Nuuskommentaar: Die Europese verkiesing en lesse vir SA

eu verkiesingKiesers van die 28 lidlande van die Europese Unie ruk hierdie week op na die stembus om die 751 lede van die Europese parlement te verkies. Die uiteindelike uitslag wek minder belangstelling as die strominge wat nou oral in Europa posvat wat die toekoms van die Unie erg kan raak.

Terwyl die kwessie van hoeveel magte die EU moet hê of juis nie moet hê nie, sterk geld, is daar ander kwessies wat ‘n bepaalde invloed gaan hê, soos die krisis in die Oekraïne, die instroming van asielsoekers en ander vlugtelinge, die opkoms van “populiste”, gewoonlik in die vorm van regse en omstrede figure wat sterk standpunt teen die EU inneem soos Geert Wilders. Trouens, van Wilders se uitsprake en optredes maak dat Turkye Nederland met moontlike sanksies dreig. Saoedi-Arabië het pas wél sanksies teen Nederland ingestel. Dit behels onder meer dat Nederlandse maatskappye nie meer vir kontrakte in Saoedi-Arabië in aanmerking sal kom nie. Nederland voer ongeveer twee keer soveel van Saoedi-Arabië in, veral olie en olieprodukte, as wat hy uitvoer.

Verder is daar ‘n noord-suid verdeling, met die noordelike state wat ekonomiese beter vaar, en boonop met ‘n toename in korrupsievlakke hoe verder suid ‘n land geleë is.

Van die lidlande is intern nie meer so seker van hul eie voortbestaan soos toe die EU tot stand gekom het nie. Die Skotte stem binnekort oor onafhanklikheid van Groot-Brittanje, die Katalane gaan ‘n ongemagtigde referendum oor onafhanklikheid van Spanje hou, en Venesië en omgewing het reeds so gemaak en oorweldigend ten gunste van onafhanklikheid van Italië gestem. Ook in België woel dit oor die uiteindelike mate van soewereiniteit van Vlaandere met die grootste party wat reeds konfederalisme as moontlike uitkoms op die tafel geplaas het.

Ironies is dit juis die bestaan van die EU wat bydra tot hierdie strewe na groter selfstandigheid. Met die EU as “oorhoofse regering” word dit vir volke soos die Skotte, Vlaminge en Kataloniërs moeiliker om die nut van ‘n “tusseninvlak” in te sien.

Peilings toon dat daar na die verkiesing nege identifiseerbare “partye” sal wees waarin die partye van die verskillende lande hulself gaan groepeer. Die grootste groep bly die Christen-Demokrate, hoewel hulle van 274 setels nou, na 218 kan krimp. Die sosiaal-demokrate kan enkele setels wen en tot 201 groei. Die Groenes sal waarskynlik effens tot 42 setels krimp, terwyl die “populiste” eintlik ‘n toetrede gaan maak en tussen 25 en 38 setels kan losslaan. Dit lyk of die verkiesing ‘n groter polarisasie as in die verlede tussen links en regs gaan oplewer.

Die krisis in die Oekraïne het ‘n besef laat posvat dat die Europese Unie “nie net oor lekker kuier gaan nie”. Dit behels werk ook om die belange van die kontinent te verseker.

Tog word gevoel dat die Europese Unie, en veral sy “kabinet”, die Europese Kommissie, weens sy samestelling hom te veel met sake besig hou waaruit hy liefs sy neus moet hou, en eerder op sy kernfunksies moet fokus.

Die probleem is dat die Europese Kommissie nou uit 28 lede – een vir elke lidland – bestaan. Dit skep veel meer “ministers” as waarvoor daar portefeuljes vir werklike funksies van die EU is. ‘n Groep, onder die leiding van die Nederlandse premier, Mark Rutte, gaan hulle daarvoor beywer dat die Kommissie met tot die helfte verminder word, en aandring dat die Unie fokus op sy vyf kernfunksies, wat hy beskryf as ‘n sterker interne mark, minder reëls, meer vryhandel, een energiemark en die aanspreek van ongelykhede in die gesamentlike arbeidsmark. Op die oomblik wend die EU baie energie aan in kwessies soos die kuberruim, vrouekwotas en hul eie pensioene.

Rutte dring ook aan dat die lande se verteenwoordigers “onder hul eie vlag” moet sit, en nie die “vlag van die Europese Unie nie”.

Die instroming van duisende vlugtelinge en assielsoekers is reeds deur verskeie regeringshoofde as “problematies” beskryf. Aansprake dat dit tot ‘n toename in veral bendeverwante misdaad lei, word byna voor die voet as politiek inkorrek, of vals stilgemaak. Dat dit die nasionale karakter van lidlande beïnvloed, is egter nie so maklik weg te praat nie, en in Nederland word selfs gewerk aan planne om maatskaplike hulp uit te faseer vir mense wat nie in die Nederlandse kultuur integreer nie, soos om nie Nederlands aan te leer nie. Saam met die invloei van baie Moslems, kom ook radikale Moslems, of jong mense wat weens ‘n gevoel van uitsluiting hulle juis tot die radikale Islam wend. Talle Wes-Europese lande sit nou met die probleem van jong mense wat wegglip om in Sirië aan die kant van Al Kaïda-gesinde groepe as jihadiste te gaan veg.

Konflikte en droogtes elders veroorsaak ook ‘n desperate vloei van nuwe aankomelinge. Baie kom hul bestemmings met internasionale vlugte binne, maar daar is nou kort-kort ‘n bootramp in die Middellandse See van mense wat desperaat die vasteland probeer bereik. Gewetenlose mensesmokkelaars laat ook dikwels groepe wat hulle betaal het, in die woestyn aan hul eie lot oor, en talle kom om. Die Spaanse enklawes Ceuta en Meililla aan die kus van Marokko word gereeld bestorm deur groot groepe mense wat so in Spanje probeer kom.

Dit is teen hierdie agtergrond dat mense soos Geert Wilders vastrapplek kry. Turkye dreig Nederland met sanksies nadat Wilders plakkers laat druk het wat soos die Turkse vlag lyk, maar die bewoording bevat: “De islam is een leugen. Mohammed is een boef. De koran is gif”. Die Nederlandse regering het hom hiervan gedistansieer.

Die interessantheid is dat die Europese Unie en Suid-Afrika baie by mekaar te leer het. Maar beide het nog baie te leer oor hoe om sake soos die instroming van vreemdelinge en interne heterogeniteit te akkommodeer. En ook wat gebeur as ‘n groep hom van die regering vervreemd begin voel.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae