Nuuskommentaar: Die portefeulje wat ministers breek

(Argieffoto: Pixabay.com)

Kort-kort haal planne vanuit die ANC-dampkring die nuus dat beoog word om weg te doen met provinsies of dit te verminder. Die ANC se ideologiese verknogtheid aan sentralisering speel ’n rol maar terselfdertyd word gesê munisipaliteite se magte moet uitgebrei word om van die bestaande provinsiale funksies oor te neem.

Die werklikheid vertel egter ’n gans ander verhaal. Terwyl die meeste provinsies van enigiets van so-so tot skrikwekkend swak presteer (soos die Vrystaat sedert Ace Magashule [comrade Eisj] premier geword het), is dit nog in beginsel taamlik beheerbaar. Maar wanpresterende munisipaliteite oortref die provinsies gereeld en met gemak wanneer dit by wanprestasie en mislukking kom.

’n Minister wat munisipaliteite as deel van sy portefeulje kry, al het hy in ander portefeuljes hoe goed presteer, is byna vir seker vir die ashoop gedoem. Wetgewing en die ANC se beleid van onder meer kaderontplooiing, tesame met realiteite soos werkloosheid, waarborg as’t ware mislukking.

Minister Pravin Gordhan is ’n goeie voorbeeld. Hoewel nie alle ekonome meen Gordhan was ’n goeie minister van finansies nie, soos Dawie Roodt wat meen Gordhan het Suid-Afrika se ekonomiese kreeftegang aan die gang gesit, is daar min of meer konsensus dat hy as minister verantwoordelik vir plaaslike regering flink besig was om te verdrink toe hy weer, eers onder druk van die publiek, en later weens Jacob Zuma se geforseerde bedanking as president, weer ’n gunsgenoot geword het. In daardie stadium was daar sterk sprake daarvan dat Gordhan uit die politiek sou tree omdat hy “uitgeput” was.

Nie dat openbare ondernemings juis ’n reddingsboei vir ’n sinkende politieke loopbaan is nie.

Die huidige minister, dr. Zweli Mkhize, is as ligstraal in die ANC beskou, en onder meer in Luthuli-huis ontplooi as die ANC se tesourier-generaal. In ’n stadium was sy naam prominent as moontlike opvolger vir Zuma.

Maar toe word hy minister van die verloorportefeulje.

Jaar ná jaar lees die ouditeur-generaal se jaarverslae oor munisipaliteite soos rillers. ’n Vorige minister in hierdie portefeulje (wat nog voor hy daar beland het al as uitsonderlike swak minister gereken was) het grootmond aangekondig dat hy binne ’n paar jaar gaan verseker dat alle munisipaliteite skoon oudits kry. Dié minister was egter kort voor lank met siekverlof en is dood sonder dat daar enige verbetering ingetree het. Trouens, dit gaan nog steeds rampspoedig en niemand met ’n greintjie logika glo dit gaan gou beter gaan nie.

Die rampspoedige aard van die situasie blyk nou pas weer nadat die jongste syfers bekend gemaak is oor hoeveel munisipaliteite Eskom skuld. Ten spyte daarvan dat hierdie skuld al lankal ’n enorme krisis is, het dit die afgelope jaar met 37% gestyg. In Desember verlede jaar het dit R24,3 miljard beloop. Al is dit maar ’n druppel aan die emmer van Eskom se totale skuld, is R24,3 miljard nie kleingeld nie.

Munisipale skuld aan waterrade is ook enorm, en kort-kort is Mangaung in die Vrystaat by Bloemwater erg in die knyp.

En dis hierdie vlak van regering wat volgens die ANC die dan verdwene provinsies se funksies grootliks moet oorneem.

Weliswaar beoog die ANC om dan weg te doen met sukkelende munisipaliteite en deur konsolidasie super-munisipaliteite te skep. Die realiteit is egter dat sodra die ANC ’n munisipaliteit beheer, dan begin dinge lol. Super-munisipaliteite beland in super-moeilikheid.

Hoë vlakke van werkloosheid dra uiteraard tot munisipaliteite se gebrekkige betaalvermoë by. Word egter na die florerende sjebienbedryf gekyk, blyk dit dat die betaalvermoë moontlik nie so heeltemal hopeloos is nie. (Die Ontwikkelingsrade van die vorige bedeling het munisipale dienste grootliks uit inkomstes van hul sorghumbier-bedrywe gefinansier, maar sake het begin skeefloop toe die bierfabrieke geprivatiseer is en geld vir munisipaliteite op meer konvensionele maniere geïn moes word).

Luukse rygoed wat munisipaliteite aankoop vir ampsbekleërs, in weerwil van gereelde oproepe van die minister van finansies dat briek aangedraai moet word, skep ook ’n beeld van beskikbare fondse. Koeëlvaste glas, gepantserde motors, ingeboude kroeë en ’n GPS “sodat die burgemeester nie dalk verdwaal as hy besoek aan sy “constituency” (sy eie dorp) bring nie, is van die komiese gevalle wat al in die media genoem is.

Dat inwoners landswyd gereeld diensleweringsbetogings hou, terwyl die werkers gereeld weer vir hoër lone staak, is al lankal ’n instelling. So ook dat protesoptrede maklik in intimidasie, geweld, vandalisme en selfs lewensverlies ontaard, vererger die probleem eenvoudig.

Dat sake in die Wes-Kaap soveel beter gaan waar die DA aan bewind is, en plek-plek in koalisies regeer, is vir die ANC ’n doring in die vlees.


• Maroela Media het ʼn skarebefondsingsprojek op die webwerf BackaBuddy van stapel gestuur om Herman te help om fondse vir sy kankerbehandeling in te samel. Klik hier om meer te lees of om Herman deur BackaBuddy finansieel te ondersteun.

• Indien jy ʼn direkte bydrae in die Toeriens se bankrekening wil maak, stuur ʼn e-pos aan [email protected] met “Herman Toerien” in die onderwerpveld.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Afrikaner ·

Uitstekend saamgevat. ‘On the button’. Uit ‘n ander oogpunt gesien maak hulle dit maklik vir die EFF om te kompiteer, om eintlik meters bo hul opportunistiese vermoë uit te styg.

Afrikaner ·

Uitstekend saamgevat. ‘On the button’. Uit ‘n ander oogpunt gesien maak hulle dit maklik vir die EFF om te kompeteer, om eintlik meters bo hul opportunistiese vermoë uit te styg.

Gemaskerde Sopbeen ·

Hoekom kan die belastingbetalers nie Eskom motiveer om die munisipaliteite te dagvaar vir uitstaande skuld nie? As ek nie my munispale rekening betaal nie, word my dienste opgeskort. As ‘n munisipaliteit nie sy Eskom rekening betaal nie, word dit afgeskryf…….of inderwaarheid dan betaal met my belastinggeld. Ek betaal dus die munisipaliteit, en dan indirek WEER vir dieselfde elektrisiteit. Dit maak ons elektrisiteit die duurste in die wêreld…

Gert van Wierdapark ·

Die Kultuur van Nie-betaling/Wanbetaling is gevestig in die 90′ s’s toe CR die hoof_onderhandelaar van die Soweto Civic Association met die Transvaalse Prov Admin. Was. Daar is tot n ooreenkoms gekom = “The Greater Soweto Accord” wat ten doel gehad het dat verbruikers vir dienste moet (begin) betaal! WAS dit SUKSESVOL??? Die spykers is van daai tyd al in die “doodskis”, en dit sal baie moeilik uitgetrek (kan) word! So CR en andere in die regerende party, het genoeg agtergrond oor die waarom(s) dat munisipaliteite in die verband nie lewensvatbaar is nie, “Finsh en Klaar”

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.