Nuuskommentaar: Die lewe is (soms) wonderlik!

Breyten Breytenbach. Foto: www.stellenboschwriters.com

Breyten Breytenbach. Foto: www.stellenboschwriters.com

Opsomming:

Is daar vir Suid-Afrika lesse te leer in wat byna ongesiens in Cornwallis in Brittanje gebeur het, en wat in die Oekraïne en die res van Oos-Europa aan die afspeel is?

In die aanloop tot die verkiesing word die ANC gereeld daarvan beskuldig dat dit die rassetamboer hard moker om van die verkiesing ‘n rassesensus te maak, en in die proses versoening in die land onder groot druk te plaas.

Die skrywer en digter, Breyten Breytenbach, het pas ‘n ope brief geskryf waaruit sy ontnugtering met die huidige regering duidelik blyk. Dit is nie die eerste keer dat Breyten sy mond so uitspoel nie, en hy is ook nie die enigste ontnugterde oud-apartheidstryder nie.

Aan die kern is die regering se rasbeheptheid, maar terselfdertyd word minderheidsregte so misken dat al hoe meer analiste die uitdrukking, diktatuur van die meerderheid begin afstof.

Hierteenoor is feesgevier, ou Keltiese gedigte in Cornies opgesê en liedere gesing toe Cornies dieselfde minderheidstatus as ander Keltiese tale soos Skots en Wallies verkry het. Veel meer as simboliese regte is dit nie, maar die tradisionele hoofsanger het uitgeroep: “Die lewe is wonderlik.”

Intussen pers Rusland die wêreld af deur met ingryping te dreig as die Oekraïne teen opstandige etniese Russe sou optree. Die opstandigheid kom te midde van beloftes van groter selfbeskikking aan die ooste van die land waar die meeste etniese Russe woon. Rusland word egter daarvan verdink dat dit die situasie uitbuit om minstens ‘n deel van die Oekraïne in te palm, soos die Krim-skiereiland wat reeds ingepalm is. In die proses word ‘n potensiële wêreldoorlog aangestig.

Anders as wat plaaslik voorgehou word, is minderheidsregte nié die teenpool van liberale waardes nie. In Wes-Europa word dit naas individuele regte as ‘n integrale deel van menseregte beskou, en kom van die grootste kampvegters juis uit liberale geledere.

Skeefgetrekte en rasbehepte transformasie is besig om so te ontwikkel dat die wiel al byna ten volle gedraai het. Versoening word onder druk geplaas as dit nie reg hanteer word nie, en die manipulasie van ekonomiese kragte het die land se groeikoers byna tot stilstand gedwing – en so word nuwe uitdagings in plaas van oplossings geskep.

Lesse uit die internasionale gemeenskap is daar om geleer te word. Anders word dieselfde tragiese foute gemaak.

Hier volg die volledige nuuskommentaar:

“Gwyn agan bys!”

Dit is die Cornies vir: “Die wêreld is ‘n wonderlike plek!” Aan die woord was Cornwallis se hoof-tradisionele sanger (grand bard) en die geleentheid was die amptelike minderheidserkenning van Cornies, die Keltiese taal van die graafskap Cornwallis. Hiermee het Cornies, waarvan die naaste taalverwant die taal van Bretagne aan die Franse kus is,  verlede week dieselfde status as die ander Keltiese tale in Brittanje, Skots en Wallies, gekry.

In 2008 gebruik die Afrikaanse digter, Barend J Toerien wat in daardie stadium die doyen van Afrikaanse skrywers was, soortgelyke woorde in die titel van sy gedig: Hiersein ist herrlich (om hier te wees is heerlik).

Die feit dat hy ‘n Duitse opskrif vir ‘n Afrikaanse gedig gebruik verklap reeds iets van vervreemding. Barend, soos Breyten Breytenbach, was ontnugter oor hoe sake in hierdie land ontwikkel het.

Digters word dikwels as die gewete van die nasie beskryf. Of soos Barend dit gestel het: Die literêre skrywers kies die kant van die “underdog”.

Hoewel Barend moontlik nie in dieselfde asem as Breyten genoem kan word nie, en in ieder geval minder bekend, en volens literêre ontleders dikwels misverstaan is, het hy ook sy digkuns vanuit selfopgelegde ballingskap gebruik om apartheid onder skoot te plaas, terwyl hy terselfdertyd hunker na die mooie wat hy van sy geboorteland, en sy grootwordwêreld by Porterville onthou. Die kontras blyk baie goed uit ‘n gedig,  “Om te Onthou is om te Lewe” uit die bundel Aanklagte en Verliese wat in 1981 verskyn het:

Olienhout in ouklip
ek sal jul onthou
Bokboegoe be-ster of groen
se geur wat aan jou kou
lank lank die volgende dag nog
ek sal onthou
( . . . )
Die ongure gaan ek vergeet
die raswette, die goedpraters.
Die lewe verg dat vergeet word
wat anti-lewe is.

Heel anders is sy trant in Hersein is herlich:

Die oggend spoel oor die berg
’n blou golf
in ’n almagtige mooi
As die oorstelping tot bedaring kom
sal die nugter ontnugter
en smag na ’n ietwat geel
en ’n bietjie mal
dat die heerlikheid van hierwees
beperkinge het ’n hol kol
(eksepsies soos gestipuleer)

Hoewel die nuwe status Cornwallis in staat sal stel om meer en beter vir befondsing vir kulturele en gesondheidsdienste te beding, sal die inwoners vind dat die son steeds in die ooste opkom en in die weste sak.

Verskeie instansie beweer al lank dat Suid-Afrika meer rassewette (en in die vorm van onder meer gekoesterde akademici en transformasiedrywers) goedpraters het as tydens die hoogtepunt van apartheid. Daar kan egter geen twyfel wees nie dat rassewetgewing die landsburgers se lewens van die wieg tot die graf veel meer beheer as in 1994, twee jaar na die vorige regering die laaste apartheidswet uit die wetboek gehaal het.

Vanuit ivoortorings word die banvloek van politieke inkorrektheid oor iets soos universele minderheidsregte uitgespreek. Dit kan nie eens aan ‘n ingesteldheid tot liberalisme toegeskryf word nie, want in Europa word minderheidsregte sedert die dae toe liberalisme onbetwis geheers het, as integrale deel van menseregte, en op dieselfde vlak as individuele regte beskou. Wyle Max van der Stoel, eertydse minister in die kabinet van Joop den Uyl en uitgesproke kritikus van apartheid, is ten tyde van sy dood veral onthou vir die groot werk wat hy gedoen het om minderheidsregte te bevorder.

Die taalkaart van die Oekraïne toon duidelik hoe die situasie in die Oekraïne so plofbaar bly en leiers in verskillende dele van die wêreld kort-kort Rusland daarvan beskuldig dat dit die derde wêreldoorlog wil aanstig.Oekraïne taal

Onder die jongste verwikkelinge tel dat die Amerikaanse vise-president, John Kerry, Rusland gewaarsku het dat Navo nie sal toelaat dat Rusland een van sy lidlande bedreig nie. Verskeie lande agter die destydse ystergordyn is nou lidlande van Navo, maar die Oekraïne is nie. Navo het troepeversterkings na Pole en veral die Oosseelande, Estland, Letland en Litaue gestuur. Laasgenoemde drie was deel van die Sowjet-Unie, en het beduidende Russiese minderhede. Boonop is dit nie heeltemal korrek om te sê hulle lê weg van Rusland self nie, want hulle grens aan die Russiese eksklawe, Kalingrad (die voormalige Oos-Pruise).

Ook uit die geledere van dié drie lande se Russiese bevolkings word geluide van dislojaliteit teenoor die lande waarin hulle woon gehoor, en lojaliteit teenoor Rusland.

Die verskynsel word irredentisme genoem, en het al tot oorloë gelei, soos die Shifta-oorlog in Kenia, en die Ogaden-oorlog in die Horing van Afrika.

Dit is duidelik dat Rusland die feit dat die Oekraïne nie ‘n Navo-lid is nie, uitbuit. Die Krim-skiereiland is reeds ingepalm.

Die sterkste aanspraakmakers om die Oekraïne se komende presidentsverkiesing te wen beloof referendums vir groter outonomie aan die ooste van die Oekraïne, maar die aanduidings is baie sterk dat Russiese agente die situasie aanstig. Rusland hou hom baie duidelik nie by die vredesooreenkoms wat onlangs gesluit is, en hy mede-ondertekenaar is nie – Navo se inligting dui byvoorbeeld daarop dat Rusland se aanspraak dat hy sy troepe aan die grens met die Oekraïne onttrek het, ‘n mite is, en dat hy ook geen poging aangewend het om die geboubesetters so ver te kry om die geboue te ontruim en hul wapens te oorhandig nie.

Die VSA en Europa stel verskerpte sanksies in, veral geteikende sanksies teen leiers en sekere maatskappye, en dit het ‘n impak. Standard & Poor het pas Rusland se kredietwaardigheid van BBB tot BBB- afgegradeer, wat die vlak net bo die sogenaamde rommelvlak is. Dit op sigself gaan broodnodige beleggings ontmoedig.

Dat Rusland sentimente oor die etniese Russe in die Oekraïne en ander lande koester, lei geen twyfel nie, en Rusland sê dit gereeld self. Maar ander faktore laat vrae ontstaan of Rusland se oogmerke op die Oekraïne beperk is tot die oorwegende Russiese gebiede in die ooste. Daar is immers ‘n noue taalverwantskap tussen Russiese en Oekraïniese, ongeveer so ver soos Afrikaans van Nederlands verskil. ‘n Interessante aspek is dat die Russe as volk oorspronklik in die omgewing van Kiëf, nou die hoofstad van die Oekraïne ontstaan het, maar noordwaarts na die omgewing van Moskou uitgewyk het toe hulle deur invallers uit die ooste platgeloop is. Bygesê, die literatuur toon nie dat die Russe ‘n soortgelyke sentiment oor dié herkoms koester, as die Serwiërs oor Kosovo het nie.

Daar is egter duidelike tekens van sentimentele verlies oor die uiteenval van die ou Sowjet-Unie wat die Russe bloot as ‘n uitgebreide Rusland beskou het.

Meerderhede kan eenvoudig nie hul geluk probeer bou ten koste van minderhede nie.

Minderhede hét ingevolge die internasionale reg, minderheidsregte. Die behoefte daaraan verdwyn nie binne selfs die mees liberale omgewing met optimale erkenning van individuele regte nie – veral as daardie individuele regte in werklikheid ondermyn word wanneer dit as ‘n behoefte van kultuur- en taalbelewenis manifesteer en onder skeefgetrekte transformasie-aksie platgeloop word.

Daar word gereeld stellings gehoor soos dat Suid-Afrika nou omgekeerde apartheid, of omgekeerde rassisme beleef.

Maar is hierdie terme nie self rassisties nie? Beleef die land nie maar weer doodgewoon rassisme nie? ‘n Volla kan wel omgekeer word wanneer dit te vinnig om die draai jaag, maar rassisme bly mos maar rassisme ongeag wie dit teenoor wie pleeg.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

U T Mijnhardt ·

Wie is die ou? Het hulle by hom ingebreek of sy selfoon gesteel? By wie wil hy hom nou skaar ? Soshanguve se eiendomsmark is nou blykbaar kopersgesind . Skaar jou by jou eie mense.

Wie’s die?……..

Ontnugter dit die witman. maar hy’s afrikaander’ s ons .
Bruikbaar vir die donker .
Sy papier”n pen gebruik n boos,
Het hy nie n Afrikaner van? Lees bietjie na,
Nee kyk Baie nader,
is hy wel afrikaander?

Met oe so swart, vol haat vir witman,
uitkom uit sy wese, uitkom slegs dit wat uit sy binne donker.
Hy’.s binne, binne-grou.
Staan ook nader, Staan ,staan gou .
sien die , die ander wie soos hy is.
Die wat van altyd nog,
nog tot nou die afrikaander , sy land sy stem
en die alles goed ten spyt is.

Ons nie hoor as dit nou ons tyd ,
ons tyd te lyd is.

Wegstaan ,wegstaan en kant te draai
nou nog verder , verder praat
en dit afrikaander n spies .
n spies ten dood,
soos aan’t kruis
n spies ten syd is.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.