Nuuskommentaar: Die groot sinkgat onder verkeerskruising

Argieffoto ter illustrasie

Die groot sinkgat onder ’n besige kruising in Centurion kan as simbool ingespan word van ’n land wat ’n kruispad bereik het en ’n nuwe koers moet inslaan… maar dit kán nie ’n kruispad met ’n groot sinkgat onder wees nie, want dan is ’n stofwolk en ’n groot gat die onafwendbare gevolg.

Groot dele van Suid-Afrika is op rotsformasies geleë wat oor die jare deur die natuur opgelos word en grotte, sinkgate, waterfonteine en vele meer vorm. Van die grotte is toerismebesienswaardighede, Kuruman in die Noord-Kaap kry sy water só op ’n natuurlike manier en dit bied wonderlike plekke vir paleontologiese en argeologiese uitgrawings soos die Wonderwerkgrot en die Sterkfontein-kompleks.

Die regering het by tye sy hande vol met plakkers wat nie gevaarlike gebiede wil ontruim nie, en ander wat weer juis na hierdie “vakante” gebiede trek en op dienste aandring. Dit terwyl dit lewensgevaarlik kan wees om op daardie plekke te woon.

Die proses waardeur hierdie holtes en grotte gevorm word, is normaalweg baie stadig, met reënwater wat koolsuurgas opdoen en dan bitter stadig aan die rots met ’n hoë kalkinhoud wegvreet. Benewens die openinge wat in die rots ontstaan, ontwikkel daar ook dikwels stalagmiete en stalaktiete.

Mynbou, waar water uit ondergrondse kamers onttrek word, versnel die proses wat tot sinkgate kan lei, al vind die eintlike mynbou-aktiwiteite kilometers dieper in gans ander tipes rotsformasies plaas. Maar dit het ook al enorme skade en lewensverlies tot gevolg gehad.

Onlangs was daar die geval in die Noord-Kaap waar ’n belangrike roete tydelik gesluit moes word toe ’n sinkgat die pad begin ondergrawe het.

Gister het die nuus gebreek van ’n sinkgat so groot soos ’n skoolsaal en sowat twaalf meter diep, wat onder ’n besige kruising in Centurion gekry is. Die “dak” wat moes keer dat die voertuie nie in die gat val nie, was na berig word net 75 cm dik. Die verkeer word erg ontwrig terwyl detail-ondersoeke gedoen word om te bepaal presies wat die omvang van die sinkgat is.

In ’n nuuskommentaar met ’n politieke grondslag soos dié is die vraag hoeveel belangrike kruisings in ons land nie bo politieke sinkgate geleë is nie? Hoeveel staan op die punt om in te stort, en hoeveel, soos Coligny, het nie reeds skade gely nie?

Op die oomblik is dit groot nuus oor die baie gevalle van geweld teen vroue en baie jong kindertjies. In baie gevalle blyk dit dat van die vroue deur hul eie kêrels vermoor is, en dat moeite gedoen word om van die lyk ontslae te raak, soos deur dit te verbrand.

In minstens een geval het die man die lyk ’n ruk in sy yskas gehou.

Ja, dit is siek. Maar is dit net ’n klompie siek individue wat nou toevallig ’n toename toon, of is dit op die een of ander manier die produk van ’n siek samelewing? In watter mate kan dit herlei word na die bedenklike en immorele voorbeeld wat van die land se leiers stel, en die feit dat hulle skynbaar daarmee wegkom?

En wat hierby aansluit: Watter leiers en gemeenskapsfigure se gereelde uitsprake is eintlik deel van die probleem, en nie die oplossing nie?

Die land word op die oomblik erg geteister deur voorvalle van rassisme en beweerde rassisme. Weer eens – hoeveel hiervan se wortels spruit nie uit die optrede van politieke leiers wat knaend die rassetamboer slaan om persoonlike steun te probeer werf nie? Op 21 Mei vier Suid-Afrika saam met talle ander lande Unesco se Wêrelddag vir Kulturele Diversiteit, maar hoeveel is daar vir minderhede te vier as daardie kulturele uniekheid gebruik word om teen sekere groepe te diskrimineer?

Solidariteit is juis besig om die regering by verskeie internasionale en plaaslike instellings hieroor op te skroef.

Dat twee graderingsagentskappe die land tot rommelstatus afgegradeer het, het ook ’n oorsaak. Is dit nie ook maar ’n geval van ’n swaargewigpolitikus wat tot in die middel van ’n kruising gery het nie – ’n kruising waar hy geweet het ’n groot sinkgat is, en gaan spring het tot die spul begin ingee het nie? Toe die krake kom, gee die politikus pad en staan eenkant sy hande in onskuld en was.

Media 24 se hoofartikel handel vandag oor die minister van justisie, Michael Masutha, se aanval op die regbank. Binne die ANC is ’n beweging wat ruimte probeer skep vir pres. Jacob Zuma se vergrype teen die grondwet, en hulle beskuldig nou die regbank, wat telkemale ’n stokkie daarvoor steek, van die oorskryding van juridiese bevoegdhede (judicial overreach). Dít nadat Suid-Afrika nou al ruim langer as twintig jaar ’n grondwetlike demokrasie is – of moes wees as dit nie vir regeringsvergrype daarteen was nie.

So ’n kruising waaronder daar ’n groot sinkgat is, is ook nie die ideale plek om te gaan stilstaan en te gaan kopkrap oor watter rigting om in te slaan nie.

Ja, die land het ’n kruispad bereik, en dit is duidelik dat dit nie dieselfde koers kan bly inslaan nie. Maar die regte kruispad moet gekies word, anders bly daar dalk van die voorneme van ’n koersaanpassing net ’n groot stofwolk en ’n reusegat oor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Leendert ·

Die land is met die tyd, stadig van bo af deur die ANC se obsessie met ideologie besmet, gekontamineer, dit is later deur Zuma en sy kader korruptes gekaap en saam met die Guptas hanteer of, liewer, pimp hulle die ekonomie, vir eie gewin. Dit is ‘n skande dat mens dit so moet noem, maar ons word gepimp. Dis hoe dit is.

al ·

Ek stem saam met Leendert.
SA het gelukkig nog genoeg ruggraat om op te staan teen die morele verval en misdadige aksies van die regerende ANC amptenare.
Dat die ANC so ñ wettelose leier aangestel het gaan my verstand te bowe, en hom dan te beskerm teen die nasie wat hy moet dien, is verregaande belaglik.
Die Bybel leer ons van magtige konings wat tot ñ val kom, en ja Zuma en sy korrupte staatskaapkader se bewind, sal ook tot ñ end kom.
Nthlemeza was die eens magtige arrogante hoof van ñ elite eenheid in die SAPD, wat Dramat verjaag het en heksejag op genl Booysen uitgevoer het, is nou in grond verneder.
Als op aarde het ñ tyd en plek.

Tredneel ·

Die politieke, ekonomiese en uiteindelik sosiale verval is jammerlik. Die onaantasbaarheid van RSA se politieke elite staan direk teenoor die misnoeë, frustrasie en teleurstelling van ‘n voorheen trotse nasie. Om te kla verander niks. Quo Vadis ?

Tredneel ·

Die politieke, ekonomiese en uiteindelik sosiale verval is jammerlik. Die onaantasbaarheid van RSA se politieke elite staan direk teenoor die misnoeë, frustrasie en teleurstelling van ‘n voorheen trotse amptenary. Quo Vadis?

Henry ·

Nog een van talle raak en relevante kommentare/insigte oor verwikkelinge wat in hierdie droewe land aan’t afspeel is. In skerp kontras met allerlei springmielie skryfsels oor gebeure in Andermansland, wat min tot geen invloed op ons wel en weë het nie.

Dankie Herman.

John ·

Verkeerskruising… ? ‘n Gat in die grond en die groen gras groei daar om…?

Leendert ·

Ons het nou al so ‘n muf oerwoud geword, in die regte sin van Afrika, korrup, rowerbendes, jy hoor die slosh-slosh as jy in die groen enkeldiep slyk deur worstel, selfs Tarzan en sy Jane sal liewers in London agter bly en geen hunkering na die ontembare koester nie, daar is ook geen ape meer nie, geen renosters nie. Net gestroopte nat bas wat van die takke af hang waarvan dit wat eens kon wees in verganklikheid en in die niet deur die dik wasigheid verswelg word .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.