Nuuskommentaar: Die gevolge van die ANC se politieke kortsigtigheid

(Foto: Rapitse Montsho/Flickr)

Deel van die ANC se taktiek om politieke veranderinge pre-1994 te bewerkstellig, was om die land onregeerbaar te maak. Mangosuthu Buthelezi het reeds in 1985 gewaarsku dat hierdie strategie daartoe gaan lei dat die land ook ná 1994 onregeerbaar gaan wees. Die kultuur van onregeerbaarheid het inderdaad oorgespoel na die post-1994 politieke kultuur. Geweld, anargie en chaos het een van die doeltreffendste onderhandelingstaktieke onder die ANC-heerskappy geword.

Pre-1994 het die ANC korttermynwinste probeer in, sonder om aan die langtermyngevolge te dink. Sodoende het hulle hul rewolusie deurgevoer sonder om mooi te dink oor die land wat hulle as produk daarvan gaan erf.

Die ANC het sy ondeurdagte politieke besluite so ook ná die regimeverandering voortgesit. Dit het tot gevolg gehad dat ons as burgers vandag die gevolge van die ANC se ondeurdagte politieke besluite dra – terwyl dit die ANC self nog nie volledig ingehaal het nie.

Die dood van Brendin Horner het die kollig gewerp op die stand van plaaslike polisiëring. Boere in die Oos-Vrystaat meen dat Horner se dood gekeer kon word as die polisie vroeër ag geslaan het op ʼn verslag oor plaaslike veediefstal wat die boere aan hulle gegee het. Hierin is vermeende lede van plaaslike veediefstalsindikate geïdentifiseer – en dit sluit die name in van polisiebeamptes wat na bewering ook kop in een mus met dié sindikate is.

Herkie Viljoen, veiligheidsvoorsitter van die Bethlehem-distrikslandbouvereniging, het vertel hoe twee polisielede selfs al op die dorp geloop en spog het oor die reuse- “salarisse” wat hulle maandeliks uit veediefstal verdien.

Polisiekorrupsie en -nalatigheid het daartoe gelei dat die polisie nie net veediefstal afgeskeep het nie, maar moontlik aktief deel van die probleem was.

Die polisiediens is vanjaar vir die tweede agtereenvolgende jaar die mees korrupte openbare diensleweringsektor gedoop. Dit is daarom ook nie verbasend nie dat die polisiediens so ondoeltreffend en korrup geword het dat hy nou self deel van die probleem is.

Die ANC het met die regimeverandering besluit om elke moontlike aspek van die staat en samelewing volgens sy rasse-formule en ideologiese vereistes te transformeer – so ook die polisiediens.

Meriete as maatstaf is verwerp en die polisiediens is getransformeer met mense wat reg lyk en reg dink. Gevolglik het die polisiediens onder die ramp van kaderontplooiing deurgeloop en byna alle standaarde vir doeltreffendheid is laat vaar. Die enigste belangrike doelwit was om die transformasie-agenda deur te voer.

(Argieffoto: Ayanda Ndamane/ANA)

Met dié rassetransformasie het die ANC die doeltreffendheid van die polisiediens verwoes en ruimte geskep vir grootskaalse korrupsie. Die ANC se politieke kortsigtigheid het hier ook uiteindelik verwoestende langtermyngevolge teweeg gebring.

Tans dra óns nog die gevolge van die ANC se swak besluite. Tot dusver kon die party nog grootliks daarmee wegkom om die gevolge van sy eie keuses te vermy.

Jacques Mallet du Pan, ʼn joernalis wat die Franse Rewolusie bestudeer het, is bekend vir die spreekwoord “the Revolution devours its children”. Hierdie gesegde was waar vir die Franse Rewolusie en vir amper elke ander rewolusie in die menslike geskiedenis.

Die ANC het pre-1994 beoog om ʼn rewolusie deur te voer waarin hy die apartheidsregime sou omverwerp en sy eie heerskappy daarstel. Dit wat hy egter nie verstaan het nie, was dat sy rewolusie hom ook uiteindelik self sou opvreet.

Die ANC het die land só swak regeer dat mense op grootskaal ongelukkig en oproerig begin word. Dit is ook net so lank wat ʼn mens die ANC se diefstal, onbevoegdheid en wanbestuur kan duld.

Die ANC se heerskappy soos wat ons dit ken, is waarskynlik in die doodsnikke. Die ANC gaan vorentoe slegs verswak. Hy gaan toenemend druk begin ervaar – weens interne konflik, ʼn tekort aan geld om te steel en eksterne druk. Namate die druk op hom vergroot, gaan die diepte en wydte van sy mag al minder begin raak. Hoewel hy aan staatsmag wil vasklou, gaan hy naderhand bloot nie meer kan nie. Die ANC gaan binnekort self die gevolge van sy eie besluite begin ondervind.

Namate die staat verswak, gaan daar verskeie leemtes begin ontstaan wat ons as burgery kan vul. Daar waar die ANC al minder op plaaslike vlak kan regeer, sorg vir dienslewering en die instandhouding van infrastruktuur, gaan ons die rol moet begin vul. Daar waar die regering al minder na onderwys kan omsien, gaan ons die verantwoordelikheid moet oorneem. Daar waar die regering amper glad nie meer vir veiligheid kan omsien nie, gaan ons dit moet doen.

Ons as burgers, gemeenskappe en drukgroepe gaan daarom binnekort die geleentheid hê om noemenswaardige verandering in die land teweeg te bring.

Anders as die ANC se pre-1994-rewolusionêre beweging gaan dit waarskynlik nie nog so ʼn georganiseerde en formele beweging wees nie. Dit gaan eerder ʼn informele, voetsoolvlakbeweging van mense wees wat die veranderinge op grondvlak bewerkstellig wat hulle graag wil sien.

Die ANC het pre-1994 besluit om ʼn strategie van wetteloosheid, geweld en terrorisme te volg. Sodoende het die aard van sy rewolusie oorgespoel na sy eie bestel. Die ANC was voor en ná 1994 polities gierig en ideologies uiters dwaas. Sodoende kon hy nie die noodwendige gevolge van die idees wat hy in werking wou stel, voorspel nie. Nou word hy in volle verbasing oorrompel deur die noodwendige gevolge van sy eie besluite.

Dit is belangrik dat ons, wanneer ons self die kans het om verandering in die land teweeg te bring, nie dieselfde foute as die ANC maak nie.

Die Franse Rewolusie het daardie regering gewelddadig omvergewerp sonder enige daadwerklike plan vir die post-rewolusionêre bestel. Sodoende het die rewolusie grootliks misluk om ʼn beter lewe vir mense daar te stel – dit het eerder tot die opkoms van Napoleon gelei. Die Amerikaanse Rewolusie, daarenteen, het eerder beoog om met die rewolusie te behou wat goed was en ʼn nuwe onafhanklike bestel met ʼn bepaalde doel te vestig – die rewolusie het ook daarin geslaag. Dit is belangrik dat ons rewolusie Amerikaans, eerder as Frans is wanneer ons wel verandering kan bewerkstellig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Anoniem ·

Dit was, is, nog nooit die ANC se oogmerk om van die mag afstand te doen nie! Hulle sal dit met alle mag en geweld behou. Blykbaar is ons gou om te vergeet dat SAPS en SANDF aan die ANC behoort.

Fedup ·

You know, i have absolutely no sympathy fir this circus. This and their people is their problem.
But as they seem to be proffesionals at regurgitating all the old cows of apartheid and what not, they are starting to irritate us.
So let’s make on thing clear here.
We don’t give a flying fig about the circus, their laws and their tantrums.

Adam Adriaan ·

Die ANC /EFF is geënt met linkse liberale kommunisme. Hulle is bestand teen enige waarheid. Al wat by hulle floreer is die gees van die leuen. Daar is geen manier dat hulle ooit bekeer kan word tot die waarheid nie. Die ente is permanent en verhoed enige beinvloeding tot menswaardigheid. Al wat saakmaak by hulle, is hulle eie goddelikheid. Hierdie tamboer word sonder ophou geslaan.

annie ·

… maar die rewolusie in die VSA was nie die finale deur na ‘n gelukkige paradys nie. Waarom diesulkes altyd almal probeer oortuig dat opstandigheid goedheid beoog, is duidelik want so word stemme gewen. Die stryd van die demokrate is juis daarop gerig om ‘n eenpartystaat daar te stel en dit nogal onder die dekmantel van demokrasie.

Frans ·

Suid Afrikaans NP-politici het hul blind gehou vir gebeure in lande noord van ons en geskuil agter die gesegde:”Dit kan nie hier gebeur nie.” Nou dat dit gebeur is hul doodstil of probeer allerhande verskonigs uitdink hoekom dit so is,maar oplossings is daar nie.

Dup ·

Kan iemand ñ groot genoeg Ark bou om ons uit hierdie gemors weg te voer na ñ veiliger en beter land? Ek sien geen ander uitweg as om die pad te vat nie want daar is geen vooruitsig dat dinge beter sal raak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.