Nuuskommentaar: As die kind sterf en die wêreld tot stilstand kom…

Vir ouers wat ‘n kind verloor is dit of die tyd gaan stilstaan, want die hartseer wil maar nie weggaan nie… ‘n Bondeltjie vreugde wat skielik weggeneem is voor die lewe verken kon word…

Dikwels rou ‘n gemeenskap saam, maar gewoonlik net vir ‘n rukkie want die lewe gaan aan, daar is ander dinge wat die mense se aandag opeis – die mens moet ook ter wille van sy geestelike oorlewing hierdie hartseer verwerk en bêre. Maar die ouers se hartseer word nie so gou getemper nie. Soms is daar nog skuldgevoelens wat saam knaag wat die gebeure nog meer traumaties maak, soos ‘n pa wat per ongeluk sy kleuter doodry wat ongesiens saamgedrentel het. Of ‘n gelaaide vuurwapen wat een in die hande gekry het…

Ongelukke ten spyte van die beste voorsorg.

Sommige ouers word nog lam in die knieë wanneer hulle insidente in herinnering roep waar hul kinders ongedeerd daarvan afgekom het, maar dit net sowel tragies kon eindig. Net ‘n paar sekondes later gaan kyk hoekom dit buite skielik stil is, en kleinman wat gesig ondertoe in die swembad gedryf het was weg…

Die begrip van beskermengel dik dikwels op.

En dan is daar die kinders wat ten spyte van hul ouers se beste pogings misdadigers ten prooi val. Die berig oor die sesjarige seuntjie wie se oë gewelddadig uitgesteek is… Of die driejarige Willemien Potgieter wat graag ‘n lofkleuter wou word, maar tydens ‘n plaasaanval koelbloedig saam met haar ouers vermoor is… Die vierjarige Anri van Rooyen se woorde na sy deur dieselfde koeël wat haar pa verlam gelaat is in die magie getref is, het die land geruk.

Daar is eers besef sy is ook gewond toe sy ‘n pleistertjie vir die eina vra. ‘n Paar dae later is sy ook weggeneem.
Vele predikante sê die begrafnisdiens van kinders is die moeilikste dienste om te hou. Die bystaan van die ouers is net so moeilik.

Onlangs is ‘n Kanadese vrou op die internet verguis oor sy in ‘n skelbrief aan haar buurvrou geskryf het die buurvrou moet haar outistiese kind doodmaak, omdat die kind se gedrag haar hinder.

Maroela het pas ‘n hele aantal berigte gedra oor ouers wie se bondeltjies vreugde kom haal is. Dit kan hier en hier gelees word.

Dit is een van die moeilikste sake vir die mens om die wil van die Here te verstaan, soos ook blyk uit die teoloog, Totius se gedig, O die pyngedagte.

Dat Maroela se lesers se harte op die regte plek sit blyk uit die kommentare op sulke berigte. Talle skryf dat hulle so iets nooit sal kan hanteer nie, en die ouers word die Here se troos toegebid.

Ons verstaan nie, maar het ‘n behoefte om in liefde te troos. 1 Joh 4: 8 lui: “Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde.”

Baie maklik word vlugtelinge wat uitgeteer uit oorlogsones vlug net getalle daar ver. Na raming het meer as ‘n miljoen mense reeds uit Sirië gevlug. Die koue, kliniese syfers kry egter ‘n ander gedaante wanneer syfers verskaf word oor hoeveel van die vlugtelinge kinders is, waarvan ‘n groot deel nie deur ouers vergesel word op hul vlugtog nie – iewers in die ontberings van hul ouers geskei, of die ouers wat omgekom het.

Sterftes in die bende-oorloë op die Kaapse Vlakte word te maklik net maar statistiek – tot onskuldige kinders in kruisvuur sterf.

Ander ouers verloor hul kinders op ander maniere. Kinders wat leemtes in hul verhouding met hul ouers probeer vul deur dwelms te gebruik en verslaaf te raak.

Totius, die teoloog, sou met sy hart en verstand weet dat sy gestorwe kind op ‘n beter plek is, dat hy eendag met haar herenig wou word, maar vir die Godsman was dit steeds nie maklik nie. Afgesien van sy gedig, O die pyngedagte, het ook Die Godsbesluit getoon hoe hy gesukkel het om berusting te kry.

Troos en vertroos … bid vir vertroosting … dit is ons elkeen beskore.

O die Pyngedagte
O Die pyn-gedagte: My kind is dood!…
dit brand soos ‘n pyl in my.
Die mense sien daar niks nie van,
en die Here alleen die weet wat ek ly.

Die dae kom en die nagte gaan;
die skadu’s word lank en weer kort;
die drywerstem van my werk weerklink,
en ek gaan op my kruisweg vort.

Maar daar skiet aldeur ‘n pyn in my hart,
só, dat my lewe se glans verdwyn:
Jou kind is dood met ‘n vreeslike dood!
en – ek gryp my bors van die pyn.

O die bliksemgedagte!…Ja, lieflingskind,
één straal het jou skone liggaam verskroei,
maar bliksemstrale sonder tal
laat my binneste brand en bloei.

Sy was so teer soos ‘n vlindertjie,
sy’t lugtig omheen geswerf;
‘n asempie wind kon haar vlerkies breek
en – kyk watter dood moes sy sterf!

Hoe weinig die kinders wat so moet sterf,
dis één uit die tienduisend-tal.
en ag! dat dit sy was en ek moes sien
dat sy dood in my arms val!

O die pyn-gedagte: My kind is dood!…
dit brand soos ‘n pyl in my;
die mense die sien daar niks nie van,
en die Here alleen die weet wat ek ly.

Die Godsbesluit
Voor die onheilswoning en
tussen die skaars-beblaarde
soetdorings staan, in droë aarde
maar lowergroen en blink van blad,
die wag-‘n-bietjie langs die pad.

Wanneer ek naderkom dan sien
ek dorings krom en reg;
‘k sien takke inmekaar gevleg.
En wil ek in die blare gryp
of aan die takke breek,
dan tas ek in ‘n doringnes
wat vreeslik haak en steek.

Bo al u donker bome, o Heer,
groei my ‘n enk’le reusboom uit:
dit is die wag-‘n-bietjie-bos
van u besluit.
Van vers so skoon, so groen, so blink…
maar hoe verward
wanneer ek dieper kyk en dink
as wat ‘n sondaar pas.
En steek ek dan my hande uit
na u besluit,
dan gryp ek in die dorings vas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ester le Roux ·

Dankie, Maroela-media, vir hierdie berig. Dit is wonderlik om op so ‘n manier mede-menslikheid in te bring. In die media is dit so dikwels nie sentraal nie. Voorspoed!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.