Nuuskommentaar: Die doofpot

Argieffoto

Argieffoto

Die regering het ’n departement van kommunikasie, en staatsdepartemente en ander staatsinstellings het skakelbeamptes. En nie sommer net skakelbeamptes nie – daar is soms ganse direktorate. En moenie van die regering se kommunikasieliggaam, die GCIS, vergeet nie.

Maar in plaas van ’n regering wat uitblink in sake kommunikeer, en dus voorbeeldig voldoen aan grondwetlike vereistes van deursigtigheid en verantwoordbaarheid, is koerante besaai met berigte wat eindig met “… het teen druktyd nog nie op navrae gereageer nie”.

Dis nie (altyd) die skakelbeamptes se skuld nie. Daar moet goedkeuring van lynfunksionarisse vir die beskikbaarstelling van die inligting verkry word, en onbevoegdheid, skelm wees en soortgelyk word nou nie juis deur openheid gekenmerk nie.

Wanneer dit oor sensitiewe kwessies handel, lyk dit of selfs die amptelike navrae van LP’s aan ministers met ore-aansittery of swye begroet word.

’n Voorbeeld is nou die Vrede-suiwelprojek, waar pogings om inligting oor te bekom nou al jare lank ’n uiters moeilike projek is. Selfs ná die projek van die Vrystaatse departement van landbou aan die Vrystaatse Ontwikkelingskorporasie oorgedra is, blyk dit dat die departement nog tot R10 miljoen per jaar bly bydra, maar opposisiepartye en die media se pogings om agter die kap van die byl te kom word om elke hoek en draai gesnoeker.

Intussen betaal ’n belastingvoos publiek net nog meer by tot ’n projek wat lanbou-ekonome nie as lewensvatbaar beskou nie.

In ’n debat waar die minister van kommunikasie, Faith Muthambi, haar mond oor die media uitgespoel en opnuut met mediaregulering gedreig het, het ’n IVP-LP gesê sy party beskou die departement se bestaan as ’n aanslag teen demokrasie. Dit lyk inderdaad of Muthambi nie die verskil tussen ’n werklike openbare uitsaaier en ’n verlengstuk van die regering begryp nie, maar niemand buite die ANC het haar al daarvan beskuldig dat sy die skerpste potlood in die pakkie is nie.

Vir haar “mediastrategie” oorweeg sy en die regering om al die regering se “mediabates” bymekaar te gooi. Sluit dit die SAUK in?

Die doel is om ’n mediahuis in swart besit op die been te bring. En daar is ons al weer terug by die regering se rasbeheptheid.

Dit is nie alles kwessies wat tot Suid-Afrika beperk is nie. Ook in die VSA is daar nou ’n onstuimige debat oor die rol van George Stephanopoulos. Hy is ’n nuusbaas (chief news anchor) by ABC-TV, en het in ’n TV-onderhoud met ’n Republikeinse politikus die Republikein baie stief behandel. En toe blyk dit dat Stephanopoulos $75 000 tot die Clinton-stigting bygedra het. Die Clinton-stigting, wat veronderstel is om aan armes bystand te verleen, wend egter net 6% van sy uitgawes hiervoor aan. Die Clintons word daarvan beskuldig dat hulle self deur die projek verryk word.

In Suid-Afrika, waar ’n groot deel van die media blatant die Demokrate goedgesind is, en Hillary Clinton as presidentskandidaat die “darling” is, is dit te wagte dat die media taamlik swygsaam sal wees oor die een selfgemaakte struikelblok ná die ander wat oor haar pad kom.

Nie dat Republikeinse kandidate stilsit om hul eie name met ’n plank te slaan nie. Die eerste Republikein om sy kandidatuur aan te kondig, Ted Cruz, het kort daarvoor in ’n subkomiteevergadering van die kongres, waarvan hy nogal die voorsitter is, die wenkbroue laat lig deur Nasa se baas oor klimaatsverandering aan te durf. Dit terwyl Nasa beleef hoe sy lanseergeriewe deur die stygende see bedreig word.

Op die plaaslike front het die joernaalprogram, Carte Blanche, AfriForum oor die kwessie van plaasaanvalle in ’n baie moeilike posisie geplaas oor die manier waarop Ernst Roets se insette geredigeer is.

Maar plaaslik is sake besig om in ’n “bose kringloop” te ontaard. Hoe meer die regering verbrou en dit in die doofpot probeer stop, hoe meer krities raak die media en kommentators oor die regering. Hoe meer blaampolitiek die regering probeer toepas soos om Eskom se probleme voor apartheid te lê en die land se probleme in die algemeen op Jan van Riebeeck se brood te smeer, hoe moeiliker raak dit vir enigeen om te hou by enige voorneme om ewehandigheid of ewewigtigheid toe te pas by beriggewing en beoordeling.

Nie dat die regering tevrede sou wees met ewehandigheid nie. Verskeie regeringslui, onder wie pres. Jacob Zuma self, het al breedsprakig opgegee oor die “goeie storie” wat ook vertel moet word. Die SAUK se omstrede baas het selfs by geleentheid kwotas daaraan probeer koppel.

Maar die media het, naas sy waghondfunksie, ’n verantwoordelikheid om die waarheid te verkondig. En hoe word inligting wat die regering uitskreeu as geloofwaardig beskou as die einste woordvoerders en skakelbeamptes in ’n stilstuipe verval as vrae oor die ander kant van die munt handel? Juis wanneer die media sy taak as waghond vervul, die koue skouer by die regering kry?

Die gevolg is dat die media ook by hul eie lesers en luisteraars geloofwaardigheid gaan inboet as hulle nie in hul strewe tot ewehandigheid aandring op die waarheid nie.

Geen nuusmedium wil heeldag net berig oor waar die regering nou weer verbrou het nie.

Maar dan moet die regering ook sy kant begin bring waar daar nie meer na die toestaan van ’n tender ’n hele stamboom-familie-uitleg gedoen kan word nie. Waar gesinsfoto’s nie in die HAT onder die hofie “nepotisme” opgesoek moet word nie.

Dit is nog een ding as ’n skakelbeampte se versuim om ’n medianavraag betyds te beantwoord te wyte is daaraan dat die een wat die vrystelling daarvan moet magtig, ontydig op die gholfbaan is – dis ’n heel ander ding as die vraag weens die ongemak wat dit veroorsaak in die doofpot geplaas word.

’n Skitterende voorbeeld is dat die Vrystaatse departement van welsyn in die nuwe boekjaar gewoon opgehou het om subsidies aan ’n wye verskeidenheid welsynsorganisasies te betaal. Die NRO’s is nou onder kritieke finansiële druk. Die departement bemoeilik sake deur geen, maar geen korrespondensie of navrae oor die saak te beantwoord nie – nie van die spartelende NRO’s nie, en nie van die media nie. Nou word die departement op terme geplaas vir ’n dringende hofaansoek om te betaal. Die departementele woordvoerder sê aan Volksblad: “Ongelukkig is daar niks meer wat ek in hierdie stadium kan sê nie. My hande is afgekap. Ek wag steeds op antwoorde.”

Ja, as ’n mens lank genoeg wag, breek Kersfees ook aan.

Dis nog meer kommerwekkend as die staat die media ooreenkomstig die bereidheid tot Hansie-my-knegheid met advertensies beloon – soos om die leeueaandeel van die advertensies aan die Guptas se New Age te gaan toeken.

Dit sal ’n kwade dag wees as die media gesnoer word weens die regering se sensitiwiteit as daar lig op sy brouwerk val. Want ’n grondwetlike demokrasie sonder deursigtigheid en verantwoordbaarheid is nie ’n regering nie, laat staan nog ’n demokrasie. En dat die regering skynbaar raskwotas in die oog het om die media gedienstig in ’n ry te laat inval, is nie net rassisties nie, maar ’n belediging teenoor die integriteit van swart mense.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae