Nuuskommentaar: Die oog op die bal, en nie net op Zuma

Verskeie media-instansies het die afgelope tyd kommer uitgespreek oor die kwessie dat die veldtog teen pres. Jacob Zuma die kollig so bly steel dat ander belangrike nuusgebeure nie die nodige aandag kry nie. Ons kyk vanoggend na enkele sake wat nie deur die nuuskrakies behoort te val nie.

Met die veldtog om van pres. Jacob Zuma as regeringshoof ontslae te raak, is daar ’n hele paar ander kwessies wat ook vanuit ’n nuusoogpunt belangrik is, maar nie altyd so helder in die soeklig val nie. Van hierdie gebeure speel egter weer duidelik sterk op die Zuma-kwessie in. Ons neem ’n paar hiervan kortliks in oënskou sonder om voor te gee dat dit al is, of dat dit in die volgorde van belangrikheid is:

Fikile Mbalula. Foto: Flickr/GovernmentZA

  • Die aanstelling van Fikile Mbalula as minister van polisie. As minister van sport was hy dikwels erg omstrede en duidelik erg uit sy diepte. Bepalings in die grondwette van verskeie groot internasionale sportliggame dat regeringsinmenging in daardie sportsoorte, asook rassisme, nie geduld word nie, is blatant geïgnoreer. As minister van polisie het hy op die oog af sy voete beter gevind en toegelaat dat die omstrede Berning Ntlemeza as waarnemende hoof van die Valke ingevolge twee hofbevele die trekpas kry. Die skadukant is egter dat hy bewerings verontagsaam dat die waarnemende polisiehoof, Khomotso Phahlane, se verlede nie onkreukbaar was nie. Verpligte verlof tot die ondersoeke afgehandel is, sou meer as aangewese wees. Die grootste vraagteken is egter hoe hy as minister van polisie aangestel kan word terwyl sy vrou, Nozuko, saam met onder andere Hlaudi Motsoeneng, as verdagtes genoem word in verband met beweerde huisvestingsbedrog in die Vrystaat ter waarde van sowat R1 miljard. Dié uitbetaling vir huise wat nie gebou is nie, is volgens die klag wat onder meer by die hooggeregshof ingedien is, deur die vorige LUR van huisvesting, en nou minister van minerale, Mosebenzi Zwane, gelas en onderteken om te keer dat die geld as onbenut na die staatskas terugval. As Mbalula, as Zuma-parasiet, dan ’n ministerspos moes kry, sou ’n ander portefeulje as dié van polisie aangewese wees.
  • Die aanstelling van die omstrede Malusi Gigaba as minister van finansies, het bygedra tot die land se rommelstatus aan die hand van twee graderingsagentskappe. Ekonome waarsku dat Gigaba se reddingspoging na die VSA nie gaan verhinder dat Moody’s die land ook afgradeer nie. Hy het werklik verbrou deur sy omstrede adviseur, prof. Chris Malikane, saam te neem. Voeg hierby dat Zuma en nou ook Nkosazana Dlamini-Zuma, tuis retoriek opdis wat nie juis musiek in die ore van kundige ekonome en verantwoordelike beleggers is nie.

Nkosazana Dlamini Zuma. Foto: Flickr/GovernmentZA

  • Nkosazana Dlamini-Zuma se aspirasies om president te word, word openlik deur haar gewese man, Jacob, ondersteun. Sy het in ’n patetiese naprater van Zuma ontaard, en oortree blatant die ANC se verbod om nou al stemwerwing te doen. Sy is van presidensiële wagte voorsien wat aan haar status verleen. Volgens verskeie kenners loop sy nou “los voor” in die stemwerwing teen byvoorbeeld adjunkpresident Cyril Ramaphosa, wat die verbod op stemwerwing nougeset volg. Trouens, hy en ander prominente ANC-lede wat dit al duidelik gemaak het dat hulle Zuma se kop eis, was stil nadat die ANC hulle gedwing het om om verskoning te vra. Met Nkosazana wat as voltydse lofsanger vir Zuma optree, het Ramaphosa, dr. Blade Nzimande en sekretaris-generaal Gwede Mantashe, pas ook weer hul openlike kritiek op Zuma hervat.  Bewerings oor die moontlikheid dat die ANC kan skeur, kom nou gereeld uit die ANC se eie geledere.
  • Hou ook die oog op verskeie hofsake wat dit tegnies moontlik kan maak dat Zuma ’n komende mosie van wantroue in die parlement kan verloor, of minstens dat sy beeld erg geknou kan word. Op die langer duur vandat hy op meer as 700 aanklagte van onder meer bedrog teregstaan. Sy poging om ’n aanbeveling van die vorige openbare beskermer te systap dat die hoofregter (en nie Zuma soos die Grondwet voorskryf nie) ’n voorsitter aanwys vir ’n kommissie van ondersoek na staatskaping, kan ook in sy gesig ontplof.
  • Dit sal onverstandig wees om sommer by voorbaat veel van die pas gestigte Freedom Movement te verwag. Die potensiaal moet egter nie in die wind geslaan word nie.
  • Die stigting van ’n nuwe vakbondfederasie, South African Federation of Trade Unions, met Zwelinzima Vavi as sekretaris-generaal, en Numsa as ’n leidende lidorganisasie. Voeg hierby die feit dat die oorblywende deel van Cosatu, steeds ’n lid van die ANC se drieparty-alliansie, van Zuma as president ontslae wil raak. Die wanklank daar is dat die president van Cosatu, S’dumo Dlamini, ’n groot Zuma-aanhanger is en ander geluide maak, maar ook gerepudieer word. Voorts wil die SAKP ook nie langer vir Zuma aan die stuur van sake hê nie.
  • Verskeie plaasaanvalle het die jongste ruk voorgekom, en die Vrystaat is geruk deur vier plaasmoorde in drie aanvalle.

It’s Time- nasionale biddag (22 April 2017) Foto: Dr. Michael Mol (Verskaf aan Maroela Media deur die organiseerders)

  • Die groot saamtrek van Angus Buchan die naweek buite Bloemfontein sal na verwagting ’n voetafdruk in die Suid-Afrikaanse samelewing laat. Gaan daar veel geloofsdade voortspruit uit die verkwikte geloof?
  • Verskeie sake in die buiteland, soos Noord-Korea en Sirië, verdien baie aandag, maar vir die doeleindes van hierdie nuuskommentaar word net kortliks na die Franse presidentsverkiesing gekyk. Die eerste ronde het pas plaasgevind, en soos verwag is, het die regse (of watter ander titel aan haar toegeken word) Marine le Pen, baie goed gevaar. Sy het tydens die telproses lank voorgeloop, maar is uiteindelik naelskraap deur die sentristiese Emmanuel Macron geklop. Macron en Le Pen dring nou na die finale ronde deur. Die verwagting is dat Macron maklik die finale ronde sal wen, nadat heelwat van die verslane kandidate hul steun aan hom toegesê het. Dit lyk of Le Pen net op haar eie stemme in die finale ronde kan reken, maar of die Franse kiesers so heeltemal gaan saamstem, veral as daar weer groot terreuraanvalle plaasvind voor die kruisies getrek word, is nie heeltemal so duidelik nie.

* Na aanleiding van verskeie lesers se opmerkings oor demokrasie en die Grondwet, word die nuuskommentaar Donderdag, op Vryheidsdag, gebruik om na verskillende modelle te kyk; ook dit wat tegelykertyd demokraties is en minderheidsregte ondervang.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Cornelis Loots ·

Diankie Maroela Media.Hierdie was n baie interessante samevatting van gebeure en feite.

Rupert Ashford ·

Goed saamgevat. Net een vraag: Van wanneer af is Macron sentristies? Hy was deel van die Sosialistiese party. Geslepe klink vir my mee gepas.

RINA ·

Hy- zuma en sy kronies geniet dat die media hulle besig hou met sy snert. Moenie so oor hulle tekere gaan nie, dan sal hy en sy kronies besef hulle is regtig nie belangrik nie. . Hulle dink net aan …………… sal liewer nie verder uitbrei nie.

Leendert ·

Uitstekend saamgevat en opgesom. Om terug te keer na die hoopvolle. Ek sien mense spring vandag weer op die Cyril-wa. Hy gaan nie die oplossing vir die land wees nie. Wie anders na vore gaan kom of kan kom as president, weet nugter, dalk Zweli Mkhize. Ek het ‘n idee ons gaan, as daar van die Zumas onslae geraak is, ook van korrupsie en die Guptas ontslae wees, dan bly nog die uraan myn van Zuma se seun oor, miskien is die kontrak vir die kernaanlegte dan al reed beklink, maar daarna gaan niks verander nie, die ekonomiese pad is uitgekap, soos Cyril verlede week beaam het, met sy ondersteuning van radikale ekonomiese transformasie, maar dit is seker ten minste ‘n begin. Ek is bevrees hier kom nog 7 x 7 jare se trane vir die land.

Jig, maar ek is pesimisties, of is dit nou realisties, gegewe waar ons ons nou bevind. Fikile Mbalula het juis die naweek gesê, groot leiers moet nou geidentifiseer word, om die land vorentoe te vat. Met ander woorde daar is nie op die stadium groot leiers nie, hulle moet nog geidentifiseer word. Ek sien ook nie groot leiers of ‘n leier nie, die wat daar is, stel nie belang nie.

Cherokee ·

Leendert, jy het Herman se opsomming opgevolg met ‘n ander raak opsomming. Betreffende Herman se laaste paragraaf, ek het hoop (gehad) vir Marine Le Pen en dit bloot omdat ek ‘n Franse afstammeling is en teleurgesteld is in die liberalisme wat heers in Frankryk. Sy is konserwatief (gereken teenoor haar oposisie) en ek sou graag wil hê dat sy die wenner is.

What a joke ! ·

Hierdie klomp narre dink dit is als een groot grap!
Maak soos hul wil,steel soos hul wil , breek af soos net hul kan en dit als ten koste van die land en sy mense!
Ek kyk so die fotos van die twee en ek weet hul is clueless maar ai daai soustrein sal hul ry tot die wiele afkom! Geen respek, geen selfrespek suig net die sisteem leeg!
Die grootste grap is dat hulle almal een hulpelose groot grap is! En Afrika wonder hoekom hy alewig aan die agterspeen suig,aia ai ai……..

Piet Piper ·

Die Verrotting as gevolg van hopelose mense in die ANC se kader-kas wat besig is om hierdie mooi Suid Afrika te vernietig ken geen perke meer.
Die verfoeilikheid en Skaamteloosheid in die meeste ANC regeringslede se optrede skrei ten hemele. Bedrog, korrupsie, diefstal, plundering, leuens en brandstigting alles wat verkeerd is word gedoen. Geen wonder dat die meeste Afrika Lande geensins vergelyk kan word met die meeste Europese lande wat groei en vooruitgang betref. Afrika is Siek en bly siek al vir eeue lank. In die ander sukkelende Afrika lande is en was daar nie Apartheid. Die enigste werklike verbeteringe en vooruitgang was en is as gevolg van Westerse invloede en wit en Asier kapitaal en kolonialisme. Maar nee, noudat die staatskas en munisipaliteite en staatsdepartemente leeg gesteel is, nou word die vingers gewys na Wit kapitaal en grondbesit. Dis nou nog die laaste mandjies waar bietjie geld in is wat ook gestroop moet word soos reismiere en sprinkane ‘n veld verwoes en opvreet. Dan bly niks oor……….Presies wat Mugabe met Zimbabwe gedoen het, dit doen die ANC nou, welwetend dat dit hongersnood, siektes, armoede en verwoesting bring !!! In hierdie land gaan net baie baie bloed vloei as Pres Zuma en sy leierskorps so voortgaan. Asseblief oom Jacob, ek vra mooi………raak ‘n slag stil en gaan sit bietjie en dink………en vra raad by die Wyse Ouer Mense.

Rynhardt ·

Die SAKP se aanval op Zuma is net toneelspel, want Zuma het klaar die fondament vir selfverryking en rewolusie gele! Hy word verder geondetsteun deur die “Tweede Zuma”, Nkosazana Dlamini Zuma wat op Sasolburg meesterlik die massas gespeel het met die volgende woorde:”Ons verstaan jul frustrasie en ontevredenheid, maar dit is hulle (verwysend na wittes) wat hier gekom het, en die grond gevat het”.Daar het jy dit as jy nog nie tussen die lyne kan lees nie.

Lynne ·

Alvorens jy tussen die lyne probeer lees, moet jy liewer meer konsentreer op die uitstekende en duidelike lyne wat Herman hierbo vir ons kennisname en gerief verskaf het.

popeye ·

Ek sal graag wil fokus op die eerste 2 punte; nie omdat ek nie omgee vir die laaste 3 punte nie….en dit is: dom, gewoonweg dom. Domgeit maak my rug styf want dit is op die moment die naaste aan my bas en voouitsigte. Dom…..bepaal jou en
my toekoms, ja dom!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.