Nuuskommentaar: Die oorlog oor die waarheid, die media en haatspraak

hof-hamer

Argieffoto

Die appèlhof het pas haatspraak anders gedefinieer as tot dusver. Nou moet katvoet geloop word dat die nuwe bedeling as gevolg hiervan die situasie gaan verbeter eerder as vererger. En dis leeuwêreld.

Die appèlhof se uitspraak oor wat haatspraak is, word wyd as die bevordering, of minstens bestendiging, van vryheid van meningsuitdrukking beskou, maar ander, soos prof. Amanda Gouws, is ongelukkig daaroor, en gebruik die skade wat die lesbiese gemeenskap, volgens haar, nou straffeloos kan ly as voorbeeld. Dieselfde argumente geld egter ook ander kategorieë mense.

Maar wat dan van ’n ander kategorie van gedeelde eienskappe en waardes, wat volgens die internasionale reg as minderheidsregte, bekend staan? Regte soos taalregte wat selfs in die Suid-Afrikaanse Grondwet opgeteken is wat eintlik oorweldigend op individuele regte ingestel is.

Alle verantwoordelike mense sal saamstem dat dit belangrik is dat die publiek op die waarheid geregtig is, mediaverbruikers ingesluit. Maar die insameling van nuus, en veral die waarheid, is ’n komplekse besigheid waar sekere tradisies en gebruike ander oogmerke het. Ons neem vervolgens ’n kort voëlvlug oor die harde werklikheid met media en die waarheid wat regverdigheid beduiwel.

Sosiale media het aanvanklik weggespring met ’n sterk fokus om robuus te wees, maar ook een van ’n skerp vrye sê oor ander. Kort voor lank het ’n Mxit-groep ’n “sletlys” van skoolmeisies gepubliseer. Toe die ouers van die slagoffers wil optree, het die diensverskaffers vasgeskop en “weens die reg op privaatheid” die skurke beskerm. Eers toe regstappe begin is, het gesonde oordeel en ’n sin vir reg en geregtigheid begin deurskemer. Intussen het baie individue erg onder kubergoggas deurgeloop wat hulle met die allerverskriklikste twak belaster en beledig het, en anders as die slagoffers, gemoedelik agter skuilname kon skuil. Die situasie het so hande uitgeruk dat diensverskaffers al meer geneig geraak het om die ergste euwels kort te vat.

’n Tweede faktor het egter die kuberruim se vermoë om nuus te versprei skade berokken is, veral sedert 2016 – deur die verspreiding van disinformasie deur die kuberruim. In 2020 verwag ’n span navorsers van verskillende Amerikaanse universiteite dat dit nog erger sal wees. Hulle bring dit in verband met die Amerikaanse presidentsverkiesing.

’n Woord wat die afgelope vier jaar sterk in gebruik gekom het, is fopnuus. Die Engelse weergawe hiervan, “fake news”, is in 2017 selfs as woord van die jaar, benoem. So onlangs as November vanjaar het The Telegraph fopnuus as een van die grootste bedreigings vir demokrasie, vrye debatvoering en die Westerse lewensorde beskryf.

Die span navorsers van die VSA wys daarop dat sowat 80% van die Amerikaanse nuusverbruikers meen hulle is in staat om fopnuus te herken, maar toetse het getoon dat net 20% van die deelnemers aan die eksperiment inderdaad in staat was om fopnuus te herken. Plaaslik hoef ons maar net te let op hoeveel mense jaarliks vir Aprilgekke-grappies val, al is dit tradisie om genoeg leidrade te laat om die lesers te laat besef hier word ’n yslike kluitjie verkwansel – en dit nogal op 1 April.

Baie mense se vatbaarheid vir samesweringsteorieë vergemaklik uiteraard die verspreiding van fopnuus. In ’n onlangse artikel skryf Lee McIntyre dat hy vyf ooreenkomste opgemerk het tussen sekere politici en wat hy wetenskapontkenners noem. “From anti-evolutionists to anti-vaccine advocates, known as “anti-vaxxers,” climate change deniers to Flat Earthers, science deniers all follow a common pattern of faulty reasoning that allows them to reject what they don’t want to believe – and accept what they favor – based on a misunderstanding of how science deals with evidence.

“As I’ve been watching the (impeachment) hearings, I’ve noticed that a number of characteristics of this type of reasoning are now being embraced by President Donald Trump and his congressional supporters.”

In nog ’n nuwe artikel vra Brian C. Joondeph, wat as apologeet vir Trump beskryf kan word, hoekom joernaliste so humorloos is. Joondeph raak aan iets wat selde aandag kry – die soort nuus waarmee joernaliste daagliks te make kry weerspieël die leeuwêreld waarin nuus ontstaan, en dit is selde ’n maanskyn en rose uitbeelding. Dit tas die gemoed aan. Maar of dit tradisie of hoegenaamd die waarheid is van humorloosheid, dit is nie absoluut korrek nie.

Pas het ’n boek waarin humor goed verteenwoordig is verskyn deur die senior joernalis van Volksblad, Charles Smit. Hy is die nuushoof, maar sy rubrieke bevat baie humor. Die oudredakteur van Volksblad, Hennie van Deventer, se 16de boek ná aftrede het pas verskyn. Soos die ander is dié boek, waarvan ’n bekendstelling vandag in Maroela Media verskyn, vol humor.

Gaan die appèlhof-uitspraak oor haatspraak die joernalis se leeuwêreld nou in ’n Jurrasic Park van die vreeslikste vleisvretende dinosourusse en antieke krokodille wat blitssnel soos ’n kangaroe sy prooi al hoppende kan inhardloop en ander vreeslike monsters van die verlede omskep? Waar die individu en identifiseerbare groepe in wese blootgestel is aan leuens en vieslike beledigings? Daar is immers al ’n lang geskiedenis van toutrekkery tussen die liberale fokus op vrye meningsuiting en die meer konserwatiewe fokus op die reg op waardigheid.

Daar moet egter in gedagte gehou word dat daar lank reeds ander remedies is, soos laster, kriminele laster en crimen injuria. Miskien het die haatspraak-kwessie te uitgerafel soos blyk uit die Eben Etzebeth-saak, waar daar te maklik gate in die audi alteram partem-beginsel geslaan word, waar daar te veel elemente van double jeopardy is – waar dieselfde persoon by verskillende instellings verkla, verhoor en gevonnis word vir dieselfde oortreding – en die boetes losstaande maar veral kollektief astronomies kan wees. Selfs in ander sake wat nie regstreekse haatspraakklagtes is nie, is die howe nou reeds verskeie kere weens rassebevoordeeldheid gediskrediteer.

Die jongste was die sogenaamde doodkisverhoor waar die regter ooglopende swaar vonnisse opgelê het, en die reg op appèl ontsê het, maar die appèlhof desondanks die vonnisse met heelwat meer as die helfte verminder het. In die Reitz Vier-verhoor het die landdros hulle onder meer vir iets gevonnis waarvoor hulle nie eens aangekla is nie. Dan was daar die leeukampverhoor, asook die Coligny Twee, waar die appèlhof ingegryp het in ’n saak wat om hersiening geroep het.

Maar wanneer nuwe wetgewing vir groter regverdigheid opgestel word, en deur die Konstitusionele Hof grondwetlik uitgestryk (veronderstel is om te) word, moet dit reg gedoen word sodat die huidige opset verbeter, en nie vererger word nie. Die euwel van onewehandigheid moet byvoorbeeld die nek ingeslaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

John ·

Diegene wat enigsins hoop, en verskeie kommentators is so naìef, om te glo dat ‘n sagte sinvolle wet wat mense sal toelaat to call a spade a spade, nou rus gaan bring vir hierdie tameletjie en sy taai drade, droom. Dinge gaan net erger raak. Ons geagte hoofregter se verwoede toesprake dui eerder op ‘n aggressiewer benadering deur howe tov wie wat mag sè of doen; dat rassisme nou ‘n wapen word wat net aan sekere mense toebedeel word vir doelmatige aanwending… met die teenparty reeds skuldig bevind…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.