Nuuskommentaar: Die jagtog op pilare van ekonomie

Argieffoto: Pixabay

As ’n sektor van die ekonomie dit durf waag om te presteer, sak die eietydse Simsons daarop toe om die pilare om te trek – en veral landbou, nou mynbou, en oplaas die finansiële sektor kom onder skoot. Een ding, die Nasionale Ontwikkelingsplan, word aan beleggers en graderingsagentskappe voorgehou, maar beleidstellings wat daarmee bots, soos die Nasionale Demokratiese Rewolusie en radikale ekonomiese transformasie, word gepopulariseer.

Suid-Afrika se ekonomie is oorspronklik deur veral twee sektore gedryf – landbou en mynbou. Vandag dra die twee sektore, as hulle afsonderlik gemeet word, onderskeidelik sowat 2,2% en 4,9% by (syfers van 2013).

Uiteraard lewer albei sektore onregstreeks ’n veel groter rol. Albei is groot huisvestingvoorsieners, en daarmee gepaardgaande, sekere dienste wat normaalweg deur die owerhede gelewer sou word. Albei gee oorsprong en voed sekondêre en tersiêre bedrywe. Albei verdien buitelandse valuta.

Albei het lankal onder skoot van die regering gekom, om nog meer uit hulle te haal. Die sekerheid van verblyfreg (wat nie op plase in staatsbesit van toepassing is nie) het die landbou hard geslaan. Maar dit het ook daartoe gelei dat baie boere mettertyd van selfs talle plaaswerkers wat op plase gewoon het, ontslae kon raak en dan mense aanstel wat elke dag uit die dorp aangery moes word.

Die wyse waarop minimum lone toegepas is, het tot die opdroog van in natura-vergoeding gelei, asook dikwels die goedgesindheid tussen boer en werker. Weidingsregte wat opgeskort, of nou voor betaal moet word, het ’n rimpelingeffek gehad, onder meer omdat heelwat van die vee nie werklik aan die plaaswerkers behoort het nie, maar aan familie wat in stede saamgetrek het, en later weer moes “terugbetaal” soos om huisvesting aan die plaaskinders te gee wanneer hulle “groot skool” toe kom.

Dit geskied te midde van soms uiters wrede plaasaanvalle, en ’n moordkoers wat volgens sommige berekenings drie keer so hoog as die land se gemiddelde koers is, en twee keer so hoog soos die koers onder lede van die polisie. Oplaas beywer pres. Jacob Zuma en van sy kornuite hulle daarvoor dat grond sonder vergoeding onteien kan word, en sê of impliseer wit mense het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel.

Die een landbou- en grondhervormingsplan ná die ander word met belanghebbendes onderhandel, maar as die produk tafel toe kom, is die georganiseerde landbou- en verwante sektore wesenlik vir die gek gehou deur hulle te laat “deelneem”.

Intussen krimp die landbou se aandeel in die ekonomie.

Ook mynbou se aandeel krimp. Netwerk 24, in ’n hoofartikel, vat dit goed saam: “Suid-Afrika se mynbedryf het die internasionale opbloei in die kommoditeitsbedryf in die 2000’s weens ’n militante arbeidsmag en staatsinmenging misgeloop. Van die internasionale mynkonglomerate het hulle stelselmatig onttrek, want waarom moet ’n mens so sukkel as daar beter geleenthede in Suid-Amerika of in die res van Afrika is waar ’n verwelkomende omgewing vir beleggingskapitaal geskep word?”

Die stof het nog nie gaan lê oor die nuwe voorgestelde mynbou-handves nie. Die minister, Mosebenzi Zwane, hou vol dat dié handves met rolspelers onderhandel is (wat omtrent almal ontken dat hulle sinvol geken is, en waar hulle bydraes kon lewer, is dit geïgnoreer). Zwane hou vol dit gaan werkgeleenthede in die hand werk, terwyl ekonome byna eensgesind is dat dit werksgeleenthede gaan laat krimp. Zwane is selfs vanuit die kabinet aangeraai om te gaan herbesin.

Brand South Africa skryf op sy webwerf dat Suid-Afrika se ekonomie grootliks gewortel was in sy minerale rykdomme en gunstige landboutoestande. Sedert die vroeë negentigerjare het die tersiêre sektor wat in die proses tot stand gekom het, die rol grootliks oorgeneem. Nou beweeg Suid-Afrika in die rigting van ’n kennisgedrewe ekonomie, en een van die hoekstene daarvan is die finansiële sektor.

En raai wat kom nou onder skoot? Met haar voorstelle om die Grondwet te wysig sodat die rol van die Reserwebank aangepas kan word, tas die openbare beskermer die ganse finansiële, en veral banksektor aan. Van die belangrike rolspelers steun net Cosatu dit. Op 21% is die finansiële sektor saam met nouverwante bedrywe die grootste bydraer tot die BNP.

Maar, so lyk dit, as ’n sektor belangrik raak om die land se ekonomiese dak te dra, spring die eietydse Simsons in en begin om die pilare om te trek.

Hierdie in-die-voet-skietery is nie heeltemal nuut nie. Met die ontwikkeling van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) wat onder meer deregulering bepleit, het min. Rob Davis se departement nuwe regulasies opgestel om die reeds versmoorde kleinhandelsektor nog meer met regulasies en voorskrifte te versmoor.

Dubbelsinnigheid is aan die orde van die dag. Terwyl die NOP amptelike regeringsbeleid is, is die ANC ook aktief besig om as partybeleid aandag te skenk aan wat bekend staan as die Nasionale Demokratiese Rewolusie. Terwyl beleggers en graderingsagentskappe heuning om die mond gesmeer word met die positiewe elemente van die NOP (daar is ’n klompie negatiewes ook), word dit nou weer aangevul met radikale ekonomiese transformasie, en dit word boonop aangebied as wapen teen wit monopolistiese kapitaal.

Redelik onlangs nog het Zuma gesê die ANC beywer hom vir die totstandkoming van ’n kommunistiese, sosialistiese staat. Nou nie juis musiek in die ore van beleggers nie.

Intussen word die een onthulling ná die ander gemaak oor wie almal by die staatskaping betrokke is, en watter geweldige omvang dit reeds aangeneem het, hê, hê, hêê!

Terwyl sommige ontleders hul koppe breek om allerlei ideologiese klede te ontwerp en te laat pas vir dit wat in Suid-Afrika aan die gang is – begrippe soos Afrika-liberalisme, sosiaal-liberaal, Zuma se kommunisties-sosiaal en ander, is iets veel meer konkreets aan die manifesteer, soos kleptokrasie, Zuptakrasie, Mafiastaat, nepokrasie, narreregime, sirkus en vele meer.

Suid-Afrikaners verdien beter, veel beter, en die Solidariteit se Plan B werp reeds vrugte af.

Maar met Zuma aan die stuur van sake, gaan die land net al dieper die moeras ingesleep word. #ZumaMustFall en ’n hele aantal van sy Gupta-geïnfekteerde kornuite saam met hom.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Koos1 ·

Die woorde “wit monpolisie kapitaal” is in Engeland gemaak, blyk uit die “Gupta Leaks” eposse.
Weet enige iemand wat dit beteken (behalwe nou dat die wit mense die skuld moet kry vir alles wat verkeerd gaan!)? Cyril Ramaposa het juis gister gesê dat die woorde nie verkeerd verstaan moet word nie. Nou verduidelik dan asseblief wat dit beteken, of is dit net ‘n nuwe rook skerm om die fokus van die koruptes weg te hou? Die Zuma regering wil met “fancy” woorde sy ondersteuners gelukkig hou, maar ek is baie seker hulle weet ook nie wat dit beteken nie, behalwe dat dit hulle nog tyd gun om die staatskas en ekonomie te verpletter!

Leendert ·

Koos jy is reg wat Cyril Ramaposa betref. Hy stel hom nou voor as die piloot wat die vliegtuig die toekoms in gaan neem, lyk my hy voorsien nie “airpockets” nie. Maar volgens hom oorheers die WIT kapitaal nog steeds die ekonomie, en DIT moet ook aangespreek word. Dan probeer hy die woord RET (radikale ekonomiese transformasie) afwater. Ek dink, en skryf maar gerus neer wat ek hier sê, dat as hy president word, moet ons maar vasgordel, wat die vliegtuig gaan onder sy beheer sommer deur ‘n klomp “airpockets” rondgeslinger word, dalk val dit ook sommer ‘n 1,000 voet of so.

Nie een van die twee voorste kandidate in die wedloop om Zuma se joppie, gaan ons wit mense plesier verskaf nie, ek is ook nie so seker dat dit in die beste belang van die land en die ekonomie gaan wees nie.

Leendert ·

In alle geval, teen die tempo wat die land deesdae ondergrawe en afgebrand word, gaan Cyril net rommel en as hê om te transformeer, as hy die dag aan die bewind kom.

marous ·

Mynbou reeds die afgrond in . Landbou is ‘n vloekwoord vir die regering. Die land sit klaar op die ashoop en die leiers krap die rowe af met ‘n stukkende potskerf….

Eish ·

Dis maar net die groter boetie van misdaad in die land. Sodra jy jou bates begin tentoonstel, word jy n teiken. Bitter min regdenkendes is tevrede met die algemene situasie in die land, van voetsoolvlak tot regeringsvlak. Dis n redelike gegewe dat diegene wat n westerse demokrasie aanhang, met die gepaardgaande standaarde en waardestelsels en sekerheid wat dit meebring, in die minderheid is en gaan bly vanweë die oormag aasvoëls. Die beste wyse van oorlewing is vir eendersdenkendes om maar soos van ouds laer te trek ten einde n konsentrasie van bronne te verseker wat die kans op oorlewing vergroot. Hensoppers sal daar verseker wees, dis n gegewe. Die strome van ondeurdagte besluite, handveste en houdings het net een doel voor oë en dit is die vernietiging van die oorblyfsels van die bestaande orde. Moet maar nie te veel staatmaak op die beweerde self vernietigingswerk van die meerderheidsparty nie. Die aasvoëls jaag mekaar maar rondom om die karkas, maar kry gou weer nuwe vreetplek.

al ·

Ek wonder wat sal die huidige regering doen as beleggers ander weivelde gaan soek en ander Afrika lande begin soos juwele blink onder stabiliteit en ekonomiese groei?!
Hul sal groen van jaloesie en afguns raak – want hul is soos ñ onkundige stout kind wie hul speelding (ons land) flenters trap.
En nie die gevolge besef voordat dit te laat is.

Verwonderd ·

Ek dink hierdie regering sit en speel soos ‘n peuter met sy bord kos. Hulle het nie ‘n benul wat dit kos om hierdie land aan die gang te hou nie. Die ergste ding wat hulle kan maak is om die produktiewe uit te stoot en radikaal te verwerp. Zimbabwe sal nog goed lyk in vergelyking met sulke nagevolge, omdat dit daar darem meer gereeld reën as hier. Waar vlug die voorheen benadeeldes as hongersnood toeslaan? Dit is tragies ongelukkig om te erken, dat hierdie situasie soos die 2 vroue in die regsgeding voor Salamo, oor die baba is. Mag die Here ons saak sien en ons red.

Leendert ·

Mnr Toerien, jy maak ook melding van die nuwe OB. As ek die berigte vanmiddag reg gelees het, dan wil dit my voorkom asof sy ook beinvloed is deur ‘n boek wat ‘n vorige werknemer van die Reserwebank geskryf het, en waarin hy die bank van ongerymdhede beskuldig. Ek glo jy sal weet waarvan ek praat. In alle geval is dit ‘n skande as dit so is, dan is sy nog te meer ‘n verleëtheid vir die regsberoep. Maar sy storm net voort.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.