldheid deurlopend aan te blaas, met sake oor grond hou hy wyd om die waarheid, sy Nkandla-sage bly ’n liederlike klad teen sy naam, en hy verarm die land deur eiesinnig in die aanstelling van ministers op te tree. Dit behels dat hy hopeloos onbevoegde ministers behou wat lojaal aan hom is, en ongeag die skade aan die landsekonomie en die lot van armes, ministers afdank wat knap is.

Durf die Christen swyg hieroor?

Zuma het immers al uit elke moontlik denkbare oord raad en vermanings gekry om sy weë te verander. Op die oog af gaan dit van erg tot erger.

Kan die land bekostig dat Zuma tot 2019 die president bly, en dan boonop die gevaar loop dat die land dan ’n surrogaat-president kry?

Vreedsame opstand as deel van die demokrasie

As dan geoordeel sou word dat die Christen nie mag swyg nie, hoe ver kan gegaan word om Zuma tot orde te roep of op ’n wyse versoenbaar met demokrasie tot ’n val te bring? ’n Voorbeeld waar iemand demokraties verkies is, maar daarna geblyk het nie geskik te wees om president te wees nie, is oudpres. Viktor Janoekowitsj van die Oekraïne. Dit het geleidelik tot ’n volksopstand gelei, en uiteindelik het Janoekowitsj na sy bondgenoot, Rusland, uitgewyk. Met die daaropvolgende verkiesing het sy eie party hom belet om as kandidaat vir selfs parlementslid te staan.

Die demokrasie bestaan immers uit veel meer as net verkiesings (wat ook maar erg geplooi kan word).

’n Grondwetlike demokrasie behoort ’n vreedsame meganisme te bevat waar ’n president wat duidelik die spoor byster raak, van sy amp onthef kan word. Ons Grondwet het ook meganismes, maar dit word verongeluk deur ’n koukusstelsel, wat Zuma se politieke bas nou al verskeie kere gered het en waarskynlik weer gaan doen), en ’n stelsel dat die uitbring van stemme in die parlement nie in die geheim geskied nie.

Dié gebreke beteken dat die bevolking hul grondwetlik demokratiese reg tot die uiterste moet rek om ’n president in pas met hul Christelike gewete te probeer verseker. Dié regte sluit in persvryheid en meningsvryheid, en die reg op vreedsame betogings en stakings. Soos alle regte word hierdie regte ook begrens, onder meer deur die regte van ander wat nie dieselfde sentimente deel nie.

Enkele teologiese uitsprake

In 1 Korintiërs 33 lees ons: “God is tog nie ʼn God van wanorde nie, maar van orde en vrede. Soos in al die Christelike gemeentes.”

Wat beteken dit? GJ Meijer skryf in die Christelike Biblioteek onder die opskrif: “Op ’n punt van orde” soos volg: “Volgens die woordeboeke beteken dit prakties twee dinge: eerstens dat die dinge wat God tot stand gebring het op hulle bedoelde plek is, en tweedens dat die dinge wat God tot stand gebring het hulle bedoelde funksie verrig. So het Hy die Skepping al ordende in aansyn gebring.

“Die Satan is God se teëstander wat God se orde verbreek het, en die mens daartoe verlei het om ook God se orde vir die mens te verbreek. Sonde is ongehoorsaamheid aan God. Dit is om God se orde tot chaos te verander. Sonde is dat die mens sy/haar Godgegewe plek nie meer ken en inneem nie. Dit is verder dat die mens sy/haar Godgegewe funksie, taak en roeping nie meer uitleef nie. Die vrug daarvan is die dood.”

Dit is ook ondenkbaar dat ’n opstand wat ook terreur inspan enige Christelike seën kan geniet. Met die vorige bedeling het kerkleiers soos Desmond Tutu en dr. Beyers Naudé die ANC bly steun te midde van landmyne op plaaspaaie, bomme in die strate en ’n skietery in ’n vrouekroeg.

Moraliteit is nie so goedkoop soos ’n ANC-parlementslid wat tydens die debat oor plaasaanvalle uitroep die boere moet lewend begrawe word nie.

Uit Christelike geskrifte is daar nie heeltemal eenstemmigheid nie. In Hartlander skryf Quintin Diederichs onder meer: “Die antwoord hierin lê in die oortuiging dat daar geen mag is behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang (Rom. 13:1-2 OV).”… “Paulus skryf in Romeine 13 dat elke mens hom moet onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Guido de Bres skryf in Artikel 36 van ons Nederlandse Geloofsbelydenis dat elkeen verplig is om hom aan die owerhede te onderwerp, belasting te betaal, aan hulle eer en onderdanigheid te bewys, hulle te gehoorsaam in alles wat nie met die Woord van God in stryd is nie en vir hulle voorbidding te doen dat die Here hulle in al hulle handelinge mag bestuur.”

Maar: “In Handelinge 5 staan dat Petrus en die apostels sê dat ons aan God meer gehoorsaam moet wees as aan die mense (vers 29). As ons Hand. 5:29 lees saam met die gedeelte in die Nederlandse Geloofsbelydenis wat aandui dat ons die owerheid moet gehoorsaam in alles wat nie met die Woord van God in stryd is nie, kom baie Bybelse voorbeelde van verset teen die owerheid na vore.”

Brian Brown, Theo Kotze, Roelf Meyer, Beyers Naudé en Jane Oshadi Phakathi skryf onder die opskrif “Die reg en plig om onchristelike regeringsgesag in Christus se naam te weerstaan” onder meer soos volg: “Siviele ongehoorsaamheid is ’n daad van protes op Christelike gewetensgronde vir die Christen. Dit is alleenlik veroorloof as die owerheid ’n onchristelike aksie van hom verwag en pleidooie tot terugkeer na die Evangelie nie help nie.

Die reg van passiewe weerstand, dit wil sê, van lydelike verset, kan alleen toegepas word as dit blyk dat geen van die ander metodes die noodsituasie oorwin en die reg herstel kan word nie” (Die stryd om die ordes, prof. HG Stoker, bl. 243).

Bostaande is slegs enkele aanhalings oor die onderwerp, terwyl dokumente waarin ʼn “geregverdigde oorlog” bepleit word, om wetlike redes en ander glad nie hanteer is nie.

As die Kerk reageer

Dit is maar een poging dié om vanuit ’n politiek-wetenskaplike hoek sin en rigting te kry oor hoe die Christen behoort te regeer. Na verwagting sal kerke en kerklike groepe soos die Tussenkerklike Raad binnekort teologiese suiwer riglyne verskaf – mits geoordeel word dat ’n volksopstand ’n werklikheid is.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

30 Kommentare

jongste oudste gewildste
Afrikaanse Knaap

SA sou ‘n baie beter plek wees as die parlememntslede God vresend was. Ek dra kennis van 2 partye wat God se woord ken in hul besluite, en dit is die ACDP en VF+.
SA is waar ons is agv van die woord. “Seën Israel en julle sal geseën wees, Vervloek Israel en julle sal vervloek wees”. Die president, die ANC, en SA, is vervloek.

Amalia van Schalkwyk

God stel konings aan en verwyder hulle. Ons leef in vrees en wil God voorskryf maar dis die grootste “revivals” wat aangaan in kerke en orals. Zuma is self besig om sy eie party te vernietig. As hy nou loop word die ANC sterker..hoe langer hy regeer hoe meer verbrokkel sy party. God is in beheer!

Maroela

Die huidige regering is totaal korrup , n nie christelikke klomp wat teen God se woord optree . Raak ontslae van die korrupte regering.

AL

Ek glo dat wanneer ñ president wie korrup is, hofbevele ongehoorsaam, rasseverdeeldheid veroorsaak, sy vriendekring finansieël bevorder terwyl die land in armoede en werkloosheid verval, hy onbevoeg is om die land te lei. Die president en sy ANC groepering is geen voorbeeld vir ons jeug wat morele waardes betref nie. Wetteloosheid neem al hoe meer toe. Daar is geen respek meer vir wet en orde nie. So ek glo elke burger moet in die belang van die land optree om vreedsaam sy stem laat hoor. Christenskap is vir my n goeie eienskap in politiek en ek glo n land sal… Lees meer »

René Erwee

Baie insiggewend en getrou aan God se woord. Baie dankie Maroela. Ek glo God wys die pad aan en dat hy mense sal gebruik om ons te lei. Dis belangrik dat ons ons Christenskap wys deur ons woorde en dade en dit deurgans toets aan die Woord. Ons moet terugdraai na God en leef met ‘n Godsbewustheid. Hy is getrou.