Nuuskommentaar: Dié doodskis kan nie begrawe word

Betogers buite die hooggeregshof in Middelburg waar Theo Martins Jackson en Willem Oosthuyzen verhoor is (25 Augustus 2017)
Foto: Maroela Media

Te midde van vandag se protesoptrede oor plaasaanvalle en nuwe onthullings oor pres. Jacob Zuma, is daar ’n netelige kwessie wat sentraal staan om ’n gebroke samelewing in stand te hou – die regsbillikheid al dan nie van die doodskisverhoor, en die vermoede dat ras ’n groot rol by vonnisoplegging gespeel het. Dit kan nie volledig politiek korrek onder die loep geneem word nie.

Nou moet daar katvoet geloop word, want die raskwessie staan sentraal in die sogenaamde doodskissaak. Die regter was swart, en die beskuldigdes wit.

Dit beteken nie die meeste, of selfs baie wit Suid-Afrikaners, het hulle geskaar by wat die twee veroordeeldes gedoen het nie. Inteendeel, dit word as ten minste dom beskryf, en daar is ’n gevoel dat vernedering oor die rassegrense heen nog oor ’n wye front op pynlike opvattings trap.

Terselfdertyd is daar ’n pynlike bewustheid, al is dit hoe politiek inkorrek om dit uit te wys, dat ’n groot deel van die plaasmoorde, asook ander misdaad op plase, deur swart teen wit gepleeg word.

En, ongelukkig, is dit ook so dat die aantal sake waar wit aangeklaagdes oordadig en selfs onregverdig deur swart voorsittende beamptes gestraf word, geleidelik al hoe meer word. Laat ’n mens jou dadelik haas en sê dis nie altyd die geval nie, soos in die Oscar Pistorius-geval.

In die appèl teen die Reitz-vier se aanvanklike vonnis, het dit geblyk die hooflanddros het die vier ook gevonnis vir sake waarvoor hulle nie eens aangekla was nie. Die vonnisse is drasties versag.

In die leeukamp-saak is bevestig dat die oorledene reeds dood was toe die plaaseienaar op die plaas opgedaag het, en hy kon dus nie aan moord skuldig bevind word nie, iets waarvoor hy reeds besig was om tronkstraf uit te dien.

Ook die Vryheidsfront Plus het aangedui dat die vonnisse oordadig is en rassegevoelens kan aanwakker. Die VF Plus sê ook dat daar talle onlangse hofuitsprake was wat duidelik die dubbele standaarde met strafoplegging uitwys.

“In die geval waar ʼn wit skoolmeisie, Bernadine Kruger, enkele jare gelede dood is nadat die hof bevind het dat ʼn swart taxibestuurder haar ‘met opset’ oor twee bane gevolg en van haar bromponie afgery het, was die aanvanklike klag maar roekelose en nalatige bestuur.

“Eers ná ingryping en vertoë van die VF Plus, is die aanklag na moord verander. Landdros Edmund Patterson het selfs in sy uitspraak gesê dit was duidelik en doelbewuste moord, en ‘nie ʼn fout of nalatigheid nie’. Die vonnis was net agt jaar.

ʼn Klein groepie betogers voor die Pretoria-Noord-landdroshof waar die beskuldigdes in die KFC-saak verskyn. (18 Augustus 2017). Foto: Phillip Bruwer

“In die onlangse KFC-saak het drie van die vyf wit beskuldigdes eers ná byna tien weke borgtog gekry en word hulle selfs van poging tot moord aangekla terwyl daar verskillende weergawes oor die voorval is, en wie eerste met die struweling begin het.

“In nog ʼn voorval in Augustus vanjaar is ʼn vrou, Carien van Staden, deur die bors geskiet deur ʼn swart soldaat wat haar en ʼn vriend byna van hul motorfiets afgery het. Sy is geskiet toe sy die man gekonfronteer het. Hoewel haar vriend ʼn video-opname van die voorval gemaak het, is die beskuldigde nie eens in hegtenis geneem nie.

“In die doodskissaak is niemand gedood of ernstig beseer nie, en die indruk word gewek dat die hof dié uitermatige strawwe oplê om ʼn boodskap uit te stuur dat wit-teen-swart-rassisme swaar gestraf sal word. Die probleem met rassisme is dat dit na albei kante sny en daar bestaan wel ook iets soos swart-teen-wit-rassisme,” sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Hy beklemtoon die gevaar van dubbele standaarde.

Ook die bekende strafregsgeleerde, dr. Llewelyn Curlewis, wil weet hoe die doodskistwee ’n swaarder vonnis as Oscar Pistorius vir moord opgelê kon word. Hy het dit as ’n skokkend onvanpaste straf beskryf.

Dit is so dat in die ou Suid-Afrika misdaad oor die kleurgrens formeel as verswarende omstandighede beskou is. Die bedoeling was egter nooit om dit te gebruik om ’n beskuldigde daarom tydens vonnisoplegging vir ’n ses te slaan nie.

Ontleders vind dit ook vreemd dat die regter in die doodskissaak appèl geweier het omdat sy oordeel dat daar nie ’n redelike moontlikheid is dat ’n ander hof tot ’n ander gevolgtrekking kan kom nie. Dié mening word beslis nie deur die ganse regsgemeenskap gedeel nie.

Ondertussen is die les eenvoudig dat absoluut gewaak moet word vir selfs die beweerde betrokkenheid by ’n misdaad waarby kleur betrokke is. Dit kan so eenvoudig wees soos om nie die snelheidsperk te oorskry nie (ook nie op pad kerk toe, waar so baie lief is om die lepel plat te trap nie), en jou sodoende teen ’n verkeersman vas te loop wat omkoopgeld eis. Weiering om omkoopgeld te betaal het al verskeie lelike voorvalle opgelewer.

Moet veral nie so optree dat die persoon wat meen hy is te na gekom, voel hy is boonop (op grond van sy ras) verneder nie. In die doodskissaak het vernedering ’n baie groot rol gespeel. Die probleem is dat daar weens kulturele gapings nie altyd ’n bewustheid is dat iets aan die ander kant vernederend ervaar word nie. ’n Goeie voorbeeld is die “blackfacing”-gevalle.

Nog ’n goeie voorbeeld was die Reitz-video, waaraan die skoonmakers vrywillig meegedoen het, en toe dit vir hulle gewys is, was hulle so in hul skik dat hulle vriende gaan roep het om saam te kyk. Die trauma het eers later, skynbaar in opdrag van die vakbond wat hulle ook die swye opgelê het, gekom.

Hoeveel ander sensitiewe terreine moet nog oopgedelf word voor wit volle begrip sal hê van wat swart mense traumatiseer? (Die doodskisvoorval is vanselfsprekend – ’n wit mens sou ook getraumatiseer gewees het.) En hoeveel sensitiewe sake wat wit mense raak, moet nog aan die swart gemeenskap gekommunikeer word – dis nou benewens beskuldigings soos dat wit mense hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel?

Maroela Media het al dikwels na die kwessie van ewehandigheid verwys, veral in menseregtesake en haatspraak. Dit is net verstommend dat ’n party soos die EFF beswaar sal maak dat ’n groepie Voortrekkers ’n raadsvergadering van die Tshwane-raad kan bywoon, op grond daarvan dat dit ’n “wit organisasie” is. Dit sal egter interessant wees om te sien of die Voortrekkers nie dalk meer nie-wit lede het, as wat die EFF wit lede het nie.

’n Mens hoef maar net na wetgewing te kyk om te sien wie die raskwessie in Suid-Afrika springlewendig hou. Moenie ’n teiken op jou eie rug aanbring nie.

 

 

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae