Nuuskommentaar: Die media-elite se empaaier van betekenislose woorde

Kenosha, Wisconsin, het die ergste onder die geweld, plundering en brandstigting deurgeloop. (Foto: AP Photo/Morry Gash)

Die afgelope Sondag is Jacob Blake, ʼn swart man, verskeie kere in die rug geskiet deur ʼn polisieman van Wisconsin. Voordat enige daadwerklike inligting rakende die skietvoorval verkry is, het Wisconsin in gewelddadige protesoptrede uitgebreek. Blake is geskets as net nog ʼn onskuldige swart man wat deur die rassistiese wit polisie geteiken is.

Later die week het dit egter aan die lig gekom dat die polisie Sondag op ʼn 911-oproep gereageer het waarin ʼn vrou Blake van huishoudelike geweld beskuldig het. Die vrou het die polisie gebel omdat Blake onregmatig op die perseel was. Die polisie het op die oproep gereageer en Blake probeer in hegtenis neem. Blake het egter samewerking geweier, waarna die polisie gepoog het om hom met ʼn skokpistool (taser gun) te beheer.

Nadat dit nie gewerk het nie, het Blake na die bestuurdersitplek van sy motor geloop. Onderwyl hy geloop het, het die polisie, met hulle gewere op hom gerig, hom agtervolg. Blake het afgebuk om iets in sy motor te kry – waarskynlik ʼn mes. Dit is in hierdie oomblik dat die polisieman hom aan die hemp probeer uittrek en sewe keer in die rug geskiet het.

Kenosha, Wisconsin, het die ergste onder die geweld, plundering en brandstigting deurgeloop. (Foto: AP Photo/David Goldman)

Die media-elite het egter reeds die narratief bepaal voordat bogenoemde inligting bevestig is. Hulle was vasberade om Blake as net nog ʼn onskuldige slagoffer van institusionele rassisme te skets.

Nadat dit aan die lig gekom het dat Blake wel ʼn mes in sy voertuig gehad het, het die opskrif van ʼn berig in die Milwaukee Journal Sentinal gelui:

“Jacob Blake had knife in car but was otherwise unarmed […]”

Hoewel woorde gebruik is om dié opskrif saam te stel, maak woorde hier nie eintlik saak nie. Blatante teenstrydighede word hier vervat, so asof woorde geen werklike betekenis het nie. Woorde word beskou as iets plooibaars wat tot enigiets omvorm kan word wat jou narratief pas. Hierdie opskrif is soortgelyk daaraan om te sê:

“Afgesien van die huis waarin jy woon, is jy andersins haweloos.”

In reaksie op dié skietvoorval het gewelddadige optrede uitgebreek as deel van die BLM-protesvlaag oor die afgelope paar maande. Kenosha, Wisconsin, het die ergste onder die geweld, plundering en brandstigting deurgeloop.

Tog kon die media-elite ook nie volledig eerlik hieroor wees nie. Hulle het met die gewelddadige protesoptrede oor die afgelope paar maande geleer hoe om dié werklikhede te verdraai. Hulle het na protes waarin geweld, plundering en brandstigting voorkom as “mostly peaceful” begin verwys. Die media-elite skets hierdie protesoptrede as iets wat oorwegend vreedsaam is, maar dan op die een of ander onverklaarbare rede elke keer in verwoestende chaos uitbreek.

Met hierdie logika kan ʼn mens ook sê dat Frans Ferdinand, aartshertog van Oostenryk-Este, se besoek aan Sarajevo in 1914 ook meestal vreedsaam was. Afgesien van die paar sekondes waarin ʼn sluipmoord op hom uitgevoer is, was daar geen ander geweld nie.

Foto: Skermskoot/CNN

Met Blake se skietvoorval is dit ook nie anders nie. CNN het Dinsdagaand vanuit ʼn protesoptrede in Kenosha verslag gelewer. Terwyl die verslaggewer voor brandende motors gestaan en praat het, het CNN se opskrif gelui: “Fiery but mostly peaceful protests after police shooting”.

Met gewelddadige protesoptrede vroeër vanjaar het ABC News ook hieroor verslag gelewer met die opskrif: “Peaceful demonstration intensifies”.

Die protesoptrede het só ongelooflik vreedsaam geword dat geboue spontaan aan die brand geslaan het.

Die rede waarom woorde so oneerlik verdraai moet word, is bloot omdat dit in die raamwerk van die narratief gedwing moet word. Die aanname is een waarin onskuldige, uitgelewerde swart mense sonder enige rede in strepe deur die polisie doodgeskiet word. Dit strook bloot nie met die feite nie. In die postwaarheid-wêreld van linkse rassepolitiek weeg narratief egter telkens swaarder as feite. Sodoende is dit aanvaarbaar om woorde van alle betekenis te stroop ten einde jou beskouing te huisves.

Kenosha, Wisconsin, het die ergste onder die geweld, plundering en brandstigting deurgeloop. (Foto: AP Photo/Russell Contreras)

Dit is vir die media-elite nodig om die narratief te onderhou ten einde sy mag oor die mense te behou. Indien die media mense kan oortuig dat hulle uitgelewerde slagoffers is, word hulle selfseggenskap tot groot mate verlam. Solank die media-elite jou kan oortuig dat jy ʼn slagoffer is, kan die groep namens jou dink en optree. Siende dat jy uitgelewer en onbeholpe is, het jy die mag en leiding van die elite nodig om jou te bevry.

Lede van die media haak egter vas in ʼn eeu waar inligting versprei word deur ʼn megafoon in hulle hande. Vandag word inligting egter tussen die media en die mense versprei via ʼn tweerigtingradio. Inligting en media is so deur die internet en tegnologie gedemokratiseer dat die media hoegenaamd nie meer alleenreg daarop het nie.

Johannes Gutenburg was die eerste om media en inligting te demokratiseer. Met sy drukpers kon inligting op massaskaal vervaardig en versprei word. Alle mense kon hierdeur toegang tot inligting verkry. In daardie stadium het media-uitgewers egter steeds ʼn houvas gehad op die inhoud wat versprei word.

Met die digitale en internet-era is hierdie probleem egter opgelos. Die internet en tegnologie is sodanig dat mense nie meer uitsluitlik van die media afhanklik hoef te wees vir inligting nie. Mense hoef daarom ook nie meer uitgelewer te wees aan die inhoud van en wyse waarop die media verslag lewer nie. Ons het nou eerder die vermoë om self die feite van die media na te gaan.

Sodoende het mense ook die vermoë om die media-elite se magsbluf uit te wys. Ten spyte van dit wat lede van die media-elite dink, het hulle geen houvas op ons inligting, denke en vryheid nie. Hulle beskik bloot nie oor die mag wat hulle graag sal wil hê nie.

Namate ons toegang tot alternatiewe inligting vergroot, verkrummel die media-elite en empaaier van onwaarhede. Namate individuele toegang tot inligting vergroot, kwyn hulle belang en mag. Uiteindelik sal alternatiewe en sosiale media die vakuum kan vul wat gelaat is deur die ineenstorting van die media-elite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Piet ·

1) Trump is die beste president in die Wêreld!
2) Die VSA verander in SA!

Die konserwatiewe penarrie… Watter knoppie druk hulle?

Cherokee ·

Jy Piet, gaan jouself in ‘n ‘penarrie’ beland met roekelose stellings. Donald Trump hèt nie opposisie nie.

Dirk Mostert ·

Die beste van die twee euwels vir Amerika. Beide partye se geskiedenis van regime-verandering aksies is laakbaar.

Andre ·

Ons weet nou al teen die tyd dat sekeres altyd die slagoffers is….

Pampoen ·

Mens sien ook die een-ogigheid van die media by CNN. Hulle het die afgelope vier jaar niks positief gevind om oor hulle president te sê nie. Selfs as Trump goue eiers lê, kla hulle omdat dit nie eetbaar is nie. Mens sou verwag dat media ‘n gebalanseerde beeld van feite moet weergee. Ek wonder soms of dit ooit gaan regkom, of word openbare opinie deur sulke skewe beriggewing gevorm? Wie regeer nou eintlik – Die verkose leiers of die media?

Jacobus ·

Jammer om te sê dat media die grootste aanblaser van geweld is. Oraal. VSA sit met ‘n land gelaai met persone wat nie van plan is om te werk vir ‘n lewe nie. Soos by ons is die groep wat “freebies” uitdeel altyd in aanvraag!

Adam Adriaan ·

Doelbewuste strategie van linkse liberale sosialisties kommuniste, ondersteun deur die CNN hulle hoof media perd waarop hulle hul strategie vervoer, om die Global Elite se doelstellings te bevorder en te verkondig. Die doel is om met alle mense se koppe te smokkel. hier is SA is die selfde storie aan die gang

Leon ·

Onthou ‘n swart man wat in Sandton bly, ‘n maatskappy direkteur is en met ‘n BMW of ‘n Merc ry en R500 000 ‘n maans verdien is nog steeds ‘n arm agtergeblewene.

Keelvol ·

Die media het nog nooit integriteit gehad nie. Hulle berig altyd eensydig sonder om albei kante van n saak daar te stel. Selfs gedurende die apartheidsjare het die media (regoor die wereld) vals berigte versprei. Vandag is dit nog steeds so. Die Rodney King saga is n goeie voorbeeld. Daarom glo ek nie n woord wat die media se nie.

Niklaas ·

CNN is alweer die kampioen van geselekteerde beriggewing en alle misdrywe van BLM ondersteuners word goedgepraat. Natuurlik is die groot plan om Trump te laat vervang

ernest ·

Hoofstroom-media in Suid Afrika is ook deel vd ‘media -elite. Lees maar gerus hoe die drukpers en radio die halwe waarhede uitbasuin . Afrikaanse pers het so agteruit gegaan dat hulle amper niksseggend geword het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.