Nuuskommentaar: Die ‘goeie’ ANC is toe ook korrup

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid. (Foto: Twitter)

Die DA het Donderdag ʼn strafregtelike klag aanhangig gemaak teen dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, oor die Digital Vibes Covid-19-korrupsieskandaal waarby hy betrek word.

Dié korrupsieskandaal is die jongstes en ook een van die meer opspraakwekkende skandale tot dusver. Nie noodwendig weens die omvang daarvan nie, maar eerder weens die feit dat Mkhize een van die belangrikste figure aan die kant van die Ramaphosa-faksie is. Mkhize is tot dusver voorgehou as ʼn model-ANC-lid, ʼn statige minister en selfs ʼn moontlike opvolger vir pres. Cyril Ramaphosa. Dit beteken dat hierdie skandaal ʼn baie groot skandvlek is op die etiese staat wat Ramaphosa poog om te vestig.

Ramaphosa het natuurlik reeds verduidelik hoe hy gepas teen Mkhize sal optree – hierdie is nie iets wat sommer net onder die mat ingevee sal word nie. Siende dat Mkhize aan Ramaphosa se kant van die faksiegeveg is, was een vrees dat Ramaphosa nie so fel op Mkhize sal neerdaal soos wat hy op die ander kant van die faksie neerdaal nie. Ramaphosa kry nou die geleentheid om te bewys dat die aanslag op korrupsie nie net ʼn taktiek in ʼn groter faksiegeveg is nie, maar ononderhandelbaar deur die bank toegepas moet word.

So ook het Ramaphosa belowe dat hierdie “ernstige en ontstellende” kwessie op ʼn wyse hanteer sal word wat geloofwaardigheid aan sy administrasie se najaag van goeie leierskap en regering verleen. Mkhize word tans deur ʼn spesiale ondersoekeenheid (SOE) ondersoek en het glo al in samewerking vir Ramaphosa ʼn verduideliking gegee oor die skandaal.

Dit herinner aan die absolute absurde reël waarvolgens ANC-lede van tugtiging van die party se integriteitskomitee kwytgeskeld kon word indien hulle ʼn aanvaarbare “verduideliking” vir hul korrupsie kon gee. Dit het ʼn mens altyd laat wonder of hulle nie dalk van morele veroordeling vrygespreek kon word indien hulle korrupsie edel en regverdigbaar genoeg was nie.

Hierdie skandaal bewys ook net weer eens hoe min ons as burgers gewoond geraak het om van die staat te verwag en kry. In die middel van ʼn pandemie word die minister van gesondheid betrek by ʼn korrupsieskandaal – een waarin miljoene rande aan ʼn kommunikasiemaatskappy betaal is om die minister van gesondheid in ʼn pandemie van televisielugtyd te verseker. Dit terwyl Suid-Afrika nie net in wêreldterme nie, maar ook nou al in Afrikaterme vér agter is met ʼn inentingsprogram uitsluitlik weens die regering se onbevoegdheid.

Hierdie skandaal verwoes weer eens die teorie dat daar ʼn goeie ANC soos vergestalt deur Ramaphosa en ʼn slegte ANC soos vergestalt deur Ace Magashule bestaan. Dit is doodeenvoudig nie waar dat die een helfte van die ANC sondeloos en die ander helfte boos is nie. Die feit van die saak is dat die ANC in geheel korrup is – die ANC in geheel het die vermoë om die land rot en kaal te besteel. Dit is ook verlede jaar bewys deur Ramaphosa-faksielede wat tydens die pandemie korrupsie gepleeg het met persoonlike beskermende toerusting.

Die een helfte van die ANC gaan jou net beter laat voel oor die feit dat hulle jou besteel, omdat hulle meer statig is as die ander helfte. Indien Mkhize skuldig is, is hy eintlik maar uit presies dieselfde lap as oudpres. Jacob Zuma gesny – hy is in sy professionalisme bloot beter omgesoom as wat Zuma ooit sal wees.

Adriaan Basson, redakteur van News24, beskryf hierdie verskynsel as die sogenaamde korrupsie B-span. Die geharde plunderaars soos die Gupta’s, Zuma en Magashule is die toonbeeld van staatskaping en korrupsie. Net omdat hierdie die geharde kriminele is, beteken egter nie dat korrupsie by hulle begin en eindig nie.

Hoewel Basson korrek is, is dit myle weg van sy en soortgelyke Ramaforia-lyers se aanvanklike siening. Hierdie groepie gelowiges het by die aanvang van Ramaphosa se presidensie verduidelik hoe hy regtig ʼn nuwe dagbreek gaan wees, ʼn etiese staat gaan vestig en die nodige “Churchillian” leierskap gaan toon om die party en die land reg te ruk. Ramaphosa en sy faksie is bestempel as die regte ANC wat steeds vasgehou het aan die Mandela-ideaal en die morele kern van die party. Sodoende was Ramaforia-lyers ook oortuig dat hierdie helfte van die faksie net moet seëvier vir die land om weer reggeruk te word.

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Soos wat die tyd verloop, raak dit egter al moeiliker om hierdie standpunt te huldig. Sodoende verbrokkel die nuwe dagbreek, Ramaforia asook die nuwe toekoms wat gesetel is in die “goeie” ANC. Dit laat diegene wat nog aan dié droom vasgeklou het in ʼn redelike groot eksistensiële krisis. Indien Ramaphosa en sy faksie óók korrup is, is alles eintlik verlore. Indien Ramaphosa nie eers die ANC kan regruk nie, kan niemand nie.

Die grootte van ʼn mens se probleemstelling bepaal uiteindelik die grootte van die oplossing. Hoe dieper jy bereid is om die probleem te identifiseer, hoe eerliker en meer omvattend gaan jou oplossing wees. Hoe eerliker en meer omvattend jou oplossing is, hoe groter is jou kans om uiteindelik ʼn beter werklikheid te skep. Indien jy egter vashaak by oppervlakkige probleemstelling, gaan jy ook vashaak by oppervlakkige oplossings en resultate.

Dit is waarom diegene wat by Ramaforia vasgehaak het se wêreld tans in duie moet stort – hulle het daarop staatgemaak en sodoende ook daarvoor beplan dat Ramaphosa en sy faksie moet seëvier. Diegene wat nou eers ontnugter word in hierdie opsig, het minstens drie jaar van moontlike beter beplanning misgeloop.

Daarenteen is diegene wat met die nodige skeptisisme na die ANC gekyk het nou eintlik net reg bewys. Hierdie skeptisisme is nie ʼn doelbewuste negatiwiteit of hoop vir die ANC om te misluk nie, maar eerder ʼn eerder ontleding van die ANC se geskiedenis en sodoende waarskynlike toekoms. Die mense wat die ANC se beleid gelees het en hulle geglo het. Diegene wat betyds besef het dat ons heil nie in die regering gaan lê nie, maar eerder in die gemeenskap en privaatsektor, is nou nie onkant gevang nie. Dit was dan eintlik net nog ʼn hartseer datapunt wat ʼn ongelukkige tendens reg bewys.

ʼn Datapunt wat bewys dat die goeie ANC ook toe goed is met korrupsie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Probeer verstaan

Wys my een wat nie korrup is,as hy toegang tot kontrakte het?

Jacobus

“Goeie ANC” moet meeding vir oksimoron van die dekade kompetisie.

Snowball

Die enigste keer wat jy ‘ANC’ en ‘goed’ in een sin kan skryf, is as jy die ‘goed korrupte ANC’ beskryf.

Dries

Dit is so teleurstellend dat wat Monica hier sê laaankal deur die gewone denkende burger gesê is. Maar dan kry jy die sogenaamde intillektuele kommentators en analiste wat wyd verkondig dat daar goeie ANC ‘s is wat saam met Ramaphosa en sy kaders nog die slegtes gaan uitroei. Vra maar vir Piet Croucamp en Theo Venter. Hulle besing die “goeie” ANC daagliks in die media. Sal graag wil weet wat hulle nou sê van die B-span korruptes

Althes

Die ANC maak my siek!