Nuuskommentaar: Die Godsverduistering

kruisKort-kort moet ontstelde Suid-Afrikaanse Christene aanhoor hoe pres. Jacob Zuma en sy ringkoppe uitlatings van ‘n skokkende godsdienstige aard maak. Sommige van die opmerkings dui op doodgewoon onkunde oor die Christelike godsdiens, ander dui op uitsprake wat moeilik as iets anders beskou kan word as die misbruik van godsdiens vir politieke doeleindes.

Die diskoerse wat dié uitlatings veroorsaak bied egter ook die geleentheid aan Christene om self bestek op te neem oor in hoe ‘n mate hulle in hul daaglikse lewe ‘n Godsverduistering ervaar. Die mate waarin die najaag van meer en meer welvaart ‘n obsessie, word terwyl die hand wat die kerk en armes moet voed al toeër en toeër word. Die mate waarin die individu daagliks ervaar of toelaat dat sy omstandighede as Godsverduistering dien is gereeld regstreeks of onregstreeks die tema van preke.

In die 2001-sensus het bykans 80% van alle Suid-Afrikaners hulself as Christene aangedui. Dieselfde land word egter as die verkragtingshoofsetel van die wêreld beskryf.

In 2004 het die aantal aborsies per 100 000 lewende geboortes in Suid-Afrika tot 129,7 gestyg. Voor aborsies op aanvraag gewettig is, was dit 1,7 per 100 000 lewende geboortes. Suider-Afrika se aborsiekoers per 100 000 vroue is hoër as dié in Wes-Europa – 15 teenoor 12.

Gaan die 16 dae veldtog teen geweld teen vroue en kinders enige beduidende effek hê as daar geen morele herlewing is nie?

Gaan die land ‘n ommekeer op die internasionale korrupsiepersepsie-indeks maak as die regering so spook om die Nkandla-verslag van die Openbare Beskermer uit die openbare domein te hou?

Watter boodskap hou dit in as senior politici by korrupsie geïmpliseer word, en selfs vir bedrog aangekla word, maar intussen in hul poste van onder meer LUR aanbly?

Gaan die veldtog teen MIV-Vigs ‘n beduidende impak hê as die beste antwoorde daarop die uitdeel van kondome en aanmoediging tot besnydenis is, eerder as ‘n veldtog om huweliksgetrouheid te bevorder?

Selfs kerke beleef interne twiste wat die energie en fokus wegtrek van kerke se eintlike missie – om God se Koninkrykwerk te verrig.

Seker die mooiste getuienis vir ‘n Christen is dat sy lewe van so ‘n aard is dat dit nie nodig is dat hy hoef te sê hy is ‘n Christen nie – sy ganse lewe is ‘n getuienis vir Christus; maak van hom ‘n visser van mense. Dit is in skrille kontras van diegene wat, soms selfs goedbedoeld, al wat ‘n medium inspan om ander, ook ander Christene wat anders oor sekere sake glo, te veroordeel. En dan verweer dat hulle eintlik nie oordele uitspreek nie, maar net vermaan…

Min mense sal twyfel dat die land ‘n groot uitdaging vir die Christen geword het.

Dit is binnekort Kersfees, en dit is miskien ‘n goeie geleentheid om bestek op te neem van hoe dit gepas is om ‘n behoorlike Christusfees wat by die geleentheid pas te vier. Dit is elke jaar ‘n skrille aanklag hoeveel eensames selfmoord pleeg omdat dit juis die tyd is wat hulle hul eensaamheid die ergste beleef. Dit is ‘n aanklag oor hoeveel gesinne in rou gedompel word omdat iemand se feesvieringe daaruit bestaan het om te diep in die bottel te kyk en dan agter die stuurwiel in te strompel.

In watter Christelike gesindheid gaan Geloftedag gevier word?

En hoe gaan die Christen op die geldende werklikhede reageer wanneer hy aanstaande jaar die geleentheid kry om sy kruisie te trek?

Of is dit gewoon makliker om ook die Christelike verantwoordelikhede, soos ander verantwoordelikhede, aan iemand anders of ander instansies te delegeer?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Danie Grobler ·

Zuma en sy bende se uitsprake sien ek NIE AS ONKUNDE NIE. Daar is altyd iets daaragter. Hulle dink hulle is onaantasbaar veral as mens dophou wat tans in die land aan die gang is. Tye is taai en dis soms moeilik om die pluspunte raak te sien. Miskien moet mens net daarop jou aandag vestig.

Demokraat ·

Hoe moeilik dit ookal mag wees binne die huidige onstabiele politieke- en maatskaplike toneel in Suid-Afrika, is dit die plig van elke Christenmens om slegs maar te bid vir uitkoms en ‘n verandering van die verdoemende omstandighede. ‘n Christen mag nooit moed verloor nie en moet slegs voortgaan met sy lewe ongeag die heersende omstandighede. Dit herinner aan die gedeelte in die Bybelboek van Jeremia waarin God die boodskap aan Jeremia gee wat hy aan die Israeliete in ballingskap in Babel moes bring naamlik dat hulle slegs moet voortgaan met hul lewe en take in Babel en dat hulle nie moet ophou bou en ontwikkel nie ……..want die 70 jaar van ballingskap is nog nie verby nie. Ons weet ook nie wanneer ons 70 jaar van “ballingskap” sal uitloop nie en daarom moet ons, in diepe geloof op God, voortgaan met ons lewe en bou en ontwikkel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.