Nuuskommentaar: Die oorlog op renosters en die kombers wat daaroor getrek is

Foto: www.rhinoconservation.org

Die statistiek vertel die grusame verhaal: In 2008 is 83 renosters in Suid-Afrika gestroop, in 2009 was dit 122, in 2010 het 330 renosters die prys vir die Oosterse mite betaal dat hul horings medisinale waarde het, en verlede jaar is die rekord tot 448 opgeskuif. Teen die huidige tempo lyk dit of ongeveer 600 renosters vanjaar te midde van die verklaring van hierdie stropery as prioriteitsmisdaad, afgemaai gaan word.

Die doodskiet en lang gevangenisstrawwe wat oortreders opgelê word het skynbaar geen impak nie. Onlangs is berig dat renosterstropers wat die Krugerwildtuin binnegesluip het en in ‘n skietery met veldwagters doodgeskiet is, vermoedelik uit was op borgtog vir renosterstropery toe die insident plaasgevind het. Oorsee het selfs al gevalle voorgekom waar die horings van opgestopte renosters in museums gesteel is, en museums het begin om hul opgestopte renosters van nagemaakte horings te voorsien. Die rede is doodeenvoudig – daar is geld by betrokke – groot geld. Die ironie is dat die gebruikers van renosterhorings presies dieselfde effek, of gebrek aan effek, sal kry deur hul naels te kou en die stukkies in te sluk.

‘n Geskokte publiek word verder geskok oor wie voor die howe beland … ook gesiene mense. Die toerusting wat gekry word wissel van barbaarse byle en pangas, tot gesofistikeerde toerusting, terwyl helikopters ook gebruik word. Hoe meer gesiene Suid-Afrikaners by die stropery betrek word, hoe meer ly die land se beeld skade. Renosterstropery het wêreldwyd ‘n hoogs emosionele kwessie geword waar belangegroepe met die hulp van die internet gevorm word en hul aksies ook deur die internet verder dryf.

Te midde van die oorlog teen die wreedheid het die Departement van Omgewingsake alle kommunikasie oor die stropery oorgeneem, amptelik om te voorkom dat ondersoeke in die wiele gery word, maar dadelik het berigte in omloop gekom dat voorvalle van stropery in die doofpot geplaas is. Syfers van tot 118 gevalle vanjaar word gehoor, maar selfs hierop doen gerugte die rondte dat tot agt karkasse in ‘n privaat reservaat gekry is, en verswyg word. Duidelik boemerang die Departement se plan, wat dit ook al mag wees.

Toe die laaste Javaanse renoster verlede jaar in Viëtnam gestroop is, en omdat Viëtnam se naam hoog op die lys van renostermuishondlande tel, is dadelik vermoed dat die aanslag teen Suid-Afrika verskerp sou word. En dit hét – op ‘n skaal wat op grootskaalse medepligtigheid dui van juis hulle wat die renosters moet beveilig. Nog voor beamptes van die Krugerwildtuin aangekeer is, was dit al duidelik dat dit onnatuurlik is dat insypelaars uit onder meer Mosambiek, pylreguit na ‘n trop kon beweeg en ongesiens hul slagting pleeg. Jagters en besoekers aan die wildtuin weet immers dat renosters nie van die maklikste wild is om in ‘n beboste omgewing te vind nie.

Ons herhaal kortliks die besonderhede oor renosters wêreldwyd:
Die laaste sestig Javaanse renosters kom nou in die Indonesiese reservaat, Ujong Kulon voor, en word soos goud bewaak. Boonop wil niemand sommer met die Indonesiese regstelsel swaarde kruis nie. Ook van die ander lewende Asiatiese renosters is nie veel oor nie. Die Indiese renosters, wat soos die Javaanse renosters net een horing het, kom nog net op ‘n paar plekke voor, veral in die gebied tussen Indië en Nepal. In die natuur tel hul getalle sowat 3 000. Van die kleiner Sumatrarenoster, wat soos sy Afrika-soortgenote twee neushorings het, is nog net ‘n geraamde sowat 275 oor.

Dit beteken die Suid-Afrikaanse renosterspesies, wat beide twee horings het en boonop groot is, lewer per renoster die meeste horing op. ‘n Tweede horing, al is dit klein, lewer boonop ‘n tweede deel onder die vel op wat in sommige kringe selfs nog meer werd is. Om rustig oor getalle te wees, soos die sowat 14 000 witrenosters wat oor is, is misleidend. Dit lyk of die noordelike subspesie heeltemal uitgesterf het na verlede jaar nog berig is dat enkele voorbeelde in dieretuine voorkom. Swart renosters se getalle het sedert 1960 skerp afgeneem van sowat 70 000 tot nog net sowat 2 400 in 1995. Ook hier is die situasie nie heeltemal eenvoudig nie, van die vyf subspesies het een heeltemal uitgesterf, terwyl van die ander subspesies se voortbestaan ook ernstig bedreig word.

Die interessantheid is dat die Swart- en witrenoster nader verwant aan mekaar as aan die Asiatiese neefs, maar die witrenoster, soos die Asiatiese renosters het 82 chromosome, terwyl die swartrenoster 84 chromosome het. Die Indiese en die Javaanse renosters is ook betreklik nou verwant, maar die Sumatrarenoster is nie nou aan hulle verwant nie.
Pleidooie dat renosterboere toegelaat moet word om renosterhorings jaarliks te oes en self wettig van die hand te sit, word al sterker. Die diere self word dan nie beseer nie. Die logika hieragter is dat die wêreldmark kry wat dit wil hê, en dat die stropers dan hul mark kwyt sal wees. Die geld gaan dan aan boere wat ingestel is om die getalle uit te brei. Renosterboere beweer egter dat korruptes in hoë kringe, selfs binne die regering, selfs voordele uit die stropery trek en dus traag is om Cites se arm hieroor te draai. Diplomatieke witvoetjiesoeker met veral Viëtnam, blyk ook die stryd teen stropery te kompliseer. ‘n Koerant het by geleentheid onthul hoe amptenare van die Viëtnamese ambassade na bewering gesien is hoe hulle renosterhorings aanskaf.

‘n Tweede manier om die stropery te bekamp is om renosterhorings op allerlei maniere met opsporingstoestelle te merk, en selfs om die horing nie-dodelik te vergiftig. Een van die oorsese belangegroepe het selfs ‘n plakkaat ontwerp wat lui dat renosterstropery Vigs veroorsaak. Jaarliks gaan talle lewende spesies finaal verlore en getalle wissel van 27 000 tot 130 000. Baie hiervan se ondergang is min of onafwendbaar, soos weens klimaatverandering, maar die uitwissing van die boskolos is wel afwendbaar. Dit het weens die omvang en wreedheid van die slagting die simbool van die beskerming van bedreigde spesies, die panda, op die emosionele vlak verbygesteek.

Dit blyk ‘n gedugte stroperleër te wees wat jag maak op die renosters, wat nie aarsel om ook op die beskermers te skiet nie. Word die korrupte vyfdekolonners geïdentifiseer en uit die samelewing verwyder, kan hulle moeilik weens hul goedgeplaasdheid vervang word, en die oorlog gunstig begin verloop. Die pleidooi dat renosterboere die wêreldmark self wettig kan voer, kan egter ‘n oplossing op die langer duur bring, maar heelwat voetwerk sal gedoen moet word om te keer dat stropers ook die wettige mark kan binnedring. Intussen is dit belangrik dat elke aksie ter beskerming van renosters die wydste moontlike steun moet geniet. Die pot, Suid-Afrika, moet gewoon te warm word vir die stropers.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae