Nuuskommentaar: Die raspot word steeds gestook met Zille-skorsing ’n onwillige manifestasie

helen-zille4

Argieffoto.

Met die #GuptaLeaks, staatskaping, resessie en die blaam oor wie se skuld dit is, rommelstatus en vele meer het Suid-Afrika kwalik nog ’n storm nodig. Die Zille-storm gaan egter deeglik gevoel word, en dit gaan harde werk en heelwat kompromieë verg om te keer dat dié soort insidente in die DA herhalend word.

Terwyl die Kaap van Storms hierdie ou naam met mening gestand gedoen het, woed ’n hele paar ander storms in die land, waaronder die #GuptaLeaks, maar ook die skorsing (al gaan dit dalk kortstondig wees), van Helen Zille uit die DA, ook met mening.

Die skorsing van Zille, premier van die Wes-Kaap, uit die DA tot haar verhoor afgehandel is, is maar een van die tentakels wat ras-krapperighede steeds deur die Suid-Afrikaanse samelewing laat vloei. Die stryd verteenwoordig twee denkskole, en beide maak daarop aanspraak dat hulle op die uitskakeling van rassisme geskoei is. Die manier waarop rassisme beëindig moet word het dus self ’n twispunt geword, en die twis voed nou self rassistiese gevoelens.

Hoewel sy dit waarskynlik heel anders bedoel het, werp die akademikus Christi van der Westhuizen van die UP heelwat lig op hierdie stryd in haar artikel, “Staan Zille in pad van Afrika se nuwe liberalisme?” wat vandag op Netwerk24 gepubliseer is.

Van der Westhuizen beskryf “gewone” liberalisme as iets wat histories met kolonialisme en ander booshede verbind was. Dit sou dan Zille se “denkfout” verklaar dat modernisering (wat sy as alternatief vir vooruitgang gebruik) Afrika sonder kolonialisme sou uitsluit.

Afrika-liberalisme, soos verteenwoordig deur die huidige DA-leier, Mmusi Maimane, en onder andere Lindiwe Mazibuku, is afgestem op die verwydering van nie net rassisme nie, maar die bagasie wat daarmee gepaard (sou) gaan, en behels dus ’n proses (waarin ras juis weer ’n prominente rol speel).

Dit soverre Van der Westhuizen se artikel betref.

Die gedagtes daarin vervat, is nie nuut nie. Die afgelope aantal jare het die konsep oor wat nie-rassigheid sou behels, wye draaie in Suid-Afrika en die VSA geloop, met merkwaardige ooreenkomste sodat dit inderdaad lyk na wisselwerking en die duideliker manifestasie van ’n filosofie. Volgens ’n omvattende artikel in die Christian Science Monitor word nie-rassigheid volgens die nuwe konsep onder swart Amerikaners eers bereik wanneer mense van verskillende rasse eers deeglik bewus raak van hul ras, en daarmee identifiseer. So word die “skuldiges” duidelik van die “slagoffers” onderskei, en is die pad na boetedoening en restitusie afgemeet. (Klink dit nie baie na die opvatting van die ANC-regering nie?)

Vir die liberale konsep dat jy as ’n nie-rassis gebore en opgevoed kan word, of jou daartoe kan bekeer, is daar geen ruimte nie. ’n Blanke man wat ’n swart vrou het, en sy hele lewe en opvoeding nie-rassig was, moet eers deur ’n proses gaan voor hy hom as nie-rassig bewys het. Hy moet as’t ware geskool word in ’n wye reeks opvattings, soos dat kolonialisme net boos was, dat slawerny boos was (wat bykans niemand betwis nie), dat “blackfacing” ’n onvergeeflike sonde is, en vele meer.

’n Splinternuwe Rasmussen-peiling toon dat rasseverhoudinge in die VSA te midde van hierdie kopstampery oor wat rassisme nou eintlik is, power is. Net 3% het aangedui dat rasseverhoudinge uitstekend is, en 19% glo dis goed (die 3% ingesluit).

Dit is dus ook nie genoeg dat ’n grondwet ’n land tot nie-rassig verklaar, en rassime en haatspraak verbied nie. Die onewehandigheid waarmee die regering en instansies soos die SA Menseregtekommissie optrede teen rassisme en haatspraak hanteer, is ’n gevolg van hierdie denke. So ook dat die instel van kwotas en werkplek-diskriminasie, diskriminasie met beurse en keuring, en vele meer nie rassisties is nie.

’n Ironiese gevolg is dat sedert onderhandelinge in Kemptonpark begin het (en in baie gevalle nog voor dit) die partye en instansies wat hulle vir minderheidsregte en selfbeskikking vir die Afrikaner beywer het, heeltemal van ras as norm afgestap het, en streng volgens die definisies en vereistes van die internasionale reg en grondwetlike norme soos nou in artikel 235 van die grondwet vervat, gehou het.

Aan die ander kant van die tafel was daar egter geen gedagte dat rassisme oornag “afgeskaf” kon word nie. Waar rasseklassifikasie (en alle ander apartheidswette) reeds deur die vorige regering afgeskaf was, het die nuwe regering rasseklassifikasie vir alle praktiese doeleindes teruggebring, en die een rasgebaseerde wet na die ander op die wetboek geplaas.

Op die vraag of Afrika sonder kolonialisme sou kon moderniseer of vooruit gaan, is daar geen maklike antwoord nie. Afrika beskik in die vorm van die Egiptiese, Soedannese en Ethiopiese beskawings oor van die oudste beskawings ter wêreld. Veral die Egiptiese het in betreklik noue verband met die beskawings van die Midde-Ooste en Mesopotamië ontwikkel, en genetiese toetse op mummies toon grootskaalse vermenging met volke buite Afrika.

Ander bekende beskawingspunte soos Kartago en Timboektoe is die gevolg van kolonialisasie of verowerings. So ook stede soos Dar es Salaam en Mombasa, asook ’n hele reeks klein sultanate langs Afrika se Ooskus. Mosambiek kry sy naam van ’n Arabiese sultan wat oor ’n eilandjie aan die Mosambiekse kus regeer het, Mousa Ibn Mbkiki.

Is Zille skuldig aan iets?

As haar skuld al dan nie, aan die hand van feite beoordeel gaan word, is dit bykans onmoontlik om haar skuldig te bevind. Die blote feit dat die verhoor in alle waarskynlikheid in Engels gaan plaasvind (sy is ook Xhosa en Afrikaans, twee inheemse tale, magtig) ontneem die aanklaers van ’n deel van die morele begronding om haar aan te kla, want hulle gebruik ’n koloniale produk.

Word sy aangekla dat haar stelling en styl die DA in ’n moeilike posisie geplaas het om na swart kiesers uit te reik, en in die proses swart persepsies en sentiment vertrap, dan is sy sekerlik skuldig. Die bewys van opset word oorkom deur aan te voer dat sy as vorige leier van die DA van beter behoort te geweet het.

Of sy skuldig bevind word of nie, daar is dan probleme in die DA. Lees gerus dr. Leopold Scholtz se artikel, “DA en SA kry taai klap met Zille-saak”, op Maroela Media.

Die saga is vir die steierende ANC soos ’n reddingsboei, en dis logies dat die DA so gou as moontlik van dié teer kwessie sal wil afstap, asook ’n blywende oplossing daarvoor wil kry. Herhalende insidente, soos waar Dianne Kohler Barnard ’n inskrywing op sosiale media oor PW Botha gedeel het, en nou Zille se twiet, sal slag om slag spanning binne die DA veroorsaak, en die party vir kiesers buite die party onaantreklik maak.

Of dit beredder kan word hang daarvan af of liberalisme en Afrika-liberalisme (soos deur Van der Westhuizen geskets) mekaar sal kan vind, en almal by ’n lys van moenies kan inbind. Dit beteken feite sal minstens plek-plek moet terugstaan vir persepsies. Om lede te verbied om te twiet sou ondenkbaar wees, ook omdat die sosiale media ’n enorme rol in die skep van politieke persepsies speel.

Wat dit komplekser maak, is dat dit elke party raak wat na nie-rassigheid streef. Die aan- en afskakelaar waarmee die vernaamste Afrikanergroepe die nuwe bedeling betree het, bestaan eenvoudig nie in hierdie persepsie-omgewing nie, en ’n eindelose aantal hofsake gaan nog voortspruit en tot in die Konstitusionele Hof vorder – waarvan heelwat koloniale erfenisse se posisie, soos die onafhanklikheid van die regbank self, die oppergesag van die gereg, taalregte, minderheidsregte en vele meer getoets sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

30 Kommentare

jongste oudste gewildste
Ai

Daar is nie so iets soos Afrika Liberalisme nie. Dis niks anders as die Liberalisme en sogenaamde “Social Justice Warriors” van die VSA wat aggresief is teenoor enige een wat nie dink soos hulle nie. Enige een wat meer ondersoek instel en nie net op CNN hulle Westerse nuus kry nie sal sien dat die nuwe golf van Liberalisme niks anders is as Sosiale Marxism nie. Dis n absolute euwel wat meer probleme veroorsaak as wat dit oplos. Hier is n mag wat van agter die skerms invloed het in ons land. Dis gaan verder as net die ANC of… Lees meer »

Arie

Dit is totaal uit verband geruk, wys jou maar net dat die d a net so ras behep is as die anc, ek het eenmaal te veel vir hulle gestem

al

As gebruiker weet jy jy het net 120 woorde om te sê wat jy wil sê. Daar kan baie misverstande ontstaan.
Helen Zille se tweets kon nie op ñ slegter tyd gekom het vir die DA nie. Dit het die party se fondamente geruk, juis toe dit lyk of hul oorhand begin kry na ANC se skandale.
Die AN c het egter hierdie mode gestig dat wit sosiale media gebruikers geteiken word en hul woorde belaglik opgeblaas en verdraai word. So word aandag afgelei deur hul onbevoegdhede.
Kortom Zille het netjies in die strik getrap van die ANC.

Genieve

Ek is nou nie n politiekus nie,maar wat my eintlik pla is die dat die regering gou ontslae raak van ander politiekuse maar Zuma kry hulle nie uitgeroei nie.Hy kom weg met alles.Zille se party staan teen haar op,omdat sy verkeerd gehandel het,dis reg wat verkeerd is,is verkeerd,maar oom Zumpies aikona hys vagesplyster.

Stoffel

Hierdie is nou n groot probleem vir Mmusi Maimane, gee hy haar die trekpas, dan verloor hy miljoene wit stemme, en hou hy haar aan, kan hy ook miljoene swart stemme verloor, so wat moet hy doen…