Nuuskommentaar: Die markiestent en die tokkelossie

Pres. Jacob Zuma. Foto: Themba Mtshali, KZN-premierskantoor

Pres. Jacob Zuma. Foto: Themba Mtshali, KZN-premierskantoor

Gaan die voorval, waarin die markiestent tydens pres. Jacob Zuma se Versoeningsdagtoespraak weggewaai het, sy aansien by tradisionaliste, wat meen die voorvaders is kwaad vir hom en dus sy politieke oorlewingsvermoë knou?

ʼn Uitdagende toespraak

Dit klink nogal baie asof pres. Jacob Zuma op Versoeningsdag per abuis die toespraak afgesteek het wat vir hom vir die vorige dag se MK-veteranebyeenkoms geskryf sou gewees het, ʼn byeenkoms waar hy en verskeie ander hoogwaardigheidsbekleërs stokkies gedraai het.

Maar Zuma hét in die toespraak wel oor versoening gepraat (en ʼn bisarre pad daarheen uitgespel), en ook Geloftedag aan die kort hare beetgekry.

Kortom, dit was eerder ʼn uitdagende toespraak as ʼn versoenende een. Hy het onder meer gesê die Afrikaner “beweer” of “maak aanspraak daarop” dat hulle ʼn Gelofte gemaak het. (…where they claimed to have made a covenant with God in 1838 that they will observe and celebrate 16th December if they win against the Zulu people.)

(Die oorwinning was nie soseer teen die Zoeloe-volk gemik nie, as teen die wrede diktator Dingaan nie – trouens, soos een van die ouer bronne dit gestel het, na die slag van Bloedrivier het verskeie stamme “uit hul gate gekom.”)

Hoeveel “versoening” opgesluit is in die volgende stelling is duister: “Gopane is one of the villages which experienced bloody confrontations between the people on the one hand and the apartheid government and its collaborators on the other, where people were brutally killed over the issue of passes, between 1957 and 1958.”

Hoe gouer hierdie toespraak vergeet word, hoe beter. As die toespraak ge-Google word, is dit duidelik die wegwaai van die markiestent, wat die laaste deel van die toespraak kortgeknip het, het die inhoud van die toespraak genadiglik heeltemal oorheers. Boonop is daar beeldmateriaal wat wys hoe Zuma en sy trawante voet in die wind geslaan het eerder as om beseerdes te help.

Met die sluiting van die Nasionale Vredesakkoord is geïmpliseer daar sou nie ʼn wenner of verloorder wees nie. Zuma verbreek met hierdie toespraak daardie bepalings, asook die inhoud van sy ampseed.

Markiestent en die voorvaders

Die tent na die storm. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Die tent na die storm. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Zuma is lief daarvoor om elke nou en dan die voorvaders tot sy voordeel te probeer inspan. So het hy, by geleentheid, ʼn gemeenskap gedreig die voorvaders sal hulle ry as hulle nie vir die ANC stem nie.

Maar gaan die jongste geleentheid nie vertolk word as ʼn teken dat die ongelukkige voorvaders hom die mond wou snoer nie?

City Press het ʼn volledige artikel gedra van ʼn onderhoud met Solly Nkudu, sekretaris-generaal van die Nasionale Vereniging van Tradisionele Genesers en Praktisyns van Suid-Afrika. Volgens Nkudu is dit heel moontlik dat die voorvaders ongelukkig is omdat die land sy “spirituele wese versaak” het. Hierdeur wys hy daarop geleenthede word versuim om offerandes aan die voorvaders te bring.

Hy meen die wegwaai van die tent is nie noodwendig teen Zuma gemik nie, maar teen die land.

(Zuma was in 2012 ook die gasspreker tydens die Erfenisdagvieringe in die Oos-Kaap, waar die markiestent weggewaai het nog voor hy kon begin praat. Hy het toe ook heel onwaardig die hasepad gekies.)

Sonder om te veel op die betrokke geval in te gaan, is dit moontlik dat God wel ingegryp het en die toespraak op hierdie manier kortgeknip het?

Ons sal nie weet nie. Waaroor ons wel kan bespiegel, is of die gedagte dat die voorvaders Zuma die rug toegekeer het, nie ʼn beduidende impak op sy oorlewingspotensiaal as president gaan hê nie?

Gesaghebbende swart rubriekskrywers sal egter momentum aan so ʼn weergawe moet gee en daardie moontlikheid kan so te sê uitgesluit word.

Op die oomblik lyk dit aof Zuma en sy trawante se haastige skaars-makery na die voorval, hom meer skade gaan berokken.

Gaan na die rotskuns en word wys

Die rotstekening wat ʼn 17de eeuse seilskip uitbeeld in die Sederberg. Erkenning: Afrika-rotskunstrust.

Die rotstekening wat ʼn 17de eeuse seilskip uitbeeld in die Sederberg. Erkenning: Afrika-rotskunstrust.

Eenogige geskiedenis het ʼn manier om sommige mense as engeltjies en ander as duiweltjies voor te stel. ʼn Groot deel van Suid-Afrika se geskiedenis is in die rotskuns van veral die San opgeteken.

Een van die merkwaardigste rotstekeninge, van ʼn sewentiende-eeuse houtskip wat omtrent ʼn 100 kilometer binneland in die Sederberge geteken is, was pas die onderwerp van ʼn artikel in ʼn Kanadese argeologiese tydskrif. Die tekening is die beste van vyf soortgelykes wat bekend is.

Die skrywer, Kimon de Greef, vind dit gepas om onder meer te skryf: “Khoi and San groups were largely annihilated by the mid-19th century, engulfed and splintered by colonial development. Many people died of smallpox, a fate shared by millions of indigenous peoples on the other side of the Atlantic, when the Americas were colonized. In South Africa, more people still were killed in systematic horseback raids by settler militias — a genocide, according to the Cape Town historian, Mohamed Adhikari and several other scholars and activists.”

Uit hierdie en ander bronne is daar egter nie ʼn aanduiding in die rotsgravures wat kontak met die wittes uitbeeld (en daarvoor met die Khoi-khoi) en konflik weergee nie, maar eerder ʼn stille waarneming. Min of meer dieselfde geld die uitbeelding van kontak met swart mense, wat hulle uit groot dele van die land verdryf het.

In hierdie land is ruim geleentheid om werklike seer en seer deur persepsies, aan te spreek. ʼn Uitdagende toespraak soos dié van Zuma is dus buite orde.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

al ·

Sy versoening toespraak klink eerder na rassehaat aanhitsing. Wanneer sal die ANC besef dis nie die wittes wat vir hul hedendaagse ondergang verantwoordelik is nie, maar hulself? Niemand is so blind soos die wat nie wil sien nie!

Hanno Visagie ·

Die derde laaste sin hierbo : “In South Africa … a genocide … activists.” klink my na ‘n erge liegstorie. Kan jy asb meer lig hierop werp, Herman?

Herman Toerien ·

Hallo Hanno Ek weet dat minstens die heel eerstes, soos Jan van Riebeeck-hulle, hard probeer het om goeie betrekkinge met die inboorlinge te handhaaf. Maria van Riebeeck is ook as die eerste verhoudingsbeampte in die land beskryf, wat oa ek meen twee keer per week vd die plaaslike inboorlingleiers eers in hul hut, en later die fort onthaal het. Jan moes egter later die heining aanplant om die koloniste en inboorlinge uitmekaar te hou. Die eerste plaasmoord het ook destyds plaasgevind.
Ek weet daar was later ekspedisies om veral van die San wat vee geskiet het te straf, maar het nooit geleer of gelees dat dit ‘n “genocide” was nie. Die pokke het meer gedoen. Baie van die San en die Khoi-Khoi het vir boere op hul plase gaan werk. So ver ek kan agterkom beeld geen van die rotsskilderinge wat kontak met die blankes / Khoi-khoi of selfs swart mense uitbeeld, enigsins konflik aan nie, hoewel ons weet dat kontak met swart mense dikwels bloedig verloop het. Ek meen as daar werklik ‘n massaslagting onder die San was, sou hulle dit duidelik in hul rotskuns weergegee het. Ek dink hierdie bron is maaar so moedswillig soos Zuma, en stuur dit boonop die wye wêreld in.

vierkleur ·

nee ou zuma, my God, is baie magtiger as al jou voorvaders saam. Ons belofte om die dag
soos n sabat te gedenk, staan tot vandag toe. Ons boervolk, het n almagtigge en lewende God
wat ons dien. Hy sal ons weer beskerm en die oorwinning gee, in die stryd wat kom.

Frans C ·

En geen woord oor die verraad wat gepleeg is en die moord op Piet Retief en sy mense wat gelei het to die slag van Bloedrivier. President Zuma en Dingane het nog al iets ingemeen,want net so min soos Dingane hom gesteur het aan ‘n getekende ooreeneekoms,met drie getuies van elke party, net so min steur die President hom aan die grondwet en beskerming van minderhede.

Nadenkend ·

Na afloop van die gebeure by die Zuma Toespraak ontvang ek ‘n wattsapp. In kort kom dit neer op die volgende. ‘n Sekere persoon was ten teide van die toespraak oppad na die Noord Wes Provinsie, sy radio ingeskskel op RSG waar toespraak uitgesaai is, sy woede oor die bog wat Zuma kwyt geraak het het hom genoop om tot God te bid om in te gryp, verder ry hy ook met sy Ramshoring by hom en blaas hy dit ook met mag en mening, hy bid dat God ingryp. RSG breek weg vir die nuus, toe hulle terugkeer na die nuus was daar chaos, die res is is nou nuus, WAS DIT GOD OF DIE VOORVADER GEESTE WAT INGEGRYP HET, Ek weet wat ek glo!!!!!!

cor ·

En so hardloop die voorsanger van gee my my masjien geweer weg stert tussen die bene . Wonder of hy regtig so goeie vryheids vegter was, wat hy goed kan doen is rasse konflik aanhits

Irene ·

Hoekom altyd wit mense byt weet ek nie hulle beweeg nie vorentoe nie

Sann ·

Hierdie was geen toeval nie. Elke knie SAL buig en erken dat Hý die enigste Almagtige God is.

popeye ·

Tokkelossie gaan jou vangelang as jy harloop in die gangelang! Met apologie aan Jack Parrow.

Niccy ·

Ons GOD is Groot en laat hom nie bespot nie!! zumpie ken nie sy geskiedenis nie

Louwrens ·

Ag en hier “Zumpie” ons al weer. Kry tog end met die bynaampie asseblief.

Cherokee ·

Louwrens, dit is under-cover fans van Zuma wat hom sulke troetelname gee.

Jay Adam ·

Beste mnr. Toerien, kan jy nie asseblief vir ons ń artikel skryf waarin die “Dunning-Kruger effect” verduidelik word nie en dit dan ook op ons SA konteks van toepassing maak?

Jodu ·

Miskien moes “ou grote” eerder die verrigtinge by die Voortrekkermonument bygewoon het. Baie veiliger!

Johan ·

Twee punte – Vredendal ontleen sy naam van die vrede wat die destydse Goewerneur bewerkstellig het tussen die Khoi/san groepe.
Tweedens – Gopane val binne Ramotshere Moiloa, ‘n toentertydse stamhoof se gebied. RM het gewere van die Boere geleen om Silkaats te verdryf. Die gewere was agterna weer aan die Boere terug gegee.

snoefie ·

kom ek probeer n derde keer… gaan afriforum, solidariteit of vf+ klagtes teen Mohammed adhikarien ander studente en aktiviste optree en hulle druk om die ander Kant van die munt ook te openbaar? destyds was hierdie britse setlaars ook maar arm. hoeveel van hulle het perde gehad? hulle het nie volksmoord gaan pleeg te perd nie dit was vergeldingstogte nadat hulle vee gesteel was, hulle vroue verkrag was, hulle kinders doodgeslaan was en hulle vee weggevoer was. klink dit bekend? herder die BRITSE setlaars was van Brittanje aka England afkomstig. ons is suid afrikaners.

Antoanè ·

Wat n trotse oomblik! Ons Almagtige God laat ni met Hom spot ni. Dis geen voorvaders ni. Di wat dood is is dood. Hulle loop gim rond ni. Elke Christen weet waaroor daai tent gelig het. Dit was God se dag. God sn alleen! Dit was n belofte. God laat nie met Hom spot nie. DIS TYD DAT MENSE BESEF GOD IS NIE NET N GELOOF NI,HY IS WERKLIK! N LEWENDE KONING EN EK BID DAT ALMAL SAL SIEN DAT GOD SO ALMAGTIG IS DAT DAAR TYDENS N BESPOTTING VAN HOM, HY N HELE TENT KAN LIG! OH LORD I PRAISE YOU!!!

Peet J ·

As ek so na die verwoesting van die tent kyk nl. dit hang in flarde, wonder ek of dit nie dalk ‘n teken is van hoe die ANC politieke party die toekoms tegemoet sal gaan nie. Ek dink ook aan die leier en ondersteuners wat orals heen en weer geskarrel het sonder rigting.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.