Nuuskommentaar: Die (korrupte) wêreld volgens Zuma

Grafika: bellanaija.com

Grafika: bellanaija.com

Korrupsie is, volgens vertoë deur pres. Jacob Zuma aan die Nasionale Vervolgingsgesag, net in die Westerse paradigma ’n misdaad. Daarom, volgens die vertoë, moes vervolging teen hom gestaak word.

Só berig Rapport op sy voorblad.

In ’n vroeëre hofsaak, dié teen Shabir Shaik, het die hof bevind dat daar ’n “algemeen korrupte verhouding” tussen Shaik en Zuma was. Dit het die toets van die appèlhof weerstaan.

Voorts, so het Zuma via sy regspan geredeneer, het die land geen skade deur die praktyke gely wat Zuma meer as 700 aanklagte besorg het nie. Tog, in die vertoë word aangevoer hoeveel skade die land sal ly wanneer (nie óf nie) hy president word en steeds vervolg moes word.

Dat hy aangevoer het dat dienende presidente “soos in die VSA” nie vervolg mag word nie, is lankal reeds bekend. Suid-Afrikaanse regsgeleerdes het daardie argument lank reeds tot vullisdrom-materiaal gereduseer. Frankryk is een van die min Westerse lande waar dié beginsel van toepassing is – ’n misplaaste voortsetting van die ou beginsel van “a king can do no wrong”.

Trouens, dié misplaaste toepassing op Zuma duur nog voort, soos die herhaalde oproepe dat die belediging van Zuma strafbaar moet wees. Dr. Blade Nzimande het dit onlangs ook weer geopper.

Dit is inderdaad so dat sekere aspekte van korrupsie in sommige tradisionele kulture nie as verkeerd beskou word nie, en trouens as ’n soort “verpligting” geld. Van die Rooihuidstamme in Kanada voel sterk dat nepotisme aanprysingswaardig is, wat nie beteken dat Kanada dit aanvaarbaar vind nie.

In Suid-Afrika word graag gesê in die swart kulture word aanvaar iemand kan ’n ekstratjie hef omdat die persoon “in die posisie” is om dit te kan doen. Die ou veiligheidsmagte was byvoorbeeld bewus van, en het gerapporteer oor die algemene voorkoms dat amptenare by die ou administrasierade “tariewe” gehad het van hoeveel geld as “tsjôtsjô in ’n aansoeke vir passe ingevou moes wees. Min is hieraan gedoen “omdat in die swart kultuur aanvaarbaar is en nie sommer tot onluste sou lei nie”.

Met die teenspoed wat dr. Allan Boesak oor die hantering van geld van DanChurchAid op die lyf geloop het, het pres. Thabo Mbeki se regsadviseur die aangeleentheid blitsig ondersoek, en bevind Boesak is onskuldig. Toe die Dene nie wou kopgee nie, en dit in meer normale regsprosesse gedwing is, is die argument van “struggle”-boekhouding geopper. Ook dit wou nie in die regspleging afgaan nie, en Boesak het regsgeskiedenis gemaak deur die appèlhof se bevinding in ’n strafsaak op appèl na die grondwetlike hof te neem. Ook daar het sy turf gesit.

Na ʼn kort en omstrede verblyf in die gevangenis het hy presidensiële vrywaring gekry en sy lei is skoongevee.

Kort na 1994 is ’n premier, en nou die leier van ʼn ander politieke party, in die media aangehaal dat hy sou gesê het as almal wat korrupsie pleeg afgedank moes word, hoe sou regstellende aksie ooit toegepas kan word? Dieselfde premier het hom egter veral voor die 1994-verkiesing uitgespreek oor hoe korrupsie nie geduld sou word nie.

Uiteraard kan die regspraak nie ʼn onderskeid tref oor verskillende kulture se beskouing van korrupsie nie – in elk geval nie wat strafregtelike skuldbepaling betref nie.

Of anders gestel, dit is bloot voldoende dat die publiek moet weet dat die wêreldbank korrupsie as die berowing van ’n land se toekoms beskou, en dat dit daarom verkeerd moet wees. Hoe die somme werk om daarby uit te kom, is minder belangrik, en kan hoogstens as versagtende omstandighede oorweeg word, nie as vrywaring teen vervolging nie.

Dat omstandighede dit destyds vir die huidige speaker moeilik gemaak het om ’n wettige rybewys te bekom, maak dit nie reg dat sy toe een van Mpumalanga se berugte gekoopte rybewyse bekom het nie.

Iemand kan hom nie teen diamantsmokkel verweer deur te sê hy kan met die beste wil in die wêreld nie sien wat daarmee verkeerd is nie. Dat baie daggarokers nie kan, of wil insien wat met die rook hiervan verkeerd is nie, maak dit nie wettig nie. ’n Pedofiel mag dalk nie verstaan hoekom sy drange beteuel moet word nie, maar dit beteken nie dit moet daarom as misdaad afgeskaf word nie. Iewers in die prentjie is daar immers slagoffers – of dit nou weens korrupsie of die opsteek van ’n zol is.

Die grondwet bepaal dat almal gelyk voor die reg is. Daarom kan dit nie geduld word dat verdraaide regsargumente aangewend word om sommige meer gelyk as ander voor die regbank te maak nie.

Ongeag hoe Zuma korrupsie beskou, sy presidentskap het ’n groot uitwerking op die land se posisie op die korrupsiepersepsie-indeks uitgeoefen. In 2009, toe hy president geword het, was die land nog die 54ste mins korrupte land ter wêreld. (Twee jaar tevore het SA nog die 43ste plek beklee). Teen 2011 het die land tot die 64ste plek geklim, teen 2012 was dit 69 en 2013 die 72ste posisie. Om bietjie perspektief te gee, Botswana se posisie bly in die orde van 30ste, en Namibië s’n rondom 57. Selfs Lesotho neig om die afgelope paar jaar beter as Suid-Afrika te vaar.

Die ongelooflike is dat Suid-Afrika op die omkoopindeks selfs swakker as die DRK en Ethiopië vaar. Lesers wat die gewilde TV-reeks, Voetspore, gevolg het, sou waarskynlik met die laaste episode gisteraand met ’n lamte in die knieë gelaat gewees het oor hoe blatant die omkopery in die DRK geskied. Volgens Transparency International gaan dit erger in Suid-Afrika. En elke keer wat iemand ʼn paar rand laat verwissel om uit ’n verkeersboete of ’n aankeer weens dronkbestuur te kom, of ’n sertifikaat koop, timmer ons weg aan ons land se toekoms.

Kultuur en kulturele praktyke is goed en mooi, solank dit binne die parameters is van dit wat nie iemand anders se lewe verwoes nie. Zuma se argumente stuur op ʼn anargie af, en nie respek vir kulture nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.