Nuuskommentaar: Die fopnuuswenner is…

Foto ter illustrasie.

Kort na pres. Donald Trump gesuggereer het dat die media jaarliks ’n fopnuuswenner behoort aan te wys, het die peilingsagentskap Rasmussen so ’n peiling onder Amerikaanse kiesers gedoen. Die twee grootste kandidate was Fox New en CNN. Die Republikeine het gevoel dié “eer” kom CNN toe, terwyl die meeste Demokrate gevoel het Fox News behoort die twyfelagtige kroon te kry.

Trump het nie eens Fox News as ’n kandidaat genoem nie, omdat hy en sy binnekring meen dis die enigste nuusdiens wat regverdig oor hom en sy administrasie nuusdekking verleen.

Algeheel, Demokrate en Republikeine saam, is Fox News egter as wenner aangewys, met dié nuusdiens wat 40% van die kiesers se “steun” gekry het. Altesaam 25% het gemeen CNN is die fopnuuskoning.

Die kommerwekkendste is seker dat ’n hele rits nuusdienste heelwat stemme gekry het. Met 65% van die Amerikaners wat meen fopnuus is ’n groot probleem, is dit duidelik dat hulle meen dis ’n wydverspreide probleem met ’n hele aantal nuusdienste wat erg skuldig agter die deur staan.

Die Los Angeles Times berig dat fopnuus nou in talle oorde die skuld kry vir die relletjie tussen Trump en die Britse premier, Theresa May. Daar is selfs ’n moontlikheid dat die Britte ’n voorgenome besoek van Trump kan opskort.

Maar is fopnuus ook in Suid-Afrika aan die orde van die dag?

Wat sosiale media betref, ja beslis, en ’n mens staan telkemale verstom om te sien wat mense bereid is om te glo.

Wat die kuberruim in geheel betref is daar nuusplatforms wat in fopnuus spesialiseer, terwyl ander, soos Maroela Media, ’n baie hoë standaard van akkuraatheid handhaaf.

Wat die gedrukte media betref is daar geen eenvormige oordeel nie. Dit wissel van (jong) redakteurs wat baie hard probeer om akkuraat met nuus te werk, en anders as ’n aantal jare gelede toe sommige koerante nog bepaalde politieke partye openlik gesteun het.

Die vermaarde rubriekskrywer dr. Leopold Scholtz het pas ook in ’n rubriek redes uitgewys hoekom daar volgens hom die laaste dekade of twee ’n daling in die gehalte van koerante was. Hy blameer uitgewers wie se klem op wins eerder as diens val, en dat ouer, maar duurder, personeel deur jonger, goedkoper personeel vervang is. Die oordrag van lewensnoodsaaklike kennis na die jonges het in die proses in die slag gebly.

Scholtz meen die leser moet so veel as moontlik nuusbronne raadpleeg en waak daarteen om hom in sy eie ideologies eggokamer toe te sluit.

Wat laasgenoemde betref, kan ’n mens die eggokamer-konsep hom feitlik daagliks in Maroela Media se kommentaarkolomme van meningstukke sien afspeel.

Sommige konsepte is so verregaande dat dit gereeld op fopnuus moet teer om lewensbloed te hê. Ander is ou konsepte waaroor in ’n stadium selfs doktorsgrade geskryf is, maar in onguns verval het – behalwe by ’n paar verbete volgelinge.

Maar moet fopnuus en die media noodwendig as byna sinonieme beskou word?

Niemand kan stry dat fopnuus in Suid-Afrika ’n yslike kopseer is nie. Neem nou maar die ANC se “goeie storie” wat telkemale voor verkiesings uitgeruk word. Blaamverplasing het ’n spesialiteit geword, en in parlementêre ondersoeke oor staatskaping is dit duidelik dat sommige getuies mekaar lynreg weerspreek en dat kluitjies milddadig gebak word. Die aanloop tot dat ANC se nasionale verkiesingskonferensie het een yslike fopnuusoefening geword waar die howe kort-kort die onbenydenswaardige taak kry om die waarheid uit te pluis.

En wanneer ondersoekende joernaliste die waarheid oopkrap en op skrif stel word net nog ’n vraggie fopnuus daaroor gestrooi en geoordeel dis nou toegegooi en vergete.

In Suid-Afrika sal die fopnuuskoning nie in die geledere van die media gesoek moet word nie, maar waarskynlik onder die politici. Die kompetisie sal straf wees.

Nie dat almal in die media ewe onskuldig is nie, maar oor die algemeen kan gesê word dat die hoofstroommedia gesteld is om hul waghondfunksie suiwer te volvoer. Hier en daar sal rubriekskrywers hulle skuldig maak aan die slyp van klein byltjies.

Veral gedrukte koerante is wêreldwyd onder geweldige druk. Hulle kan net nie meer bekostig om nié na uitnemendheid te streef, en wyd te hou van fopnuus nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eish ·

Dit is altyd n reuse verlies indien ervaring verlore moet gaan ter wille van winsneming. Dit is ook n korttermyn uitkyk wat normaalweg ingespan word deur direksie wie se bonusse gekoppel is aan korttermyn prestasie soos wins vir die jaar en groei in aandeelprys. Hul stoom is gewoonlik vinnig uit en beweeg dan aan na die volgende karkas om te aas. Dit ontneem ook jong werknemers van mentorskap. Baie kortsigtige uitkyk wat deur roekelose bestuur toegepas word.

Johan ·

ANN7 sal dalk ‘n goeie Suid-afrikaanse kandidaat wees om as fopnuuskoning gekroon te word.

gatiep ·

En ons moet nou glo hulle is reg.
Is dit die selfde mense wat gese het het hillary gaan so ver wen.

Cathy Kotze ·

Ek kyk daagliks na die nuus op feitlik al die nuusstasies in Noord Amerika. Die nuusdekking op veral CNN is belaglik. Dis linkse propaganda op die heel ergste. Hulle weier om enige positiewe dekking te gee aan die vele prestasies van die huidige administrasie.

Indien jy net CNN kyk sal jy nooit weet dat die VSA se ekonomie floreer en dat meer as ‘n miljoen nuwe werkgeleenthede geskep is nie. Die toestroming van onwettige immigrante na die VSA het met 90% afgeneem, maar ook daarvan word geen woord gerep nie. Hulle weier om te berig dat die belastingstelsel nou minder ingewikkeld is.

Hulle konsentreer eerder op die belaglike. Toe ‘n Withuis personeellid vir joernaliste tuisgebakte pekantert aanbied, wou hulle haar resep sien as bewys dat dit wel tuisgebak is. Hulle is die grootste oortreders as dit by ras en geslagspolitiek kom.

Natuurlik sal Fox Nuus as die boelie uitgekryt word. In ‘n media waarvan meer as 80% linksgesind is, is Fox die enigste wat in ‘n mate Republikeinsgesind is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.