Nuuskommentaar: Die oorlog van en teen die media

Foto: Pixabay

Foto: Pixabay

Pres. Donald Trump se houding teenoor sommige media is nou al goed bekend. Hy het pas na daardie segment van die media as die vyand van die Amerikaanse volk verwys. Wat die hare bietjie regop laat staan, is dat dit dieselfde terminologie is wat baie diktators ingespan het en wat uiteindelik tot heelwat mense se dood gelei het.

Trump het dit metafories gebruik maar hy beskuldig daardie vyandige media ook daarvan dat hulle bloot in die publikasie van vals nuus spesialiseer.

Hy skroom nie om die media vir wie hy dikbek is, by die naam te noem nie. Onder die bekendstes tel die New York Times, NBC, ABC, CBS en CNN. Boonop deel hy die lakens uit terwyl peilings toon die geloofwaardigheid van die media is op ʼn laagtepunt.

Maar sedert die begin van Trump se bewind het die New York Times se intekenare op sy kuberweergawe skerp gestyg. Ook ander media beleef ʼn oplewing en media sonder winsbejag ervaar ʼn toename in skenkings.

Het Trump die media ʼn guns bewys?

Dis heeltemal te vroeg om werklik ʼn tendens te bepaal, maar die media word as die vierde been, weliswaar nie-amptelik, van die demokrasie beskou. Boekdele is al hieroor geskryf. Slegs ʼn goed-ingeligte publiek kan sinvol hul kruisies trek. Daar is die waghondfunksie en vele meer.

Om ʼn eenvoudige voorbeeld  te gee: presies hoeveel het die gewone kyker wys geword deur na pres. Jacob Zuma se onlangse staatsrede te luister? Eers na mens die ontledings van kundiges agterna te lese gekry het, kan jy ʼn idee vorm van wat te wagte is en wat realisties haalbaar is.

Die ontledings deur voorste kundiges agterna werp ook aansienlik lig op die begrotingsrede wat minister Pravin Gordhan later vandag lewer. Heel moontlik sal die leser so ook kan bepaal hoeveel harder Jan Taks hom nou gaan slaan. Dit behoort nie as skok te kom nie, want die media het dit vooraf reeds duidelik gemaak dat die minister se speelruimte opgeraak het.

Die lesers hou ook met kommer politieke verwikkelinge dop, soos die aanduidings dat Zuma vir Gordhan eersdaags met ʼn erg gediskrediteerde persoon kan vervang. En gaan die ekonomie dan weer ʼn Nenegate op die lyf loop?

Moderne tegnologie en lewenstyl veroorsaak moontlik dat die media sy formaat moet aanpas en daar sal ʼn groot verskuiwing na digitaal wees. Maar die behoefte aan nuus en nuusontledings kan nie en behoort nie te verdwyn nie.

Min mense besef in watter leeuwêreld die media hulle bevind. Aan die een kant is daar die pogings van die staat om die media in sy eie propagandamondstukke te omskep. Onlangs is weer berig oor hoe die Gupta-media ruim bo ander media bevoordeel word met die uitdeel van staatsadvertensies.

Seker een van die beste Afrikaanse joernalistieke werke in die onlangse verlede was ʼn ondersoekende artikel deur Elise Tempelhoff, getiteld Mokonyane, Molewa, moet hulle skaam. Dit is waghondwerk op sy beste.

Ook Max du Preez, wat gewoonlik baie lesers se bloed sal laat kook, het met ʼn puik waghondrubriek vorendag gekom toe hy pas die vragte leuens wat Zuma en sy kornuite oor grondbesit kwytraak, verkeerd bewys het.

Nou draai die media-oog skerp na die begroting en die nuusverbruiker sal ʼn dag of wat kan baai in die oorvloed feitelike berigte, kundige ontledings en uiteensettings.

Die nuuswêreld gaan staan egter nie stil nie en daar moet gesorg word dat die publiek weet van belangrike verwikkelinge in konflikgeteisterde gebiede soos Sirië, Somalië, Suid-Soedan, Nigerië en die gebied om die Tsjaadmeer. Daar is ook ʼn groot volume nuus in Suid-Afrika – op die oomblik ongelukkig weer ʼn vlaag plaasaanvalle met soms die grusaamste afloop.

Natuurlik is dit goed as die media onderling meeding. So kan die een die ander met suiwer taalgebruik, minder spelfoute en meer korrekte feite en afleidings op die tone hou. Wat die een weens ʼn bepaalde politieke houding dalk nie wou aanraak nie, is deel van ʼn ander se nuusaanbieding en lesers vloei na waar niks van belang weerhou word nie.

Maar nou is dit eers die begroting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

At ·

Sekere mediagroepe in SA probeer hul menings afdwing op lesers. Lankal wegbeweeg van daardie klomp wat my sienswyses verdag maak, my mede Afrikaners konstant beledig en dan ook nog verwag dat jy moet betaal vir hul snert. Maroela is tans my enigste keuse.

arie ·

Ek het ernstig kennis geneem van Mnr Trump se uitlatings en gekyk of dit dalk plaaslik ook van toepassing is.
Die betoge wat gelewer word na aanleiding van die SONA, die Begrotingsrede en die beweringe aangaande twyfelagtige Mnr Molefe se aanstelling is aanvaarbaar.
Wat egter die mense se hare wel laat regop staan is die dubbelstandaarde wat heers by die owerhede en in meeste gevalle die media huise. Dit veral ten opsigte van haatspraak, (plaas- ) en ander moorde waar blankes se andeel altyd aan n baie GROOT klok gehang word terwyl swartes se aandeel byna vergoeilik word of skitter in die gebrek aan openbaarmaking.
Geen wonder dat Afriforum n saak geopen het om die aangeleenthede aan te spreek nie.
Vals berigte kan op n positiewe en n negatiewe wyse oordra word.
Deur die werklike fisiese publisering van vals inligting of deur na te laat om werklike ware positiewe inligting te publiseer.
As die media op hul bors wil slaan oor hul bydrae tot oordra van inligting moet egter ook gekyk word daarna of beriggewing gerig is op nuusoordraging of andersins of dit uitsluitlik gerig is op omset (lees “wins”).

Dave ·

Trump het ‘n punt. Die media is in die hande van internasionaliste wat geen nasionale bestaan van enige nasie aanmoediging nie, minste van alles die van die VSA. Hulle sal alles in hulle vermoë doen om Trump en konserwatisme te verdelg. Maar dit gaan oor meer as dit. 90 present van evangeliese Christene het vir Trump gestem. Aan hulle beloof hy om die Bybel en gebede na skole terug te bring, om aborsies teen te werk, (hy het klaar bevondsing daaroor gestop), om nie die gay kultuur aan te moedig nie en ook nie selfde geslag huwelike goed te keur nie, om ISIS wat Christene en Jode vermoor, uit te roei, ens. Maar liberiste haat alles wat slegs Christlike klink. Hierdie is dus ook en veral ‘n stryd tussen lig en duisternis.

Dirk ·

Die media is in die hande van die nuwe wêreld orde. Hulle skep ‘n bleed dat die enigste regte wêreld is waar daar geen grense en geen reëls is nie en alles wat reg was is nou verkeerd. Hulle soek een wêreld regering, een wêreld godsdiens en ‘n paar geld mag lede wat alles beheer. Hulle verwys na ons gewone mens as goyim (beeste). Hulle lede veral in Hollywood gebruik hulle bekendheid om mense te manipuleer en leuns te voer. Kyk en sien wat hulle einde doel is.

vermeende ·

Herman die media bevind homself in n baie moeilike plek en veral die alternatiewe media.
Die media is inderwaarheid die regter wat bepaal wat vir die publiek nuuswaardig is en wat nie, die media pas selfs eiesoortige sensuur toe met goed gekose woorde, sinsbou en samestelling van artiekels. Die media is nie ongeletterde of laag geletterde mense soos die lesers nie, ek dink dit is tyd dat die media van daai high hors afklim en ophou spog met die standaard van sy intelek. Daar is baie lesers soos ek wat n magdom van spelfoute maak en die medies noen dit disleksie.
Wat is fake news, is fake nie fals nie?
As n plaasmoord gepleeg word en die media berig oor die plaasaanval, is dit dan nie fals nie, n verdraaing van die waarheid en afwatering van die misdaad nie of in een artiekel word n 19jarige man genoem en in n ander weer n 20jarige seun. In hierdie artiekels word die een misdaad opgeblaas en die ander afgewater net omdat ras n rol gespeel het en beide was skuldag bevind in hulle misdade, gaan krap gerus rond in julle argiewe want Maroela het hieroor berig.
Sterkte want dit is moeilik om n artiekel te skryf en A-polities te staan.

John ·

Sjoe, wat ‘n meerwaardige en beterweterige siening telkens oor die sg dom en oningeligte pleps (seker dan Afrikaners), die gewone ‘man op straat’ soos julle hulle graag noem en aan wie die’ skrywe gerig is. Nou moet ‘n paar geniale ooms, teen betaling natuurlik, die dommes gedurig leer en inlig, want lg is eenvoudig net te onnosel… en… en. Wie het die’ opname gedoen of is dit deur post-waarheid-konsultante gedoen en aangepas tot ultra-post-waarhede… teen betaling natuurlik?

Kobie Nel ·

As die media nie die vyand is nie, hoekom word daar niks van ons mense wat vermoor word geskryf, of op TV berig nie? MAAR laat een swarte iets oorkom is dit hoof nuus. Ek sluit KYKNET in. Hulle het nog net, wat ek van weet, ‘n berig op gehad toe 4 van ons mense op een slag vermoor is. van die ander 10 wat van begin Februarie vermor is het jy nie ‘n word gehoor nie.

Lou ·

Tydens die amerikaanse verkiesing was dit klinklaar duidelik hoe CNN vir Trump aangeval en afgekraak het. Daar was geen objektiwiteit nie. Wat is hulle motief? Die media kry sodoende geen punte nie en daardie been van die demokrasie swik as gevolg van hulle eie toedoen. Ter plaatse het die media vir Julius Malema gemaak deur eenvoudig aan te hou en aan te hou om oor hom te berig. Die man het uitstekende nuusdekking by ons media gekry. Ek dink die algemene media maak en breek na willekeur en berig nie verantwoordelik nie. Daar moet beter balans kom. ‘n Pluimpie vir Maroela wat sover nog redelik verantwoordelik bly. Dankie.

Gerrit ·

Ek het in die vroeë 80’er jare, as offisier in die weermag, ‘n saak van ondersoek gelei omtrent die selfmoord van ‘n dienspligtige(miergif gedrink). ‘n Verslaggewer het my na die maandlange, indiepte ondersoek en my 50 bladsy verslag kom sien om die storie in die koerant te plaas. Ek was lam geskok gewees om te lees wat hy geskryf het teenoor dit wat ek aan hom gesê het asook die inligting waartoe hy toegang gehad het(die waarheid) in die finale verslag….sy berig was niks minder as skokkend nie en vol infame selfgemaakte onwaarhede! Ongelukkig plaas die media dinge wat verkoopssyfers of kyksyfers opjaag en menige kere net so skuins van die waarheid af, dat die woorde wat gebruik word die leser/kyker ‘n ander indruk gee as die waarheid. Vernaam gedrukte media of geskrewe elektroniese media het ‘n groter impak op mense as wat ons dink….jammer dat dit soms met agenda’s gedoen word…hoekom dink jy het die Gupta’s hulle eie koerant/media in SA??? Die probleem is…wat moet ek weet is fake en wat moet ek weet is waarheid? Artikels met feitelike korrektheid is in die minderheid – FEIT! Maroela Media mag uitsonderlik wees vernaam teenoor internasionale bekende media. Media is belangrik, solank dit basies 100% korrek is! Dankie Maroela!

BOKGENERAAL ? ·

Ek is jammer maar ek haat baie van die media vandag !! Die media is daar om die nuus te gee (of jy vir dit is of nie) en niks anders !! Hulle moet almal ñ platform gee met verskillende opinies van vêrlinks tot vêrregs !! Maar hulle self moet altyd neutraal wees !! Geen eensydigheid nie !! Die groot media manne hier en oorsee se houding is as jy nie ñ liberalis is nie of jy deel nie hulle “Waardes” het nie , dan is jy ñ vêrregse Nazi !! Die selfde met ons Kyknet en Groot FM en Netwerk 24 wat ons deesdae wil oortuig wat Afrikaans is en moet wees !! As dit wel so is dat iemand soos Trump die duiwel homself is , is dit die gebroke media wat hom daar gekry het deur die vertroue van die gewone man op straat te verloor het !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.