Nuuskommentaar: Die maan in die nuus

Argieffoto (Foto: colibri5, Pixabay)

Met die algemene verkiesing agter die blad en die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) wat self ’n oordeel van vry en regverdig oor sy eie werk uitgespreek het, neem die stroom van bewerings oor ongerymdhede steeds toe.

Onder die jongste bewerings (met aanduidings van onomstootlike bewyse) is dat meer as ’n duisend DA-stemme op nasionale vlak by ’n Bloemfonteinse stempunt eenvoudig verdwyn het, en dat die ANC glo buitelanders wat onwettig in die land is, in Gauteng vir die ANC laat stem het met beloftes van ID-boekies en permanente verblyf. Ook hier wil dit voorkom of die feite hard praat.

Dit lyk of dit net vir die regering en die OVK al moeiliker gaan word om met die illusie van ’n vry en regverdige verkiesing voort te gaan, en aan te beweeg met die prosesse wat grondwetlik op so ’n vry en regverdige verkiesing moet volg.

Gelukkig vir die OVK het die BLF nie ’n enkele setel verower nie en bloot deposito’s gaan staan en verloor, nadat die OVK dié party toegelaat het om deel te neem – al het dié toelating wetlik nie aan die vereistes vir deelname voldoen nie. Die BLF laat nie wit lede toe nie, iets wat hom vir deelname diskwalifiseer.

Die verkiesing in Suid-Afrika en die afloop daarvan het op die aarde niks met die maan uit te waai nie, en nog minder met die 50-jarige herdenking van die eerste maanlanding op 20 Julie vanjaar. Vir baie ruimte-entoesiaste en amateur-sterrekundiges bied die vieringe wel ’n broodnodige ontsnapping van Suid-Afrikaanse werklikhede wat swaar op baie Suid-Afrikaners se gemoed lê.

Die mensdom se kennis van die maan het enorm uitgebrei sedert die eerste bemande maanlanding. Nadat Neil Armstrong sy bekende woorde met sy eerste tree op die maan, ’n klein stappie vir ’n mens maar ’n reuse sprong vir die mensdom, geuiter het, het kennis van die maan met rasse skrede toegeneem. Dit was nie net te dankie aan opvolgende bemande maanlandings nie, maar ook ander waarnemings en vasgepen deur instrumente op die maan wat deur die suksesvolle sendings daar gelaat is, of waarnemings deur wenteltuie.

Ons weet nou dat die maan nie so ’n dooie ruimteliggaam is as wat in ’n stadium gemeen is nie. Ons weet ook dat die maan oor ’n uiters geringe atmosfeer beskik – so gering dat dit vir alle praktiese doeleindes nie werklik bestaan nie. Ons weet dat die aarde se atmosfeer ook so ver die ruimte in strek dat dit die maan insluit, maar weer eens so gering is dat dit in die praktyk nie bestaan nie.

Met die maanlandings is nog aanvaar dat daar geen water op dié maan is nie. Sedertdien is vasgestel dat die maan oor heelwat water beskik in die vorm van ys in kraters waarvan die bodem nie son kry nie. Dit bied weer ʼn opwindende moontlikheid vir die vervaardiging van vuurpylbrandstof deur die waterstof en suurstof te skei.

Dit blyk ook dat die afkoeling van die maan se kors tot redelik gereelde maanbewings lei.

Dit is inderdaad ligjare meer kennis as waaroor dr. Wernher von Braun beskik het toe die V2- ballistiese vuurpyle ontwikkel en afgevuur is waarmee groot skade tydens die Tweede Wêreldoorlog aan Brittanje aangerig is. Von Braun is ná die oorlog deur die VSA gewerf, en as vader van die bekende Saturn-vuurpyle was hy instrumenteel in die ontwikkeling van die program om mense op die maan te plaas en terug te bring.

Kort tevore het die outeur van ’n artikel in die destydse Kinderensiklopedie in daardie artikel in detail uitgespel waarom dit altyd onmoontlik sal wees om ’n vuurpyl na die maan te stuur en terug te bring.

Die mensdom het onlangs eers deur die ingebruikstelling van Space X se Falcon Heavy weer ’n vuurpyl in gebruik geneem wat oor soortgelyke krag as die Saturns beskik. Die Saturns was so kragtig dat die vibrasies wat dit tydens lansering in Florida, deur seismometers in New York, sowat 1 600 kilometer verder, waargeneem kon word.

Tog meen ruimtewetenskaplikes dat al die inligting wat tot dusver oor die maan versamel is, nog net op ’n gekrap aan die oppervlak neerkom. Maar in die proses is soveel reeds bekend dat die maan gereed is om ’n inligtingsontploffing in te lui.

Maar hoe is dit moontlik dat die VSA nog steeds nie in staat is om reise soortgelyk aan dié van 50 jaar gelede na te doen nie?

(Argieffoto: Pixabay.com)

Die destydse ruimtereise was baie belangrik vir die Koue Oorlog. Die VSA het toe sowat 4% van die land se federale begroting gebruik om die neuse voor die Russe te kry. Teen verlede jaar was dit net ongeveer ’n half persent, wat ’n aanduiding gee van die besparing wat na 1977 bewerkstellig is.

Met inagneming van die inflasiekoers en die rand-dollar-wisselkoers sou die ruimteprogram na die maan sowat R2 625 miljard gekos het.

Intussen het die VSA ’n versnelde program aangekondig om weer mense na die maan te stuur. Dit sluit in ’n ruimtestasie wat om die maan sal wentel, en as lanseerplatvorm sal dien vir reise na die diep ruimte. Ook ’n maanbasis wat volhoubaar bedryf kan word, word in die vooruitsig gestel.

Sekere vergelykings laat dit klink of die mense wat destyds maan toe gestuur is en kon terugkeer na die aarde, die ekskursies in vlieënde doodskiste moes aanpak. Apollo 11, die tuig waarmee Armstrong en kollegas die reis aangepak het, se rekenaarkapasiteit was 2k. Die iPhone 5s het oor meer as 1 300 keer meer prosesseringsvermoë as Apollo 11 se rekenaar beskik.

Die superrekenaar wat vir gebruik deur die SKA-teleskoop gebruik sal moet word, sal sowat ’n biljoen keer (1 Amerikaanse triljoen keer) so sterk as Apollo 11 se rekenaar wees.

Die toerusting wat nou vir die volgende bemande maanlanding gebruik gaan word, sal tegnologies baie verskil van dié van die Apollo-era.

Met die 50-jarige viering sal Suid-Afrikaners teruggevoer word na ’n era van die romantisering van pioniers wat nie vrees geken het nie. Suid-Afrika het destyds nog nie oor TV’s beskik nie.

Breek daar nou ’n era aan waar Suid-Afrikaners eers geestelik kan herstel ná ’n era van staatskaping en waar korrupsie en bedrog endemies geword het, of gaan korrupsie-vermoëns saam met die ruimtetegnologie “verbeter”?

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

piper ·

pleks al daardie geld aangewend word om ons oseane te red wat verdrink aan plastiekbesoedeling. verder is daar baie geheime van die oseane nog nie ondek of opgelos nie. diesefde geld vir bemande reise na mars.

Knippie sout ·

Hoekom was niemand in 50j weer op die maan met al die nuwe moderne tegnologie wat so vooruit gegaan het nie?

Herman Toerien ·

Hallo Knippie Sout. Die maanprogram is gestaak na die destydse doelwitte bereik is, en Nasa se begroting erg gesny is. Dit sou bv jare neem om al die maanrots te ondersoek wat teruggebring is aarde toe. Daar was talle onbemande aksies, oa ook deur die Ryusse, Chinese en Indië.

E Theron ·

Knippie sout, ek bly hier in Florida ( naby Cape Canaveral )en het toevallig verlede Saterdag ń ou elekriese ingeneur ontmoet wat by NASA gewerk het.Ek vra hom toe as hulle in 1961 besluit het om maan toe te gaan en toe +/_ 8 jaar later dit gedoen het (in die tyd voor ons sakrekenaars gehad het) hoekom gaan dit hulle NOU in die tyd nog 5 jaar van beplanning en ontwikkeling vat om weer te gaan, was hulle werklik daar?Hy het my gou laat verstaan dat die Amerikaners wel daar was maar hy verstaan ook nie hoekom dit nou so lank gaan vat nie. Die Sjinese is ook nou besig op die maan ,miskien is die Amerikaners bang dat die Sjinese voor hulle die eerste man op die maan gaan hê

Jerry ·

Daar is mense wat glo dat daar n man op die maan bly en net soos wat dit onwaarskynlik is, so is dit ook onwaarskynlik dat daar n volkstaat tot stand sal kom, nie net op die maan nie, maar ook in SA. Die rede daarvoor is waarskynlik verborge binne die revolusionere idees denkraamwerk van die revolusioneres, soos byvoorbeeld dat voorheen bevoordeeldes, so word daar geglo, moet benadeel word deur hulle alles te ontse wat die revolusioneres ontse was gedurende apartheid. Dit kan alleenlik gebeur deur voorheen bevoordeeldes enige verdere ekonomiese deelname te ontse en om van hulle, wat hulle ookal het, dit te vat op enige maniere denkbaar soos onder andere deur misleiding, wetgewing, belasting, korrupsie, bedrog, diefstal en selfs geweld. Soos wat ou ruimtevaart tegnologie vervang word deur nuwe tegnologie, so ook word kaders wat uitgevang word (slagoffers en martelaars) bloot vervang met nuwe kaders met nuwe, maar soortgelyke, dirty tricks! So ja, korrupsie vermoens gaan saam met ruimtetegnologie verbeter. Die revolusionere idees vir korrupsie is van kop tot tone hier om te bly omrede “you can kill the man, but not the idea”!

Merkur ·

Dit is nie meer vir my moontlik om te glo dat Armstrong op die maan was nie. Soos deur talryke youtube bydraes verduidelik, glo ek eerder dat Stanley Kubrick die Maanlanding van 1969 in ´n studio gefilm het. In sy film „Shining“ laat Kubrick deurskemer dat dit hyself was wat die „fake“ maanlanding van 1969 gefilm het.

Piet ·

Ek stem saam met jou. Hoop die shinese sal teendeel bewys. Pioniere los nie wat hulle ondek het en keer na meer as n halwe eeu terug om dit verder te ondersoek nie. Marco Polo, David Livingstone, Amerika, Suid Afrika, NZ, Australie ens.

Ja nè ·

Die sg. maanlanding het nooit plaasgevind nie, ek stem heeltemal saam. Armstrong het die res van sy lewe nie onderhoude toegestaan nie. Toe daar navraag gedoen is oor bewyse vd maanlanding, kon NASA dit ook nie in hul argiewe vind nie. Dit hang nou ook af wat as fopnuus in die wêreld ingestuur is.

Regs! ·

Ek kan nie glo daar is nog mense wat glo dat die maanlandings plaas gevind het nie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.