Nuuskommentaar: Die dood skuil in die water

Een van die gebiede wat AfriForum besoek het.

Een van die gebiede wat AfriForum besoek het.

Die verslag van AfriForum oor die toestand van munisipale drinkwater en behandelde rioolwater bevestig wat die publiek lank reeds vermoed – die dood skuil dikwels in die water. Die water van sowat ‘n 100 munisipaliteite is getoets.

In verskeie munisipaliteite se drinkwater is E. Coli aangetref. Dit kom nie werklik daarop aan dat die E.  Coli se tellings in baie gevalle baie laag is nie – vir drinkwater moet die telling nul wees. Ander probleme soos hoë vlakke nitrate is ook gevind. Veral in die omgewing van mynaktiwiteite kan Suid-Afrikaanse water erg deur swaar metale besoedel wees.

Die E. Coli-verwant wat dikwels in Suid-Afrika se drinkwater aangetref word, is nie regstreeks so gevaarlik soos wat soms in Amerikaanse kitskos voorkom, en jaarliks ‘n hele aantal sterftes veroorsaak nie. Die drinkwater-weergawe sal in die reël nie sterftes tot gevolg hê nie tensy dit ‘n baie swak persoon is, soos ‘n pasgebore baba wat MIV/Vigs by die moeder aangesteek het nie.

Die probleem is dat die teenwoordigheid van E. Coli die klikbek is dat die groeimedium aanwesig is vir ‘n spektrum veel gevaarliker virusse, bakterieë en selfs swamme. In Suid-Afrika word daar gereeld berig dat spore van cholera in sulke water gevind is, en in Delmas het tifoïde sterftes tot gevolg gehad.

Wanneer E. Coli wel in drinkwater voorkom, word dit gereeld toegeskryf aan faktore soos gebreekte chloortoedieners of ander toerusting wat kapot is.

Stukkende toerusting plaas egter nie die E. Coli in die water nie. Die groeimedium word deur ekskresie, soos riool, veroorsaak. Ook diere se mis in die veld wat deur reënwater na riviere afgevoer word kan daartoe bydra. Die teenwoordigheid van E. Coli in water verklap dat daar iets in die watter beland het wat die mens nie graag daarin wil sien nie. Dit is verblydend dat AfriForum gou die probleme met drinkwater opgelos kon kry.

Onder sekere omstandighede mag die mens selfs nie produkte eet wat met sulke water besproei is nie, en die Europese Unie het ook reeds gewaarsku dat die invoer van gewasse uit Suid-Afrika hieroor verbied kan word.

Besproeiingswater, wat die mens nie regstreeks inkry nie, se vlak mag ingevolge internasionale riglyne nie hoër as 2 000 per 110 ml water wees nie. Trouens, hierdie telling word aangedui as nie geskik vir menslike gebruik van enige aard nie. Dit is dus gebiedend noodsaaklik dat munisipaliteite water uit rioolaanlegte wat uiteindelik in riviere beland genoegsaam moet suiwer dat die water nie gevaar inhou nie.

Hoe hoër die E. Coli-telling, hoe minder aanwendings mag die water vir die mens hê. Dit word naderhand te gevaarlik om in te swem, en later selfs om net daarop te roei omdat van die druppels in die mond kan beland. Selfs swemplekke in die see het al weens die invloei van riviere daar naby te gevaarlik geword, terwyl rioolpype voorheen ook so aangelê is dat dit in die see uitmond.

New Hampshire se departement van omgewingsake stel dit dat water waarin geswem word, se gemiddelde telling nie hoër as 88 behoort te wees nie en water wat vir ontspanningsdoeleindes gebruik word, nie hoër as 406 by geleentheid mag wees nie, maar dit mag nie hoër as ‘n gemiddeld van 126 oor ‘n 60 dae periode wees nie.

Vermont se departement van omgewingsake wys daarop dat ‘n vlak van 235 agt uit ‘n duisend swemmers siek sal maak.

Suid-Afrikaanse swemplekke aan die kus moet aan twee standaarde voldoen, waarvan die een behels dat die telling nie hoër as 100 oor ‘n jaartydperk mag wees nie.

Tale munisipaliteite aan die kus is uiters traag om E. Coli-vlakke in byvoorbeeld strandlagunes aan te dui omdat dit sleg vir toerisme is. Soms word dié netelige kwessie “omseil” deur ‘n sag-bewoorde kennisgewing dat daar “besoedelingsvlakke in die lagune mag voorkom.”

In reaksie oor die E. Coli-telling in Bloemfontein se Loch Logan, het ‘n woordvoerder van die munisipaliteit gesê dat ‘n besoedelingsvlak van 800 E-coli per 100 milliliter water “aanvaarbaar” is. Geen bron kon egter gevind word wat dit staaf nie. In die Jukskeirivier was die telling by geleentheid

21 miljoen per 100 milliliter water. In die Wes-Kaap is ‘n telling van 2 miljoen by geleentheid in ‘n rivier gemeet waar rioolstorting plaasgevind het.

Die Departement van Waterwese se reaksie toe die projek van AfriForum aangekondig is, is uiters kommerwekkend.

Daar is selfs gesinspeel dat AfriForum se optrede onwettig sou kon wees, en dat dit misleidend is. Hoe ‘n projek wat die gesondheid van die inwoners van die land op die hart dra enigsins as iets anders as positief ontvang kon word, laat die verstand duisel. Die uitslae spreek vanself, en die inligting daarin vervat hou eerder die departement en die munisipaliteite as AfriForum regsaanspreeklik.

Die optrede van die departement kom op ‘n ander variant van poefietiek neer waar riool en politiek gemeng word, soos reeds deur Maroela onder die loep geneem.

Hoe lui die ou Afrikaanse liedjie nou weer? “Kinders, moenie in die water poef nie, die ou mense wil dit drink.” Of so iets.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae