Nuuskommentaar: Die doodspiraal van ANC-onbevoegdheid

Argieffoto

“Wat belangrik is, is dat ons nie net een soort entstof gebruik nie, maar baie, sodat ons ander het om op terug te val sodra daar ʼn probleem is rakende die vervaardiging of doeltreffendheid van een.”

Só het prof. Salim Abdool Karim, voorsitter van die ministeriële advieskomitee oor Covid-19, gister gesê.

Dít ná die regering verlede week fase een van die entstofverspreiding gestaak het omdat AstraZeneca in dié stadium as net sowat 22% doeltreffend teen ons nuwe variant bewys is.

Die regering is nou reeds besig om Johnson & Johnson, Pfizer, Sputnik-V en ʼn Chinese entstof vir verspreiding te oorweeg en te verkry. Min. Zweli Mkhize het vanoggend genoem dat J&J se entstof dalk reeds binne die volgende week in Suid-Afrika sal wees. Dit sal hulle hopelik in staat stel om voort te gaan met die entstofplan.

AstraZeneca se ondoeltreffendheid teen ons variant was net die jongste teleurstelling in ons entstofplan. Dit is natuurlik nie die regering se skuld dat dié entstof nie doeltreffend genoeg teen ons variant is nie. Dit ís egter sy skuld dat ons waarskynlik teen middel Februarie steeds nie een mens ingeënt gaan hê nie.

Eerstens het die regering verlede jaar gesloer om voorbrand te maak vir entstowwe totdat hy enorme druk vanaf die burgery gekry het. Daarna het hy entstowwe gemonopoliseer deur niemand anders toe te laat om dit aan te koop nie. Nou wil hy entstofverspreiding ook sentraal beplan en beheer.

In die lig hiervan is prof. Karim se woorde eintlik lagwekkend ironies. Hy verwys natuurlik na die regering se beoogde “diversifisering” van entstowwe noudat AstraZeneca nie meer die mees geskikte entstof is nie. Dit is egter die regering se naarstiglike vasklou aan sentrale beheer wat ons ten eerste hier gekry het.

Indien hy vroeër begin het met die aanskaffing van entstowwe, sou ons nie in Februarie 2021 eers van plan moes verander nie. Indien hy vroeër moeite gedoen het met gesprekke met entstofvervaardigers sou ons vroeër meer soorte entstowwe gehad het om uit te kies. Indien hy die privaat sektor toegelaat het om ook aankopers te wees, sou ons nou al ʼn wyer verskeidenheid entstowwe tot ons beskikking gehad het.

Indien die regering nie so vasbeslote was om álles sélf te doen nie, sou ons beter risikobestuur kon toepas. Met die swak en laat beplanning het die regering geen ruimte vir risiko’s, onvoorsiene omstandighede of veranderende feite gelaat nie. Hy het ons volledig van ʼn vangnet ontneem.

Een van die grootste voordele van die vrye mark en privaat sektor is juis die toegang tot verskeidenheid. Dit is hierdie verskeidenheid wat risiko’s kan verminder, indien dit reg aangewend word – al jou eiers hoef nie in een mandjie te wees nie.

Aan die begin van die jaar het min. Mkhize ʼn entstofplan aangekondig. Om te sê dat die plan ambisieus was, is om dit ligtelik te stel. Hierin is geen ruimte vir foute, vertragings of struikelblokke nie. Alles moes perfek verloop vir die regering om te slaag. Geen regering kan dit foutloos doen nie – gegewe ons regering se geskiedenis is dit lagwekkend om te dink dat hy sou kon.

Dit herinner aan min. Tito Mboweni se mediumtermynbegroting van Oktober 2020. Die kruks daarvan was ook dat Suid-Afrika van sy fiskale afgrond gered kan word – ons moet net perfek ál die nodige beleidsveranderinge deurvoer vir die volgende paar jaar. (Hierdie veranderinge synde beleid en stappe waarmee die regering glad nie gemaklik is nie, soos ʼn drasties verkleinde staatsalarisrekening.)

Die regering het ʼn geneigdheid om uitsonderlik hoë teikens te stel met min tot geen bewyse dat hy dit sal kan haal nie.

Sy entstofplan het berus op die aanname dat alles perfek sonder enige vertragings of foute gaan verloop – juis omdat hy te laat begin planne maak het en sodoende ʼn krisis geskep het. Die regering se antwoord op ons fiskale krisis is dat hy net perfek sekere beginsels en beleid moet toepas vir die volgende paar jaar – juis omdat hy vir 26 jaar geen van daardie beginsels toegepas het nie en ʼn fiskale krisis geskep het.

Hoe meer hy planne maak, hoe meer misluk hy. Hoe meer hy misluk, hoe absurder raak sy planne, hoe meer misluk hy …

Dit is die doodspiraal van onbevoegdheid waarin die regering vir die afgelope 26 jaar vasgevang is. Hoe groter die krisis word, hoe hoër moet hy mik. Hoe hoër hy mik, hoe meer misluk hy. Sodoende word hy eintlik net gereduseer tot iemand wat met dodelike waarskynlikhede téén hom steeds dobbel en hoop om te wen.

Die vraag is dan nou waarom die ANC nie hiermee kan ophou nie. Waarom word sy planne al hoe meer onhaalbaar en mislukkings al hoe groter? Die kort en lang antwoord is dat die alternatief vir hom veel erger is.

Die alternatief is dat die regering sy ware vermoëns moet ondersoek, reusetekortkominge moet erken en oor sy onbevoegdheid bieg. Indien hy erken dat hy alleen verantwoordelik is vir die huidige entstofkrisis, ontrafel sy hele wêreld.

Indien die regering skuld hier beken, ontstaan daar reusevrae oor die res van sy geskiedenis. Waarom sal sy onbevoegdheid hiervoor geblameer kan word, maar nie vir alles wat andersins die afgelope 26 jaar skeefgeloop het nie?

Die oomblik dat hy sy fout erken, word ʼn groot eksistensiële vrees ook bewaarheid – dan is die regering as die ANC dalk nie geskik om te regeer nie. Dan is dit sy lede wat ʼn hele generasie swart mense verdoem tot ongeletterdheid, armoede en mislukking – die mense wat hy veronderstel was om op te hef. Dan kan hy nie meer alles wat fout is aan apartheid en wit mense toeskryf nie. Dan lê die skuld en al die morele verantwoordelikheid wat daarmee gepaardgaan by hom – en die regering is nie bereid om dit te doen nie.

Sodoende word sy risiko’s al hoe groter, juis omdat sy krisisse al hoe groter word. Eerder as erkenning van mislukking, jaag hy die klug na van “as ons alles presies reg doen, gaan alles perfek uitwerk”. Die regering moet dus aan onrealistiese drome vir die toekoms vashou, anders gaan hy oorweldig word deur sy mislukkings van die verlede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Alles duimsuig met die ANC. As hulle nie soe besig was sedert 26ste Maart met hulle Kommuniste Manifes nie, en NET op Covid-19 konsentreer het sou ons nie nou in hierdie entstof gemors wees nie. Sol-Tech teen R300 miljoen het nou net hulle deure oopgemaak. Dis Afrikaner bou. Wat het die ANC in 26 jaar gebou? Moet eerder vra wat het hulle in 26 jaar afgebreek?

Hannes

Dit is darm maklik om belasting betalers se geld te mors….
ANC = Accountability No Contest

Charles

Dit pla hulle nie, sal hul ondersteuners dit by die stembus vir hulle sê? Ek glo nie…

Genis

Ek glo ook nie dit pla die Kaders nie, biljoene klink vir hulle soos sente…. Dis eindelik waansin, hulle dink dit kom hulle toe… Dis seker die afbrekendste, selfverykende nasie ooit…

Frederik C

Baie waar !! Hulle was darem suksesvol met korrupsie in elke sfeer waar hulle betrokke was.