Nuuskommentaar: Die geskiedkundige en noodgedwonge IMF-lening van die ANC

Argieffoto

In 1993 is ʼn Uitvoerende Oorgangsraad tydens die oorgangstydperk in Suid-Afrika in die lewe geroep. Dié raad het die onderskeie partye wat deel was van die onderhandelingsproses – ook die ANC – verteenwoordig.

In dieselfde jaar het die Oorgangsraad ʼn lening van $850 miljoen by die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) aangegaan. Die IMF was van mening dat Suid-Afrika in die voorsienbare toekoms nog sulke lenings sou benodig om die ekonomie van die 1990’s te beredder. Hierdie lening was onderhewig aan voorwaardes waarmee die ANC nie noodwendig saamgestem het nie.

Nadat die ANC in 1994 amptelik aan bewind gekom het, het die party enige verdere lenings van die IMF van die hand gewys. Die ANC het toe reeds ʼn vyandige en skeptiese houding teenoor die IMF gehad. Vir hulle verteenwoordig die IMF koloniale wit geld van die Weste wat eens die onderdrukkende apartheid regime help befonds het. Die ANC het nog altyd gevrees dat ʼn IMF-lening die land se soewereiniteit en ideologiese integriteit sou bedreig.

Steeds het die IMF in daardie tyd na die ANC uitgereik. In 1996 veral het die land groot ekonomiese onsekerheid en onstabiliteit ervaar. Die destydse uitvoerende direkteur van die IMF, Michel Camdessus, het in die lig hiervan met groot moeite weer eens hulp aangebied. Tydens ʼn ontbyt saam met Camdessus het Mandela uiteindelik in beginsel toegestem tot ʼn IMF-lening van miljarde dollar – die eerste IMF-lening wat die ANC as regerende party sou aanvaar. Ten einde Mandela se instemming te formaliseer, moes die ANC as party dit net goedkeur.

Mandela het ná afloop van die ontbyt die IMF geprys en genoem dat Suid-Afrika hul voorwaardes sou aanvaar – nie vir die IMF se onthalwe nie, maar eerder vir ons land s’n.

Nelson Mandela. Foto: Debbie Yazbek/Nelson Mandela Stigting/SAPA

Hierdie uitlatings van Mandela was egter voortydig. Terwyl Mandela met Camdessus vergader het, was ander ANC-leiers ook besig om die meriete van die lening te debatteer. Van dié leiers was oudpres. Thabo Mbeki, Trevor Manuel en Tito Mboweni.

Die agtergrond vir hierdie vergadering was ʼn beleidsbesluit wat die party in 1992 oor sy verhouding met die IMF geneem het. Dié beleid het bepaal dat die ANC net met die IMF in verhouding sou tree indien die land se soewereiniteit nie daardeur in gedrang geplaas word nie. Verder het die ANC beoog om in die post-apartheid Suid-Afrika so min as moontlik van internasionale finansiële organisasies afhanklik te wees.

Daardie selfde aand nog het Manuel, destydse minister van finansies, Camdessus van hulle besluit ingelig. Die ANC het gestem om selfs Mandela te veto en die lening van die hand te wys.

Manuel het erken dat die land se maatskaplike en finansiële behoeftes nog vir etlike jare sou voortgaan. Hy het dit egter ook duidelik gemaak dat Suid-Afrika voortaan énige lenings van die IMF sou vermy.

Tito Mboweni, minister van finansies. (Foto: GCIS)

Vir 24 jaar lank het die ANC hierby gehou. Dit natuurlik totdat minister Tito Mboweni vandeesweek ʼn lening van $4.2 miljard by die IMF gemaak het. Soos die meeste ander IMF-lenings het hierdie een ook met bepalings en voorwaardes gekom.

Hierdie besluit was hoegenaamd nie ʼn maklike een nie. Vir maande vooraf het die ANC daaroor gedebatteer.

Cosatu se parlementêre koördineerder, Matthew Parks, het hieroor gesê dat die anti-IMF-sentiment deel van die ANC se DNS is. Die oomblik wat jy die IMF nader vir hulp, ondermyn jy jou eie soewereiniteit. Na smeking van pres. Cyril Ramaphosa het Cosatu uiteindelik ingestem tot die besluit.

Die lening is ook net aanvaar onder die streng voorwaarde dat die land se soewereiniteit onder geen omstandighede daardeur bedreig word nie.

Die ANC is egter steeds skugter vir die voorwaardes waarmee die lening gepaardgaan. Enoch Godongwana, hoof van die ANC se ekonomiese transformasiekomitee, het gesê dat die ANC juis hieroor eintlik sou verkies om net op hulleself aangewese te wees.

“Bite the bullet, tighten the belt but impose your own terms.” Hierdie is Godongwana spesifiek – en die ANC oor die algemeen – se gevoel hieroor. Dit is iets wat verdra moet word. Dit is vir die ANC byna ondenkbaar om hulp van die IMF te aanvaar – hulle doen dit met ʼn swaar hart en uit absolute noodsaak. Dit is verder iets wat ideologies uiters versigtig bestuur moet word om te verseker dat die ANC nie te veel ideologiese toegewings in die IMF se rigting maak nie.

IMF

Die IMF. Foto: Bnr.bg

Die feit dat die ANC hierdie lening aanvaar het, spreek boekdele van die benarde toestand waarin hulle sake is. Hulle is finansieel in ʼn veel slegter posisie as wat hulle bereid is om toe te gee – die geld is op. Hulle het die land tot so ʼn mate wanbestuur dat hulle opsies móét oorweeg wat hulle in alle beginsel teenstaan. Die ANC moet bakhand gaan staan by organisasies wat hulle eintlik verag.

Hoewel hierdie soos ʼn uiterse donker prentjie lyk, is daar een belangrike ding wat die ANC – en ons as burgers – hieruit kan leer. Die werklikheid van realpolitik weeg uiteindelik swaarder as ideologie. Enige politieke beweging kan net aan ideologie vasklou totdat die werklikheid dit tot ʼn skreiende stilstand dwing.

Tot dusver het die ANC nog die luuksheid daarvan gehad om blindelings aan ideologie vas te klou. Hierdie was die eerste keer wat hulle regtig deur die werklikheid gedwing is om fundamenteel van hulle beginsels af te wyk. Die blote feit dat hulle hierdie toegewing móét maak, is onbeskryflik vernederend vir die ANC.

Hierdie bied hoop dat die werklikheid hulle in die toekoms in soortgelyke vernederende situasies gaan dwing. Daar waar hulle ideologie met die werklikheid bots, gaan hulle teësinnig toegewings móét maak – soos met hierdie lening. Hulle opsies is besig om vinnig op te raak.

Die ANC gaan waarskynlik weer tot by die IMF se voordeur gedwing word. Sodoende gaan hulle opwegings moet begin maak tussen dit wat hulle wil doen en dit wat hulle realisties kan doen. Hulle gaan dalk nog iewers moet kies tussen onteiening sonder vergoeding voortsit en ʼn broodnodige IMF-lening.

Die ANC gaan baie vinnig die les begin leer dat niemand op ideologie alleen kan oorleef nie – ʼn mens kan dit immers nie eet nie.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Pompies55 ·

Laat anc by china gaan bedel want hulle mos ook kommunisties

tweeling ·

As dit nie vir die privaat sektor was nie was hierdie land klaar. Die cANCer kan en sal nooit bevoeg wees om die land suksesvol te regeer nie. Die element van diefstal is hopeloos te sterk.

Pampoen ·

Leen, leen, leen. Rinte op rinte soos die oumense gesê het. Wie gaan dit terugbetaal?
Baie dankie vir die goeie berig. Dit is baie insiggewend.

Objektief ·

En die Range Rover en BMW garages begin al die vorms invul…

Kosie ·

Die probleem soos ek dit sien, is dat die regering geen poging eers probeer aanwend om besteding te besnoei nie. Ons skuld het geklim van 25% van GDP na iets soos 70%? Die regering leen die geld en die paar van ons wat belasting betaal moet op die ou end die gelag betaal. Hoe lank voordat die rente op ons skuld so hoog is dat ons dit nooit sal kan delg nie?

Pieter ·

Die ANC is soos ZANU PF jy sal die komuniste niks leer hulle weet als. Ons het van die slimste menisters in die werld hulle kan enige werk doen. Dit gaan orals in afrila so hoekom sal dit hier anders gaan. Hulle kan en sal nooit ooit n land kan best nie.

Tino ·

Ek is baie bly dat hierdie gebeur vir die regstelling wat in die ideologiese kwessies afgedwing word. Die IMF moet nou die guts he om SEB(Swart ekonomiese besteling) en onteiening sonder vergoeding se skrapping op hulle vereiste lys te sit.

Kokerboom ·

Realiteit is gelukkig ‘n harde leermeester. Mens oorleef nie deur op wolkies te probeer bly.

Blikkies ·

Die ANC verstaan nie sulke woorde soos ‘Vernederend’, ‘Skaamte’, ‘Skande’ nie……

Autobahn ·

„Manuel het erken dat die land se maatskaplike en finansiële behoeftes nog vir etlike jare sou voortgaan.“
Om so vinnig as moontlik nuwe konsumente te kweek. Kan nie wag om geld te spandeer wat nie voorhandig is, of die eie is nie.

Jackie ·

Lenings is in wese nie n slegte ding nie. Mits die geld wat geleen word reg aangewend word. Hou rentekoerse laag, verlaag belasting en eerbiedig elke individu se reg op grondbesit en binne 10 jaar het jy n ekonomie wat floreer omdat entrepreneurs sulke omstandighede kan gebruik om werk en welvaart te skep. Dis ongelukkig n ‘pipe dream’ in Afrika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.