Nuuskommentaar: Die nasie se mosie van wantroue in Zuma

President Jacob Zuma reageer tydens 'n vorige sessie op vrae in die parlement op 17 Mei 2016. Foto: Ntswe Mokoena

President Jacob Zuma reageer tydens ‘n vorige sessie op vrae in die parlement op 17 Mei 2016. Foto: Ntswe Mokoena

Formeel staan dit opgeteken dat die ANC (al weer) ’n mosie van wantroue teen pres. Jacob Zuma afgeslaan het. Trouens, in sommige mediakringe word nogal veel gemaak van die feit dat 58 van die 400 LP’s nie gestem het nie, skynbaar omdat hulle stokkies gedraai het of ander verpligtinge gehad het.

Die feit van die saak is egter dat van die 58 wat skoonveld was, sowat 35 van die ANC kon wees. Die ander 23 was van die opposisiepartye.

Die verskil in wegbly persentasiegewys tussen ANC-lede en opposisielede is negeerbaar klein. Kortom, niemand het gewen of verloor deur die wegblystem nie.

Dit beteken allermins dat die DA se mosie van wantroue ’n futiliteitsoefening was soos wat die ANC te kenne gegee het. Maar belangriker as die uitslag was die mosie van wantroue wat die ANC met sy besluit dat sy lede nie volgens hul gewete mag stem nie, aan van sy belangrikste ondersteuners en ondersteunersgroepe uitgedeel het; persone en groepe wat gevra het vir Zuma se uittrede of dat die ANC-lede van die Nasionale Vergadering volgens hul gewete kan stem.

Die broeiende paleisrewolusie in die ANC is met hierdie skuif beslis nie besweer nie – trouens, dit het die stille wrewel binne die ANC sekerlik net verder laat oppot.

Die groot geheim nou is dat die breë gemeenskap ander vorme van mosies van wantroue teen die president, en solank hulle Zuma só steun ook die ANC, loods sodat daar geen twyfel by die ANC kan wees dat die situasie demokraties onhoudbaar is nie.

Wat kan gedoen word?

  • ’n Skerp oog kan gehou word op die argitektuur van patronaatskap en staatskaping, sodat elke geval geopponeer kan word, soos deur sake hof toe te neem of op ander maniere die gekonkel aan die kaak te stel.
  • Elke geval van korrupsie kan aan die kaak gestel word deur dit by die regte liggame soos die openbare beskermer of die polisie aanhangig te maak.
  • Burgerlike instellings kan ondersteun word sodat individue so ver moontlik nie op eie houtjie die ANC se los drade probeer inkatrol nie.
  • Die media kan sy rol as waghond na behore vervul en politieke korrektheid onder groter druk plaas.
  • Sosiale media kan deeglik, maar verantwoordelik ingespan word.
  • Daar moet gesorg word dat die SAUK soos ’n regte openbare uitsaaier, en nie die regerende party se handperd nie, optree.
  • Daar moet ook deeglik voorberei word vir ’n volgende verkiesing.
  • Daar moet volhard word met alle parlementêre prosesse.

Hierdie optredes moet uiteraard nie-gewelddadig wees, en nie die groot poel van welwillendheid tussen die gewone mense van verskillende bevolkingsgroepe aantas nie.

Die ANC moet eenvoudig besef dat Zuma ’n te duur prys is om te betaal. En moenie ’n fout maak nie. Stembusskade maak seer en daarvan het die ANC nou vir die eerste keer ’n werklike voorsmakie gekry. Dit gaan nie net oor die setels wat verloor word nie, maar die groot getal ondersteunende, en veral politieke ondersteunende personeel.

Dit het onlangs geblyk dat Mangaung, eintlik net ’n blygemaakte metro en kniediep in die rooi, byna 200 sulke politieke aanstellings by verskillende ANC-ampsdraers het, wat die tariefbetalende inwoners miljoene rande kos. En hoe groter die potensiële skade met ’n volgende algemene verkiesing vir die ANC danksy die geklou aan ’n bewese skadelike president, hoe meer benoude kaders gaan daar wees.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

lettie ·

Die ANC steun n diktator, en beskerm n korrupte leier wat onbevoeg is om die land te lei. Diktator: Mense se regte beteken vir die regerende party niks. Heksejag word toegepas. Korrupsie is okay – steel maar want dis nie jou geld waaroor jy bekommerd hoef te wees nie. Maak die land arm solank dit nie jou sak raak nie. Die mense van SA se mening tel nie. Dis die boodskap wat die ANC gisteraand indirek verkondig. Die ANC het hul ondergang pas onderskryf vir die volgende verkiesing. Die spykers in die doodkis raak meer.

Theuns ·

More Herman. Daar is omtrent niks bytevoeg by jou skrywe nie. Jy bied ook waardevolle advies oor hoe ons moet waak om te verseker dat Zuma se patronaatskap gestuit word. Daar is egter een ding wat my bekommer en dit is die opposiesie lede wat nie gestem het nie? Is hulle dalk lede van Zuma se spioene wat die DA/EFF/VF+ geinfiltreer het? Ek sal nie verbaas wees nie. As hy besig kan wees met Staatskaping kan hy maar ook sy dinge doen met die opposisie partye. Die man moet mos weet wie en wat beplan sy ondergang? Groete.

Rynhardt ·

Gistraand het E-Tv berig dat Zuma het gese:”Die openbare beskermer het my nooit genader om my kant van die saak rakende die Guptas te stel nie!”Die OB het n bandopname beskikbaar gestel wat E-Tv gespeel het waar die OB vir Zuma ondervra oor die Guptas.Zuma het verkies om sy stilswye te handhaaf! So is Zuma uitgevang oor sy groot leuen! Dit wys jy kab nie n president vertrou wat jok nie, en dan beskerm sy geliede Anc hom nog in parlement ook.Dit moet baie mense laat regop sit in SA! Die eed wat Zuma en sy kabinet jare gelede afgele het, beteken absoluut niks vir hierdie mense nie!

Jan ·

Ons is nou al vasgevang daarin om op die vlak van ‘n kleuter met die regering, plaaslik en nasionaal en studente te kommunikeer. In kabouterland gaan dit beter.

Grassie ·

Ek het die debat in die parlement op TV gevolg en gou opgemerk dat die opposisie en die ANC die hele debat uit twee verskillende oogpunte benader. Opposisiesprekers het aanvalle teen Zuma se bevoegdheid om te regeer geloods, terwyl ANC-sprekers weggeskram het van Zuma en die mosie as ‘n aanval deur die wit sakelui teen die ANC probeer afmaak het. Een minister het so ver as die Boereoorlog teruggegaan om te wys hoe die wittes die swartmense mishandel en misbruik het terwyl ‘n ander minister gesê het Maimane is bloot ‘n “black face” wat ryk witmense se belange beskerm. Die “ongeregtighede van apartheid” is ook kort-kort opgehaal. Een ding het vir my duidelik geword – hul haat vir ons wittes is groter as hul afkeer in Zuma se onbevoegdheid en korrupsie. Daar lê vir ons bitter tye voor.

Emile ·

Vir my is hierdie goeie nuus.

Dit beteken Zuma en sy kornuite grawe net die gat van hul eie ondergang dieper. Die massas is nie so onnosel soos hy, of soos hy dink hulle is nie en die 2019 verkiesing is naby. Hy laat die ANC stemme bloei wat hulle evrswak. En dis goed so.

Ou Vlakvark ·

Die sepie “South Africa Animal Farm Post 1994” belig elke dag die feit dat ons veel besingde reënboogkleurige grondwet baie areas vir grootse verbetering het.

Ek stel voor dat die geagte regsgeleerdes in konstitusionele reg onverwyld handevat en begin skrywe aan die volgende grondwet “#SouthAfricaAnimalFarmFIRST” en die vlerke en rol van die volgende staatspresidente drasties knip.

John ·

Zuma sal ons landsekonomie saamvat as hy ondergaan. Hy wil eintlik eerder aanhou regeer want wat sal hy gaan doen as hy nou aftree? Op Nkandla se stoep sit? Hy is totaal ongewild in die Weste en onbetroubaar. Wie sal geld skenk vir ‘n Zuma-stigting as hy nie meer die toutjies kan trek nie? Die Guptas kan ook nie meer op hom reken nie en wil nou maar self ‘n bank koop waar hulle ongehinderd kan woeker. Dis dalk al plek waar hy ‘n pos sal kan kry… maar as wat?

Thyskotze ·

Hier in Matjabeng( Welkom )hoor ek ons vulles lorrie word gehuur by guptas betroubare bron.Hulle ou voertuie is gekonfiskeer weens skuld 3weke gelede is geraporteer dat oor die70 voertuie was gesteel waarvan klomp terug gekry is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.