Nuuskommentaar: Die dag van die Jakkalse van die politiek en terreur

Argieffoto: AfriForum Jeug

Argieffoto: AfriForum Jeug

Wat het Carlos die Jakkals wat nou weer in Parys op aanklagte van bloedige terreur teregstaan, en die plaasaanvalle in Suid-Afrika gemeen? Oor albei gevalle heers daar ’n internasionale mediastilte, wat in die geval van die Jakkals, eintlik vreemd is ná hy dekades gelede vir hoofopskrif ná hoofopskrif gesorg het.

Vandag word die euwel van plaasaanvalle en plaasmoorde in die parlement gedebatteer – wel baie, baie laat in die verloop van die voortstuwende ramp.

Duisende kilometers daarvandaan staan die eens baie berugte internasionale terroris, bekend as die Jakkals, ná 40 jaar tereg op nog aanklagte van dade wat tot die dood van mense gelei het. Hy dien reeds tronkstraf uit, onder meer lewenslank vir sy booshede.

Wat het die twee gevalle, afgesien van wreedheid en doodslag van onskuldiges, met mekaar gemeen?

Die Jakkals, of eerder die Venezolaan, Ilyich Ramirez Sanchez (ook bekend as Carlos), is nou 67 jaar oud, en sit al sedert 1994 in ’n Franse tronk, ná ’n elite Franse eenheid hom in die hoofstad van Soedan, Khartoem, “geskep” het. Dit het ’n einde aan sy eie “professionele rewolusie” gebring, maar dis min of meer toe plaasaanvalle in Suid-Afrika endemiese afmetings begin aanneem het.

Op internasionale vlak het die destydse vlaag van internasionale terreur, met name wat uiters berug geword het soos Swart September, die Italiaanse Rooi Brigades, INLA (’n wegbreekfaksie van die self berugte Ierse Republikeinse Leër), Baader-Meinhoff’s, die Japannese Rooi Leër en ander, meestal Palestyns-verwante groepe, nog ’n ruk “rewolusie” deur terreur gepleeg, alvorens dit in ’n soort hibernering gegaan, en eers heelwat later in die gedaante van Al-Kaïda, Isis en ’n horde ander weer die wêreld op horings geneem het.

Die Jakkals en sy trawante sou nie so lustig wêreldwyd terreur kon pleeg as hulle nie van iewers “geborg” is nie, en volgens verskeie berigte het Sanchez te kenne gegee dat die destydse president van Kuba, Fidel Castro, sy borg was. Sanchez is egter bekend daarvoor dat hy nie baie sekuur met die waarheid omgaan nie – hy ontken juis nou sy betrokkenheid by die terreurdaad waarvoor hy nou teregstaan, nadat hy dit vroeër in ’n tydskrifonderhoud erken het. Boonop het van sy eertydse kamerade hom die rug toegekeer en sing soos kanaries oor sy betrokkenheid.

Die feit van die saak is egter dat dit geensins mense sal verbaas as Castro heimlik die Jakkals bemagtig het om wêreldwyd dood en verwoesting te saai nie. Hulle is uit dieselfde dampkring van Latyns-Amerikaanse rewolusionêre gedagtes gebore, ’n dampkring wat tot sy dood sterk deur Ché Guevara beïnvloed is. Ché dien vandag nog vir Julius Malema as rolmodel, soos onder meer die rooi pette wat sy beweging as “uniform” dra.

Castro het in sy land aan bewind gekom, en sy terreur lank in die vorm van staatsterreur voortgesit. Hy is op sy beurt lank weer deur die voormalige president van Venezuela, Hugo Chavez, geborg. Nou is Venezuela, Carlos se geboorteland, self in ’n ekonomiese pekel en het die “sosialistiese paradys” van Chavez ineengestort.

Suid-Afrika beskou Castro steeds as held, ongeag sy wreedhede.

Dit is egter amper tragies dat iemand wat ’n paar dekades gelede op omtrent almal se lippe was, so in die vergetelheid kon raak dat daar nou bloedweinig nuusdekking is met die aanbreek van sy nuwe verhoor.

Maar dit is dalk net waar die plaasaanvalle plaaslik en die Jakkals weer iets gemeen het – ’n byna volledige mediastilte. Dié mediastilte oor plaasaanvalle geld nie werklik die plaaslike media nie. Daar is wel gevalle bekend waar mediagroepe “van bo” opdrag gekry het om minder aandag aan plaasaanvalle te skenk. En natuurlik waar destydse redakteurs ’n bisarre siening hieroor gehad het, gerugsteun deur ’n groepie akademici wat dit ook tot nietig probeer relativeer het.

Die groot en hinderlike stilte uit die buiteland is egter oorverdowend. Laat ’n mens egter dadelik toegee dat daar periodiek skokkende omvattende artikels in die oorsese media oor plaasaanvalle hier was, maar die algehele trefkrag om ’n wêreldmening hieroor te swaai was hopeloos ontoereikend. ’n Kombinasie van faktore speel waarskynlik ’n rol, soos dat saakmakende registrasie in die wêreldmening ’n gedugte taak is. Een bekende terrein waar sulke soort sake gereeld “bevorder” word, is die Amerikaanse kongres met sy lobbystelsel. Die nasate van die Armeense en Koerdiese volksmoorde ding behoorlik mee om hul sake bekend te maak, en hulle ding weer mee met ’n horde ander soos die fundamentalistiese Christene en sakelui. Wetgewing moet voortdurend aangepas word om skuiwergate vir omkopery in die proses toe te stop.

Nog ’n bekende is die “kantlyngeleenthede” in die Europese parlement waar omtrent almal ’n spreekbeurt kry om hul saak aan politici te stel. ’n Groot groep van die Europese politici se politieke lewens is egter weens dié tipe kiesstelsel maar erg kortstondig.

Ander groepe laat passasiersvliegtuie teen geboue vasvlieg om die aandag op hul eintlike saak te vestig. Gyselaars se koppe word voor videokameras afgesny en op die internet versprei.

Nie een van hierdie metodes is vir die Afrikaner aanneemlik nie, en die metodes wat wel aangewend word soos feitelike voorleggings voor VN-komitees, se werking is nie so blitsig nie. Trouens, daar was minstens een geval waar ’n Suid-Afrikaanse “diplomaat” minstens een van die Suid-Afrikaanse voorleggings probeer keer het, en dit probeer afmaak het as ’n poging van diegene wat hunker na apartheid. Sy is sover bekend nie van wangedrag aangekla nie.

Vir die Jakkals is sy jongste verhoor eintlik net ’n teoretiese oefening. Hy sit in elk geval lewenslank in die tronk, en nog ’n vonnis gaan nie ’n verskil maak nie. Daar is wel regsvrae, soos of dit strook met geregtigheid om hom ná meer as 40 jaar ná die daad te gaan verhoor. En gaan hy nie nou onnodig simpatie by mense kry wie se koppe in ’n deurmekaar wêreld erg verward is nie? Hy is immers baie soos ’n lank uitgestorwe dinosourus wat lewend gemaak, maar vanuit die staanspoor omtrent elke vryheid misken word.

Ongelooflik baie is op die spel met vandag se parlementêre debat. ’n Verkeerde verloop kan rasseverhoudinge in die land onmeetbare skade berokken. Nog ’n parlementêre straatgeveg kan die internasionale gemeenskap se persepsies oor ’n wordende piesangrepubliek verdiep. Aan die ander kant, dit bied aan partye soos die ANC ook die geleentheid om hulle vir eens en altyd te verbind tot ’n veilige landbougemeenskap – en dat die media die vrye teuels kry om die boodskap uit te dra dat plaasaanvalle is wat hulle is – dade van terreur waar talle aspirant-Jakkalse ’n bloedige speelterrein probeer vind.

Dit is immers die klein jakkalsies wat die wingerd verniel, en as dit boonop ’n tweegat-jakkals is, is dit moeilik om hom vas te trek.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Rynhardt ·

Moenie vandag te veel verwag van die jakkalse in die parlement oor die plaasmoorde nie! Vir politici gaan dit net daaroor om hul siekspel van verskonings voort te sit.

Naomi Smith ·

Baie goed geskryf oor ‘n uiters hartseer saak waarvan die emosie en frustrasie nie onderdruk kan word nie.

Dopper ·

Moet nie ons 2-gatjakalsie onderskat nie. Dié jakalsie is slinks, uitgeslape en sy aanhang groot en jonk en avontuurlustig. Kan en wil die regeerders hulle in toom hou?

AL ·

Ons moet nie toelaat dat diplomate ons ontmoedig en ontspoor by die VN nie. Indien ons blankes vasgehaak het, sou ons die Regering van die dag lankal ondermyn het. Ons gaan vreedsaam met ons daaglikse handel en wandel voort en soos Helen Zille tereg opgemerk het: wit mense pleeg selde moord teen swart mense.
Die statistieke daarvan spreek vir hulself.

lw ·

Die holruggeryde Apartheid wie die swartes so voorgooi en rassespanning aanblaas laat my dink aan n minnaar wie ontrou was aan sy geliefde, en heeltyd gekasty en herinner word daaraan.

WDP ·

Die ANC gaan so erg aan oor Mense Regte -Maar Castro kon moor en is ‘n held –
Die Wit boere word uitgemoor -maar dis OK.
Daar is eintlik 2 Terms vir die ANC :
Mense Regte vir swartes,
Rasisme vir wittes…

Dirk01 ·

Ons moet versigtig wees om heel tyd vas te haak op swart en wit ons sit onnodig druk op ons as blankes . Ek wil net verwys na wat n persoon hier genoem het van plaas aanvallers dat die meeste is swart Zimbabwiers is tusse 25 en 35 jaar volgens Afri Forum se naavorsing . Die mense het in Zimbabwe boere gemartel vermoor en van hulle plase af gejaag as ook plase beset Daar moet besef misdaad is onder alle rasse en dit word duidelik gesien waar swartes genoeg gehad het en immigrante aangeval het . Daar sal beslis meer op immigrante en misdade wat hulle bekend is voor gefokus word . Ek wil my verstout deur te se die Zimbabwier’s tree presies op soos van waar hulle kom en die politisie wat WAR TALK doen praat hulle voor in misdade wat dan soort van hulle reg is om gepleeg te word .Ons kan besef dat geweld op immigrante is met rede en sal algemeen word of weer tot landwye geweld lei.Die plaas aanvalle gaan hand aan hand met swak beheer van ons grense .

Boerseun ·

Dirk ,
In Kenya, Zambia, Uganda, Zimbabwe was dit als polities gemotifeerd, hoekom is ons anders?
Dan se jy die Zimbabwiers tree op in reaksie op wat politisie se(war talk), nou hoe is dit anders as hier en hoe is dit nie polities in jou oe. Dis mos net gewone “crime” en net asg. van swak beheer van grense, snaaks dat die immigrante (wat eintilik maar geld kom soek) nie veel steel tydens hierdie roof en martel togte nie.

Francie ·

Ek is miskien maar pessimistief (lees ontnugter), maar wat ook al in die parlement gesê word, beteken niks. Ons het al té dikwels gesien dat die regering ‘n boodskap uitstuur na die wat in die gehoor is. Vir hulle is “sê” en “doen” twee verskillende pole.
Akteurs, dis wat hulle is, en dit geld vir elke politikus van enige party en tyd.

TTh ·

Daar is jakkalse en dan is daar jakkalse wat wit geverf is… albei maak baie moeilikheid, albei moet vakant gemaak word.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.