Nuuskommentaar: Die “ontydige vraag” – wie is of was SA se duurste president?

Minister Tito Mboweni. (Foto: Nokuthula Mbatha/ANA)

Tito Mboweni, minister van finansies, was volgens Dawie Roodt brutaal eerlik met sy mediumtermyn-begroting, maar wat is die kanse dat die regering dié keer sy Achilleshiel (gesukkel om te “deliver”) doeltreffend gaan aandurf? Die land is immers in groot moeilikheid, aldus ekonome.

Kort nadat die grondgrypplanne sonder vergoeding saam met pres. Cyril Ramaphosa formeel deel van die ANC-beleid geword het, het ’n bekende Afrikaanse ekonoom wat nie te veel oor politieke korrektheid begaan is nie, gesê die skade van dié planne is reeds na die ekonomie oorgeplant. Met die verslagdoening oor die stand van die ekonomie tydens gister se mediumtermynbegrotingsrede was dit duidelik daai saadjie het nie sedert dit deel van die ANC-beleid geword het, net latent daar gelê nie. Dit het ’n enorme boom geword. Van die boom is verwag om te groei sonder dat dit met noodsaaklike bemesting versorg is, en dit het self kos ingeneem deur die grond van sy natuurlike voedingstowwe te stroop.

Dit sal interessant wees as ’n bekwame bedryfsekonoom die dag gaan sommetjies maak wat elke president die land se ekonomie deur beleidsuitsprake en -flaters gekos het.

Oudpres. Jacob Zuma in die beskuldigdebank. (Foto: Michele Spatari/ AP)

Presies hoeveel miljard rand sou oudpres. Jacob Zuma se honde-uitspraak, of die bekookte wyse waarop Nkandla gefinansier is, die ekonomie gekos het? Ja, om die trefkrag van regstreekse onregmatige uitgawes te bereken, kan selfs ’n syfer-dommie soos die uwe doen, en dit sonder die hulp van ’n superrekenaar. Maar as die versluierde koste, die onregstreekse koste, die versteekte koste, en die sleureffek daarvan op beleggersvertroue ook ingewerk word, soos die verskuiwing van inkomstegenererende beleggings na die buiteland, alles in die brousel geklits word, sal selfs ’n genie meer as net ’n sakrekenaar, selfs ’n baie slim een, nodig hê om die koste te bereken.

Kom dit by Ramaphosa, hoe word die uitkringeffek van die grondgrypplan op die ekonomie bereken, selfs al word hard probeer om dit so aantreklik moontlik op te dis?

Wat is die uitkringeffek daarvan om te sê Eskom, Transnet, SAL, Denel en ander semi-staatsinstellings gaan reggeruk word, maar dikwels gebeur die teenoorgestelde? Die gevolge is lank nie meer net nog ’n lekseltjie slegte nuus nie – die lomp hantering van die situasie het soveel negatiewe gevolge dat dit wesenlik gevaarlik vir die ekonomie word dat dit ’n lamte in die produktiewe sektor tot gevolg het – weer eens met ’n uitkringeffek, en uiteindelik ’n sleureffek sonder doeltreffende remme.

Pres. Cyril Ramaphosa tydens Dinsdag se bekendstelling van die forum. (Foto: GCIS)

Presies wat is die gevolge as die president die mees gerusstellende woord oorsee oor ’n bepaalde saak gaan spreek, maar nadat die JSE positief daarop reageer het, blyk dit in die praktyk ’n wolhaarstorie te gewees het, en niks of baie min gebeur aan die inwerkingstellingsplan. Of, onder druk van vakbonde wat weerskante van die grens van ekonomiese sabotasie funksioneer, word selfs ’n goedbedoelende president ontman om die regte ding/belofte te doen.

Vanoggend lui ’n opskrif: “Tito se ekonomiese plan aangepas vir vakbonde”.

Die opskrif kon, hoewel polities inkorrek, netsowel gelui het: “Rampspoed tref Tito se ekonomiese plan”.

Nie dat Tito se hardkoppigheid oor e-tol nie self ’n soortgelyke uitwerking het nie as om aspris ’n sakkie tamaties met ’n vrot een of twee daarin aan te skaf ter wille van bykomende geur nie.

Die wortels kan ver teruggevoer word. Met die eerste sitting van ’n provinsiale wetgewer in 1994 wou die premier weet wanneer die lede hul dagtoelaag kan verwag. Die provinsiale tesouriehoof verduidelik as almal in die stroombaan dadelik volle aandag skenk en ’n spesiale spoedlopie deur die stelsel insit, kan die tjekkie oor sowat ’n week verwag word. Die premier deel die provinsiale tesouriehoof eenvoudig mee: “Jy het my nou heeltemal verkeerd verstaan. Ek wil weet hoe laat VANDAG kan die mense hul tjekkies te wagte wees?” Die tjeks was dieselfde dag nog gereed.

Terwyl die “civic” gedrewe comrades deur hul leiers voorgesê is om die vorige administrasie van ’n gebrek aan “transparency” te beskuldig, het ervare amptenare gemaan dat die nuwe administrasie ’n kapasiteitsgebrek het vir “delivery”.

Op die gevaar af om na ’n tradisionele kora (’n inheemse Afrika-instrument met 21 snare) met net een snaar te klink, is “delivery” erg in die wiele gery terwyl eenvoudig te veel amptenare uitgepluis het hoe die alewige tsjôtsjô (omkoopgeld) in die leweringstelsels geïntegreer kan word. Dis nou die euwel wat Zuma ’n “Westerse konsep” genoem het, maar wat Suid-Afrika stellig weer weens die belaglikheid van die stelling miljarde rande aan beleggings gekos het. Om droogmakery te gaan “regverdig” as “struggle-boekhouding” het ook ’n pynlike uitkringeffek op die ekonomie gehad. So ook die ontbinding van die Skerpioene, terwyl almal geweet het wat die werklike rede daarvoor was.

Die onvermydelike gevolg is ’n mediumtermynbegroting wat nie meer al die letsels kan verdoesel nie, en die ANC se vermoë om verkiesing ná verkiesing die “goeie storie” op te dis en as bollie uit te wys.

Is die beoordeling hier bo te kras, of selfs vals? Daar is immers goeie tekens ook.

dawie-roodt-begrotingsrede-2018

Dawie Roodt. (Argieffoto: Reint Dykema/AfriSake)

Maar as kenners onder meer die volgende opmerkings in reaksie op die begroting maak, is dit moeilik om kritiek bloot as politieke opportunisme af te maak:

  1. Die begrotingsrede was brutaal eerlik en uitstekend, maar die veranderinge wat daarin voorgestel word, is vyf jaar te laat. Die voorstelle van die minister is goed, maar onhaalbaar. – Dawie Roodt
  2. Die land is in groot moeilikheid. Ons sien dit aan syfers van die effektebeurs, die markte sê dit en die rand sê dit. Ons skuldvlakke is die hoogste wat dit nog was sedert die BNP aangeteken word. – Mike Schüssler
  3. Noodmaatreëls moes ingestel word, maar geen noodmaatreëls is ingestel nie. – Roodt en Schüssler

(Lees gerus die volledige berig in Maroela Media hier).

Die reaksies van die DA en die Vryheidsfront Plus loop ook nie oor van menings dat sake blink vir die ekonomie lyk nie. Lees gerus hier.

Sake gaan nie regkom deur net te vertel alles is op koers nie.

Hier gaan vinger getrek moet word – ook nie net deur kundige en eerlike mense nie. Die politici sal die hardste moet vinger trek, en daar sal eers ’n ooraanvraag van oranje oorpakke moet wees om die uitgesuigde eerlikes se vertroue te herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Piet parys ·

As ek ń mimister is sal ek ook e – tol wil laat behoue bly want dan baat die land daarby en dan kan ek as minister nog voordele inpalm soos soos om soos huidiglik geen tolgeld te betaal nie . Of almal betaal uit eie sak of niemand betaal noe . Dit sluit taxis in . Geen vrywaring vir niemand nie . Soos ek dit het moet daar ń alternatiewe pad wees sodat jy ñ keuse het . Indien daar ñ alternatiewe pad is moet hy ook in sodanige toestand gehou word dat hy bruikbaar is.

KrokodilBotha ·

Die flaters het in 94 begin. Mense het ingestem vir jare se flaters. Dis nie die einde van flaters nie.

Feite ·

Om die Eskomplan wat geskryf was vir implementering gedurende 1998, nou te wil implementeer is te min en te laat, omrede vakbonde na staatskaping, die energievoorsieningsmonopolie beheer (die stert swaai nou die hond). Onherstelbare skade is reeds aangerig deur staatskaping en meer so ook deur die handhawing van die staatskaping status quo deur CR en sy regerende party. Dit gaan CR wees wie by verre SA se duurste president gaan word, indien hy dit nie reeds is nie. Met CR aan bewind gedy wanbestuur, korrupsie, georganiseerde misdaad, werksverliese en staatsskuld soos nog nooit tevore. Teen 29% werksloses brei die welsynstaat nie net in getalle uit nie, maar ook met die uitbetaling van “grants”. SA se “innings” is so te se verby!

John ·

Ons het so te sè ‘n eenpartystaat met menige bedorwe kinders, praat nie eers van die
29 000 wat sakke vol geld maandeliks bank nie, maar skaamteloos die armstes minag. Eskom is van toendertyd af deur vreemde karakters misbruik vir vreemde aksies soos die invoer van plastieksakbelasting en ever-ever-gloeilampies wat gratis uitgedeel is (Wie het hieruit gebaat?). Eskom & kie is deur mense platgery, nie deur kabouters nie.. of dalk wel. Wie staan pa vir die spul? Kersvader wat nou weer bonusse en nuwe merc’s vir die feestyd moet laat aflewer? En die waterprobleem is totaal geìgnoreer. Hier kom groter krisisse.

Ella ·

Die toespraak is minder werd as die papier waarop dit geskryf is.
Mnr, Mboweni is op geleende tyd.
Hy gaan binnekort afgedank word want sy voorstelle staan hulle nie aan nie.
Sy humor tydens die toespraak is maar wrang en uit pas met die erns van die saak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.