Nuuskommentaar: Die droogte en koeksister-kerktorings. Kan ons nog saamstaan?

Foto: Willem de Lange

Foto: Willem de Lange

Met ons pennies en tiekies het ons die Vrouemonument gebou, het van die ou mense graag vertel. Talle kerktorings behoort in die vorm van koeksisters te wees om te gedenk hoe die susters skouer aan die wiel gesit het om kerkboufondse te laat groei. En nou staan ons voor die enorme uitdaging om die landbou wat in groot nood verkeer, deur die drif te help.

Dis meer as net pikant dat, te midde van die ergste droogte sedert 1904, die nuusfokus al weke lank op die netelige kwessie van ras en rassisme sou vashaak. Ook pres. Jacob Zuma kry volop kolfbeurte om soos gebruiklik vir nulletjies uitgehaal te word.

Toegegee. Die droogte en die gevolge in terme van lyding, ook van weerlose diere, is meer as wat baie mense in hul gemoed kan koester. Dis bitter onaangenaam om daaroor te skryf en is ’n beker vol gal wat asseblief moet verbyhou as dit kan.

Maar dit kan nie.

Geen mens met gevoel kan ook die blinde oog daarop werp nie. Ook die feit dat die regering halsstarrig weier om die omvang daarvan te erken en dus snoep is met die beskibaarstelling van nood-droogtehulp – wat dan in elk geval byna uitsluitlik na opkomende boere gaan. Onlangs het ’n woordvoerder van die departement van landbou nog gesê net 20% van die land word deur die droogte geraak en daarom is die droogtehulp voldoende. Inligting van die georganiseerde landbou en feitlik elke ander bron weerspreek hierdie stelling in hiperboliese terme.

Die droogte raak ook talle dorpelinge en stedelinge regstreeks en onregstreeks. Verskeie Vrystaatse dorpe se water het al opgeraak, en groter plekke beleef beurtwater. Vandalisering en gebrekkige instandhouding vererger die situasie.

Tog is daar talle mooi verhale oor hoe saamgestaan word om soveel as moontlik van die skerp kante van die droogte minder skerp te maak. AfriForum, Solidariteit, Solidariteit Helpende Hand, TLU SA en Cell C het byvoorbeeld omvattende planne bekendgemaak om boere en hul vee wat tans onbeskryflik swaarkry, te help. Henk Maree, nasionale woordvoerder van AfriForum, het ’n tjek van R200 000 aan TLU SA oorhandig om die samewerkingsooreenkoms mee aan die gang te kry.

Oor die land heen word water bymekaar gemaak om na die droogtegeteisterde gebiede te versend. Boere wat nie so erg deur die droogte geraak is nie, skenk op aansienlike skaal voer aan dié wat noustrop trek. Baie van hulle het al in die verlede dieselfde soort hulp gekry juis van diegene wat nou noustrop trek. Skole en ander instansies sit handjie by – druppels wat naderhand ’n emmer kan volmaak. Minstens een kunstenaar laat die opbrengs van ’n lied wat hy spesiaal geskryf het na die droogtefonds gaan. Vier fotograwe het skouer aan die wiel gesit om ’n uitstalling van droogtefoto’s en die opveil daarvan ten bate van die droogtefonds moontlik te maak.

Dit het wel intussen goed oor dele van die droogtegeteisterde gebiede gereën, en soms is selfs skade deur hael, oorstromings en wind aangerig. Soos die boere sê, dit reën ongelukkig nie gras ook nie. Dit sal ’n ruk neem vir die veld om weer kos te dra. Die reën het dikwels ook kol-kol neergesak – ’n eienskap van El Nino.

Hierdie soort saamstaan se waarde kan moeilik onderskat word, al is dit ook moeilik om te dink dat dit die volle omvang van die skade kan teenwerk. In ’n sin is dit egter ’n belegging in jou eie en jou gesin se toekoms – as voedselsekuriteit heeltemal in duie stort, of kos net onbekostigbaar duur word, het ons onsself in die voet geskiet.

En die droogte het ook nie beteken dat plaasaanvalle opgedroog het nie.

By geleentheid het ’n predikant gesê dit sou gepas gewees het as baie van die kerkgeboue se torings die vorm van koeksisters aangeneem het, ter erkenning van die rol wat hierdie soet lekkerny gespeel het in kerkboufondse, maar ook om groter segmente van die volk in donker tye op hul voete te kry. Oor die Vrouemonument word gesê die volk het met hul pennies en tiekies die nodige geld daarvoor bygedra. En dit was dikwels bloedgeld van ’n volk op sy knieë.

Sit dit nog in ons, die gelukkiges wat kan, se broeke om bydraes te maak, al is dit om net R10 af te knyp? Of ’n omvattender projek te loods ter ondersteuning van of bykomend tot bestaande projekte? Soos om bereid te wees om stedelinge se grassnysels bymekaar te maak sodat boere dit as veevoer kan gebruik.

Suid-Afrika is ’n marginale landbouland en Suid-Afrikaanse boere moet besonder knap wees om in ’n land waarvan slegs die hoogste reënvalgebiede se neerslag by die wêreldgemiddeld kers vashou, en te midde van ’n landbou-onvriendelike regering en plaasaanvalle, jaar vir jaar voedselsekuriteit verseker – behalwe soos nou wanneer El Nino sy kloue behoorlik inslaan.

Wanneer die landbou noustrop trek bloei veral die platteland. Dit word mettertyd die stede se probleme wanneer desperate werkloses die stedelike plakkergebiede hand oor hand laat groei.

Navorsers beweer in ’n nuwe studie dat daar voorheen waarskynlik heelwat lewe in die heelal was, maar dat dit uitgesterf het. Die rede is dat tydperke wat eksoplanete lewensvatbare omgewings huisves, maar kort is. Ons aarde se eie geskiedenis toon aan dat klimaatsiklusse al verskeie kere ’n impak op lewensvatbare landbou-omgewing gehad het, en beskawings soos dié van die Majas laat val het.

Dit beteken nie ons kan die landbou maar aan die natuur (en swak politieke omgewing) se lot oorlaat nie. Die landbouwetenskap ontwikkel snel om byvoorbeeld nuwe kultivars voort te bring wat meer droogte- en hittebestand is en dan boonop groter oeste kan lewer. Suid-Afrikaanse boere beskik oor ’n ongelooflike kennisbasis om hier te boer, en daardie kennis word deurlopend uitgebrei.

En nou het ’n uiterste natuurtoestand sy tol geëis en die stedelinge het nou ’n groot uitdaging om hand by te sit.

Kom ons wys ons kan.

Dit beteken nie dat ons die oog van die bal in ander krisisse kan haal nie. Afrikaans word steeds bedreig al sing wie ook al die lofliedere van die groei van kunstefeeste (wat dikwels ook al hoe minder Afrikaans word). In gemeenteverband sal daar steeds diegene wees wat in groot nood verkeer en die diakonie wat van bydraes van gemeentelede afhanklik is. Daar is ook groot nood buite kerkverbande en waar staatsubsidies ook skraps is.

Maar ons durf nie die georganiseerde landbou in hierdie nood in die drif te laat vasval nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Hein ·

Jip ons kan saamstaan. Een plek waar saamstaan nog nie werk is by die stembus. ‘n Goue reel sal wees. Moenie vir ‘n party stem wat die wetgewing ondersteun wat teen jou as Afrikaner diskrimmineer. Byvoorbeeld BEE, regstellende aksie, kwotas, ens. Dink ‘n bietjie mooi vir wie jy stem en waarvoor hulle staan… Stem vir ‘n party wat vir jou uitkyk…

Harry ·

Ek was Saterdag by Jacaranda se water projek om sowat 5000 liter water te gaan laai wat ons by ons Laerskool Bersig ingesamel het binne 24 uur. Ons kan saam staan as ons wil! Baie ironies dat daar geen politieke party(waarvan ek weet) wat by die projek betrokke geraak het nie, maar almal van hulle vry na ons stemme en om ons belasting geld te “bestuur”.

Vlam ·

Ons het Sondag gaan water aflewer by Jacaranda. Daar het ons n groep mense van die DA gekry wat nie net karre vol water aflewer nie maar ook n trok vol 5 l kanne. Ons het sommer gou almal ingespring om te help aflaai want hulle het baie meer water gehad as hande om dit af te laai. Dankie aan almal van julle wat water gebring het.

Harry ·

Dankie Vlam. Ek voel nou beter. Dankie dat jy laat weet het.

Johann Marx ·

As ek, en miljoene ander Suid Afrikaners, nie meer as ‘n derde plus 14% van my inkomste aan ‘n onbevoegde regering moes oorbetaal nie, sou daar baie meer, groter en gouer hulp gewees het. Nie net vir boere nie, maar vir baie gemeenskappe wat sukkel swaarkry. Dis ‘n skreiende skande dat ons onbetrokke regeringsamptenary ‘n lewensstyl handhaaf waarvan ek net kan droom, met die geld wat ek aanstuur……..nadat ek my rug daarvoor af gewerk het. Dit bly onaanvaarbaar dat dieselfde amptenary wat besluit HOEVEEL van my geld hulle op aandring, ook self besluit oor hoeveel van daai geld hulle vir hulle self gaan vat……voordat hulle dit wat oorbly vermors. Belasting het begin as ‘n “geskenk” aan ‘n landheer wat die mense wat in sy gebied woonagtig was beskerm het teen aanvalle van ander gebiede se inwoners….Hoe het ons by die punt gekom waar dit ‘n afdwingbare vergryp is, wat gestraf kan word as die gepeupel dit verontagsaam?

adriaan de la rey ·

ai johan dis net sulke manier van dink dat die land is waar hy is.ja daar is soveel verkeer maar wat doen ons as person om dinge makliker en beter te maak.wat het belasting geld uit te waai met hulp aan boere, ek het n bord gesien langs die pad wat se eaten today thank the farmer.skyf die prys op van vleis en mielies en brood kerm ons vra boere vir droogte hulp kerm ons ,wanneer gaan ons as Afrikaans sprekendes ooit gelukkig wees met enige iets.hoe sal ons ooit dink droom om n goeie regeerde land vir ons nageslag los as ons nie eers die mense wat vir ons kos gee kan help nie.almal weet die regering steel belasting betalers se geld ,maar gaan ons sit en top daaroor of gaan ons aanbeweeg.kyk dis swaar ja dis hartseer om as boer jou diere te verloor en nog op so wyse dat jy sien hoe jou dier dood gaan maar jy kan niks doen nie.SO MY GEVOEL IS HOU OP MET EK EK EK.EN DINK AAN N ANDER WAT NIE EERS WATER HET VIR N KOPPIE KOFFIE NIE.TERWYL ONS IN A AREA BLY WAAR DIT VANSELF SPREKEND IS……..maar dis net my opinie

Johann Marx ·

Adriaan de la Rey, kom ek kyk of ek jou opinie kan antwoord. As meer mense soos ek gedink het oor belasting, en hoe ‘n regering sy mense finansieel vermorsel deur hulle ondeurdagte en ongrondwetlike spandabelrigheid, sou daar meer geld gewees het om mense in nood te help. Gaan lees weer my skrywe. Nêrens sê ek dat ek nie help nie, inteendeel….maar ek sou soveel meer kon doen as die regering my nie finansieel verkrag soos wat hulle doen nie. En weet jy wat is die ergste van alles………..as hulle NIE die belastings wat hulle hef so onoordeelkundig vermors het nie, kon hulle ook nou baie meer vir die boere gedoen het. Maar praat nou van “ek, ek, ek”. “Ek” moet ‘n miljoen Rand Merc ry, want ek is die Minister. Wat maak die sogenaamde Minister om so ‘n voordeel te verdien…..met die geld wat EK bydra? As ek ‘n miljoen Rand Merc wil ry, moet ek VIER MILJOEN se werk doen. Wat doen die Minister? In 1994 kon ek my huis verkoop, en ‘n soortgelyke huis aanskaf in Australië….maar weens my regering se onvermoë, moet ek nou SES huise soos myne verkoop, om EEN huis in Aus te kan bekostig. Dis ‘n skryende skande dat ons onophoudelik die regering “betaal” met ons belasting, en dat ons NIKS daarvoor terug kry nie. Die regering het gou uitgevind dat as hulle ‘n situasie NET IGNOREER….die mense self sal inspring en iets daaraan doen. Hierdie is weereens ‘n sprekende voorbeeld, nes misdaad, weghol inflasie, brandstofprys, elektrisiteitsprys, ens. As die regering ons belasting aangewend het om hierdie probleem areas aan te spreek en reg te stel, sou baie meer mense baie meer welwillend gewees het. Maar nou werk ek my rug af vir my inkomste. Die regering gryp 30%+, as ek wat oorbly spandeer, gryp hulle NOG 14%….en waarop MOET ek geld spandeer? Veiligheid en sekuriteit, skoolfonds, brandstof, kos, versekering, kerk, my gesin…..en dan, AS daar iets oorbly, ‘n stuiwer vir my naaste. As die regering van die dag hulle werk gedoen het, en ek NIE vir sekuriteit hoef te betaal nie, en nie vir skoolfonds hoef te betaal het nie, en nie so duur vir brandstof hoef te betaal het nie…………….het ek 10 maar soveel water geskenk aan die boere in nood as wat ek nou kan bekostig. En moenie my verkeerd verstaan nie, ek ken boerdery. Ek haal my hoed af vir die mense wat die grond koop, dit bewerk, die trekkers en implemente koop, die saad en die kunsmis, die diesel en die arbeid…..en dit dan in die grond in ploeg en plant, en HOOP op genoeg reën om ‘n oes te maak. En dan, sodra daardie oes gereed is, die produkte te pluk, te sorteer, te klasifiseer, aan te ry na ‘n mark toe….en minder wins maak as die verdompde winkel-eienaar wat daardie produkte koop en dan weer her-verkoop. Glo my, ek verstaan daardie stryd. En ek wil help…..maar ek word gekniehalter deur die land se regering. Dieselfde regering wat, as hulle net hulle vermorsing met die helfte kon verminder, genoeg geld sou gehad het om vir elke boer genoeg voer te gee om ‘n droogte te oorleef. Hierdie is ook maar net my opinie…Groete.

gigi ·

Johann, ek en baaaaie ander voel presies soos jy en jy som ons uiterste frustrasies op in ‘n neutedoppie. Ek glo wat hierdie frustrasies selfs baie erger maak, is dat mens eintlik totaal magteloos voel om iets aan hierdie situasie te verander.

Tommie ·

Stem saam maar net een vraag Boere in Nood wat al honderde boere gehelp het terwyl Agrisa en al die ander nog besig is om planne te maak word nie genoem in berigte oor die droogte help nie is n NPO wat minimale dekking kry in afrikaanse media net n vraag of moet boere nog unie geld betaal voir hulle voer koop

Tommie ·

Stem saam maar net een vraag Boere in Nood wat al honderde boere gehelp het terwyl Agrisa en al die ander nog besig is om planne te maak word nie genoem in berigte oor die droogte help nie is n NPO wat minimale dekking kry in afrikaanse media net n vraag of moet boere nog unie geld betaal voir hulle voer koop

Jacqueline ·

Tommie, ek stem 100% saam. Boere in Nood (BIN) is die mooiste voorbeeld van saamwerk met oop hande en harte. Ek wil tog vra dat Herman Toerien en elke leser van die berig en wat kommentaar gelewer het, net 10 min moet gebruik om na Boere in Nood Groep se Facebook blad te gaan kyk. Hierdie ouens is al vanaf November 2015 besig met hulpverlening aan boere. Gaan lees en kyk watter ongelooflik voorbeelde van saamstaan daar is. Hierdie Facebook blad is onlangs aangewys as die blad wie se ledetal die vinnigste ter wêreld gegroei het – met die Facebook blad vir water-hulp in die 2de plek. Dis regtig jammer dat ander organisasies wat nou eers betrokke raak, soveel mediahulp moet kry – my mening.

Fj ·

Ek is baie bly dat mense nog kan saamstaan,dit laat my goed voel. Johann Marx ek stem honderd perset saam met jou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.