Nuuskommentaar: Die ligter kant

Pres. Jacob Zuma se privaat Nkandla-woning

Pres. Jacob Zuma se privaat Nkandla-woning

Die krag gaan uit op Nkandla, en die hysbakke gaan staan. ‘n Rukkie later kry ‘n gholfspeler ‘n SMS: “You are a golfer. Please advise. How do I get out of this bunker?

Niemand sal stry nie. Word die nuusvloei gevolg, is daar volop slegte nuus. Asof moorde en verkragtings nie erg genoeg is nie, is daar ‘n stortvloed berigte van familielede wat bitter jong kindertjies mishandel, seksueel misbruik en selfs vermoor. Burgeroorloë eis duisende en lewer talle kinderslagoffers op terwyl die “leiers” hul rûe in luukse styf maak.

Tog, iets het kwalik gebeur of die eerste grappies daaroor doen die rondte. Soms is dit regtige siek “humor” en soms erg rassisties.

Maar daar is ook baie gevalle waar die skepper van die humor ‘n situasie baie skerp en raak opsom. Soms moet effe tussen die lyne gelees word om te sien wat eintlik bedoel word.

Dikwels is die fynste en mees sprekende humor in spotprente vasgevang in die opmerkings van die “vaste karakters” soos meerkatjies of ‘n oorlamse kat.

Werklike humor is nie ‘n goedkoop gespot nie – dis nie oneerbiedig teenoor slagoffers nie. In haar magisterverhandeling, “Die verband tussen kognitiewe buigsaamheid en humorsin by adolessentetref Anri Pienaar ‘n onderskeid tussen aanvaarbare humor en sarkasme of ironie wat in swak smaak aangebied word.

“’n Grap kan oor amper enige aspek van die lewe gemaak word; maar humor vereis dat dit ‘n bietjie geluk, sagtheid of ligtheid aan die wêreld se ongeluk bring, nie nog meer haat of swaarkry nie (Comte-Sponville, 1996). Ironie en humor word dus onderskei deur wat dit ten doel het, die gesindheid van die spreker, asook die rigting van die refleksie. Ironie (die onaanvaarbare weergawe) word uitwaarts gerig en het ‘n gebrek aan diepte en ware insig.”

Pienaar begin haar inleiding met ‘n aanhaling van Colette: “’n Algehele afwesigheid van humor maak die lewe ondraaglik.” Langenhoven het selfs aangedui hy sou uit die hemel dros as daar nie humor sou wees nie.

Humor herinner ons nie net dat daar ‘n silwer randjie om die donkerste wolk is nie, dit verdiep ons insig oor hoe om na ‘n situasie te kyk en nugter na oplossings te soek. Dis dus nie net ‘n kruk nie, maar ‘n belangrike instrument om te oorleef.

Wêreldwyd is daar nou pogings om sosiale kommentaar in die kuberruim te suiwer van die smerighede wat dikwels daarop gepleeg word. Dit is inderdaad jammer dat karakters wat agter skuilname skuil dikwels hierdie medium gebruik om hul persoonlikheidsgebreke ten toon te stel deur leuens in te span om ander sleg te sê, te belaster en sommer net om walglik te wees, soos met die inspan van haatspraak. Maar die humor slaan ook gereeld in die kuberruim uit – en word ‘n mens se dag dikwels nie net “gemaak” deur wat in ‘n berig of artikel staan nie, maar ‘n raak sêding wat iemand daarby geskryf het.

Daar is plek vir humor om 2013 se lesse raak te vat, en daaruit te put om 2014 aan te pak. Die rubriekskrywer, Blik Oor, het tien “Oskarre” aan nuusmakers van 2013 “toegeken”. So het die kabinet se veiligheidsgroepering die Oskar gekry vir die onderskatting van die bevolking se intelligensie deur die mense te probeer wysmaak die swembad by Nkandla is eintlik ‘n “firepool.”  Die minister van Landbou en Visserye kry die kraaines-Oskar. Die besluit of “number One” die Oskar vir geldvermorsing gaan kry word voorbehou tot die Openbare Beskermer se finale Nkandla-verslag bekend gemaak word.

Die oorhandiging vind binnekort op die ENB-stadion plaas waar “Number One” se foto tydens elke oorhandiging op die groot skerm vertoon sal word.

Politici is dikwels die skyf van satiriese humor. So is die “antwoord” oor hoe ‘n mens weet ‘n politikus lieg dat dit is wanneer die politikus se mond oopgaan.

Juis daarom was ‘n destydse premier van Mpumalanga lank die teiken van spot toe hy gesê het dis in die haak vir politici om te lieg.

Maar nou ja, ‘n politikus weet ook by voorbaat dat as jy jouself vir ‘n toffie uitgee, moet jy bereid wees om gekou te word. Humor is ‘n gedugte wapen om politici tot openbare verantwoording te voer.

Wie sal byvoorbeeld die grappie vergeet oor Suid-Afrika wat Zimbabwe se aanstellings van ‘n minister van hawens en diepseevisserye bevraagteken, en Zimbabwe wat koel terug laat weet: “Hoor wie praat? Julle het dan ‘n minister van Veiligheid en Sekuriteit!”

Die ware humoris kan ook vir homself lag. Iemand wat verbrou en dan sy stert in ‘n krul pluk wanneer dit humoristies aangespreek word, is dikwels die voorbok om ander met neerhalendhede af te kam.

Die “sopkoppies” vertrek nou na ‘n seevakansie uit die “last outpost” en 2014 se hand aan die ploeg slaan lê voor. En die nuwe jaar kan net soveel makliker verloop as ons onthou om die humor van goeie smaak wat daar die jaar oor ons pad gaan kom, te geniet.

 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.