Nuuskommentaar: Die (l)agbare president, sy “intelligensie”-diens, parlegate en die kokkerot

Pres. Jacob Zuma op 17 Februarie 2015 tydens die parlementêre debat oor sy staatsrede Foto: Siyasanga Mbambani, departement van kommunikasie

Pres. Jacob Zuma op 17 Februarie 2015 tydens die parlementêre debat oor sy staatsrede Foto: Siyasanga Mbambani, departement van kommunikasie

Wanneer troepe geleer word om te salueer, word verduidelik hulle salueer nie die offisier nie (want dié het hulle dalk geen respek voor nie), maar die sterretjies en kasteeltjies op die offisier se skouers – want dit verteenwoordig die staatspresident.

Maar wat nou? Die amp van president is verpolitiseer toe die ampte van eerste minister en staatspresident saamgevoeg is. Dit is verder verpolitiseer deurdat die president in Suid-Afrika nie soos uitvoerende presidente in die VSA, Zambië en selfs Zimbabwe verkies word nie, maar deur die klassieke politieke proses van beloftes en messe in die rug steek deur die partyhiërargie vorder.

Skoonveld is gewone agbaarheid wat gewoonlik met die aanwys van seremoniële presidente, soos Blackie Swart en Jim Fouché beleef is. Die klassieke beeld is iemand wat tegelyk nederig en stylvol is, en terselfdertyd intellektueel by enige geselskap kan inskakel sonder om dof voor te kom.

Dit is natuurlik nie onmoontlik dat die huidige stelsel ’n rolmodel-president kan oplewer nie. Hoewel dit baie duidelik is dat hy ook maar voete van klei gehad het, beskou baie mense van oor die politieke spektrum heen oud-pres. Nelson Mandela as so ’n persoon. Die buitelandse euforie oor hom is van só ’n omvang dat enige opvolger dit maar moeilik sou vind om uit sy skadu te stap, en byvoorbeeld so ’n gunstige oor sou verleen vir versoeke vir beleggings en skenkings vir lofwaardige projekte.

Nou het ons ’n president wat al grinnikend die parlement “gebreek” het. En weer sy dikwels onvanpaste laggie gee wanneer hy daarop gewys word. Hy het al grinnikend die nasie se vertroue in die parlement gebreek. Dit nou aldus die amptelike opposisie se parlementêre leier, Mmusi Maimane. Maimane meen ook Zuma verdien nie die “agbare” waarmee parlementslede in die parlement aangespreek word nie.

Dat die DA nou nie self in alle opsigte ʼn rolmodel-rol gespeel het nie, is sekerlik ook waar.

Dat die EFF skandalig optree en ’n mens aan ’n sekere soort dier – miskien nie noodwendig kakkerlakke nie – laat dink, staan soos ’n paal bo water.

Aan die ander kant, was van die opposisiepartye wat “waardig” deur die sirkus is nie te slapruggie in die lig van die erns van die saak nie? Baie beslis!

Maar dit is ook so dat dood ’n oorsaak het. Dit is nou al jare dat die ANC die parlement kaap in wat in bykans elke opsig met ’n statutêre staatsgreep ooreenstem. In wese beteken dit dat die verkose parlementslede van die pligte wat hul verkiesing vervat is, gestroop is. Van die vroegste dae van moderne demokrasie word na dié verantwoordelikhede as ’n “sosiale kontrak” verwys.

Maar met die stappe wat die ANC geneem het, is opposisie-LP’s in wese van alle vermoëns om hul sosiale kontrak na te kom, gestroop. Die ANC-LP’s het nie juis beter gevaar nie – hulle is in blote rubberstempels van Luthuli-huis omskep – ’n klassieke diktatuur van die meerderheid. Maar miskien ook juis nie. Luthuli-huis het elitisties geword, en die talle dienste-opstande en stakings dui daarop dat Luthuli-huis en die meerderheid dalk nie aldag behoorlik gesinchroniseer is nie.

Opposisiepartye moes hulle dikwels tot die hof wend om hierdie magsgreep te erodeer, en daarin het wyle dr. Ambrosini ’n navolgingswaardige voorbeeld gestel. Onder die maatreëls wat omgekeer is, was die “reël” dat geen opposisieparty ’n kat se kans gestaan het om ’n wetsontwerp ingedien te kry en ongeag die meriete tot wet te voer nie. Ook ’n eenvoudige kwessie soos die reg om ’n mosie van wantroue in die president te stel, moes hof toe om die ANC se vyeblare af te stroop. Op die oomblik staan die aanwysing van Baleka Mbete, die ANC se voorsitter, as speaker, in meer as een opsig soos ’n seer duim uit, en druis boonop teen demokratiese konvensie in. Sy was reeds voorheen, heel onsuksesvol, speaker voor sy ANC-voorsitter geword het, en is tog weer aangewys. In plaas van grootliks onverbonde te wees soos die amp vereis, is sy soos daai sterretjies en kastele op ’n offisier se skouer wat die president verteenwoordig.

Noudat sy vir Julius Malema ’n kakkerlak genoem het, heel pikant, skerm die ANC en sê sy het dit nie in haar hoedanigheid as speaker gedoen nie, maar in haar hoedanigheid as ANC-voorsitter. Maar dit staaf juis te meer hoekom die twee ampte tot op die vlak van die bekleër geskei moet word.

Op die oomblik praat ampsdraers van die ANC nog bont oor wie almal geweet het van die beplande seinversteuring as deel van die veiligheidsmaatreëls, maatreëls wat in verskeie opsigte erg kinderagtig klink soos bystandsplanne om Zuma uit Kaapstad te vlieg sou die veiligheidsituasie in die Kaap versleg. Waar Watergate sy “deep throat” opgelewer het, lewer parlegate nou net ʼn grinnikende president op – terwyl van hom verwag word om sy kop in skaamte te sak. Maar soos gebruiklik gaan iemand anders die blaam kry en dan as deel van sy straf ʼn ambassadeurspos kry.

Die regspan van die regering se erkenning dat die seinblokkering die werk van die Nasionale Veiligheidsagentskap is, laat die rooi ligte erg flikker. In die aanloop tot Marikana was die land se intelligensiedienste skynbaar vas aan die slaap. Nou, so lyk dit, word die land se vyande onder die wettige opposisielede gesoek.

Komende van dieselfde land wat so verontwaardig was toe dit geblyk het ’n Britse intelligensie-agentskap het, in samewerking met die Amerikaanse National Security Agency (NSA), van die Suid-Afrikaanse afgevaardigdes, ministers ingesluit, by ’n G-20-beraad in Brittanje, se kommunikasie onderskep.  Trouens, daar woed nog internasionaal ’n storm oor die NSA wat sy hand liederlik oorspeel het, en onder meer telefoongesprekke van kanselier Angela Merkel van Duitsland onderskep het. Hieroor is die Duitse ystervrou nog lank nie te lekker vir die Amerikaners nie.

As ’n intelligensie-agentskap nie skroom om iets so ongrondwetlik te doen soos om parlementslede se selfoonseine te versteur nie, kan maar net bespiegel word hoeveel ander grondwetlike regte van gewone burgers word geskend.

Of moet maar bloot aanvaar word dat internasionale (nie noodwendig wettige nie) praktyke hier alledaags is. Enkele jare gelede het Nederland sy eie klein Watergate beleef toe ’n agentskap ’n joernalis se kommunikasie, ook van die werk af, onderskep het in ’n ondersoek wat met die Dalai Lama verband gehou het. Toe die saak in die hof beland, het die agentskap sleg slae gekry, maar gekla hy kan hom nie behoorlik in ’n ope hof verdedig nie omdat van sy verwere te sensitiewe inligting bevat.

Zuma demonstreer met die magsgreep in die parlement, wat die uitsmytery van die EFF insluit, dat hy die ANC in ’n beergreep beet het, en nêrens heen gaan nie. Hy loop grinnikend oor van selfvertroue. Hy het hom met ja-broer-adviseurs omring wat sy selfbeeld onaantasbaar maak – of so lyk dit na dit taamlik onlangs nog gelyk het of dinge vir hom te veel raak.

Sy waarnemers in die SAOG-moniteringspan bevind die een gekookte verkiesing van die ander in Suider-Afrika as “vry en regverdig”, wat nou nie juis gerusstellend is oor wat met volgende jaar se landswye munisipale verkiesings hier gaan gebeur nie.

Suid-Afrikaners moet nou wawyd wakker slaap om te verseker dat die demokrasie nie onder ons neuse en die grondwet uit gegaps word nie.

Maar die wettige verset daarteen kan ook nie gebeur sonder dat burgerlike strukture soos die Right2Know, AfriForum en Outa behoorlik ondersteun word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gerhard Bezuidenhout ·

Zuma is soos n olieboom in n mielieland en netsooswat n olieboom skade aanrig en uitgetrek word en vernietig word so is dit hoog tyd dat Zuma van die politieke toneel verwyder moet word. Hy is die oorsaak van die chaos in ons land en dan lag hy daaroor. Skande.

nicolette ·

Pres.Zuma weet nie wat respek beteken nie, ek stem saam raak van hom ontslae, hy is n verleentheid vir ons land en sy mense.DITCH THE PRESIDENT…..

Willem ·

Julle gaan nie van hom ontslae kan raak nie. Kyk die feite in die oë. Die land is besig om sy UHR te sien, as hy nie al reeds het nie. Kaput, finish en klaar. En dan is ek positief!

Dr Willie Maartens ·

Moet dit nie eerder “parlegatte” wees nie?

Rupert Ashford ·

En as Zuma weg is? Net ‘n ander gesiggie en naampie maar nog dieselfde ouens wat die toutjies trek uit Luthuli House. Zuma is nie die oorsaak nie, hy is die simptoom. Toe “hulle” in 2007 in Polekwane onder die dekmantel van “‘n geveg vir die demokrasie” vir Mbeki gepos het en hom met Zuma vervang het, was die skrif aan die muur. Ja Mbeki moes gaan aangesien sy poging om langer die hoof van die ANC te bly ingedruis het teen hulle grondwet, maar hy kon met iemand anders van beter aansien vervang geword het, maar “die persoon” wat gekies is as opvolger was net die simptoom wat die ware karakter van die organisasie gewys het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.