Nuuskommentaar: Die mense sê hulle kies Joe Rogan 

Neil Young (Foto: Alice Chiche/AFP)

Die afgelope week het die Kanadees-Amerikaanse sanger Neil Young en die podsending-persoonlikheid Joe Rogan haaks geraak nadat Young daarop aangedring het dat Rogan se inhoud van Spotify verwyder word. Volgens Young versprei Rogan met sy sieninge oor entstowwe disinformasie oor Covid-19.

So het Young eintlik maar die ultimatum gestel dat dit óf Rogan óf hy is. Indien Spotify nie Rogan se inhoud wil verwyder nie, sal Young al sy musiek vat en loop. Op die ou einde het Spotify Rogan se spraakvryheid verdedig met al Neil Young se musiek wat verwyder word. Spotify het in sy besluit klem daarop gelê dat die platform nie bloot elke tweede mens kan verwyder wat geteiken word omdat iemand nie van die inhoud hou nie.

Dan moet ʼn mens natuurlik ook verstaan dat Rogan vir Spotify miljoene dollar se inkomste beteken. Selfs al het Spotify nie een of ander beginsel gehad waarop hy die besluit baseer nie, sou dit beslis die regte sakebesluit wees om nie vir Rogan af te skop of te vervreem nie.

Rogan het dit reggekry om die perfekte kombinasie van persoonlikheid, trant van aanbieding, houding teenoor verskillende menings, inhoudelike verskeidenheid en blote fassinering in ʼn podsending te omskep. Sy episodes is gewoonlik tussen twee en vier uur lank met onderwerpe wat letterlik enigiets insluit. So is dit ook waar dat Rogan oor die afgelope twee jaar met talle gaste gepraat het wat alkante van entstowwe en Covid-19 bespreek. Rogan werk so dat enigiemand enige mening op sy podsending kan bespreek, solank as wat hulle dit net kan verdedig.

Hy gesels met almal, van Bernie Sanders, Elon Musk, Alex Jones, Mike Tyson, Kevin Hart, Ben Shapiro, Jordan Peterson, Russel Brand en Lance Armstrong tot Bill Burr. Sodoende het hy ook die anti-inentingsaktiviste ʼn geleentheid gegee om te praat. Dus dek hy die hele spektrum en luister ewe opreg na elkeen se mening – mits hulle dit kan staaf. Rogan is seker die definisie van onbevooroordeeld staan in skrille kontras met veral die sterk gepolariseerde Amerikaanse politiek en kommentariaat.

Joe Rogan (Foto: Carmen Mandato/GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

Rogan handhaaf tans ʼn gemiddeld van sowat 11 miljoen luisteraars per episode. Dit is moeilik om presies te verstaan hoe ver en wyd hy werklik mense bereik. Nie net het hy die grootste podsending ter wêreld nie, maar hy oordonder volledig die ganse TV-bedryf ook in terme van kykers. In 2021 het hy per episode sowat vier keer meer mense bereik as spitstyd TV-persoonlikhede soos Sean Hannity van Fox News. So ook het hy meer kykers/luisteraars as kanale soos CBS, NBC, ABC en Fox News. Rogan is nie net ʼn nuusmediareus nie, maar is besig om die ganse landskap van nuusmedia te verander.

Dit is moontlik toe te skryf daaraan dat die meerderheid mense aan een of ander vorm van algemene nuusuitputting ly. Dit is veral in die dikwels swaar gepolariseerde wêreld van nuus en politieke kommentaar. Rogan is juis nie ʼn toegewyde politieke kommentator nie, maar raak tog politieke kwessies aan. Hy bied ʼn uiters vermaaklike, neutrale, ligte, dog insiggewende platform. Massas mense verkies Rogan. Dit is ook hoekom die gedagte dat hy van die platform afgeskop kan en sal word eintlik lagwekkend. Die grootste omstredenheid wat rondom hom bestaan, is dan juis dat hy elke liewe kant van die spektrum dieselfde blootstelling gee.

Hierdie hele sage met Young het op die ou einde ʼn baie ironiese en toevallige stukkie sosiale en politieke kommentaar geword. Young se geskiedenis van politieke omstredenheid kom al ʼn lang pad. In die 1970’s het Young in twee afsonderlike liedjies sy teleurstelling en misnoeë uitgespreek oor die destydse rassistiese Suide van Amerika. In hierdie liedjies het hy in der waarheid ʼn hele strook van Amerika-stereotipes eintlik gewaarsku teen en kasty oor hul rassisme.

In reaksie hierop het die country rock-groep Lynyrd Skynyrd die reusetreffer “Sweet Home Alabama” geskryf. Die liedjie se lirieke maak dit ook duidelik dat die Suide die stereotipe verwerp omdat hulle weet wat hulle is en nie nodig het dat iemand hulle deur die bank rassiste noem nie. Young het self later erken dat hy hierdie kritiek teen sy krasse en neerhalende stereotipering verdien het. ʼn Vete tussen die sanger en die groep het op dié manier oor nie verder gewoed nie.

Wat die liedjie wel bevestig het, is dat mense oor die algemeen nie daarvan hou wanneer elites vir hulle probeer vertel wat hulle eintlik is nie. Veral nie as hulle gestereotipeer word as rassisties, seksisties, onderdrukkend en “deplorable” soos deur Hilary Clinton verduidelik nie. Mense weet dadelik as elites of die produkte van elites op hulle neersien.

Om dit terug in gesprek te bring met Rogan se buitensporige sukses. Die elites is selde volledig in voeling met dit wat gewone mense in hul massas dink en voel. Daarom het Young sy invloed radikaal oorskat en Rogan s’n radikaal onderskat met die ultimatum wat aan Spotify gestel is. ʼn Mens weet dan ook natuurlik nie of sy besluit uit eiewaan of blote beginselvastheid was nie. Hoe dit ook al sy, het hy uiteraard gedink dat die opweging in sy guns gaan draai. Die mense kies Rogan – hy verteenwoordig dit waarna groot hoeveelhede van die VSA waarskynlik smag in die wêreld van nuusmedia en die kommentariaat. Dalk is mense moeg daarvoor om so ongelooflik gepolariseerd te wees te midde van die groot politieke en kulturele krisis waarin die VSA tans is. Dit veral te midde van die radikale polarisering wat rondom entstowwe plaasvind.

Hulle wil, soos in Young se liedjie, nie hoor hoe rassisties hulle is nie. Hulle wil ʼn ligte liedjie hê wat hulle nie in oorvereenvoudigde boksies gaan plaas en stereotipeer of inperk nie. Die lied in hulle harte is blykbaar een wat klink soos Rogan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Helen

Well done mense is besig om wakker te word!

Marius

Al die bohaai. Wie is Young en Rogan nou eintlik ?

Jacob

Joe Rogan is uiters suksesvol om eerlike, ongekoopte inligting op ‘n openlike en objektiewe wyse aan te bied in ‘n wereld waar hoofstroommedia die omgekoopte spreekbuis is wat papegaai-agtig die narratief van farmaseutiese maatskappye en politici herhaal tot vervelelns. Hy laat hom nie voorskryf deur ‘n Fauci, Walensky, Gates of Bourla nie en versprei nie propaganda soos op netwerke soos CNN gedoen word wat openlik deur maatskappye soos Pfizer geborg word nie. Plaaslik word menseregte vertrap deur onwettige inentings mandate met eksperimentele chemiese middels wat oor en oor bewys bewys het dat dit nutteloos en gevaarlik is sonder dat dit… Lees meer »

Barend

Ek geniet dit as hy en Ben Shapiro saam is.

Riaan

Ou oom Klaus Schwab het ‘n organisasie in die ’90s begin “…Young Global Leaders School…”. Baie wêreld leiers wat vandag op die voorgrond is, het aan die skool gestudeer, insluitend baie van ons eie politisie soos Lindiwe Masibuko ens. Wêreld leiers soos Merkel, Macron, Gates, Bizos en Tredaux was ook deel van die studente. Die wêreld regerings is onder ‘n diep invloed van die Wêreld Ekonomiese Forum en beweeg in “Lock Step” om ‘n globale regering in plek te bring. Gaan kyk gerus na Klaus Schwab se Wikipedia blad. Hy erken dit openlik. ‘n “Open Conspiracy” vir die wêreld om… Lees meer »