Nuuskommentaar: Die maklikste ding ter wêreld is om doemprofeet te wees

Argieffoto

Miskien was dit nog altyd, en tot die verste, destyds nog onontdekte uithoeke van die aarde so, dat sekere gebeure om hulle die mens gereeld tot pessimisme gestem het.

In hoe ’n mate het dit daartoe bygedra dat talle volke met geen kennis van mekaar nie, soos die Asteke en die Kartagers, hulle tot menslike offers gewend het? By die Kartagers was die fokus op die offer van eie kinders, ook uit die adelstand, aan Baal. By geleentheid is gekierang deur die fokus na die kinders van slawe en vreemdelinge te verskuif, maar toe het dit so sleg in oorloë gegaan dat gou daarvan afgesien is.

Vandag is dit natuurlik maklik, as na die nuus, en veral die “nuus” op die sosiale media, gekyk word om ’n doemprofeet te wees. Fopnuus en ontkenners en die aanhangers van samesweringsteorieë voed die doemprofesieë.

Maar om reg te wees met die doemprofesieë is oneindig moeiliker. Talle doemprofesieë byt in die stof omdat die aanstigters ’n klein deeltjie van die waarheid verneem, en dan deur blote onkunde en die bylas van wolhaarstories ’n doemprofesie die lig laat sien.

Hoeveel jaar agtereenvolgend moes wetenskaplikes nie die jaarlikse bogstorie nek omdraai dat Mars en die aarde so na aan mekaar sou kom dat Mars so groot soos die maan sou vertoon nie! Sommige jare was die aarde en Mars selfs op hul verste punt moontlik van mekaar. Gelukkig het die verspreiders van dié twakstorie nagelaat om te sê dat as so iets werklik sou gebeur, dit wel katastrofies sou wees.

Die kritieke weglating van die ware oorspronklike was dat Mars so na aan die aarde sou wees dat dit “deur ’n groot teleskoop” so groot soos die maan sou vertoon.

Maar ondanks die jaarlikse ontkennings het mense in die nag opgestaan om na die “wonderlike verskynsel” te kyk. ’n Paar het selfs op die gewilde program Sterre en Planete se Facebookblad gaan kla dat hulle dan niks gesien het nie – die einste blad wat gewaarsku het dis ’n twakstorie.

Minder bekend is dat daar op 22 Januarie ’n aardbewing van magnitude 6.7 by die Prins Edward- en Marion-eilande, wat aan Suid-Afrika behoort, voorgekom het.

Tsoenami’s word nie sommer gevorm as die aardbewing minder as M7 registreer nie. Maar dié ene was ’n “skrale” 0,3 van daardie merk af, en die Suid-Afrikaanse kus is minder as 2 000 km daarvandaan. Hoe naby het ons aan ’n ramp gaan draai?

Die mees onlangse groot tsoenami’s is veel verder gevoel. Die tsoenami by Japan het ’n groot ysskots van die Antarktiese ysplaat laat afbreek, en die Indonesiese tsoenami het by Stilbaai die baai eers amper “leeggesuig” voor die watermassa teruggekom het.

’n Klein bietjie algemene kennis sou enige moontlike vrese kon besweer. Die magnitudeskaal wat nou algemeen oor die wêreld gebruik word, is net soos die uitgediende Richterskaal ’n logaritmiese skaal. So kan 0,3 op die bopunt van die skaal duisende kere sterker wees as 0,3 op die onderpunt van die skaal.

Voorts is die see in die omgewing geweldig diep, met die vulkaniese eilande wat die bopunte van ondersese kraters van duisende meters hoog vorm. Die mid-oseaniese riwwe waarop die eilande geleë is se kontinentale plate beweeg weg van mekaar wat minder geneig is tot groot aardbewings. ʼn Aardbewing van 6.7 is ’n groot uitsondering. Alles werk teen die moontlikheid dat ’n beduidende tsoenami die Suid-Afrikaanse kus sou bereik.

Doemprofete bedryf selfs webwerwe waarop gereeld voorspel word wanneer ’n groot aardbewing Kalifornië met soveel krag gaan tref dat die Kaliforniese kus van die res van die kontinent weggebreek sal word dat dit ’n eiland gaan wees – maar waarop alles vernietig sal wees. Maar die aardkorsverskuiwing geskied parallel, wat die moontlikheid van werklik baie sterk aardbewings onwaarskynlik maak. ’n Oornag-wegbreek van Kalifornië bestaan net in die koppe van liggelowiges. Staatkundig is die kanse met soveel wegbreekbewegings effe beter.

’n Mens sou boeke vol kon skryf om elke moontlike doemprofesie te weerlê of in konteks te plaas. Die probleem is egter nie in die feite nie, maar die mens se bereidheid om eerder ’n ooglopende twakstorie as die werklike feite te glo.

Om gewaande natuurverskynsels te weerlê, soos die onlangse jaarliks herhalende SMS dat Suid-Afrika op ’n bepaalde nag deur ’n reuse-aardbewing getref sou word, en mense moet hul elektroniese toerusting afskakel en ver van hul koppe bêre om vreeslike bestraling te voorkom, is maklik. Maar om politieke doemprofesieë te weerlê is moeiliker, veral as Bybelverse buite konteks ingewerk word.

Maar lees gerus Psalm 23, of die hele verhaal van Job.

Die Here is magtiger as die staatskapers, die moordenaars, die valse profete – noem maar op. Maar ’n Christen is geen fatalis nie. Hy is ’n instrument van die Here.

Met die ontvouing van die staatskapingsage kom ’n ou gesegde al hoe meer in omloop: “Slegte dinge gebeur as goeie mense niks doen nie.” Die een verklaring vir die herkoms hiervan is iets wat Edmund Burke (1729-1797) gesê het: “All that is necessary for evil to succeed is for good men to do nothing.”

In Afrikaans is verskeie variasies, met die somtotaal dat God in beheer van alles is. Nie doemprofete nie.

Al lui opskrifte vanoggend onder meer “Openbare Beskermer wil Ramaphosa se Bosasa-skenking ondersoek”, “Ramaphosa oneerlik oor onteiening sonder vergoeding”, “Nie pypdroom dat ANC weer Wes-Kaap kan oorvat”, “Coligny: Doorewaard en Schutte terug hof toe vir vonnis” en “SA het kapitaal nodiger as brandstof”. Voeg hierby dat Agri SA bereken dit gaan R3 miljard kos om die landbou se skade weens die droogte weer op dreef te kry, terwyl dit ’n g*tsakbedraggie is as die koste van staatskaping in berekening gebring word.

Die goeie mense moet iets doen – soos gaan stem.

Die gesegde “God help hom wat homself help” het reeds tot baie debat gelei omdat dit nie uit die Bybel kom nie, al word wyd beweer dit staan in Esegiël 6:1. Dit is van ou Griekse herkoms, en iets soortgelyks staan in die Koran. Die Bybel wil eerder die afhanklikheid van God, en die soewereiniteit van God se wil beklemtoon. Tog is dit uit 1 Samuel 30:1-3 en verdere verloop duidelik dat God aksie van die mens verwag:

“Toe Dawid en sy manne op die derde dag in Siklag aankom, het die Amalekiete al klaar ’n strooptog onderneem teen die Suidland en teen Siklag. Hulle het Siklag verower en afgebrand. Hulle het die vrouens en almal daarin, groot en klein, as krygsgevangenes weggevoer. Hulle het niemand doodgemaak nie, maar almal gedwing om saam met hulle te gaan.”

En later: “En Dawid het Hom geraadpleeg en gesê: ‘Sal ek hierdie bende agterna jaag? Sal ek hulle inhaal?’ En Hy sê: ‘Agtervolg hulle, want jy sal hulle sekerlik inhaal en red.’”

Ons kan nie maar handjies gevou sit en die bose toelaat om te seëvier nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

John ·

Sjoe Herman, nou vertel jy ons… Die skrywer lees meer oor sulke twak as gewone burgers. Waar kom die verkiesing nou in? Of het Mars iets daarmee te make. Goeie mense… van wie praat Herman? Skelmstreke is juis iets vir die duisternis. Om nou links en regs houe uit te deel na onbekende onsigbares is… eerstens baie uitputtend en tweedes toetentaal doelloos….

Herman Toerien ·

Hallo Jon. Ek het gedink die tema was duidelik genoeg, soos blyk uit B se kommentaar hieronder. Die verkiesing het net terloops bygekom. Verlede Sondag, op die program “Hoe verklaar jy dit?” het ‘n luisteraar ‘n skrywe van teregwysing aan die proffies gestuur. Hoe durf hulle die luisteraars so mislei deur hul inligting oor klimaatsverandering? Die man is baie mooi beantwoord, maar hy het nogtans sy naam hard met ‘n plank geslaan, want die prof het alles met harde feite gestaaf, Die SA-regering slaan ons almal se naam met ‘n dik plank deur die gekonkelde DRK-verkiesingsuitslae te erken, en sy steun aan Madura in Venezuela toe te sê.

Nettie ·

Die SA-regering, m.a.w. die ANC, erken die gekonkelde DRK-verkiesing en sê hul steun toe aan Madura van Venezuela, sê jy Herman.

Dan wil mense nog hê ek – en ander ontnugterde nugteres – moet gaan stem. In ‘n verkiesing wat tien teen een gekonkel sal word ….. “verkeerde stem” briewe wat sal verdwyn of gediskwalifiseer word ens. ens. ens. Nee wat, ek is geregistreer, maar ek gaan NIE stem nie. Want ek glo nie in die onafhanklikheid en onbeïnvloedbaarheid van die OVK nie en ook nie in die “vrye en regverdigheid” van ENIGE verkiesingsproses in hierdie land nie.

Vir ‘n goeie voorbeeld van korrupsie – verwys maar net na die DKD en BOSASA, wat nou so in die nuus is.

Rudolf Venter ·

Die stemmery het gelukkig niks met ons afkoms te make nie…

Paul ·

As dit nie vir Jan Van Riebeeck was nie, ook ander invloede uit die noorde (ons gee dit hier liewer nie ‘n ander naam nie), was daar nie vanjaar ‘demokraties’ gestem nie.

HAG ·

Zillow se blasting booikot is die best wat ek al gehoor het en sal dit 100% ondersteun! Die belastinggeld sal na n’ organasasie betaal word wat eerlik en opreg is! Die ANC en sy kaders sal nie hiervan hou nie want dan kan hulle nie meer so maklik geld in hulle sakke sit sonder gevolge nie.! Hulle Sal alles in hulle mag doen om dit stop te sit. Dit is MY geld en ek sal se wat daarmee gebeur!! Saamstaan my mense, saamstaan!

Jerry ·

Die optimis oor n ANC twee derde meerderheid is n doemprofeet teenoor die Afrikaner. Wat dus goed is vir die ANC is nie noodwendig goed vir die Afrikaner nie. Die ANC juig oor OSV teenoor die Afrikaner wat huil oor OSV. Optimis vir die een is n doemprofeet vir die ander. Die een se dood is die ander se brood. Enige persoon wat tans doemprofeet probeer wees teenoor die Afrikaner behoort redelik naby aan die kol te wees met n voorspelling of vooruitskouiing veral wanneer CR se termyn as president tot n einde gaan kom omrede NDR siklusse soos staatskaping en plundering om n spesifieke klimaat te skep ditself herhaal. Of jy optimisties, pessimisties of doemprofeet is, dit is die mees realistiese vooruitskouiing en SA sal nie maklik weer so n plundertog oorleef nie. Hoe langer n verloorgeveg aanhou, hoe meer voos raak die verloorder tot in so n mate dat hy of sy dit nie meer kan besef nie en dan volg die uitklophou! Dit waarmee die Afrikaner nou besig is, is Mickey muis speletjies en sal soos mis voor die son verdwyn die dag wat die regbank en reserwebank nie meer onafhanklik staan van die staat nie, en dit kom! Good men kan met die stompkant net tot sover weerstand bied dan moet n skerpkant kan oorvat en aangaan en die Afrikaner beskik nie oor n skerpkant nie!

Jannie ·

Dis nog veel makliker om met jou kop in die sand te sit en alle waarskuwings as negatief af te maak!! Gelukkig word diesulkes een-of-ander tyd onverhoeds met hulle broeke om hulle enkels gevang…….en daardie skoolgeld is baie duur!!!

Jerry ·

Die realiste wat negatiewe vooruitskouiings vir Zimbabwe gehad het was ook uitgekryt as kwansuis doemprofete, maar hulle was reg! Die mense wat negatiewe vooruitskattings vir SA maak word ook uitgekryt as doemprofete deur mense wat eie belang bo mense se belang stel deur sakeryke wat hulle opgebou het en dus baie het om te verloor! Moet nie toelaat dat julle as voetsoldate ingespan word vir die rykes en geldgieriges!

Thinus Erasmus ·

Ja en die doemprofete het gese die Groot Trek sal nie slaag, hulle het gese die Afrikaner kan nie teen die Engelse veg, en ook die Afrikaner kan nie uit ellende opstaan nie.
Nou weer se hulle die Afrikaner kan nie saamstaan of suksesvol wees in selfbeskikking nie.
Maar daar is verskil tussen doemprofeet en realis – ‘n realis kyk na feite en tendense, maak berekeninge of trek vergelykings.
Die Voorterekkers was egter vasberade optimisties, ‘n optimus vat ‘n kans maak nie saak wat die feite is nie –
Albei kan sukses behaal.
‘n Doemprofeet behaal net tragedie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.