Nuuskommentaar: Die e-oog ingespan teen korrupsie en misdaad

elektroniese-kamera-oogDie afgelope paar dae is beeldmateriaal versprei van geregsdienaars wat blatant omkoopgeld van motoriste eis. Die beamptes is met selfoonkameras betrap, en ’n paar se turf gaan nou sit.

In Welkom het ’n egpaar hul huiswerker met ʼn video betrap waar sy een van hul kinders aanrand. Die huishulp is in hegtenis geneem.

Nie alle gevalle dui op die negatiewe nie. Onlangs het ’n motoris in die VSA ’n vuurbal in die lug wat deur talle gesien is, op sy motor se paneelbordkamera afgeneem.

Suid-Afrika het ’n ernstige korrupsieprobleem. Op Transparency International se jongste korrupsiepersepsie-indeks het Suid-Afrika, tot baie Suid-Afrikaners se verbasing, van die 72ste posisie tot die 67ste posisie verbeter, na dit sedert die bewindsaanvaarding van pres. Jacob Zuma dramaties agteruit geboer het.

Hoe dit ook al sy, volgens hierdie indeks is daar baie lande wat nog meer korrup as Suid-Afrika is. China, byvoorbeeld, het ten spyte van aangekondigde optrede teen korrupsie, met twintig plekke tot die 100ste plek teruggesak.

Maar as dit kom by die omkoopindeks, lyk Suid-Afrika se posisie egter gevaarlik sleg. Volgens die jongste beskikbare syfers vaar Suid-Afrika selfs swakker as van Afrika se mees korrupte lande, soos die DRK en Nigerië. Volens ʼn interaktiewe kaart van die BBC, soos verkry van Transparency International, het 47 persent Suid-Afrikaners onlangs in ’n jaar omkoopgeld betaal.

Baie TV-kykers was seker verbaas dat die polisie weier om ’n korrupsie-aanklag teen ’n Johannesburgse metrobeampte aanhangig te maak na die beampte op video betrap is dat hy ’n motoris probeer omkoop het. Volgens die polisie het geen geld verwissel nie. Die fisiese omkopery het moontlik nie plaasgevind nie, maar as na bykans enige definisie van korrupsie gekyk word, het korrupsie wel deeglik plaasgevind. Korrupsie word onder meer beskryf as die oneerlike of bedrieglike optrede deur iemand in ’n gesagsposisie, waarvan die bysleep van omkopery ’n tipiese voorbeeld is. Kortom, wat Jan Publiek betref, is ’n korrupte metropolisieman aan die kaak gestel. Gelukkig het die metropolisie aangedui dat daar dissiplinêr teen die beampte opgetree sal word.

Korrupsie kan nie maar bloot as nietigheid afgemaak word omdat pres. Jacob Zuma onlangs gesê het korrupsie is ’n Westerse konsep nie. Korrupsie het geen kategorie in Suid-Afrika se jaarlikse polisie-misdaadstatistieke nie, en is waarskynlik verweef in die kategorie, bedrog. Die Wêreldbank beskou korrupsie egter as die berowing van ʼn land van sy toekoms. Dit het ’n ernstige invloed op die land se posisie op beleggingsvertroue-indekse. En kry die kabinet nie skaam dat verskeie Afrikalande, soos Botswana en Namibië, beter as Suid-Afrika op die indekse vaar nie?

Dit kos twee om korrupsie te laat plaasvind. SEB-en ander vereistes vir die bekom van kontrakte maak dit baie moeilik om eerlik in die land se ekonomie mee te ding. Verskeie maatskappye het hulle reeds suksesvol tot die howe gewend, onder meer in ’n rits paaie-kontrakte wat enkele jare gelede in die Vrystaat toegeken is. In een geval het die hof selfs so ver gegaan om die saak nie na die tenderraad terug te verwys nie, maar die tender self her toe te ken. Die departement is onder nasionale administrasie geplaas, en die LUR as burgemeester van Mangaung herontplooi.

As iemand wat wel ’n sluk of twee te veel tiermelk in het, vir dronkbestuur voorgekeer word, is die betaal van R200 (volgens die video) ’n nietigheid teen die moeilikheid wat die persoon op die lyf sou loop as hy deur die wetlike prosesse gesit word. Uiteindelik, danksy ’n misdaadrekord, het hy in baie opsigte lewenslank gekry. Wat dit nie reg maak om die tsjôtsjô te hoes nie.

Die persoon wat die metrobeampte gaan verkla het, is toe juis vir vermeende dronkbestuur aangekeer, en sy bloed getrek. Dit sal interessant wees om te sien wat van hierdie saak word, want sou hy onskuldig wees, kom elemente van afpersing – ook ’n misdaad – ter sprake.

Kortom, korrupsie in al sy vertakkings moet uitgeroei word om die ekonomie enige kans op herstel te bied. En met selfoonvideo’s en ander tegnologie wat mense deesdae alledaags in die sak dra, kan reeds groot duike in dié hoofweg-boewery en ander prosesse van korrupsie geslaan word.

Dit is egter nie iets wat sommer bloot aangepak moet word nie. Moet byvoorbeeld nooit, tensy jy deel van ʼn formele wetstoepassingsaksie is, eers geld verwissel en dan die fluitjie probeer blaas nie, want die beampte kan omvlieg en sê hy het eintlik die lokval gestel – veral as hulle twee of meer was. Dit sal goed wees as ’n instansie met volop regskennis, ’n algemene “handleiding” beskikbaar kan stel hoe om korrupte amptenare met moderne tegnologie vas te trek.

Zuma se stelling oor korrupsie wat ’n Westerse konsep is, verdien op sy eie dat die lede van die opposisie tydens die president se staatsrede met hul rug na hom gekeer sal staan.

Suid-Afrikaners moet op groot skaal sigbaar hul rug op korrupsie keer om nie net die probleem hok te slaan en die skuldiges uit hul poste te wring nie, maar om die land se ekonomie te red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Drieks ·

Asseblief ja, sal die opposisie dit tog doen vir Suid Afrika….!!!

MMP ·

Hierdie land kan Zuma en sy korrupsie nie meer bekostig nie. KEER HOM DIE RUG!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.