Nuuskommentaar: Die Nugent-verslag en wysheid en insig

Die Nugent kommissie van ondersoek. Foto: ANA

Maroela Media het besluit om van Saterdag 21 Desember af vir lesers minder negatiewe nuus aan te bied, en vir hulle ’n Goeienuus-Kerstyd te bring. In hierdie nuuskommentaar word nou wel nie goeie nuus gebring nie (behalwe dat die Nugent-kommissie tot die wortel van die staatskaping-probleem kon deurdring), maar daar is probeer om die swaarmoedigheid te verlig deur dit in te kleur met wyshede, dikwels tong-in-die-kies bedoel, van afgestorwe wyses uit ’n verskeidenheid tydvakke van die geskiedenis.

Die uitwerking van staatskaping kan ’n harde hou toegedien word indien pres. Cyril Ramaphosa die Nugent-kommissie van ondersoek na die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) ter harte neem. Maar dan moet Ramaphosa nie die oog op kiesers hou oor wie se koppe die donker Zuma-skadu hang nie.

Langenhoven het immers geskryf: “Die teëspoed sif die vriende uit wat die voorspoed geoes het,” en “Die prys van vrede is vooruitbetaalbaar, dié van twis agterna.”

Wanneer Ramaphosa die verslag van die Nugent-kommissie van ondersoek van die Inkomstediens oorweeg, sal dit hom loon om die wyshede van ’n paar bekendes van toet tot meer onlangs ter harte neem. Die belangrikste is seker ’n wysheid van Salomo: “Sorg dat jy wysheid bekom, en insig! Moenie my woorde vergeet en daarvan afwyk nie; maak die wysheid jou metgesel, dit sal jou beskerm; as jy dit liefhet, sal dit jou veilig bewaar. Die wysheid kom eerste. Sorg dat jy wysheid bekom, gee alles wat jy het, om insig te kry!”

Indien die president versigtig sou wees om tot die hart van die SAID, soos verongeluk deur sy voorganger Zuma, en Zuma se handperd Tom Moyane, gaan hy met ’n geplunderde perd opgesaal sit wat van buite blink, maar soos Langenhoven gesê het: “Aan ’n nuwe wa kan jy sien of dit ’n goeie skilder was, aan ’n oue of dit ’n goeie wamaker was.”

Gaan Ramaphosa homself as goeie skilder, of goeie wamaker openbaar? Sy wegspring was nie goed nie, en het erg gemengde seine uitgestuur. Sy oog is waarskynlik op die verkiesing van volgende jaar gerig, en daarom probeer hy ’n kiesersoes verseker waar die meeste kiesers hulle bevind. Daar hang die Zuma-skadu steeds donker oor die aarde.

Ook hiervoor het Langenhoven raad: “Borgskap is ’n kind van vriendskap, maar hy vermoor graag sy ouer.” Tree te sag op teen die plegers van staatskaping, en hulle bly sterk genoeg om jou in die rug te byt.

Nugent beveel aan dat Moyane ook, soos sy baas, self instaan vir die regskoste wat aangegaan is om sy persoonlike litigasie te finansier, eerder as die SAID s’n. Soms het Moyane sy eie belang probeer verdoesel, maar Nugent sien dwarsdeur die slenter. Tog bly Moyane skynbaar vol selfvertroue en ag hy homself baie hoog, soos dat hy verkondig dat dit in die SAID se beste belang is dat hy heraangestel word.

Volgens Nugent het Moyane die skip verpas om goed te doen terwyl hy die kans gehad het, en verkies om erg droog te maak en talle toegewydes se toekoms te verwoes. By William Penn, stigter van die Amerikaanse staat Pennsilvanië, kan Moyane die volgende les leer: “We are apt to call things by wrong Names. We will have Prosperity to be Happiness, and Adversity to be Misery; though that is the School of Wisdom, and oftentimes the way to Eternal Happiness.”

Of miskien ’n ander wysheid van Penn: “Do good with what thou hast, or it will do thee no good.” Moyane se “prys” dat hy drooggemaak het toe hy goed moes doen, is dat hy nou afgedank is.

Moyane wek die indruk dat hy nog nie verslaan is nie. Hiervoor het die antieke Chinese generaal, Sun Tsu, ook raad: “Wie weet wanneer om te veg, en nie te veg nie, sal oorwin.” Langenhoven se raad sluit hierby aan: “Die prys van vrede is vooruitbetaalbaar, dié van twis agterna.”

Die tong-in-die-kies-spel met die wyshede van vorige geslagte bring een boodskap aan Ramaphosa tuis – lê insig, gebore uit wysheid, aan die dag. Moenie soos Zuma maak en die ore aan elke Jan Rap en sy idiotiese maat gaan uitleen nie. Zuma het immers die spreekwoord bevestig: “As een blinde hom deur ’n ander blinde laat lei, val albei in die sloot.”

Kortom, pas die aanbevelings van die Nugent-kommissie nougeset toe. Anders het die belastingbetalers weer die hand diep in die sak gesteek om wéér ʼn vrot windeier aan te skaf.

En die graderingsagentskappe gaan … wel, dit nie goed verteer nie.

Ramaphosa se hardkoppige volharding met planne vir grondonteiening sonder vergoeding kleef reeds soos melaatsheid aan hom en rig enorme skade aan die ekonomie aan.

Ook in ander opsigte, soos nou blyk uit sy Versoeningsdag-toespraak, werk hy homself dieper in die rooi. Hy het reeds gesê hy het nie geweet dis so moeilik om president te wees nie. Maar hef aan lê nog vir hom voor, en hy maak dit vir homself al moeiliker. Penn het nog ’n paar lesse vir Ramaphosa, maar die volgende is dalk as noodmaatreël iets wat ter harte geneem kan word: “Never give out while there is Hope; but hope not beyond Reason, for that shews more Desire than Judgement.

“It is a profitable Wisdom to know when we have done enough: Much time and Pains are spared, in not flattering ourselves against Probabilities.”

Wanneer die president weer ’n slag sy ampseed gaan lees (iets wat sy voorganger te min, indien ooit gedoen het, kan hy die volgende teks uit 1 Johannes 4 met groot gerustheid ter harte neem: “Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde.”


  • Maroela Media het ʼn skarebefondsingsprojek op die webwerf BackaBuddy van stapel gestuur om Herman Toerien te help om fondse vir sy kankerbehandeling in te samel. Klik hier om meer te lees of om Herman deur BackaBuddy finansieel te ondersteun.
  • Indien jy ʼn direkte bydrae in die Toeriens se bankrekening wil maak, stuur ʼn e-pos na [email protected] met “Herman Toerien” in die onderwerpveld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Katerina ·

Nee wat moet ons nie die slegte nuus spaar nie. Misdaad rus of slaap nie oor die Kersgety. Dit kan n lewe red om te weet wat in n mens se area gebeur het. Ek weet julle bedoel goed maar op hierdie tyd in Die land is dit gevaarlik om nie te weet wat regtig aangaan nie.

Daan Erasmus ·

Nuus = waarheid. Dit is so. Maar die 2000 mense wat hul bestemming bereik is nie nuus nie. Dit is die 20 wat dood is wat die koerant haal. Mag jy nie op die manier die koerant haal nie.

Antjie ·

Nóg ren vir mnr Prez:
Kyk dat niemand weerwraak neem nie, maar streef eerder altyd die goeie na – vir mekaar en vir alle mense.
I Tessalonisense 5:15 NLV

Paul ·

Herman, gelukkig het jy hierdie rubriek vroegtydig geskryf, ek kan nou ‘n kopie daarvan maak, dit in ‘n rooi kous sit en vir onse President Cyril as Kersgeskenk laat aflewer. Ek hoop hy sien daar is vir hom ook ‘n Nuwejaar boodskap in.

Paul ·

So terloops, ek gaan ook ‘n kopie van jou skrywe vir myself hou, dankie vir jou insig en wysheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.