Nuuskommentaar: Die eindfluitjie blaas vir Zuma

Pres. Jacob Zuma. Argieffoto: Ntswe Mokoena, GCIS

Dié keer, so lyk dit, is daar nie meer uitkomkans vir pres. Jacob Zuma nie. Hy is nou behoorlik deur bestaande politieke en regsprosesse omsingel, terwyl nog pyle uit die kokers gehaal word. Dis ondenkbaar dat nie een van die pyle die skyf gaan tref nie. Slegs tronkvrees weerhou die president om self sy goedjies te vat en te loop.

Soveel keer in die verlede is verwag dat die eindfluitjie vir Zuma geblaas het. Maar Zuma is soos ’n prop – hy duik nie skouspelagtig nie, maar onderkry en onderhou gebeur nie sommer met hom nie. Hy dryf soos klokslag na bo, en kla boonop dat niemand ooit vir hom sê wat hy verkeerd doen nie. ’n Paar verslae van die openbare beskermer het egter die teenoorgestelde verhaal vertel, soos dat hy die grondwet geminag het.

Dit is egter moeilik om te sien hoe Zuma dié keer die valbyl gaan vryspring. Daar is net eenvoudig té veel regs- en politieke prosesse teen hom gelaai. Nie lank terug nie het Zuma ’n uiters bedenklike “intelligensieverslag” gebruik om van Pravin Gordhan as minister van finansies, asook sy adjunk, ontslae te raak. Nou is ’n groot hoeveelheid e-posse, op die oog af outentiek, gepubliseer. Die redaksie van die twee publikasies wat hier hul waghond-funksie na behore vervul het, het stellig by die publikasie daarvan ’n veel groter reaksie verwag as wat die geval was. Boonop het die publikasie van die e-posse gevolg kort op die hakke van twee navorsingsverslae waarin staatskaping in redelike detail uitgewys is. Die eerste verslag was deur die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, en die tweede deur navorsers van vier universiteite. Die rektor van een van die universiteite, prof. Adam Habib, het nadat hy die universiteite se verslag gelees het, verklaar dat dit sy hare laat regop staan.

Tog oorleef Zuma kort nadat die e-posse gepubliseer is ’n mosie van wantroue in die Nasionale Uitvoerende Komitee. Na verneem word was Zuma woedend oor die mosie wat teen hom ingestel is, en het hy allerlei dreigemente geuiter. Volgens mediaberigte sou Zuma die mosie nie oorleef het as dit tot stemming gebring is nie.  Hy oorleef egter weer soos verskeie kere in die verlede.

Tog is die gevare vir Zuma nie verby nie. Die DA beplan om kriminele klagtes teen Zuma en ander ministers en hooggeplaastes te lê wat deur die e-posse met staatskaping verbind word. Hoewel die klagtes anders daaruit sal sien, is staatskaping, of soos dit ook gestel is, die stille staatsgreep, ’n vorm van sedisie. Dis moontlik nie die land self wat weggee is nie, maar die land is van hulpbronne gestroop en effektief onder die beheer van ander geplaas, wat op hul beurt die meewerkende politici ruim vergoed. Dis nogal ’n bose kringloop, want soms moes die proses om ’n “samewerkende minister” in ’n pos aangestel te kry, ver gaan haal word. Dit beteken daar moes reeds ’n gat in die dyk gewees het.

Trouens, die gat in die duik was al taamlik duidelik toe ’n Gupta-gehuurde vliegtuig met huweliksgaste toegelaat is om op die Waterkloof-lughawe te land. Ene Nommer Een het duidelik sentraal gestaan, maar soos dikwels moes ander die straf vir ongemagtigde optrede dra. Soos om as ambassadeur in Nederland aangestel te word.

By terugskoue sal die vraag bly hang: Wat het die ANC besiel om Zuma so deur die een slaggat na die ander te help? Die feit is dat die ANC met verlede jaar se munisipale verkiesing ’n baie duur prys daarvoor betaal het. Die ANC het Zuma se rol hierin afgemaak en ’n paar strooipoppe opgestel wat geblameer is. Maar die ANC, wat nog nie ruim ervaring gehad het van die tipe heksejag wat volg op setelverliese van hierdie omvang nie, sou mettertyd agterkom dat dit te veel mense raak – byvoorbeeld mense wat in plaas daarvan dat hulle raadslede is, nou werkloos is. Daarby val ook heelwat politieke poste, en amptenaarsposte.

Terwyl die een wat dit veroorsaak het, steeds knoes sy lyf Jacotius Zumalatus hou.

Met al die prosesse wat nou in werking is, of in werking gestel gaan word, is dit onmoontlik om te sien hoe hy nog lank gaan oorleef.

Hy self sal dit seker anders sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

40 Kommentare

LOUIS ·

Ek dink sy volgende stap sal wees om hard te werk om sy ex vrou Dlamini-Zuma as president verkies te kry sodat sy hom kan help om uit die tronk te bly. Wat ek nie kan verstaan nie is dat die ministers en parlementslede wat voordeel tre uit hierdie staatskaping nie ook aanspreeklik gehou word nie. Dan natuurlik is daar die Gubtas wat tans vootgaan om SA te stroop. Hoekom word hulle nie vervolg nie. Hoekom word die deure nie op hulle toe gemaak nie soos die banke gedoen het nie.

Loeis ·

Dit is baie duidelik dat Jacob Zuma op sy x-vrou staatmaak om by hom oor te neem, en hom te beskerm. Wat beteken een Zuma word deur ‘n ander vervang.

Die alternatief is om nie deur die ANC geregeer te word nie. Die ANC se steun mag dalk in 2019 se verkiesing tot onder 50% daal, wat beteken ‘n koalisie kan hulle uit die kussings lig, maar hierdie syfers is nie ‘n gegewe nie. Dan is daar natuurlik die opsie (in terme van die grondwet) van territoriale selfbeskikking, wat deur ‘n mandaat van die kiesers voortgedryf kan word.

job jobson ·

STORTKOP is dikvellig n sy ex mini zupta sal die land net verder vernietig. Daai vrou sal SA in donkerte laat.

andrea van vuren ·

Hoekom is almal so bang vir die Guptas? Wat weet hulle wat ons gewone landsburgers nie weet nie?

Melanie ·

Jammer dat die ANC niks verkeerd wil weet van Zuma en die Gupta’s nie,hoe het hulle Thabo Mbeki uitgekry maar kry nie Zuma uit,of is hulle bang dat hy sal sy mond oopmaak en teveel ANC lede hul geld en status verloor?

Pieter ·

Zuma is nie alleen die probleem nie- die totale ANC is. Dit is n party wat gebore is uit wan-orde en chaos en ; “dit wat jy saai maai jy”. Die “groot” Mandela se hande was vol bloed , maar in die oe van die wereld is hy n held. Dit wat al in die tagtigs teen gewaarsku is , toe die destydse NP n referendum uitgeroep het , het gebeur en is steeds besig om elke dag bewaarheid te word. Die ANC sal dit NOOIT aanvaar om nie die mag te he nie (Wes Kaap is n bewys) . Hulle sal net van voor af weer begin intimideer , afbrand en anargie saai . Die keer is daar nie meer n militere mag wat hulle “dalk” nog kon beheer nie.

Rina Kotze ·

Ek stem 100 % saam!

En die boere wat so uitgemoor word, dis maar net ‘n manier om grond te kry!
en jammerte, die grond gaan nie reg benut word nie! Dit gaan tot niet gaan en net daar lê!

Gelukkig weet ons, die wat met die swaard dood, sal met die swaard gedood word!
Wat jy saai, gaan jy maai!

Ons moet net vasbyt en bid, ons gaan die land in stukkies kry, ons sal dit weer opbou!

Genieve ·

Zuma se storie raak nou afgesaag want niemand kan hom uit di stoel kry nie..net vegaderings op vergaderings. Elkedag net Zumpies en niks gebeur nie.

riana ·

Hy moet maar saam ou Oscar gaan sit of hom roben eiland toe stuur dat hy daar gaan bly waar al die skelms gebly het en wat mense ingedoen. Maar hoop net nie hy kom weer uit en wees die president nie. Mandele was darem nog baie baie beter as Zuma hulle moet die sleutel van die sel vir die robbe gooi.

Nico K ·

Ek weet nie hoe raak mens van ‘n diktator ontslae nie. (Zimbabwe kon nie.) Sy eie koukus sal hom nooit uitstem nie. Hulle loop die gevaar om hul eie poste te verloor as hy loop. Ek kan nie sien dat die ANC sommer ‘n verkiesing verloor nie. Al wat hulle doen is om (soos Mugabe) te sê alles is die blankes se skuld. Dan sal niemand in Afrika iets teen hul sê of doen nie. En ek dink nie Zuma sal self sommer loop nie. Dan is hy reuit tronk toe.

Eish ·

Die opmerking is myns insiens naaste aan die werklikheid. Jy byt nie die hand wat jou voed nie, anders sit jy op straat. Die groep in die party wat goeie regering voorstaan beskik duidelik nie oor die getalle om orde te bring nie. Mens sal maar moet wag tot daar genoeg rusteloosheid in die samelewing is om verandering te weeg te bring. Laaste troefkaart kan dalk n staatgreep deur die weermag wees indien die moontlikheid van veradering van die status quo onstaan. Niemand loer daar nie.

Ouvrou ·

Zuma gaan ‘n duck maak. Daar se die koerante die naweek dan hy handel al van 2016 met abu dabi vir burgerskap vir hom en sy familie. En dis een wat ek sal glo, daai storie. Hy maak net nog koffers bietjie voller voor hy weg is.

andrea van vuren ·

Intussen stroop Zuma se kinders, neefs, niggies, sy eks-vroue, en kaders ons kosbare land leeg, leeg, LEEG!!!!
Waarheen nou???

Jaco ·

Ek is nou nie n ekspert hierin nie, maar hoe het Zuma president geword??? Kon daar nie voorsiening gemaak word in ons grondwet dat iemand met n krimenele rekord nie president mag word nie of dat indien daar kriminele klagtes teen so iemand is hy ook nie as president mag dien todat hy onskuldig bewys is deur n onafhanklike liggaam nie?? Hoe werk dit???? As iemand soos hy dit reggekry het om ons president te word, wat keer hom dan om aan bewind te bly as president tot die dag wat hy 100 is? Wie gaan hom keer, as niemand nou eers aan hom kan raak nie !! Hy maak wat hy wil en as gevolg daarvan sal nie eens die DA hom kan verwyder in 2019 nie, selfs al wen die DA die nasionale verkiessing!

al ·

Ek dink hy is charismaties en ñ uitsonderlike manipuleerder. En die wat gesëen is met ñ enkele breinsel, sal vir sy snert val.

Marinus ·

‘n Wyse professor het eendag vir my gese dat die ondergang van alle Afrika lande 2 faktore is. Onkunde en korrupsie. Klink of hy geweet het waarvan hy praat.

Jaco ·

Dit is nie net die staat wat gekaap is nie maar die hele regering en parlement. Al die Guptas en hul maatskappye se bates en geld moet op beslag gele word sodat hulle nie geld het om te betaal vir die dom besluite wat net hulle bevoordeel nie.

Nico K ·

As ek vir Jaco mag antwoord. Onthou die kriminele klagtes teen hom is laat vaar omdat dit uitgekom het dat dit deel is van ‘n sameswering van Mbeki ondersteuners. Hoekom dit genoeg rede is om klagtes te laat vaar sal ek ook wil weet. Die geldigheid van die klagtes kon steeds ondersoek word.

al ·

My gunsteling kommentaar aan zums: Daarom moet jy in stilte vertrou en jou nie ontstel oor die voorspoedige lewe van ñ skelm nie. Moet nie kwaad word nie, laat staan die woede, moet jou nie ontstel nie, dit bring net ellende.
Die skelms sal uitgeroei word, maar dié wat hul vertroue in die Here stel, sal in besit bly van die land. Ps 37:7-11.

Leon ·

‘n Ou swart man wat saam my werk het nou die dag vir my gesê (nadat ek hom gevra het of Ramaposa ‘n goeie presidents sal uitmaak): “My ou boetie, ‘n slang bly ‘n slang. As ‘n slang babatjies kry is hulle ook slange. Die beste gaan wees as die slange uit die huis gejaag word…”.
Dit was nogal vir my ‘n openbaring en ek neig om dit te beaam. Die probleem is dit, om die slang uit die huis te jaag. Daar is nog te veel inwoners wat geduldig wag tot die slang se eiers uitbroei om te sien of hulle iets anders as slange is.

Charles Rossouw ·

Hy is ‘n diktator, maw geen klagtes, optogte, en ongelukkigheid oor sy bestuur van die land maak regtig saak. Hy sal daar bly tot die dag van sy dood.

Job Schoeman ·

Dit moet lees “gat in n dyk” , nie “duik” nie.

Janie Monsieur ·

Dagsê Job,
Dankie vir jou kommentaar. Jammer vir die oorisg, die berig is reeds gewysig.

Greotnis
Janie nms. Maroela Media

JWM ·

News 24 dra n berig van Jackson Mthemba wat seker die ANC se houding onder die huidige omstandighede verklaar. Ek hou die jongste aksies van die Helen Suzmanstigting teen die Speaker en die Parlement dop. Dit kan dalk meer effektief wees as net verklarings en openbarings van korrupsie, ens.?

Henk ·

wat het die anc besiel om zuma deur elke slaggat te help? die feit dat hy presiese detail van elke misstap van die span wat hy aangestel het ken. die feit dat hy weet presies hoe om elkeen van hulle saam met hom tronk toe te vat. die feit dat hy seker maak dat hulle weet wie en wat hy is en was tydens die oorlog wat die anc teen hierdie selfde land gehndhaaf het in die 80’s en 90’s. die feit dat die binne-kring presies weet wat in kamp qautro plaasgevind het onder zuma se leiding – DIT is wat zuma in die stoel hou.

Wilma ·

Vir iemand wat geen formele onderwys ontvang het nie is Msholozi “Zuma” baie uitgeslape. In 1963 is Zuma in Zeerust in hegtenis geneem en is skuldig bevind aan sameswering om die regering omver te werp en is 10 jaar gevonis. Lyk my staatskaping is ‘n ou laai van Zuma. Ek is vas oortuig dat Zuma se opvolger net so korrup gaan wees. Dis ‘n kwaal onder die ANC.

antjie ·

Ek sal sê dat al die ministers en parlements lede wat deel is van die staatskaping ondersoek word en uitgelig word. Ek is seker die ministers en parlements lede is nie so untouchable soos Zuma nie en ook seker hy sal hulle nie beskerm nie. Wanneer hulle een vir een uitgelig word is daar niemand oor om vir ou Zuma te beskerm nie. Dit help nie almal probeer die “koning” uithaal as sy dienaars hom beskerm nie, kry die dienaars eers uit. En vir die Guptas moet daar ook op se besighede en geld in land beslag gelê word en vervolg word.

Wilma ·

Vir iemand wat nie formele onderwys ontvang het nie is Zuma baie uitgeslape. In 1963 is Zuma in Zeerust in hegtenis geneem en skuldig bevind om die regering omver te werp. Lyk my dis ‘n ou kwaal van Msholizi soos sy ondersteuners hom noem. Zuma se opvolger gaan net so korrup wees. Dis ‘n kwaal by die ANC.

Wilma ·

Staatskaping is ‘n ou kwaal van Zuma. In 1963 is Zuma in hegtenis geneem omdat hy dieselfde wou doen. Vier iemand wat geen formele onderwys ontvang het nie is Zuma baie uitgeslape. So slim soos die houtjie van die galg. Zuma se opvolger gaan net so korrup wees. Dis ‘n kwaal onder die ANC.

Kosie ·

Nou hoekom word daar nie nou n referendum gehou soos toe FW hulle die regering weg gegee het nie.
Laat die VOLK besluit

Johannes Meintjes ·

Op die internasionale skaakbord op die pad na Nuwe Ordes is dit nadelig om ‘n goed-afgerigde of moontlik uitgekoopde President te vervang. Die stryd is nie op die voorgrond nie, maar diep agter die skerms. Die volgende SA President moet inderhaas voorberei word, – maar ook nie noodwendig ten goede van die Nuwe SA en al sy burgers nie.

A ·

Dis die probleem. Hulle gebruik ‘n fluitjie. Hulle moet ‘n airhorn gebruik. Hy mag dit miskien hoor

Koos Malgas ·

Zuma sal nooit-nooit-ooit die binnekant van ‘n tronk sien hier in SA nie. Vergeet daarvan, dit gaan nie gebeur nie, so bedaar. Hyself weet dit ook en daarom voel hy onaantasbaar. Dis baie naïef om te dink daar bestaan die geringste kans dat hy die hele regsproses sal deurgaan, dis nou te sê as hy enigsins aangekla gaan word. Wys my een prominente ANC-lid wat al ooit langer as 10 jaar gekry het en selfs die helfte uitgedien het?

Eerstens kan hy kwytskelding kry as Nkosazana president word. Tweedens sal dit jare neem vir enige saak om op verhoor te gaan: daar is hordes maniere om die proses te vertraag. Derdens sal die verhoor self jare duur as dit selfs ‘n aanvang neem. Eers sal getuies nie beskikbaar wees of nie opdaag nie, dan sal sy regsverteenwoordigers nie beskikbaar wees op die regte datums nie, dan sal Zuma self ongesteld wees en oplaas… as hy na jare wonder bo wonder skuldig bevind word sal hy met die uitgerekte appèlproses begin, eers na die volgende hof, en dan Bloemfontein, dan Braamfontein toe en so sal dit aanhou. En as die proses ooit so ver vorder sal Zuma waarskynlik nie meer met ons wees nie, hy lyk hoeka al hoe skraler elke keer as hy op TV is. Die man is immers al 75… Dit sal goed wees as hy vervolg word maar … dit gaan nie gebeur nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.