Nuuskommentaar: Die era van “Sturm und Drang” kondenseer in ANC

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

Dit lyk of die tweestryd tussen pres. Cyril Ramaphosa en die Magashule-faksie nou ʼn element van ’n magspolitieke oorlog begin aanneem, en dat Magashule moontlik ná die naweek met ’n kortkop voorloop. Dit lyk of die Magashule-kamp die begrip van Sturm und Drang hiervoor inspan om Vesting Ramaphosa mee te probeer plat loop. Maar wat behels Sturm und Drang?

Ontleders is dit nog nie heeltemal eens of die duidelike tweespalt in die ANC die party gaan laat skeur nie, en wie die beste daarvan gaan afkom nie. Wat egter al duideliker word, is dat die tweespalt bestaan en krisis-afmetings aanneem, en min of meer wie aan watter kant van die duiwelsvurk staan. Dit word ook duidelik dat dit baie gou grondig aandag moet kry om onomkeerbare skade aan die land se ekonomie te voorkom.

Maar wat het die krisis met “Sturm und Drang”, of dan “storm en drang”, te make?

Maroela Media het sedert sy ontstaan agt jaar gelede al dikwels sekere begrippe bespreek, soos byvoorbeeld onlangs “politiek korrek” en “politiek inkorrek”. Dit is uitdrukkings wat dikwels ook internasionaal ingespan word, hoewel die betekenis dikwels van land tot land, en van taal tot taal verskil.

“Sturm und Drang” is ook so ’n voorbeeld.

Die term is pas deur die Engelstalige Los Angeles Times ingespan. Hier is dit gebruik om die koppestampery oor Kalifornië se hoëspoedtreinprojek onder die loep te neem. Dit sal nie vreemd wees as ’n Afrikaanssprekende effe sukkel om agter die kap van die byl te kom oor hoekom die uitdrukking hier van toepassing is nie. Die eerste probleem is dat daar, sou die vraag in Engels aan Google gevra word oor wat “Sturm und Drang” beteken, daar meer as ’n half miljoen antwoorde is. Dit oorvleuel baie, maar die probleem verdiep weer in die vertaling van die woord “drang” wat in die uitlegte in Engels gewoonlik as “pressure” vertaal word, maar ook alternatiewe insluit, soos stress, urge, impulse, longing, met “urge” wat die naaste met die Afrikaanse “drang” ooreenstem.

Maar “Sturm und Drang” dui op ’n Duitse herkoms en die vraag is of die Afrikaanse “drang” presies dieselfde as die Duitse “Drang” beteken. In die konteks van “Drang nach Osten”, wat destyds na die ooste as Duitse Hinterland beskou is, loop die Afrikaans en Duits byna op dieselfde spoor. Maar die vergelyking ontspoor wanneer die Duits ook vertalings oplewer soos byvoorbeeld “dringen”, “bedarf”, “urged”, “penetrated” (deurdruk), Bedürfnis (bedroewend) en Begehren (begeer).

Hierdie verskeidenheid word bloot ter kennisname genoem.

In Afrikaans sou “storm en drang” bloot na ’n lewensfase verwys waarin ʼn persoon ’n soort ongeduld beleef om sy sin te kry, en wat nie noodwendig altyd goed deurdink is om in die breë belang die beste resultaat te verkry nie.

Dit sou in elk geval die uitleg wees wat die beste verduidelik wat aan die gang is met die tweespalt in die ANC.

Aan die een kant is daar pres. Cyril Ramaphosa met sy beleid, hoewel nie alles konsekwent is nie. Aan die ander kant die groep wat deur oudpres. Jacob Zuma geïnspireer word, maar waarskynlik eintlik deur die sekretaris-generaal, Ace Magashule, gelei word.

Dit manifesteer as ’n toutrekkery tussen twee faksies, waar gewoonlik aanvaar is dat Ramaphosa die beste van afkom. Die afgelope naweek se noodberaad blyk egter op die oog af die Zuma-Magashule-faksie as wenner op te lewer. Dit blyk onder meer daaruit dat die ANC sy steun aan die Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, toegesê het, in effek steun aan die nasionalisering van die Reserwebank toegesê het, en ’n ongeduld met die strategiese wyse waarop Ramaphosa die pendorings van grondgryp sonder vergoeding stomp probeer vyl, as beleid aanvaar het.

Die Groot Ses sal ook oor die lot van oudminister Derek Hanekom besluit. Die steun vir die twee kante in die Groot Ses is min of meer gelykop.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC (Foto: Simphiwe Mbokazi/African News Agency/ANA)

Die toutrekkery tussen die twee kampe handel nie net oor persoonlike tweestryde nie. Ideologie speel ’n belangrike rol, met die Magashule-kamp wat ’n groter mate van sosialistiese voorkeure openbaar. Kop vir kop is daar waarskynlik ’n paar meer van die Magashule-kamp wat met hul jisse in oranje oorpakke agter die tronktralies gaan beland sou die regspraak toegelaat word om onafhanklik van politieke druk sy gang te gaan.

Die Sturm und Drang manifesteer veral daarin dat die Magashule-kamp die nasionalisering van die Reserwebank steun, in weerwil daarvan dat ekonome feitlik voor die voet die moontlikheid as rampspoedig beskryf. Dit het ook al tevore geblyk toe Mkhwebane so ’n bevinding in ’n verslag gemaak het. Daardie verslag het onder meer in die howe teenspoed gekry, en die Konstitusionele Hof het bevind die OB moet uit haar persoonlike sak vir 15% van die regskoste van sowat R900 000 instaan. Intussen het Mkhwebane nog teenspoed gekry toe die internasionale teenkorrupsie-joernalistiekorganisasie, die OCCRP, beweer het sy het $5 000 van die Guptas gekry. Sy het die bewering verwerp.

Ramaphosa se taktiek met grondgryp was om dit te versag sodat dit so gewens as moontlik moet klink.

Die Magashule-kamp (beïnvloed deur die EFF) gee nie ’n snars om oor die verwoestende uitwerking van sy planne nie, en wil die proses versnel. Deur Sturm und Drang moet realisme en logika eenvoudig uit die pad gevee word.

Hierdie misplaaste praktyk van steun aan die verkeerde kant toe te sê manifesteer ook in die steun wat Mkhwebane van dié kamp kry. Mkhwebane se steun is, gegewe die uitslae van verskeie hofsake waarin sy erg deur die howe gestriem is, sagkens gestel, onvanpas en erg skadelik vir die beeld wat Ramaphosa se kamp hul eie probeer maak, naamlik van fatsoenlikheid. Dat die howe haar boonop as oneerlik en onbevoeg beskryf het, hinder die Magashule-kamp blykbaar nie, omdat dit nie as relevant beskou word nie.

Die openlike vendettas wat die Magashule-kamp teen minister Pravin Gordhan en oudminister Derek Hanekom voer, en dit met die hulp van die EFF en die OB, word sonder handskoene, en deurdrenk van Sturm und Drang gevoer.

Dié onvrede herinner aan ’n geveg tot die dood. Hoewel daar politieke sluipmoorde gepleeg is met onder meer die abortiewe Vrede-melkplaas as voorbeeld, handel dit meer oor die figuurlike karaktermoorde, met ekonomiese ondergrawing van dié in die ander kamp deur toegang tot die trog eksklusief te hou.

Om magspolitiek te speel deur Sturm und Drang as gereedskap in te span is baie gevaarlik. Fatsoenlikheid en rasionaliteit speel eenvoudig geen rol nie. Populisme wel, en die Sturm und Drang-brigade versamel gewoonlik die populiste aan hul kant.

Sal Vesting Ramaphosa die aanslag van die brigade kan weerstaan?

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Daniël ·

Interressant om hierdie artikel te lees, en te besef op watter dun ys Ramaphosa homself begewe.
Vir Ramaphosa om aan bewind te bly, moet die kieserskorps gelukkig gehou word, insluitende die hoëlui in die organisasie wat hom kan herroep.
Aan die ander kant die internasionale druk , en natuurlik die ‘verligtes’ binne die kieserskorps om die leierskap te steun om ekonomiese maatreëls te implementeer om die land van ‘n gewisse finansiële katastrofe te red.
Stormagtige waters inderdaad.

ne ·

Kom ons begin maar deur te sê daar is oorlog verklaar! Hoop hulle moor mekaar uit en dan is dit die einde van die storie!

John ·

Mens wonder so effens oor die Weermag wat so ligtelik orals aangewend wil word… binnekort dalk ook op skoolterreine of wanneer een van die Groot Ses wil storm… Die Kaap kla reeds dat die Weermag in die plaaslike stormweer nie die mas alleen kan opkom nie ~ dis nou die skeepsmas op die jag wat gereed staan wanneer die drang knaag om na rustiger sones, met beter pay, te vlug. Wie kan dan geroep word? Die Jeugliga vanaf Mein Kampf im Heidelberg of lè die Kubaanse troepe alweer tussen die doringbome noord van Suidwes.

Sandra ·

Wee Suid Afrika die dag as CR uit die kussings gelig word! As Ace oorneem, gaan die land en veral die witmense ten gronde.

Agie ·

Slegte nuus. Kan nie slegter
Dan is daar slegs één uitkoms
God alleen
Here wees ons genadig. Amen

Agie ·

Slegte nuus. Kan nie slegter
Daar is slegs een uitweg
God alleen
Here wees ons genadig
Amen

klipindiebos ·

Die twee bane op die huidige vlag van Suid-Afrika was dus moontlik nooit die bymekaar kom van mense soos verkondig is nie, maar die uitmekaar spat van ‘n regering agv ‘n magspel tussen twee faksies. Dit is baie gevaarlik!!!

As die simboliek van bogenoemde maar net die twee paaie was waarvan die Bybel praat, sou dit minder gevaarlik gewees het. Is daar nie miskien ‘n profetiese boodskap in hierdie landsimbool waaraan ons nie gedink het nie?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.