Nuuskommentaar: Die nuttige idioot

Die politiek sou ‘n veel makliker speelveld gewees het as almal hul stemme uitgebring het vir partye wat min of meer die beleid handhaaf wat die kieser se eerste keuse verteenwoordig. Dat dit duidelik nie die geval is nie, blyk nou daaruit dat twee ANC-lede in die Nasionale Vergadering skei gebreek het en nie vir die omstrede inligtingswetgewing gestem het nie. Die ANC het vooraf dit duidelik gemaak dat sy lede verplig sal wees om die wetgewing te steun. Nogtans het beide skeibrekers hul lojaliteit teenoor die ANC verklaar.

Die begrip “nuttige idioot” is wyd gebruik om naïewe Sowjet-ondersteuners in die Weste mee te beskryf. Dit het gewoonlik op mense gedui wie se hele lewensuitkyk strydig was met dié van Lenin en Stalin, maar voortgegaan het om te glo hulle deel gemeenskaplike waardes, soos meningsvryheid. Hoewel die gebruik van die term wyd aan Lenin toegeskryf is, kon dit nooit uit sy eie literatuur bevestig word nie.

‘n Interessante voorbeeld was die jong Britse meisie, Freda Utley, wat so ver gegaan het om na Rusland uit te wyk waar sy self die Utopia wat sy so aangehang het wou beleef. Sy tree met ‘n Rus in die huwelik, wat gou na ‘n Arktiese strafkamp gestuur en gefusilleer word. Freda wyk na die VSA uit waar sy as ontnugterde ‘n groot kampvegter en skryfster teen kommunisme word. Ook haar seun, Jon Basil Utley, neem gereeld die pen teen diktators op.

Namate die ANC se bewind vorder, raak al hoe meer van sy tradisionele liberale ondersteuners ontgogeld. Met die kritiek in die buitelandse media oor die Nasionale Vergadering se stemming oor die wetsontwerp, is selde nagelaat om te meld dat Nadine Gordimer en Biskop Tutu ook die wetgewing veroordeel. Ook Freedom House en Verslaggewers Sonder Grense rakel dit op – duidelike aanduidings dat dié organisasies meen die ANC se gewaande of werklike ideologiese kompas het die kluts kwytgeraak.

‘n Goeie voorbeeld van ‘n ontnugterde is Breyten Breytenbach, wat self eens die land met ‘n vermomming en vals paspoort ingeglip het, en tronk toe gestuur is. Breyten is al jare ‘n bitter kritikus op oud-pres. Nelson Mandela. Hoewel sy kritiek al van lank voor 2008 af kom, het dit soos selde tevore in daardie jaar na die oppervlak gebars toe hy in ‘n ope brief ‘n striemende aanval op dié eertydse staatshoof geloods het. In nog ‘n geval het hy Mandela Moneydela genoem.

Nog ‘n bekende ontnugterde, is die rissiepit kommentator, Rhoda Kadalie. Na sy aanvanklik, in haar eie woorde, baie gevlei was dat pres. Mandela haar as meseregtekommissaris aangestel het, het sy in 1997 dié instelling erg gefrustreerd verlaat. Sy maak geen geheim daarmee nie dat sy, soos sy dit stel, gatvol vir die ANC is nie. Die ANC, met sy bande met die SAKP, is inderdaad nie ‘n maklike teelaarde vir vrydenkers soos Turok en Kadalie nie. ‘n Bekende verskynsel is om as troosprys vir die stroping van tradisionele Afrikanerhelde dan veral Bram Fischer as Afrikanerheld te probeer opdwing. Fischer se betrokkenheid by die SAKP het grootliks met die skrikbewind van Stalin ooreengeval.

Prof. Ben Turok is ‘n ou ANC-veteraan wat in 1955 ‘n groot aandeel gehad het in die skryf van die Freedom Charter. Hy het hom kort voor die stemming oor die Inligtingswet uit die voete gemaak. Die ander, Gloria Borman, meen dié wetgewing sal die stryd teen korrupsie bemoeilik. Sy meen nogtans die ANC is verbind tot die stryd teen korrupsie – ‘n standpunt wat die meeste onafhanklike waarnemers en Transparency International sal laat glimlag.

In ‘n politieke landskap wat deur partye met ‘n humanistiese inslag oorheers word, is dit te wagte dat daar botsing sal kom as die meerderheid van die land se inwoners selfverklaarde Christene is. Die ANC is al tevore geraak deur die wegbly van lede wanneer oor omstrede kwessies soos aborsie-wetgewing gestem moet word. Die DA het in die verlede sy lede losgemaak van koukusbesluite om volgens hul gewete te stem, byvoorbeeld juis oor die aborsiekwessie maar onder meer ook oor gay huwelike en die doodstraf. In ‘n gewoonlik koukusgebonde demokrasie is dit is uiteraard net ‘n luukse wat ‘n partye kan hê as dit in die opposisie is – as ‘n party ‘n regerende party is sal dit ‘n ramp afgee as ‘n party se eie wetgewing deur sy eie lede afgestem word.

Terwyl die ANC ontstoke is oor die twee wat buite stemming gebly het, en veral omdat hulle hul monde teenoor die media daaroor uitgespoel het, is daar minder vrae oor die 34 ANC LP’s wat nie in die parlement was nie al is almal vir die stemming opgeroep. ‘n Paar hiervan sou weens onvermydelike omstandighede soos siekte of ander amptelike verpligtinge nie teenwoordig kon wees nie.

‘n Groter probleem is die opportuniste wat ter wille van die eie sak hulle by die regerende party inwurm. Hierdie ruggraatloses maak dit moeilik vir beginselvastes om eroderende kwessies soos die Malema-verskynsel sinvol te bestuur, omdat die opportuniste nie handel volgens die oordeel van die party of die land se beste belang nie, maar dit wat aan hulself die langste moontlike kaartjie op die soustrein besorg. Nie al die ruggraatloses beland in die parlement nie – sommiges kry ander poste as deel van die regering se ontplooiingstrategie. Hier en daar raak van hulle ook ontnugter en begin hul monde uitspoel – en loop teenspoed op die lyf.

Die nuttige idiote sal altyd deel van die politieke spel bly. So lank hulle geduld word, dien die meeste darem as gewete in die binnekring. Uiteindelik handel demokrasie egter oor die reg om vir jou eie beginsels te stem, en daardie stem vir die regte party uit te bring. Anders is dit geen ware demokrasie nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.