Nuuskommentaar: Die groot vraag: Het SA gefaal?

Die Suid-Afrikaanse vlag. (Foto: Wikimedia Commons)

Is Suid-Afrika ’n mislukte (gefaalde) staat, of besig om daarheen weg te sak? Ná Moody’s rommelstatus aan die Landbank toegeken het, verwag baie waarnemers dat die land self gaan volg. Dit laat die volgende vraag: “Is Suid-Afrika ’n mislukte staat?” Dit was ook gisteraand ’n onderwerp op RSG se program Kommentaar. Die antwoord is nie so maklik nie.

Is Suid-Afrika aan’t faal, of het die land reeds gefaal?

Die antwoord op hierdie vraag maak baie saak vir die toekoms van die land, maar die vind van die antwoord is glad nie so maklik nie. Dit hang baie af of ’n mens ’n antwoord soek wat tegnies en volgens definisies presies korrek is ongeag hoe ’n mens dit ervaar, en of ’n mens jou eerder wil verlaat op dit wat aan die bas gevoel word, en hoe ’n mens deur die ontledings van kundiges en “kundiges” beïnvloed word.

En dan is daar invloede soos die Trump-verskynsel waar die persona van Trump mense se werklikheidsbesef meer as die feite self beïnvloed (dit herinner aan die Verwoerd-invloed destyds in Suid-Afrika), en as “partisan” manifesteer. (Peiling op peiling dui aan dat die Kongreslede en publiek se opvattings oor die kwessie of Trump se skuldigheid al dan nie in die “staat van beskuldiging”-saak inpas, asook die opvattings daaroor of die handelsooreenkoms tussen Trump en China van Trump as persoon afhang, eintlik min met die feite te make het.)

Politieke korrektheid wat hardnekkig kort-kort weer probeer kop uitsteek, en die fopnuus-era en sy meelopers soos vatbaarheid vir samesweringsteorieë en ontkennings skep ’n oseaan van gevarieerde uitkomste waar feite maar bra ondergeskik staan.

Kortom, dis ’n werklikheidspersepsie wat mense met uiteenlopende persoonlikhede uiteenlopend laat manifesteer (dus, ’n onderwerp wat nie naastenby binne die woordbeperking van ’n rubriek ingepas kan word nie, laat staan nog om in een rubriek al die verskillende benaderings onder die loep te neem, en vergeet maar van onder ’n sterk genoeg vergrootglas te plaas). En dan het ’n mens nog net die gevolgtrekkings van een van derduisende ontleders en “ontleders”.

Die poging hier is soos ’n staatsregkenner oor die Grondwet geskryf het: Dis so vaag geskryf om voorsiening vir praktiese en feitegebaseerde vorming deur uitlegte te maak waarin ’n wa en span osse ruim in kan draai. Binne ’n paar dekades dui uitsprake soos die Matie-taaluitspraak op die raakvat hiervan. (En dit terwyl hierdie ruim voorsiening vir [pragmatiese] uitlegte normaalweg as ’n bate gereken word, maar in Suid-Afrika waarskynlik te veel ramppotensiaal inhou. Lees gerus Seugnet van Zyl se artikel oor prof. Koos Malan se boek hieroor in Maroela Media hier.)

Die vraag of Suid-Afrika ’n mislukte staat is of nie, is gisteraand op RSG se program, Kommentaar, te berde gebring, nadat dr. Danny Titus die kwessie in ’n artikel op Netwerk24 onder die vergrootglas geplaas het. Hy skryf onder meer: “Dit gee aan my die geleentheid om ’n trappie terug te gee, realisties te wees en te aanvaar dat Suid-Afrika ’n mislukte staat is.” (Vir die doeleindes van hierdie nuuskommentaar word “gefaalde” en “mislukte” as sinonieme gebruik.) Of Titus alarmisties of subjektief is, hang van elke leser se eie vertolking af. Dat die artikel nodig was, is egter gewis, want te veel mense is vasgevang in hul plaaslike “partisanship” of etniese groepnarratiewe, en bly onder meer in hul Mandela-gevormde persepsies vasgevang, al het veral die Zuma-era die destydse droom, of werklikheid, min of meer verwoes.

Die herlewing van positiwiteit in veral die aanvanklike Ramaphosa-era, wat die bynaam Ramaforia gekry het, is sedertdien ook nie volkome verwoes nie (en gelukkig ook nie). Ongelukkig is Ramaphosa se woordkeuses te dikwels sy eie grootste vyand – woordkeuses wat uiteindelik as kluitjies manifesteer, al is dit dikwels veroorsaak deur patetiese swak raadgewers en dus nie doelbewuste kaf nie, soos waaraan al sy post-94-voorgangers hulle skuldig gemaak het – wasmasjiene vir almal, vigs word nie deur MIV veroorsaak nie, wit mense het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel, die swart mense het meestal hul grond in die droër en meer onvrugbare dele van die land bekom, en vele meer. Ramaphosa se uiteensetting van die Bloedriviergebeure op nogal twee agtereenvolgende Versoeningsdae in stryd met sy ampseed, het ’n groot kloof tussen hom en ’n groot deel van die Afrikanergemeenskap geslaan.

Die aanloop tot die Ramanokkio-vergelyking het egter gekom uit aankondigings soos dat Eskom nie gou weer beurtkrag sou toepas nie. Die uwe het Ramaphosa hierna in ’n nuuskommentaar as ’n Ramanokkio beskryf. Dit is ook op Kommentaar onder die loep geneem en hoewel daar bevind is dat Ramaphosa nié periodiek wild met die waarheid omgaan nie, is dit implisiet erken deur dit aan sy raadgewers toe te skryf. Die kwessie is doeltreffend deur ’n paneellid, Jan-Jan Joubert, beredder. Toe Titus so pertinent “gepoint” is, was daar egter geen Jan-Jan op die paneel om balans te bring nie.

Hoewel Titus dalk meer profeties as tegnies korrek in die kol was, was hy nie werklikheidsvervreem nie. As teenargument het ’n paneellid gemeld dat, anders as in ’n mislukte staat, daar onder meer “sterk” funksionerende staatsdepartemente is. Maar wat is die werklikheid? En hieroor is bykans altyd verskillende perspektiewe, soos dat binnelandse sake sy grensbeheerfunksies oor veral vakansietye met moeite uitgevoer kry, en te veel amptenare gereeld vir omkopery aangekeer word.

Maar is die alarm van die afgetrede statistikus-generaal van Statistieke SA oor probleme by dié sleutelbelangrike instelling volledig genoeg gekonseptualiseer? Is die soms skitterende ontledings van Pali Lehohla se kommer teen genoeg uiters relevante feite bereken? Word in ag geneem dat die foutfaktor met opnames soos die sensusse in Suid-Afrika ongeveer 15% is, terwyl dit in veel groter lande soos die VSA kommerwekkend is as dit 2% is? Dit terwyl die foutfaktor wel reggestel word deur ’n na-opname in Engels bekend as post enumeration survey waar deskundige opnemers met ’n fyn berekende steekproefopname die foutfaktor bereken en met erkende statistiese metodes regstel. Maar Lehohla se kommer oor die uitkomste kan nie maar net geïgnoreer word nie. (Lees gerus die verslag van Statistieke SA wat hier gevind kan word.)

Buitelandse sake se eietydse geskiedenis met die aanstelling van onder andere ambassadeurs is ook nie die voorbeeldigheid self nie. Seksuele teistering (die gepoogde toesmeerdery daarvan deur die destydse minister self), selftoekenning van doktorsgrade, en vele meer beklad die diplomatieke korps se beeld. ’n Senior diplomaat wat so lekker verkeersoortredings gepleeg en sy diplomatieke immuniteit misbruik het, het die gasheerland genoop om te vra dat hy herroep word, of dat sy diplomatieke vrywaring opgehef word – ’n diplomatieke skandaal bykans sonder weerga – vererger deur Suid-Afrika se voeteslepery hieroor.

En dan sekerlik die kersie op die koek – Zindzi Mandela se rassistiese uitbarstings en haar distansiëring van haar pa se beeld as versoener – sy is haar ma se kind – was haar “verweer”. Die ouditeur-generaal se verslae openbaar jaarliks ’n prentjie van ’n staat wat op al die regeringsvlakke grootliks disfunksioneel is, en boonop op ’n breë spektrum terreine agteruit boer.

In hoe ’n mate Suid-Afrika op die spreekwoordelike Avbob se stoep speel, word duidelik gedemonstreer in gister se Rapporthoofartikel. ’n Voormalige Amerikaanse ambassadeur van die VSA by die VN word aangehaal dat sy gesê het lande wat die VSA vyandiggesind is, kan verwag dat die VSA sy hulp aan hulle kan onttrek. Sy het boonop daarop gewys dat Suid-Afrika een van die tien lande is wat die meeste teen die VSA in die VN stem. Rapport merk op dat dit bekend is dat Suid-Afrika eerder saamstem met lande soos Iran, Venezuela en ander “klepto-demokrasieë”.

En net om die punt duidelik te maak dat Titus nie maar ’n doemprofesie sonder begronding uitgespreek het nie, lui die opskrif van die hoofartikel wat Netwerk24 se dagblaaie vandag deel: “Rommelstatus van Land Bank is gevaarsein vir SA”.

Die program Kommentaar, nou met Ivor Price as aanbieder, is onontbeerlik vir die Afrikaanse gemeenskap, en het al besondere objektiwiteit bewys terwyl die SAUK self openlik tot ’n surrogaat van die regerende party verskans was (en daar sprake was dat Kommentaar geskrap sou word). Die behoud van onafhanklikheid en die wegdoen en wegbly van politieke “korrektheid” is egter ononderhandelbaar, al moet paneellede daarvolgens gekies word – wat gisteraand geblyk het nie so was nie met Christo van Rheede die ander paneellid. Gelukkig het Price ’n onkreukbare naam.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

48 Kommentare

jongste oudste gewildste
Charles

Beslis! Ek is nie ‘n “Suid-Afrikaner” nie – ek is ‘n Afrikaner wie se lojaliteit by die (onwettig ontneemde) Boererepublieke lê, asook my moedertaal en my mense met al hul skete en foute. Ek glo dus in federalisme, outonomie en desentralisering; en ons is goed op pad daarheen. Geen korrupte ANC regime sal aan my waag voorskryf in watter taal my kinders sal skoolgaan en klas loop, of by watter dokter en kan aanklop en watter operasies ek mag ontvang nie. Ek skaar my by die opinies gelewer op hierdie blad van die “Kosak-Afrikaner”. Soms moet mens stilstaan en dink… Lees meer »

Werner

Met hoofletters JA was net op die afdraende pad van 1994

KO

Ja, definitief en ons weet ook hoekom.

Geniomi

Epic failure! Moes maar die NP ministers aangehou het om net van hulle te leer maar nou ja hulle het mos gedink Robbeneiland was al opleiding wat nodig was om n land te regeer.

Swartwolf

Te veel debatte om die gruwelike SA mislukking beter te laat lyk of om dit te regverdig. No lipstick on this pig ! Margaret Thatcher was reg.