Nuuskommentaar: Die onding en die kuns van kluitjies bak

waarheidOp ’n daaglikse grondslag gebruik ons woorde soos endemiese korrupsie, wanadministrasie, bedrog, onbevoegde ontplooide kaders, vermorsing en veel meer. Maar die waarheid, of die gebrek aan die waarheid, is ook ’n groot probleem. Die waarheid is nie, soos ’n politikus eendag gesê het, die geplooide weergawe wat hy voorhou nie.

’n Vorige premier van Mpumalanga het by geleentheid gesê dit is heel in die haak vir politici om kluitjies te bak. Daar is vreeslik met hom die spot gedryf.

Om enige regeringstelsel goed te laat funksioneer moet die besluitnemers oor die regte inligting beskik, al is dit ook nie inligting waarvan hulle hou nie. Baie lande stel hiervoor intelligensiedienste in wat objektief na sake kyk, en die regering dienooreenkomstig inlig.

Volgens een oorlewering is daar darem een kluitjie wat ’n man uit noodweer moet vertel, en dit is as vroulief vra of haar sagopoeding so lekker soos sy ma s’n is.

Op die oog af lyk dit of die regering vooraf erg verkeerd, of glad nie, oor die verwikkelinge by Marikana ingelig is nie. ’n Duur prys is betaal.

Verslae op verslae lui hoe wonderlik vorder getenderde projekte, net om op ’n dag aan die lig te kom die bouaannemer het voet in die wind met sy geld geslaan en nog byna niks is gebou nie – en dit wat gebou is, moet gesloop word.

Met die Nkandla-sage was daar ’n reuseverdoeseling van die waarheid. Skynbaar is geglo alles “bly reg” solank die verkeerde goed nie bewysbaar in die openbare domein beland nie.

Die taak van die parlement word baie bemoeilik as hulle in komitees halfgebakte verslae van departemente kry. Soms is dit gloeiende verslae van hoe goed dit gaan, en dan kom die ouditeur-generaal se verslag oor daardie einste departement en die prentjie lyk heel anders.

Natuurlik is werkloses en mense in informele nedersettings ook nie so in hul skik met die verslae wat wys alles verloop klopdisselboom nie.

Tog is daar heelwat politici wie se geloofwaardigheid erg aan flarde geruk is, wat steeds die houding inneem van “wat ek sê, is die waarheid”.

In 1929 het Aldous Huxley geskryf: “Feite hou nie op bestaan omdat hulle geïgnoreer word nie.”

En dis harde lesse wat Zuma nou met Nkandla, die staatskaping en sy “verdwene” aanklagte van onder meer korrupsie moes leer.

“Al loop die leuen hoe snel, die waarheid agterhaal hom wel.”

Die media het ’n baie groot rol as waghond te speel om die waarheid te weet.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Theuns ·

Baie goeie artikel. By ‘n vorige geleentheid het jy geskryf van ” Die Volle Waarheid en ander Liegstories”. Die SA Intelegensie dienste kan nie eintlik die Regering adviseer nie want hulle is self te besig om te steel, vat nou maar die ou, so word beweer, wat betrokke is by Renoster Stropery? Met groot bravade word die Munimum loon van R3500.00 aangekondig. Die regering is bv nie geadviseer oor wat dit gaan doen aan werkloosheid nie. En in die lig van die miljoene buitelanders wat in die land is gaan meer Suid Afrikaners werkloos raak en nog meer toegang vir nog buitelanders skep om oor die grense te kom! Boere kan nie meer Suid Afrikaanse plaaswerkers bekostig nie en gaan buitelanders in diens neem vir so min as R500 ‘n maand en ‘n sak meel. Dit gaan die veiligheid op plase ook beinvloed maar as jy moet oorlewe dan doen jy maar wat nodig is! Hier kom nog meer moeilikheid.

Rupert Ashford ·

Dit is nou AS die media hom verwerdig om sy waghondfunksie te vervul en nie ook maar net sy eie agenda dryf en deel van die hogere establishment word wat vir die gewone plebs vertel hoe hulle moet dink en moet optree en moet stem nie.

Derek Meyer ·

Op Maroela Media sien ons mense wat nie die waarheid skryf nie. Een voorbeeld is daai ou wat geskryf het oor Klimaatbverandering. Hy het geen idee hoe die natuurwetenskappe werk nie.

So, hoe gaan ons daarteen kapsie maak?

Die manier is om mense op te voed in waarhede.

REAList ·

Die verantwoordelike media (lees dit as nie-gekaap nie) beskou ek as die spilpunt van die skaal tussen “good and evil”.
Die draaipunt skuif wanneer mense hulle opinies wil verkoop as die waarheid.
Die media moet aanhou om halwe waarhede, waarmee die ANC so graag volhou, bloot te stel.
Dit word baie waardeer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.