Nuuskommentaar: Die prys + rente + strafrente van onbevoegde ministers

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Met pres. Cyril Ramaphosa wat die toon ingesit het om ministers wat skandes gemaak het, met ’n paar maande se salarisverbeuring te straf, kan die vraag gevra word of hierdie “besparings” enigsins opweeg teenoor die skade wat die betrokke minister die land berokken het? Selfs al word net die skade wat dit aan die fiskus spesifiek aangerig het, in ag geneem, is die kanse skraal dat dié soort straf op meer as net ’n skyngebaar sal neerkom.

Die probleem is dat dit nie net ministers is wat tot die rekening vir skuld en rente bydra nie. Pas is verneem dat personeel van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) die afgelope drie jaar self R300 miljoen van die fonds vasgelê het. Dit kom te midde van daagliks nuwe berigte oor hoe daar al hoe meer van die Covid-19-pandemie se rampfonds uit die monde van hulpbehoewendes gesteel en bedrieg is, en in die sakke van meestal rykes en welvarendes (of familie van hulle) se sakke verdwyn het.

Om alles te kroon, het ’n hele paar gevalle aan die lig gekom waar onskuldiges – of juis mense wat eerlik probeer het om hierdie kanker uit die samelewing te sny – deur bose sameswerings valslik vervolg is. Selfs die NVG (Nasionale “Vertragingsgesag”) is in die Zuma-era gelaai met diensknegte van ongeregtigheid, sodat van die voorste vervolgers soos advv. Gerrie Nel en Glynnis Breytenbach onder druk hul heil elders moes gaan soek – en gelukkig nie vir hul roeping om misdaad vas te vat, verlore is nie. Gelukkig dat instansies soos AfriForum en sekere opposisiepartye (in dié spesifieke geval die DA) dit moontlik maak.

Op die oomblik soek kommentators nog na gepaste woorde om die onverskoonbare vloermoer van die minister van polisie, Bheki Cele, by Newcastle tydens ’n imbizo te verwoord. Sondagaand het een van die paneellede van RSG se program, Kommentaar, gesê die minister se kop het “erg geraas”, en hy het kant gekies teen die verontregtes – die boere. Boonop het hy in die proses rassepolarisasie aangeblaas.

Pas het pres. Ramaphosa weer so ’n klein bietjie respek en nog meer hoop ingekatrol dat die piesangrepubliek se bus in ’n reuseslaggat onklaar geraak het net voor dit oor die fiskale afgrond is, deur die minister van verdediging ’n bietjie (maar hopeloos te effentjies) vas te vat oor sy ’n ANC-afvaardiging op belastingbetalersgeld met ’n weermagvliegtuig Zimbabwe toe laat vlieg het.

Min. Nosiviwe Mapisa-Nqakula kan nie, soos sy klaarblyklik gedoen het, onskuld op sterkte van onkunde pleit nie. In 2008 het die ANC ook die amptelike Jeugdag-vieringe gekaap, en so busse vol mense na Botshabelo toe laat aankarwei waar hulle deur Julius Malema en Jacob Zuma toegespreek is. Nie Malema, Zuma of Zwelinzima Vavi het destyds enige regeringspos beklee nie, en het dus onwettig opgetree. Die geleentheid het opslae gemaak omdat beide Malema en Vavi aangedui het hulle sou doodmaak vir Zuma. Die saak is na die Openbare Beskermer verwys wat, lendelam verslag ten spyt, darem laat blyk het dat dit nie weer moet gebeur nie.

Maar dié bietjie goeie nuus gaan soos mis voor die son verdamp as Cele nie op gepaste wyse vasgevat word nie. Dit is moeilik om ’n gepaste straf anders as hom as veiligheidswag te laat herontplooi by die De Lille-heining (of wat nog daarvan oor is) by die Beitbrug, in te dink. ’n Skietlustige Cele is dalk net die cowboy wat die weermag daar nodig het. Dalk kan hy nog die hoof van die Limpopo Rangers met die rang, Lone Ranger, word.

Al hou Ramaphosa by sy woord en verklein die kabinet, en beperk sy aanstellings by bekwame ministers, sal hy nog werwing vir bekwames buite die huidige parodie wat nou die kabinet genoem word, moet gaan doen. Soos dit nou gaan, kan dit nie aanhou nie. Die land kan eenvoudig nie so voortgaan nie.

Dit is natuurlik nie net die ANC wie se ministers en ander regeerders die land enorme skade berokken het nie (met grondgryp sonder vergoeding-planne boonop nog aan’t kom, maar dit sou interessant wees om die koste te bereken wat die huidige Grondwet se leemtes en gebreke die ekonomie berokken het.

Hoewel daar nog mense is wat beweer die Grondwet is die beste ter wêreld, is daar kundiges wat meen, soos die bekende politieke kommentator en historikus, dr. Leopold Scholtz, dat dit nie die geval is nie. Hy het al jare gelede geskryf die NP het, ná dr. Gerrit Viljoen as hoof van die regering se Kodesa-onderhandelingspan weens swak gesondheid onttrek moes word, hulle hul laaste span se reserwes as onderhandelaars ingestuur het.  Seker die belangrikste persoon wat erken het die Grondwet het gebreke, was prof. Marinus Wiechers wat as belangrike argitek van die Grondwet beskou is.

Op die jongste korrupsie-indeks, dié van 2019, beklee SA die 70ste plek uit 179 lande, met ’n druippersentasie van 44%. Sewe Afrikalande het beter as Suid-Afrika gevaar. (Lees https://en.wikipedia.org/wiki/Corruption_Perceptions_Index).

Getuienis wat voor die Zondo-kommissie afgelê word sal na verwagting Suid-Afrika se posisie op die korrupsiepersepsie-indeks nie goed doen nie. Beleggersvertroue is soos volg deur die Daily Maverick beskryf:

“Dramatic plunges in the RMB/BER Business Confidence Index (BCI) and the BankservAfrica Economic Transaction Index (BETI) underscore the scale of the economic havoc wrought by the Covid-19 pandemic and South Africa’s lockdown measures to contain it.

“The BCI fell to five points from 18, its lowest level since the business confidence survey began in 1975. So even during the political violence and drama of the late 1970’s and 1980’s, the uncertainty and bloody civil conflict of the early 1990’s, various emerging market ructions and the global financial crisis over a decade ago – not to mention the shenanigans and looting of the Zuma era – business confidence in South Africa was higher than it is now. This, folks, is the economic abyss.” (Volledige berig hier.)

Slegs ’n klein bietjie kennis van die ekonomie sou baie van die probleme kon voorkom. Stapelberg (1981) skryf onder meer soos volg: “…’n probleem van skaarsheid word ondervind (om aan gemeenskappe se veelvuldige behoeftes te voorsien).”  Word daar van die skaars hulpbronne (byvoorbeeld geld) gesteel of op ’n onnodig luukse motor, begrafnis of onthaal spandeer, word die tekort vir die noodsaaklike net te groot.

Ook die invloed van (dom) politiek op die ekonomie word deeglik in ekonomiese handleidings behandel. Ingo Walter en andere skryf in 1981 in International Economics onder meer soos volg:

“Unfortunately, the process of translating the economic interests into political influence over policy making is subtle, unstable, and not amenable to conventional economic analysis. The political results may not necessarily reflect the economic balance of power, in part also because the national executive, responsible for implementing trade policy, may choose policy techniques that have economic effects other than those desired by the dominant economic-political groups.”

Die regering met sy sterk sosialistiese voorliefde is ’n baie goeie voorbeeld.

’n Utopie bestaan nie, maar as ’n regering voortgaan om geld – veral geld wat reeds op is of gesteel is – in die utopie te pomp, wag ’n nagmerrie van rente en selfs strafrente, en uiteindelik die fiskale afgrond.

“This, folks, is the economic abyss.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JohanR ·

Cyril Ramaphosa was soos om ‘n aandete partytjie by te woon, en jy word deur die hoof van die huis aan Dr Jekyll voorgestel. Almal eet en drink lekker en hier net na die na gereg en net voor die brandewyn en cigars, begin Dr Jekyll se vel te rimpel, sy oe en tong peul uit soos ‘n padda, sy naels op hande en voete begin om lang te grooi en hy begin om die gaste rond te jaag……en daar is Mr Hyde. Het gedink in Mei 2018 is ons verlosser Cyril Ramaphosa met ons…..dit het gou verander! Nou net oor die twee jaar later is dit #VoertsakANC en #VoertsakCR! Maar dan dink ook soe sleg soos Cyril Ramaphisa is, wil ons nie he hy moet #Voertsak nie want dan kry ons vir NDZ of David Mabuza…..wat ‘n land….stuck between a rock and a hard place!

Wielspore ·

My vrou werk by ‘n instansie waar die meerderheid personeel op dieselfde salaris skaal is. Gedurende die Covid periode het hulle een maand geld van die staat af gekry vanuit die Covid fonds. Van die personeel het meer geld uit die Covid fonds gekry as wat hulle salaris is en my vrou en ander het minder gekry as wat hulle salaris is. Die verskil tussen die wat minder gekry het is hulle velkleur.
Ek wonder of die persoon wat hierdie toekennings gemaak het ook trokstraf sal kry want dit is openlik rassisme.

Johann ·

Iemand het tog sekerlik nie gedink Ramaposa gaan actually optree teen sy comrades nie? En sys waarskeinlik goed vergoed vir die lift so drie maande se pay is niks.

Sy gaan steeds verniet rondgery word…flieg…eet…Cel phone….Data…Medies (PRIVAAT DIENSTE) en dan natuurlik haar “bonusse” van haar pelle.

Jaco ·

Om ministers te straf is n klien stappie in die regte rigting. Maar daar moet nog baie water in die see loop.

Anoniem ·

Ek is baie jammer Mnr Ramaphosa,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,Jy is geweeg en te lig bevind. HOEKOM tree jy nie op teenoor jou mede Kaders nie.??? Nou sal Ramaphosa weer die apartheid van vroeër jare die skuld gee en dan grond besetters se smarte aan ons wil oordra!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.