Nuuskommentaar: Die fisiologie van versoening

Argieffoto

Argieffoto

Die huidige rasseherrie wil maar nie wyk nie en ons ook niks nader aan ’n werkbare oplossing bring nie. Die afgelope dekades was daar verskeie verspeelde kanse, maar is dit nou te laat om rasseverhoudinge op ’n gesonde grondslag te plaas? Herman Toerien stel ondersoek in.

Die rasseherrie duur ná sowat ’n week steeds voort en die bedoeling was dat daar in hierdie rubriek reeds weg van die onderwerp gestaan sou word. Die omvang, en skynbaar groeiende omvang daarvan, maak dit egter onmoontlik. Die Volksblad neem byvoorbeeld vandag die kwessie in ’n hoofartikel, in drie artikels en ’n berig onder die loep. Die drie artikels is deur Johanna van Eeden, hoofredakteur van Media 24 se Afrikaanse koerante, Adriaan Basson, hoofredakteur van Netwerk 24 en oudredakteur van Beeld, en Leopold Scholtz geskryf.

Maar ná al die bohaai en vingerwysings – van hoofartikels en rubrieke tot leserskommentare op die internet – is ons enigsins nader aan ’n oplossing?

Pogings om tusssengroepverhoudinge te verbeter, ook van owerheidsweë, kom al ’n lang pad. Van die ouer lesers, veral in die Wes-Kaap, sal dalk die Verhoudingsaksie met sy verhoudingskomitees onthou. Hierdie aksie is aanvanklik in die lewe geroep om verhoudinge tussen wit en bruin te verbeter, en is in 1983 na alle bevolkingsgroepe uitgebrei. Die verhoudingsbeamptes het dikwels onder meer weens die lae gradering van die aksie, en dus ’n omgewing van onsimpatieke senior amptenare, dit nie maklik gehad nie. By minstens een geleentheid het hierdie senior amptenare agter die rug van die politici die aksie probeer laat afskaf.

Alle inisiatiewe het nie net van die staat gekom nie. Die organisasies soos Kontak en die Vroueburo het groot werk gedoen. Daar was ook ander instansies wat die stempel van privaat gedra het, maar as projekte van die Staatsveiligheidsraad befonds en bedryf is. Dikwels het hierdie instansies op mekaar se tone getrap.

Uiteindelik het die destydse pres. PW Botha gelas dat die maatskaplike komitee van die presidentsraad omvattend ondersoek instel na gemeenskapsverhoudinge en die bevordering daarvan. Van die land se voorste kundiges het voorleggings aan die komitee gedoen. Die staatkundige komitee het min of meer gelyklopend ’n ondersoek gedoen na staatkundige modelle wat die minste tussengroepkonflik sou veroorsaak.

Met die bewindsaanvaarding van pres. FW de Klerk is die maatskaplike komitee se ondersoek opgeskort. Daar was na verneem word ’n voortgesette uiters geheime handeling, maar die verhoudingsbeamptes is nie hieroor ingelig nie. Die Verhoudingsaksie is effektief ontbind toe die personeel en funksie na die destydse Buro vir Inligting oorgeplaas is.

Die staatkundige komitee se verslag het gunstiger verloop en ’n volledige verslag het die lig gesien. Hierdie verslag het ook die grondslag gevorm van die opdragte van die destydse regering en die Nasionale Party aan sy onderhandelaars in Kempton Park, sowel as aan diegene wat die insette van onder meer die premiers moes voorberei. In Kempton Park het daar egter min of meer dadels hiervan gekom.

Trouens, dis opmerklik dat juis daardie aspekte wat in die presidentsraadsverslag genoem word as potensiële terreine van rassekonflik, maar deur die onderhandelaars in die wind geslaan is, nou die grootste rassewrywing veroorsaak.

Met die statutêre inploffing van die Verhoudingsaksie het die vredeskomitees tot stand gekom as deel van die Nasionale Vredesverdrag. Die kundiges was egter nie betrek nie.

Dit wil voorkom of die regering destyds in die slaggat getrap het dat die bou van tussengroepverhoudinge ’n enkeldimensionele staatkundige proses was. Met ander woorde, apartheid was die enigste oorsaak vir versteurde tussengroepverhoudinge, en die wegneem van apartheid sou grootliks die probleem oplos. Die destydse president van die RGN, dr. Tjaart van der Walt, het egter gemaan dat geen staatkundige model ter wêreld, nie eens die heel beste nie, sal werk as die mense mekaar nie verstaan en vertrou nie.

Nie almal wat hulle met die kwessie van tussengroepverhoudinge bemoei het, het egter die staatkundige opsie verabsoluteer nie. Die destydse TPA het sterk klem gelê op sosio-ekonomiese ongelykheid, en het dit deur gemeenskapsontwikkeling probeer takel. In die Kaapprovinsie is met die stelsel van verhoudingskomitees volhard. In die Vrystaat is baie klem geplaas op horisontale, nie-paternalistiese interkulturele kommunikasie. Natal het geweier om die aksie te implementeer “omdat verhoudinge niks makeer het nie”.

Die feit van die saak is egter dat tussengroepverhoudinge hul in haas elke lewensfeer afspeel. Of dit nou op die vlak van taal is, godsdiens, die juridiese, historiese, geografiese, vrees vir getalle, die politieke, die ekonomiese, die maatskaplike, die fisiese … elk lewer sy kwota rasgevoelige insidente op. Dit spoel weer na ander terreine oor.

Die idee dat ’n staatkundige model (met wigte en teenwigte) vanself rasseverhoudinge sou laat normaliseer het skouspelagtig ingeplof as na die jongste twee versoeningsbarometers gekyk word. Die benadering voortspruitend uit die Waarheids-en-Versoeningskommissie en ook sy fokus op sosio-ekonomiese pariteit, het nie verhinder dat daar na berig word ’n opwelling van swart woede, en selfs ’n houding is dat oudpres. Nelson Mandela die swart mense uitverkoop het nie. Transformasie, en sy verdwaalde nefie, transformania, het nie die huidige storm op sosiale media voorkom nie.

Trouens, die wyse waarop die regering die Kliptown-beraad, wat versoening moes nastreef, aangebied het, het eerder die vure gestook.

Begrippe soos persepsies, wantroue, uiteenlopende historiese weergawes, politieke propaganda, individue en groepe wat nie ’n wag voor die mond ken nie en selfs haatspraak predik, maak alles baie moeilik. Die grootste probleem, saam met die standpunt dat rassisme net deur wit teenoor swart gepleeg kan word, bly egter dat die siekte van ’n enkeldimensionele oplossing steeds baie denke oorheers. Voeg hierby die nefie van ’n verabsolutering van die eie vakgebied, hetsy die politieke wetenskap, staatsreg, sosiologie, politieke geografie, ekonomie, teologie of selfs filosofie waar geykte konsepte skynbaar in beton gegiet is, maar nie wil “pas” nie.

Daar is byvoorbeeld geen staatkundige model wat sal werk sonder goeie tussengroepverhoudinge nie, hetsy ’n liberale model waar alle regte van individuele regte afgelei word, tot ’n meer pluralistiese stelsel tot volkome sesessie. Net so min kan enige staatkundige model gesonde tussengroepverhoudinge verseker.

Is daar ʼn oplossing? Ja.

Op die makrovlak sal ’n strategiese span bestaande uit kundiges van verskillende vakgebiede as’t ware die opgeskorte verslag van die presidentsraad moet voltooi, en die politieke wil van al die partye moet kry om dit implementeerbaar te maak. Dit moet op ’n behoorlike skaal aangepak word want daar is nou enorme agterstande om in te haal. Ewehandigheid gaan bitter nodig wees, anders gaan die saak weer op sosiale media ontplof en enorme skade aanrig.

Op die mikrovlak vereis dit dat elke burger in sy daaglikse omgang met ander kulture en rasse nie sake sal vertroebel nie. Elkeen moet ’n goeie ambassadeur nie net vir homself wees nie, maar die groep waarbinne hy sy gemaksone vind. Ná die Kliptown-beraad het van die ontgogelde afgevaardigdes gesê hulle was bemoedig deur die enorme poel van goedgesindheid wat op grondvlak ervaar is (maar nie van die verhoog gehoor is nie). Daar kan nie gewag word tot hierdie poel ook opdroog nie.

Ja, daar sal by voorbaat vingers gewys (moet) word. Soos dat die regering die ekonomie toelaat om maksimaal te groei en sosio-ekonomiese dispariteit uitskakel sonder dat teen sommiges gediskrimineer word. Die president moet tot orde geroep word as hy van sy ampseed afwyk om die belange van alle Suid-Afrikaners op die hart te dra. Korrupsie in al sy fasette sal uitgeroei moet word.

Maar selfs al is al die optimale faktore bereik, sal dit steeds baie moeilik gaan, want ons werk met mense. Die ruimtewetenskaplikes is kliphard op soek na intelligente lewe elders in die heelal, maar miskien sal dit loon om eers intelligente lewe op aarde te probeer vind.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Zirk

Baie nugter gestel,.Herman.
Halleluja, Amen.

Piet

Dankie Herman, ongelukkig is dit wat jy noem om te soek na wors in n hondehok in die land.

chrisp

Herman. Hoe kan enige mens ‘n probleem oplos as jy nie wil erken wat die probleem is nie? Europa het nie onlangs gesukkel met rassisme nie en nou begin dit, hoekom?Van die Duitsers is so geskok dat hulle dit werklik nie begryp nie.Ek verstaan Duits redelik en het gaan lees in hul koerante en elektroniese media. Elke vorm van rassisme wereldwyd en deur die eeue het slegs gebeur in ‘n” vrugteslaai” land,almal. Ons kan oor en oor probeer om dit deur mooi praatjies of totale ontkenning(soos die Duitse pers probeer het) te besin, verduidelik,beredeneer,hierdie komitee of daardie een te stig,daar… Lees meer »

HEVW

Herman met die hele vertoe het jy eintlik jou asem gemors. Jy bevestig dit met jou eie laaste woorde rakende die onmoontlikheid van intelligente lewe iewers in die heelal en so ook op aarde. Die versoening waarvan jy praat, is die onmoontlikheid en skrale hoop van n sneeubal in n warm oond. Versoening is in die eerste plek nie die resultaat mense werk nie, maar van ons Verlosser. En Hyself se die in die bree weg is baie en die in die smal weg bitter min. Jou historiese uitleg van pogings in die verlede bevestig tog die waarheid rakende hierdie… Lees meer »

Rupert Ashford

Die wereldwye social engineering eksperiment van multiculturalism (ekskuus ek het probeer soek na die afrikaanse term maar dit ontgaan my) is besig om skouspelagtig in te plof. Probleem is die agente daarvan sal eerder sterf as foute erken.